Kort voor Nadia* en Chris* se troudag in 2015 is hy afgelê. Sy was nie bekommerd nie – hy het goeie verwysings gehad en sou meubels maak tot hy weer ’n vaste werk kry.

Maar haar salaris as joga-instrukteur was nie genoeg om hulle te onderhou nie en die finansiële stres het hulle vinnig begin onderkry. “Dit laat jou ’n ander kant van iemand sien as geld begin knyp. Jy wil dit só hanteer, hy het weer ander idees. Ons wittebrood was skaars verby, voor ons so vasgesit het dat ek nie kon sien hoe ons verhouding dit sou oorleef nie,” vertel Nadia.

’n Stryery oor geld is inderdaad so ’n groot uitdaging dat dit ’n nuwe loopbaanrigting laat ontstaan het: finansiële huweliksberading – iets tussen tradisionele finansiële berading en huweliksterapie. Dave Ramsey was een van die voorlopers in Amerika en sy YouTube-video Marriage & Money is al meer as ’n halfmiljoen kere gekyk. Selfs universiteite soos Kansas State, Georgia en Creighton, almal in die VSA, bied nou kursusse in finansiële terapie aan.

Die praktyk het nog nie in Suid-Afrika posgevat nie, maar Mary J. Fourie, ’n leefstyl- en finansiële afrigter van Kaapstad, sê sy help ál meer paartjies om finansies in hul verhouding te bestuur. “Wanneer twee mense in ’n verhouding is, is daar geen waarborg dat hulle dieselfde benadering tot geld sal hê nie. Persoonlikhede en gewoontes hieroor verskil wyd en dit kan beslis ’n bron van konflik wees. Dis noodsaaklik om ’n ooreenkoms te bereik oor hoe julle met geld werk, want dit raak elke aspek van die verhouding – van jul daaglikse lewe tot groot besluite soos waar julle woon en of julle kinders wil kry.”

Nadia weet dit alte goed. “Vir my was die grootste frustrasie dat Chris maklik skuld sou maak, terwyl ek baie meer konserwatief is oor geld. Hy het aanhou leef soos voorheen en ek wou ons begroting sny.” Hulle het uiteindelik ’n berader besoek wat hulle gehelp het om mekaar beter te verstaan en op gesonder maniere oor geld te kommunikeer. “Ek het geleer nie my óf sy benadering tot geld is reg of verkeerd nie, dis net verskillend. Hy sien geld as ’n hulpmiddel, ek beskou dit as ’n veiligheidsnet. Dit het alles verander, want toe probeer ons mekaar verstaan eerder as om aanvallend te wees.”

Nadia is dankbaar hulle het vir terapie gegaan, want dit was ook ’n goeie grondslag vir ander aspekte van hul verhouding. Hul storie het ’n gelukkige einde, maar vir baie paartjies bly geldsake ’n uitdaging.

Die syfers

Verskeie studies het al gewys geld is een van die grootste oorsake van egskeidings – sommige sê selfs dis die grootste enkele rede. ’n Langtermynstudie in 2012 deur die Kansas State-universiteit waarby nagenoeg 5 000 paartjies betrek is, het getoon huwelike waar geld die grootste probleem is, is meer geneig om in die skeihof te beland as dié waar ander probleme die grootste twispunt is.

’n Tien jaar lange studie deur Amerika se stigting vir finansiële opvoeding, waarvan die resultate in 2018 bekend gemaak is, het ook gewys finansiële ontrouheid (waar een party nie eerlik is oor hul uitgawes, skuld of aankope nie) het al 75% van verhoudings op een of ander manier negatief geraak.

En verlede jaar het ’n Britse studie wat in die wetenskapjoernaal PLOS One gepubliseer is, gewys waargeneemde onregverdigheid (wanneer een van die paartjie voel/glo dis onregverdig) oor die verdeling van finansies het ’n slegter effek op huweliksharmonie – en hoe gereeld julle seks het – as onregverdigheid oor die verdeling van huiswerk.

