Sy was eintlik ’n goody two-shoes. Sy het nie rondgeslaap nie, ’n paar betekenisvolle langtermyn-verhoudings gehad, haarself “gespaar” vir daardie iemand spesiaal ... ’n Affair was die laaste ding wat sy ooit kon dink oor haar pad sou kom.

En toe gebeur dit. Haar baas, ’n getroude man met dieselfde humorsin as sy, “a kind soul” soos sy hom steeds beskryf, word méér as die kollega met wie sy so lekker kliek: hy word haar bondgenoot, haar familie, haar minnaar, haar álles. Dertien jaar lank.

“Ek hét baie dinge daaruit geleer. Een daarvan is nederigheid. Want vandag weet ek ’n affair kan met enigiemand gebeur,” vertel Linda*, die sogenaamde “ander vrou”.

Ons gesels in ’n koffiewinkel in Randburg. Linda is ’n aantreklike donkerkop in haar laat veertigs. By ons aan tafel is die beradingsielkundige wat die afgelope jaar en ’n half ’n pad met haar stap nadat die affair tot ’n einde gekom het. Wat haar help om weer die stukkies van haar lewe op te tel nadat sy “in ’n baie diep, donker gat was”.

Sy wíl haar storie vertel, sê Linda, deels om closure te kry, maar sy hoop ook dat dit vir iemand iets kan beteken, “sodat daar in al hierdie trauma dalk sin kan wees”. En om die boodskap oor te dra: Jy kan aanbeweeg ná ’n affair, jy kan weer jou eie drome hê en najaag.

Sy maak dit duidelik: sy is nie op soek na simpatie nie. “Ek wil nie myself verontskuldig nie, maar ek wil ook nie hê dat mense my oordeel nie. Ek hét al my pakke gekry, meer as een, en ek gaan seker nog ’n paar kry. Ek weet wel daar is baie mense wat by so iets vashaak en nie kan uitkom nie. Vroue in dieselfde situasie wat desperaat voel. Dikwels dink ek as ek nie my uitbarsting op daardie laaste dag gehad het nie, sou ek tien teen een my eie lewe geneem het.”

Die “uitbarsting” waarna Linda verwys, is toe sy vir haar minnaar se vrou ’n anonieme WhatsApp gestuur het met die boodskap: “Weet jy dat Ben* al dertien jaar ’n affair met ’n ander vrou het?” Minute daarna het hy met ’n enkele boodskap reageer: “Nou is alle hel los.” Dit was die einde van hul verhouding.

Dit het Linda geskok dat hy so maklik “die boek op dertien jaar se saamwees kon toemaak”.

“’n Week vantevore het hy nog by my kom cuddle en gesê hoe lief hy my het. Hy was my vangnet, my lewe, ek het alles met hom gedeel, hy het my in moeilike tye bygestaan.”

Nou, in retrospek, besef sy toe sy Ben leer ken het, was sy op haar kwesbaarste, vatbaar om “gered” te word deur ’n sorgsame man.

“Ek was vervreem van my familie. Toe ek nog op skool was, het my pa ’n affair gehad wat geweldige stremming in ons familie veroorsaak het. Hy was ’n sagte mens. Ek het my by hom geskaar omdat ek gesien het hoe almal teen hom gedraai het. My drie susters was weer aan my ma se kant. Daar was baie seer en onderstrominge in ons gesin. Toe ek saam met Ben begin werk, was ek midde-in die soveelste familiekonflik en ek het besluit om myself heeltemal van hulle af te sluit. Dit was traumaties. En toe is Ben net dáár. Hy was simpatiek, hy het geluister.”

