Toe Alicia*, ’n onder-wyseres van Pretoria, getroud is, het sy vas geglo haar en haar man se liefde vir mekaar kan enigiets oorwin.

Maar uiteindelik het sy ander groot passie – sy onderneming – en die finansiële en emosionele druk wat dit op hulle saam geplaas het, die einde van hul huwelik beteken.

Hulle is nie alleen nie: Naas ontrouheid is finansiële druk een van die grootste redes waarom paartjies met berading by haar praktyk begin, sê Chevon Cawood, ’n sielkundige van Randburg. “Dit kan baie stres in ’n verhouding veroorsaak, veral as die paartjie mekaar begin verwyt of blameer.”

Alicia kon dit nie verhelp nie, en het uiteindelik haar man begin blameer omdat sy sukkelende onderneming nie geld ingebring het nie. “Dit het gevoel asof ek dubbel so hard moet werk as hy, want hy het min kliënte gehad en al ons geld het in sy onderneming ingegaan.”

Sylvia Walker, ’n finansiële beplanner en spreker van Kaapstad en skrywer van Smart Woman: How to Gain Financial Independence and Create Wealth, sê baie van die probleme wat Alicia ondervind het, kon voorkom gewees het as hulle vóór hul huwelik in meer detail oor geld gesels het. Baie paartjies maak hierdie fout.

“Dis belangrik om voor die huwelik al te weet hoe jou maat geldsake benader. Is hy/sy spaarsamig of spandeer hy/sy eerder? Is hulle bereid om skuld aan te gaan, of vermy hulle dit eerder? Bestuur hulle finansies noukeurig, of vermy hulle eerder daardie admin?”

Om te trou sonder om dié kwessies uit te klaar en dan skielik jul finansies saam te begin bestuur, sê sy, kan net probleme veroorsaak – veral as julle groot skuld wil aangaan soos ’n nuwe onderneming.

Dis presies wat met Alicia gebeur het. Sy, en haar man, het aangeneem dat hulle dieselfde benadering tot geld het. Soos Alicia vertel: “Toe ons getroud is, het ons albei voltyds gewerk met vaste maandelikse salarisse. Ons het die rekeninge gelykop gedeel en betaal, en die res van ons geld geniet. Daar was min verantwoordelikhede of spaarplanne, want ons was jonk. Ons het gedink ons voel dieselfde oor geld.” Maar toe hy skuld aangaan vir sy onderneming, moes hulle hul geldsake anders hanteer. En toe begin die bakleiery . . .

Geen terugdraai

Alicia se man het ’n onderneming begin om klank en beligting by gesellighede te doen. “Ek het ’n goeie salaris by ’n private skool gehad. Hy het goeie ondervinding en kontakte in die bedryf gehad, en ons was saam bereid om ons uitgawes te sny totdat hy begin geld maak.

“Ons het ons spaargeld gebruik sodat hy ’n bietjie toerusting kon koop, en die plan was dat hy dan meer en beter toerusting sou koop soos die onder-neming groei.”

Alicia het intussen al die huishoudelike uitgawes oorgeneem en ook ekstra wiskundeklasse gegee. Maar die uitgawes het aanhou ophoop. Haar man is in die eerste ses maande net vir vier gesellighede bespreek, en boonop moes hy elke keer nog toerusting aankoop. “Ons het vasgesit oor die bykomende uitgawes, en dan sou hy nog sê ek meng in. Ons het gestry as daar enige ekstra uitgawes in die huis was, of as een van ons te veel geld op ‘onnodighede’ uitgegee het – selfs sjokolade. Ek het gevoel ek werk aanhoudend en hy nie genoeg nie.”

Haar man het ná ’n jaar weer ’n heeltydse werk gekry, maar dit was reeds te laat, sê sy. “Ons het ’n ander kant van mekaar gesien en daar was baie verwyte. Ons het dit probeer regmaak, maar is twee jaar later geskei.”

Algemene probleem

As jy na die statistieke kyk, is Alicia en haar man nie alleen nie. Egskeidings in Suid-Afrika het met meer as 20% toegeneem van 2011 tot 2015, wys die nuutste syfers van Statistiek Suid-Afrika. Daarmee saam oorleef minder as 30% van nuwe ondernemings in Suid-Afrika die eerste jaar, het Lindiwe Zulu, minister van kleinsakeontwikkeling, in 2014 gesê. Daarom sê Sylvia moet jy voor jou troue baie deeglik oor finansies én jul huwelikskontrak besin.

“Maak seker julle trou buite gemeen- skap van goedere, sodat nie een verant-woordelik is vir die ander se skuld nie. As jy binne gemeenskap van goedere trou, deel julle als – winste en skuld.”

As jou man reeds ’n onderneming het wanneer julle trou, is buite gemeenskap van goedere die wyser opsie, maar vind ook uit hoe sy persoonlike finansies reeds aan die onderneming gekoppel is, sê sy.

“As hy byvoorbeeld sy huis as sekuriteit vir ’n lening gebruik het, en jy trek by hom in, kan jy natuurlik ook jou blyplek verloor as hy die huis sou verloor.”

As julle reeds getroud is, moet julle ook hiervoor voorsorg tref indien jou man ’n onderneming wil begin. “Maak seker jul persoonlike finansies word so min as moontlik deur die besigheid geraak. Moenie jul beleggings of polisse daaraan koppel nie, en belê in ’n aftree-annuïteit, wat nie deur krediteure geraak kan word as die besigheid skuld maak nie. As jou man die onderneming net in sy naam begin, moet jy ook nie skuld in jou naam aangaan om hom te ondersteun nie, en verkieslik ook jou eie neseier hê. Maak seker jy verstaan wat die risiko’s is. As jul huis byvoorbeeld in sy naam is en dit as bate aangedui word, kan julle die huis verloor as dinge nie uitwerk nie.”

