Ek is vyftien jaar getroud. Ons het twee kinders wat nou hoërskool toe gaan, my man verdien goed, ek hoef nie te werk nie, hoewel ek betrokke is by liefdadigheidsorganisasies, en ons is almal gesond. Tog is ek ongelukkig, want ek is eensaam. Al is my man tuis, kan hy netsowel by die werk gewees het. Hy is nie ongeskik nie, maar dikwels afgetrokke en gefokus op ander dinge. Ek besef sy werkdruk is groot, maar dit voel soms vir my asof ek net sy kollega is. Ek het lankal opgehou om met hom te gesels oor dinge wat my regtig raak. Die kinders is ook my “afdeling”, hoewel hy baie vir hulle omgee. Moet ek my daarin berus dat ek warmte en omgee van my vriendinne gaan kry?

- SARIE-leser

ANRI VAN DEN BERG verhoudingsberader van Pretoria-Oos:

Jou situasie is nie ongewoon nie. Hou moed: dié dinge kan nog reggestel word. Dit is gewoonlik nie ’n doelbewuste besluit van die eggenoot om die ander uit te sluit nie, maar ’n sameloop van omstandighede. Albei dra gewoonlik daartoe by. Jou man is die broodwinner, maar die druk op hom is dalk groter as wat jy besef. Miskien is jy só betrokke by die kinders dat hy afgeskeep voel. Dalk voel hy net so eensaam soos jy. Maak ’n afspraak met hom en gesels informeel oor ’n koppie koffie.

Vra of hy gelukkig in die huwelik is, daar aspekte in jul verhouding is wat hom ongelukkig maak of meer aandag nodighet, en vra uit oor sy werk. Luister met ’n oop kop en hart. Dalk weet
hy nie hoe om jou te benader nie en was hy tot voor jul gesprek skrikkerig omdat hy gedink het net hy is alleen. Hy het dalk gedink jou vriendinne en stokperdjies vervul jou. Probeer ook sowat twee weke lankdankbaar wees dat jy ’n man het. Dit klink belaglik, maar fokus op sy positiewe eienskappe en komplimenteer hom opreg. Jy sal nie spyt wees nie. Dit doen wondere vir die huwelik. Hy sal voel hy word gewaardeer en dít sal weer terugbons na jou.

MARLIZE HEPPELL kliniese sielkundige van Klerksdorp in Noordwes

Dit sal goed wees as jy kan aanpas by jou man se werksituasie, want dit gaan nie altyd vir hom moontlik wees om dinge saam met jou en die kinders te doen nie. Bou gerus ook ’n ondersteuningstelsel van vriendinne op wat in soortgelyke omstandighede as jy is. Julle kan soms lekker dinge doen, soos om saam te gaan fliek of teater toe te gaan. Dit is belangrik dat jy onafhanklik van jou man kan funksioneer. Om dié rede is dit ook goed dat jy jou met sinvolle liefdadigheidswerk besig hou.

Máár jy moet beslis spesiale moeite doen om steeds kosbare tye saam met jou man deur te bring. En julle moet genoeg met mekaar praat. As jy eensaam in jul verhouding voel, is dit belangrik om die gevaartekens betyds raak te sien. Jy sal weet wanneer. Soos as jy emosioneel verwyderd van hom voel. Of dalk kom jy agter hy tree afgetrokke teenoor jou op. Dit is veral ’n probleem by pare in hul laatdertigs tot middel veertigs. As julle nie daaroor praat nie, kan julle al hoe meer vervreemd van mekaar raak en die skade kan later te groot raak om te herstel.

Om eensaamheid binne die huwelik te bestry, moet julle weer tyd maak om met mekaar te gesels. Miskien kan julle ooreenkom dat balans die “gonswoord” in jul verhouding word. Hy probeer doeltreffend optree by die werk, jy is die bestuurder van die huishouding en die kinders is jul albei se “afdeling”. Daarom moet jy én hy tyd maak om dinge saam met die kinders, as gesin, te doen. Só kry julle almal tyd om mekaar te sien, te gesels, ’n bietjie te ontlaai, te lag.

Probeer ook om dít wat jou en jou man aanvanklik na mekaar aangetrek het, lewend te hou. Miskien was h ymal oor lees, of sy humorsin is kostelik, dalk is hy mal oor diere of hou hy van goeie flieks. Jy kan dit opnuut as vertrekpunt vir die verhouding gebruik. Nooi hom uit op ’n lekker fliekafspraak of bederf hom met ’n nuwe boek, en bespreek dit met hom.

Lees ook:

Kansel toe? 6 Verkeerde redes om te trou