FOTO Getty Images/ Gallo Images

Aanvanklik was dit bloot ’n goeie vriendskap, “hy het gelag vir my, ek het gelag vir hom”, hulle het ’n emosionele konneksie gehad, maar ná ’n jaar was dit veel meer. “Hy het suggestiewe, sexy goedjies op kantoor gesê. Daar was ’n vibe tussen ons – as jy van iemand hou, wel, dis iets wat jy nie eintlik kan beheer nie.” Later, as hulle na kliënte in ander stede is, moes hulle dikwels oornag en die verhouding het seksueel geword. Sy het meer as een keer vir hom gesê sy wil nie betrokke raak nie, maar die verhouding het vlamgevat en ’n volskaalse affair geword.

Ná ses jaar het hy voorgestel dat sy bedank. Dit was sy onderneming, kollegas het begin snuf in die neus kry.

Sy wou dit nie vir hom maklik maak deur te bedank nie. “Toe vind hulle die een of ander skuiwergat en laat my gaan. ’n Prokureur het vir my gesê ek sou hof toe kon gaan, ek was goed in my werk, my pos het spesialis-kennis geverg.” Ben het agteraf vir haar ’n bedrag geld gegee om ’n nuwe loopbaan op dreef te kry en aanvanklike uitgawes soos haar huispaaiemente te betaal.

Hul verhouding het nog sewe jaar voortgeduur. Sy skud haar kop, wetend dis moeilik om te verstaan hoekom sy steeds by hom gebly het. Selfs haar loopbaan vir hom opgeoffer het.

“Hy het beloftes gemaak. Hy het gesê hy sal sy vrou verlaat. Ons moes net wag tot sy drie kinders klaar is met skool. En toe hulle uit die skool is, het hy gesê hulle moet net eers klaar studeer. Ek weet dis die oudste verskoning in die boek, maar ek het geglo hy is die uitsondering, dat hy dit bedoel. Ek dink steeds hy het dit aanvanklik bedoel. Ek het ander ouens nie ’n kans gegee nie, my behoefte om ma te word eenkant toe geskuif. Ek was oortuig hy sal voldoen aan my verwagtinge. 

FOTO Getty Images/ Gallo Images

Later het hy waarskynlik besef hy kan nie, maar aanhou belowe.”

Ben het haar vyf, ses keer op ’n dag gebel. Altyd ’n missed call op haar selfoon [hy het haar selfoonkoste betaal], en dan moes sy terugbel. Met hul gesteelde tydjies saam was sy tevrede: “Ek is gewoond aan min, al was dit net ’n uur per week, was selfs dít genoeg. Eendag sou ek tog alles kry.”

Veral aan die begin was sy ontsteld oor wat aan die gebeur was, sy sou sommer begin huil, onbedaarlik, maar hoe langer hulle bymekaar was, hoe meer het sy gedy. Hy was ’n liefdevolle mens, vertel sy. Wanneer sy siek was, sou hy elke dag kom kuier, kos bring, haar kar vol petrol maak. “Dis wat dit so verwarrend maak. Hy was so ’n sorgsame man, en nou maak hy my die vark in die verhaal.”

Hoewel dit vir haar ’n ontnugtering was dat hy dadelik sy vrou bo haar gekies het, en dit deur sy prokureur duidelik gemaak het, het sy eintlik daardie laaste klompie donker maande besef dat hy begin afkoel. Dis juis wat haar genoop het om die boodskap te stuur.

“Ek onthou toe dit met ons nog baie goed gegaan het, het ek eendag vir hom gevra hoe hy die nuus aan sy vrou gaan breek dat hy wil skei. Sy antwoord was dat hy haar so min as moontlik emosionele steun en aandag sou gee, sodat sy amper nie ’n keuse het nie. Dalk is dit wat hy met my gedoen het.” Toe die affair verby was, was dit swaar om geen kontak te hê nie. Sy het hom drie keer daarna gebel. Sy was desperaat. Maar dit was dit. “Toe moes ek aanvaar ek het niemand behalwe my sielkundige nie. ’n Uur per week. “Dit was ’n moeilike pad. Dis soos ’n rouproses. Jy moes my ’n jaar en half terug gesien het. Ek was op ’n donker plek, baie depressief en op sterk medikasie. Maar ek het al ver gevorder en baie dinge verwerk. Ek is op pad na heling.”

