Jy word van kleins af beloon as jy met die groep (kerk, huis, werkgewer, sosiale groep, ens.) saamstem. Jy leer dikwels, uit negatiewe ervarings in jou ouerhuis en later ook op skool, dis beter om nie jou gevoelens uit te druk nie. Goeie, soet kinders praat nie teë nie, en kinders word gesien en nie gehoor
nie. (’n Jong man wat ek ken, is deur die skoolhoof vertel hy kon hoofseun gewees het as hy nie sy mening so hard en duidelik uitgespreek het nie.)

’n Ander rede waarom jy jou gevoelens dikwels nie deel nie, is omdat jy jouself beskerm. Min mense
kan empaties luister en dit vir hulself hou. Hoe dikwels hoor jy nie hoe iemand se intiemste sake om die
koffietafel bespreek word nie?

Voor jy jou gevoelens met ander kan deel, moet jy eers met jouself eerlik wees daaroor. Jy is dalk onbewus van die konflik in jou binneste. En projekteer dié stoeiery binne jou op ander. As jy ontsteld is omdat niemand na jou luister nie, kyk ’n bietjie hoe jy na ander luister. As almal teen jou is, doen selfondersoek.

Rina se wenke

  • As jy jou gevoelens uitdruk, vra jouself af wat is jou doel daarmee. Wil jy dit regtig deel, of is dit ’n ander vorm van beheer? Wil jy ander mense seermaak, of dalk skuldig laat voel?
  • Wees openhartig: Wys wat jy voel, wat jy dink, of deel die gesprek wat jy in jou binneste voer. Gee ek boodskappe sonder om veroordelend te wees of ander af te kraak.
  • Verwelkom terugvoer: Julle kommunikeer eers regtig as jy belangstel in wat die ander een te sê
    het, ook oor jóú. Al is dit nie altyd lekker nie.
  • Tref ’n onderskeid tussen wat jy regtig waarneem en wat jy jou verbeel. Dit sal jou help om nie jou eie en ander mense se afleidings so ernstig op te neem nie. Jou vriend moet bv. dikwels laat werk. Jy voel verwaarloos en verbeel jou jy is nie vir hom so belangrik nie.