Al hoe meer vroue doen hul eie ding: van reis tot huiskoop. Hulle is ’n gerekende koopkrag – ook aanlyn. Terselfdertyd lyk dit of ál minder gretig is om te trou. Hollywoodsterre en plaaslike bekendes sluit hulle aan by dié trendy nuwe groep: die quirkyalones.

Aktrises Emma Watson, Drew Barrymore, Emma Stone. Suid-Afrika se Tinarie van Wyk Loots en Pascal Pienaar ... nie vroue wat jy met bollas, vormlose lang rokke en breiwerk op die skoot vereenselwig nie. Van Hollywood tot hier op eie bodem voel enkellopende vroue bevry – hulle dink nie meer aan hulself as ’n randfiguur of onderwerp van kwetsende spotprente nie.

Pascal, wat as die bekkige verpleegster Karli du Preez in Mei die kykNET-sepie Binnelanders gegroet het, het al op haar eie deur Suid-Amerika gereis en het onlangs Italië verken. Sy bedryf ook ’n aanlyn skoonheidsonderneming.

Die bekroonde Britse aktrise Emma Watson is ’n uitgesproke feminis en die Verenigde Nasies se welwillendheidsambassadeur vir vroue. Haar liefdeslewe hou sy privaat, maar sy het al verklaar: “Ek het geleer jy gaan nie ‘die regte persoon’ kry voor jy van jouself hou en goed voel oor wie jy is nie.” En: “Ek dink romanse het ’n bietjie agterweë gebly vir my generasie.”

Hulle staan bekend as die quirkyalones ... vroue (maar ook mans) wat verkies om alleen te wees, hoewel hulle nie teen verhoudings gekant is nie. Teen die norm in bly hulle eerder enkellopend as wat hulle met iemand uitgaan net ter wille daarvan om deel van ’n paartjie te wees.

Drew Barrymore, tans in die Netflix-trefferreeks Santa Clarita Diet te sien, is reeds vier jaar geskei van die akteur Will Kopelman, man nommer drie. Op 44 sê sy haar twee dogters, Olive (6) en Frankie (5), is “die liefdes van haar lewe”. Onlangs het sy in die media erken sy hét ’n ruk lank afspraakwebtuistes uitprobeer. Maar die ander persoon op ’n toeoog-afspraak is eintlik net vir háár onbekend. Almal weet immers wie sy is. Sy het dit intussen laat vaar en “is meer tevrede as ooit”.

Tinarie van Wyk Loots, een van Suid-Afrika se suksesvolste aktrises en enkellopend sedert die verlowing tussen haar en akteur Erik Holm verbreek is, besit haar eie huis op Riebeek-Kasteel. Waarvan sy dele self gebou het. Einde verlede jaar het sy Japan op haar eie te voet aangepak.

Die RSG-aanbieder Martelize Brink laat nie toe dat ’n rolstoel tussen haar en alleen reis kom nie. Sy het al stoksielalleen ’n reis na Frankryk aangedurf en besit haar eie woonstel. Enige DIY-werkies doen sy sover moontlik self.

Quirkyalones doen hul eie ding en, nes soveel enkellopende vroue voor hulle, laat nie toe dat stereotipes van oujongnooiskap hulle terughou nie. Hulle besef hul eie krag,” meen die Kaapse tendenskenner Nicola Cooper.

Wat is lekkerder as om op jou eie te reis? Of in staat te wees om self eiendom te koop? En om, sonder iemand wat oor jou skouer loer, aanlyn te snuffel vir ’n broodrooster en dan die bloedrooi een van die luukse handelsmerk Smeg te koop?

Deesdae word nie net Valentynsdag op 14 Februarie gevier nie. Dit is – raai wat – ook Happy Quirkyalone Day!

Dit is in 2003 begin deur Sasha Cagen, skrywer van die boeke Quirkyalone: A Manifesto for Uncompromising Romantics en To-Do List: From Buying Milk to Finding a Soulmate, What Our Lists Reveal About Us. In 2013 het sy ’n virtuele Internasionale Quirkyalone Day (of IQD-telepartytjie) gehou. ’n Viering van vryheid, oorspronklikheid, vriendskap en romantiek, in teenstelling met die “silikon”-weergawes daarvan wat so gereeld op afspraaktelevisieprogramme aan ons voorgehou word. Sy het nooit van Valentynsdag gehou nie – dit is vir haar bloot te stroperig en kommersieel en laat mense óf uitgesluit óf afgehaal voel.

Die quirkyalone-tendens het reeds teen die einde van die negentigs kop uitgesteek in televisiereekse soos Sex and the City en Ally McBeal. Dit is asof ’n lig aangegaan het. Om enkellopend te wees kan bevrydend wees, selfs sexy. Jy hoef nie triestig daaroor te wees nie. Baie vroue in verhoudings beny enkellopendes.