FOTO Unsplash
FOTO Unsplash

Die grootste uitdagings

Mary sê sy sien in haar werk veral drie redes hoekom paartjies vassit oor geld:

  • ’n Gebrek aan vertroue in jou maat se vermoë om geld te bestuur.
  • ’n Magswanbalans: Een party het meer beheer oor die gesamentlike finansies.
  • Verskillende doelwitte en drome.

Chevon Cawood, ’n kliniese sielkundige van Johannesburg, sê weer die aard van finansiële probleme is so uniek soos die paartjies wat sy in haar praktyk sien. Tog is daar ’n gemene faktor: Verskille oor wat geld vir iemand beteken.

“Sommige mense voel veilig as hulle geld spaar, ander voel weer dat geld jou lewe moet verryk.” Verskeie studies het ook al die probleme en oorsake probeer uitpluis.

Nog voorbeelde van uitdagings sluit in: Die onregverdige verdeling van rolle en geld. By paartjies wat tradisionele geslagsrolle volg, voel die broodwinner dikwels misbruik terwyl die tuisteskepper uitgebuit voel.

’n Gevoel van verlies aan status en mag wanneer een persoon baie meer as die ander verdien – veral in verhoudings waar vroue meer as mans verdien.

Die oorsake

Chevon sê by finansies speel jou kinderjare ’n groot rol. “Die meeste kinders leer by hul ouers oor finansies. Selfs as jou ouers nooit vir jou verduidelik het hoe geld werk nie, het jy deur hul voorbeeld geleer hoe om daarmee te werk.” En as jou maat byvoorbeeld geleer het om sente om te draai terwyl jou familie dit aansienlik breër gehad het, kan jul finansiële benadering baie anders wees. “Mense voel ook baie sterk oor geldsake omdat dit so persoonlik is (minstens tot en met die huwelik). Dus is verskille geneig om konflik te veroorsaak,” sê sy.

Sy en Mary is dit egter eens dat swak kommunikasie eerder die grootste struikelblok is, eerder as jul benadering tot geld. Goeie kommunikasie is belangrik by alle fasette van ’n verhouding, sê Mary – hoekom sal finansies dan anders wees? “Gelukkig is dit ’n vaardigheid wat aangeleer kan word, ongeag jou finansiële uitkyk.”

Oplossings

Chevon en Mary gee dié raad:

1. Verander jou kommunikasiedoelwit

Jou uitgangspunt behoort een van nuuskierigheid oor jou maat te wees wanneer julle oor geld gesels, sê Mary. “Moenie jou maat se benadering oordeel nie. Probeer eerder verstaan hoekom iemand voel soos hulle voel en doen wat hulle doen as dit by geld kom.” Om jul verskillende benadering tot geld as reg of verkeerd te beskou, is ’n resep vir oorlog, sê Chevon. “Moenie mekaar probeer verander of oortuig dat die ander een se manier beter is nie, maar dink eerder hoe julle vorentoe gaan maak met geld.

2. Maak ’n plan

Noudat julle weet wat elkeen se uitkyk is, kan julle saam uitwerk hoe om jul aparte en gesamentlike doelwitte te bereik. Dit verg dalk kompromieë, soos dat een ’n bietjie minder moet uitgee, of selfs ’n nuwe benadering, soos om jul gesamentlike rekening eerder in aparte rekeninge te skei. Die oplossings sal uniek wees vir almal.

3. Stel ’n begroting op

Eers wanneer julle mekaar se doelwitte en behoeftes beter verstaan en ’n plan het om jul finansies te bestuur, kan julle ’n begroting opstel. Weer eens sal dit van paartjie tot paartjie verskil, en vir sommige sal dit selfs ’n riglyn wees eerder as ’n streng stel reëls. Buiten jul maandelikse besteding, moet julle seker maak dit neem ook skuld en die toekoms (die nabye toekoms, soos vakansieplanne, en ook die verre toekoms, soos aftreeplanne) in ag.

* Skuilname.

Kontak:

Mary J. Fourie: www.mjfwealth.co.za

Chevon Cawood: 073 432 988, cawoodpsych@gmail.com