Geskei maar steeds vriende? Ja, dis tog moontlik, al klink dit na ’n teenstryd

Toe hulle ses jaar gelede geskei is, het Christelle en Coen ’n geleentheid by haar nuwe blyplek in Kaapstad geskep waar hulle met hul twee volwasse dogters, Elzaan en Elana, kon gesels oor hoe verhoudings tussen die gesinslede vorentoe gaan werk.

Ek het gevoel ons moet almal afsluiting kry oor wat gebeur het, en om daaroor te praat was die beste manier.” Dit was vir Christelle ’n voorvereiste vir enige vriendskap in die toekoms.

Wanneer jy jou opgekropte gevoelens laat gaan, kan die genesing begin. Daarna moet jy die kuns aanleer om mekaar die beste lewe moontlik te gun. Die geheim is volslae eerlikheid.” Hulle was ook eerlik met hul vriende en het hulle genooi om enige vrae met hulle te bespreek wanneer hulle saam is sodat hulle nie klippe na mekaar kon gooi nie.

Hul dogters het reeds op hul eie voete gestaan toe hulle geskei is, “maar hulle was steeds ons kinders en daarom het ons oor die dinge gepraat wat hulle kon benadeel. Ons wou genesing vir almal bewerk.”

Vandag kan sy Coen nooi om ’n nutswerkie of twee by haar gastehuis te kom doen en is “hy beslis die een wie ek sou bel as ek laatnag langs die pad gaan staan”. As julle ná ’n egskeiding aanhou kommunikeer, het julle inderdaad ’n groter kans op vriendskap, sê Maralise van Coller, ’n maatskaplike werker met ’n private praktyk in Bellville. Sy het oor die jare in haar praktyk ervaar indien geskeide paartjies doelbewus besluit om aan te hou praat en probeer, is die kanse beter dat hulle vriende word.

Om afstand te kry maak ook ’n verskil. Vir mense met kinders neem dit langer (gewoonlik sowat ’n jaar), maar sonder kinders kan ses maande se afstand ook genoeg wees. “Jy weet jy het werklik afstand as jy geen emosionele verbintenis meer het nie, soos dat jy jou eks ’n nuwe lewe of nuwe verhouding gun. Maar dit is gekompliseerd om emosionele afstand te kry. Juis daarom word bitter min paartjies ná die tyd vriende.”

Sy glo tyd maak ’n verskil aan die emosionele lading op voormalige huweliksmaats. “Soms is dit bloot net te vroeg om vriende te word. Tyd maak dit moontlik om jul intense gevoelens so te verwerk dat julle mekaar in ’n nuwe lig sien. Daarom moet julle nie sommer ná een probeerslag tou opgooi nie, maar aanhou kommunikeer.”

Dit kan gekompliseerd raak sodra ’n derde party in een van die twee partye se lewe kom. Veral as die ander party dit as ’n vorm van verwerping ervaar – dit kan die vriendskap in gevaar stel.

“Hoe beter julle deur jul gevoelens oor die egskeiding werk en emosionele afstand kry, hoe makliker sal ’n derde party in die vriendskap aanvaar kan word. Vroue is geneig om makliker hul gevoelens te erken en verwerk, waar mans geneig is om makliker emosies te onderdruk, en dít kan dan die vriendskap affekteer as daar ’n derde party bykom.”

LEES OOK

"Ons het mekaar weer begin verstaan" - Riva Schoeman, radio-omroeper, se storie

Wees 'n beter eks in 7 stappe