Voorheen is geglo die huwelik is die antwoord op geluk. Volgens die Britse gedragswetenskaplike Paul Dolan dui die nuutste navorsing daarop dat ongetroude, kinderlose vroue eintlik gelukkiger is en langer leef as dié wat ’n man het en kinders grootmaak (harpersbazaar.com). Hoewel nie alle quirkyaloners natuurlik kinderloos is nie.

Dit lyk asof die huwelik wêreldwyd in die moeilikheid is. In Brittanje word die helfte minder huwelike voltrek as in 1940, volgens ’n artikel in The Guardian (4/5/2018). Eweneens het dit in 2016 ’n rekord-laagtepunt in Amerika bereik (theconversation.com).

FOTO Unsplash

En volgens Statistieke SA se jongste syfers trou minder mense ook hier as tien jaar gelede. Enkellopende vroue het deur die eeue al hul stempel afgedruk – soos die skrywer Louisa May Alcott, bekend vir haar ikoniese Little Women, wat tans vir die soveelste maal in ’n nuwe fliek verwerk word, die verpleegster sonder gelyke, Florence Nightingale, en die Franse mode-ikoon Coco Chanel ... almal sterk vroue wat nie geskroom het om onafhanklik te dink nie. Die aktrise Sandra Prinsloo is nog ’n goeie voorbeeld. Sy reis en seil graag (sy het ’n skipperslisensie), alleen of saam met vriende, en besit ’n huis op Kalkbaai. Vir lang rukke van haar lewe was sy dolgelukkig alleen én sy was in verhoudings.

’n Mens wonder wat die aktrise Katharine Hepburn van dié trend sou gesê het? In Mei 1981, op 70 plus, is sy só aangehaal in die dagblad The New York Times: “Ek het nog altyd gedoen nét wat ek wil en genoeg geld gemaak om myself te onderhou. Ek is nie bang om alleen te wees nie.” Ná ’n kortstondige huwelik in haar jeug, en ondanks ’n hele paar verhoudings daarna – die bekendste sekerlik met die akteur Spencer Tracy, haar groot liefde – is sy nie weer getroud nie. Die aktrise Diane Keaton, wat nooit getroud is nie, het twee kinders aangeneem en per geleentheid gesê basta oujongnooi, haar lewe is nie minder ryk omdat sy ongetroud is nie.

Carin Smith, inhoudsvervaardiger by fin24, ’n quirkyalone van 50 plus, is dol op haar enkellewe, veral haar gereelde soloreise. Sy vind dit energiegewend en bevrydend. Een van die lekkertes is dat sy haar nie hoef te skik na ander se giere en grille nie. As sy op die nippertjie haar reisprogram wil aanpas, kán sy. “Ek hou nie van in die winkels rondloop nie, is nie ’n action-Barbie nie, en wil ook nie 24/7 álles met my reismaat doen nie.” Sy bepaal haar eie ritme.

Pierre Steyn, redakteur van die reistydskrif Weg, beaam dat vroue al hoe meer alleen reis. Pelgrimstogte soos die Camino de Santiago in Spanje is veral gewild, volgens hom. “Waar enkellopendes in die verlede meer moes betaal vir die ‘singles supplement’, word daar nou in hul behoeftes voorsien.” Hy reken ook al hoe meer inligting is beskikbaar vir vroue-soloreisigers om hul reise deeglik te beplan, wat die “angsfaktor” van alleen reis besweer. “Daar is selfs reispakkette wat dié reissegment teiken.”

FOTO Getty Images / Gallo Images

Volgens Google Trends lewer ’n soektog na “solo female travel” sowat 2,45 miljoen trefslae op. Dié tendens tel sedert 2013 spoed op. In 2014 is bevind meer Amerikaanse vroue as mans reis graag alleen, hul gemiddelde ouderdom is 54 en die gewildste reisbestemming Europa.

Enkelvroue het mans nou ook verbygesteek as dit by die aankoop van eiendom in Suid-Afrika kom, volgens die sake-webtuiste Business Insider. Cindy Bezuidenhout, hoofanalis by Lightstone Property, ’n maatskappy wat data oor die plaaslike eiendomsmark versamel, sê dié groep se koopkrag het sedert 2016 geleidelik toegeneem en in 2018 het 72 000 enkelvroue teenoor 62 000 enkelmans eiendom gekoop – selfs méér as getroudes. Volgens hul navorsing is die meeste in Gauteng gekoop, gevolg deur die Oos-Kaap.