In die proses het sy 22 kg verloor. Tydens hul affair het sy 44 kg aangesit. “Ek dink ek het al die skuldgevoelens onderdruk deur te eet.” Die uitdaging nou is om die splinters van haar lewe bymekaar te sit. “Ek is besig om my lewe oor te bou, ek werk hard daaraan – emosioneel en finansieel. Ek moet ’n nuwe loopbaan skep. Die verhouding het sy tol geëis.

Daai missed calls na my werk [toe sy by ’n ander firma begin het], sexy gesprekkies oor die foon terwyl my toesighouer reg langs my sit ... Ben was stout, onregverdig stout.”

Sy is gelukkig kreatief en sál weer opstaan, sê sy. Haar lewe het stilgestaan, dit was on hold, veral die laaste paar maande toe sy haarself ál meer eenkant gehou en net vir hom en sy oproepe gelewe het. “Algaande kom my drome wel terug.”

Toe die nuus op die lappe kom, het sy goeie vriende verloor, baie het hul rug op haar gekeer. Letterlik en figuurlik. Sy het vriendinne wat by haar staan, al is hulle kwaad omdat sy hulle nie genoeg vertrou het om hulle daarvan te vertel nie. “Hulle sou my waarskynlik baie vinnig daaruit geboelie het.” Hulle werk nog deur die vertrouenskwessies.

Die affair en sy gevolge is deel van die mens wat sy vandag is. Sy het daaruit geleer en as mens gegroei. Sy is nie spyt daaroor nie, daar was “baie vreugde en omgee”, maar sy is wel spyt dat sy so lank in goeder trou aangehang het. Al daardie tyd ...

As jy swaarkry, maak dit jou hart ook groter en ontvanklik vir ander se swaar, sê sy. As sy vir vroue kon raad gee: Wees versigtig as jy baie goed kliek met iemand by die werk wat nie onverbonde is nie. As julle dieselfde humorsin deel. As jy nie sterk grense het nie, kan jy in die moeilikheid beland.

Vandag vermoed sy Ben was dalk “bietjie van ’n predator”. “Ek was kwesbaar, én hy was opreg sorgsaam.” Ná die tyd het sy gehoor hy het al voorheen ’n affair gehad. “Hy is ’n welgestelde, suksesvolle man, en ek was dalk een van sy perks. Byna soos ’n Porsche.”

Sy reken finansiële ondersteuning kom haar toe. “Ek stel nog vas of ek wetlik op ’n bedrag van hom kan aanspraak maak – ek het baie vir hom opgeoffer, onder meer ’n belowende loopbaan, weens sy valse beloftes.’n Bedrag geld sal dit makliker maak om voor te begin.”

Sy is eerlik oor haar gevoelens. As hy ses maande ná hul affair sou terugkom met die nuus dat hy geskei is, sou sy hom teruggevat het. Hulle sou wel baie dinge moes deurwerk en sy sou die skeipapiere wou sien, lag sy, en vee die trane af.

As hy vandag bel, met daardie papiere in die hand? “Nee. Dis nie meer ’n opsie nie. Dit was en is ’n swaar pad, maar ek het aanbeweeg.”

Sy voel vry, sy is bly dis verby. “Ek het baie seergekry, maar ek dink nie net aan my eie pyn nie, al mag mense dit dink. Ek weet daar is seer aan albei kante. Deur twee vroue aan te hou, wat ek vandag glo Ben se bedoeling was, het hy uiteindelik twee vroue seergemaak. Sy vrou het my ’n ruk daarna gebel – sy was woedend, wat ek kan verstaan. Ek het net geluister, dis al wat ek kon doen. Ek is jammer ander het seergekry.”

* Skuilname is gebruik om alle partye te beskerm.

"Ek weet dis die oudste verskoning in die boek, maar ek het geglo hy is die uitsondering Linda Ek was kwesbaar, én hy was opreg sorgsaam." Linda