• As jy ’n negatiewe emosie ervaar, moenie dit probeer wegsteek of die trane sluk nie. Vóél dit en gee jouself genoeg tyd, sodat verwante beelde, gedagtes, behoeftes en verwagtings daaroor uit jou verlede na vore kom. Gee aandag aan die verwante gevoelens. As jy huil oor ’n konfrontasie en dit herinner jou aan iets uit jou kinderdae, kan dit ’n leidraad wees – dit help jou dalk om die oorsaak te vind vir jou optrede en gevoelens. Al kry jy nie ’n antwoord nie, is jou gewilligheid om die probleem te erken ’n tree in die regte rigting. Jy delf in jou emosies en sien dalk volgende keer die antwoord raak.
  • Let op watter woorde jy gebruik om ’n huidige probleem te bespreek. Woorde soos verraai, geïgnoreer, verkleineer, geïsoleerd, beledig, ingedoen, mishandel of geviktimiseerd kan alles jou persepsie wees en is nie noodwendig die waarheid nie. Het dit dalk eerder met ’n vorige seer te doen?
  • Luister na die taal van jou lyf. Fisieke simptome kan tekens van verborge emosies wees. Jou gesigsuitdrukkings en lyftaal kan jou ware gevoelens verraai wanneer jou mond iets anders sê.
  • Praat met iemand wat jy vertrou wanneer jy deur ’n moeilike emosie worstel. Soms breek die wal wanneer jy hardop erken hoe jy voel.
  • As jy deur ’n moeilike tyd gaan, verwerk jou emosies so gou jy kan. Kry ’n uitlaatklep: Gaan oefen, skryf in jou dagboek of gesels daaroor. Só keer jy dat jou bagasie net meer word en ontdek jy ook dalk die wortel van die probleem as jy weer deur jou skryfwerk lees.

Bron: Uit Melanie, Bea en Dale se raad