Vida van der Merwe, ’n Kaapse eiendomsagent, reken dié mark koop die afgelope drie jaar al hoe meer eiendom in die stad. “Een van die redes is moontlik dat beter werksmoontlikhede vroue meer bemagtig het. Hulle het dikwels nie afhanklikes nie en kan, soos hul salaris styg, duurder eiendom bekostig.”

Nicola meen bewegings soos #MeToo, wat ’n nuwe golf van feminisme dryf en vroue opnuut bewus maak van gelyke geleenthede, speel ’n rol in quirkyalones se sterker gevoel van onafhanklikheid. “Sosiale media verskaf ’n gemeenskap sonder grense. Vroue kan hul sê openlik sê, hul ding doen in die digitale ruim. Dit word nou ook verder gevoer in die werklike lewe. Die quirkyalones laat hulle nie sommer voorsê nie.”

En – nes mans – is enkellopende vroue se koopkrag reusagtig. In China is die aanlyn winkel Alibaba se Singles Day groter as Black Friday en Cyber Monday sáám, met verkope wat in 2018 digby $31 miljard gehaal het. Dié dag het ontstaan uit ’n rebellie teen Valentynsdag, sodat China se enkellopendes hul alleenharte kon troos met aanlyn aankope.

Wat sê die quirkyalones?

Mariése van der Linde, deeltydse kosstilis en eienaar van Landje, ’n nuwe venue in Pretoria-Oos wat langtafel-etes, kreatiewe werksessies en joga-kuieraande op haar ouers se kleinhoewe aanbied, besit eiendom wat sy verhuur. “Ek probeer jaarliks reis en het ’n gedeelte van die Camino de Santiago in Spanje gestap.”

As kosstilis en sakevrou wat aan die voorpunt van die nuutste tendense wil wees, koop sy gereeld aanlyn. “Ek doen ure navorsing – om seker te maak ek koop die régte produkte vir my Persiese katte, Jan en Hendrik, en Big Ben, my labradoodle en skattige honde-ridder, en myself. Ek is ook ’n sportgeesdriftige en buiten modes is daar ongelooflike sportdrag aanlyn beskikbaar. En wat is lekkerder as om met ’n klik op die internet inkopies te doen? Veral as jy besig is. En dit is pret.”

Mariése geniet alleenwees, maar sal nie omgee om ’n spesiale “partner in crime” te ontmoet met wie sy die wêreld kan platreis en nuwe avonture beleef nie. “Hy is daar iewers, maar sal wel opdaag.” Op 28 is sy glad nie haastig nie.

FOTO Unsplash

Simone Curry, ’n 28-jarige geoktrooieerde rekenmeester van Suid-Arika, woon sedert Mei 2018 in Utrecht, Nederland, en glo dat sý so selfstandig is danksy haar ma, Este, wat eers op 36 met haar pa, ’n Brit, getroud is. Haar ouers is intussen geskei.

“My ma het onlangs saam met ’n groep wildvreemdelinge ’n twee week lange staptog op die Griekse eilande aangepak en haar droom is om die Portugese Camino te stap. Sy doen daagliks joga en behoort aan twee stapklubs. Nie sleg vir ’n 67-jarige met rumatoïede artritis nie. Sy is my rolmodel.”

Simone beplan ’n reis na Swede in November, onder meer na Abisko om die noorderlig te sien. “Ek is bevoorreg om ’n goeie salaris te verdien. Ek spaar, maar eet ook gereeld uit. Ek reis baie en wil lekker goed doen terwyl ek jonk is, sonder té veel groot verantwoordelikhede.”

Teen dertig wil sy eiendom in Utrecht besit. Sy is ’n uitsoekerige verbruiker, wat baie inligting verslind voor sy koop. Dis waarom sy internet-aankope so gerieflik vind. “Webtuistes bied voordele of vergoeding aan kopers wanneer hulle terugvoering gee, dus kan jy báie lees voor jy aankope doen. Aanlyn winkels bied hier ook beter waarde vir geld as in Suid-Afrika.” Sy is dolgelukkig presies waar sy is. “Ek het van jongs af besef dit is mý verantwoordelikheid om gelukkig te wees – op my eie – hoewel ek graag dinge saam met vriende doen. Van skool af het ek my persoonlike ontwikkeling eerste geplaas. Dit is hoe my storie uitgewerk het.”

Simone som quirkyalones goed op: “Ons besef ons is in beheer van ons lewe en hoef nie noodwendig aan die norme en druk van die samelewing te voldoen nie. Ons ‘skryf’ elkeen ons eie storie.”

Ons besef ons is in beheer van ons lewe en hoef nie noodwendig aan die norme en druk van die samelewing te voldoen nie. Ons ‘skryf’ elkeen ons eie storie Simone Curry