Die struktuur van die onderneming is ook belangrik. “As dit ’n eenmansaak is, en julle is binne gemeenskap van goedere getroud, kan krediteure jou ook verantwoordelik hou vir sy skuld. In ’n maatskappy of beslote korporasie sal jy egter nie aanspreeklik wees nie – ongeag die aard van jul huwelikskontrak.

“Gesels met ’n finansiële beplanner oor al die opsies en gevolge, en hoe julle én die onderneming teen onvoorsiene struikelblokke verseker kan word. Dit geld vir enige situasie waar daar baie skuld is of gaan wees – of julle reeds getroud is of beplan om te trou.”

Beplanning die antwoord

Maar hoe pak jy dié soort gesprekke aan sonder dat jou man dalk voel jy wantrou hom, of dat jy in sy onderneming “inmeng”, soos in Alicia se geval?

Weer eens: Praat so vroeg moontlik daaroor, soveel moontlik, sê Chevon. “Julle moet vooraf saam bespreek wat verkeerd kan loop sodat julle daarvoor kan beplan, en oor wat elkeen se rol gaan wees – of dit nou in die onderneming of tuis is. As hy jou deel maak van sy besluite, sal jy ook nie nodig hê om hom te bevraagteken nie. Dit beteken nie dat hy jou as ’n medebestuurder moet aanstel nie, maar dat hy jou as ’n klankbord gebruik.

“’n Onderneming is ’n groot uitdaging wat jul verhouding en gesin kan raak – wees dus eerlik oor jou vrese en bekommernisse. Verseker egter jou man dat jy glo in sy vermoë om ’n sukses van die besigheid te maak, maar dat daar steeds dinge kan gebeur wat buite sy beheer is.”

Sy sê julle moet ook in detail gesels oor hoe enige skuld afbetaal sal word – of die skuld beplan was of nie – en wat elkeen bereid is om te dra. “Jou man mag dalk dink ’n miljoen rand se skuld is hanteerbaar, terwyl jy dan sal voel julle swem in die skuld. Gesels oor watter bedrag julle bereid is om aan te pak. Indien die onderneming misluk (en groot skuld die gevolg is), kan julle nie wrewel heeltemal ontduik nie – maar ten minste sal julle dan ’n plan hê sodat niemand te na gekom voel nie.”

Selfs konflik kan positief wees, sê sy – mits julle dit reg hanteer.

“Praat deurentyd met mekaar oor die besigheid. Hou aan praat, ook as die onderneming sukkel. Moet ook nie mekaar blameer nie.”

Sy glo ’n kenner se raad is waardevol, maar waarsku dat julle nie iemand anders se raad blindelings moet volg nie. “Elke verhouding is uniek, en hoe julle besluit om jul finansies aan te pak sal ook uniek wees.”

En onthou, sê Sylvia, net omdat julle hierdie groot taak aanpak, beteken dit nie die lewe moet nou net werk, werk, werk wees nie. “Julle moet vir vandag én môre leef. Die lewe gaan nie net oor spaar en skuld en werk nie. Beplan ook vir bekostigbare bederfies, sodat julle mekaar en jul nuwe reis saam kan geniet.” * Skuilnaam.

Ons het vasgesit oor die bykomende uitgawes, en dan sou hy nog sê ek meng in Alicia*

Só laat ONS DIT werK

Toe Ilze Kruger, ’n kommunikasiekonsultant van Johannesburg, drie jaar terug getrou het, was haar man se fietsry-en-buitelugonderneming reeds ses jaar aan die gang en dit het goed gegroei. Maar hy moes deurentyd skuld maak om nuwe produkte in te voer, en dis vandag steeds die geval.

Sy vertel: “Ons het vooraf deeglik oor finansies gepraat toe ons ons huweliks-kontrak (buite gemeenskap van goedere) laat opstel het. Ons werk albei vir onsself, so ons het na ons gesamentlike finansies en besigheidstrukture gekyk en besluit wie vir watter huishoudelike uitgawes verantwoordelik is. “Jy kan natuurlik nie 100% by die plan hou nie, want soms maak een van ons minder geld as verwag in ’n maand, maar ons gesels heeltyd daaroor. Dan sal hy ’n bietjie meer op ons private lewe uitgee, en wanneer hy skuld moet aangaan, sal ek weer meer bestee. Gelukkig het ons dieselfde benadering tot geld: ons is verantwoordelik en spaarsamig. Maar ons hou van klein bederfies: een duur ete per maand, of ’n mooi handsak, of ’n rekenaarspeletjie.

“Hy weet dadelik as my kliënte dalk laat is met betalings, en hy sal met my gesels oor sy planne vir nuwe besendings. Ons bedryf byna ons finansies soos ’n onderneming – logies en sonder emosie. As hy meer geld nodig het in die maand, beplan ons dit so, en andersom. “As julle eerlik is en mekaar as gelykes sien, hoef geld nie ’n probleem te wees nie. Ek dink dit raak ’n probleem as een mens dink hy/sy is ‘meer’ in beheer van die finansies as die ander. Ek dink ook nie dis ’n probleem om met iemand te trou wat skuld het nie, tensy hy heeltemal onverskillig is; die probleem is eerder om met iemand te trou wat jou nie as sy gelyke beskou nie.”