Mens hoor gereeld van mense wat ’n blaaskans neem van sosiale media, maar het jy al daaraan gedink om dit ter wille van jou verhouding te doen?

Dis presies wat die popster Ariana Grande en haar verloofde, Pete Davidson, pas gedoen het. Ariana het haar Instagram-blad vir kommentaar gesluit terwyl Pete sy blad uitgewis het. Hulle het glo saam besluit om dit te doen omdat die negatiewe kommentaar wat hulle gedurig kry, hul verhouding beïnvloed. Volgens People-tydskrif is die paartjie moeg daarvoor om “aangeval” te word op sosiale media en wil hulle eerder voor hul troue op hul verhouding konsentreer.

FOTO Getty Images/ Gallo Images

 Ja, verskeie onlangse sosiale studies wys ons bestee al hoe meer tyd aan ons elektroniese maatjies.

En dat dit ’n invloed kan hê op ons verhouding. Sosiale media is immers ’n groot deel van ons lewe, en kan sentraal wees in die poging om ons romantiese verhoudings op koers te hou. Reg van die begin af, wanneer julle dit dalk gebruik om mekaar te ontmoet en ogies te maak. Tot later, wanneer julle daarmee die liefdesvlam warm hou as julle nie by mekaar is nie.

Maar wanneer raak dit sleg? Kan tegnologie en sosiale media ons verhoudings oorneem?

Dr. Elmari Craig, seksuoloog van Pretoria, sê tegnologie se negatiewe impak op verhoudings hét vererger namate sosiale media se gewildheid toegeneem het. “Selfone en tablette raak verskonings om nie met mekaar te praat en mekaar in die oë te kyk nie. Nie eens in die slaapkamer nie.”

 ’n Seksuoloog van Johannesburg, Catriona Boffard, sê sy kry baie te doen met kliënte wat noem dat slimtegnologie ’n remskoen vir intimiteit in hul lewe is. Niks vreemds nie, want hulle gebruik letterlik hul foon tot hul oë toeval!

 Elmari waarsku daar is ’n probleem as ons seks soos ’n resies afjaag omdat ons nuuskierig is oor boodskappe op ons selfone, of dit uitstel omdat ons eers iets op ons foon moet nagaan.

 “Ek sien ook baie affairs wat deur sosiale media en slimfoon-tegnologie begin, aangevuur en lewend gehou word.”

Omdat dit so ’n sentrale rol in ons persoonlike lewe speel, wou navorsers vasstel hoe slimfone op ’n positiewe manier gebruik kan word om ons sekslewe te verbeter. Die antwoord? Gebruik jou slimfoon se af-knoppie! Want vat jy dit saam slaapkamer toe, kan dit moontlik ernstige skade aan jou verhouding doen …

Die feit is dat tegnologie en sosiale media maklik die derde party in ons verhoudings kan word. As sosiale media en selfone die middelpunt is, kan dit frustrasie en spanning veroorsaak.

Hoe nou gemaak?

Beplan gereeld tye saam sonder enige elektroniese toestelle. Doen dinge saam: ry fiets of pak wandelpaaie aan. Beplan prioriteite. Maak reëls. “Soos om ’n gewone, outydse wekker – nie ’n elektroniese een nie – in die slaapkamer te stel. Laat selfone en tablette net met uitsondering daar toe,” sê Elmari.