Haar egskeiding in 2018 het Zelda* goed verwerk – of so het sy gedink.

“Ons het saam besluit dis beter om te skei. Ons wou verskillende dinge in die lewe hê – hy wou oorsee gaan werk en die wêreld verken, ek wou hier bly en ’n gesin begin. My vriende het almal gesê hulle is trots op hoe goed ek dit verwerk. Ek het nuwe stokperdjies aangepak, begin oefen en vir die eerste keer in jare op my eie drome gefokus,” vertel sy.

Maar toe, skaars ses maande later, hoor sy haar eks is verloof. En toe stort haar kaartehuis inmekaar. “Ek kon dit nie glo nie! Dit het my selfvertroue geruk; ek het na ’n donker plek toe gegaan. Hoe kon ek so min vir hom beteken het dat hy so vinnig van my kon vergeet? Ons was sewe jaar saam en ek dink ek het onbewustelik verwag soos ek sal hy seker eers op homself fokus en ons egskeiding verwerk voor hy aanbeweeg.”

Sy het daagliks na sy sosialemediaprofiele begin kyk – en haarself en hul verhouding met sy nuwe lewe en liefde vergelyk. “Ek het geweet ek moenie en dis irrasioneel, maar ek kon dit nie help nie. Ek het gebrand van jaloesie en woede.”

Zelda het besef sy was nooit werklik oor die egskeiding soos sy gedink het nie. “Daardie eerste paar maande was eerder ’n lus vir nuwe dinge en ’n opgewondenheid oor nuwe moontlikhede. Eintlik, as ek nou terugkyk, het ek die rouproses probeer ignoreer deur te veel dinge aan te pak.”

As jy bly vasklou

Zelda se storie is glad nie ongewoon nie, sê Louisa Niehaus, ’n sielkundige van Johannesburg. “Dis eintlik ’n algemene fantasie wanneer ’n verhouding eindig – baie mense wil graag, bewustelik of onbewustelik, glo hulle is onvervangbaar. Om jou eks dan saam met iemand te sien dwing jou om die realiteit, die nare feit dat jou eks sonder jou kán leef, te konfronteer.”

So moeilik soos daardie oomblik kan wees, so dikwels is dit ook ’n bedekte seëning, sê sy. “Dis nodig om die werklikheid te aanvaar wanneer ’n verhouding eindig sodat jy die band met jou eks kan breek en aanbeweeg. 

Soms het ’n mens ongelukkig so ’n moeilike katalisator nodig om dit werklik te begin doen.”

Maar aanbeweeg, moet jy, sê dr. Andri Burger, ’n sielkundige van Synergy Psychological Services (met takke in Johannesburg en Pretoria). “Wanneer jy nie jou gebroke huwelik en jou eks laat gaan nie, hou jy vas aan die verlede, of aan jou seer en woede. Jy ontneem jouself die kans om weer geluk te vind, alleen óf saam met iemand anders, want jou eks beïnvloed steeds jou lewe.”

En dit kan jou emosioneel “verlam”, sê Louisa. “Jy kan dan maklik daar vashaak, met jou wêreld en wese wat om jou eks wentel. Jy loop die risiko om bitter, kwaad en eensaam te word. Boonop kan jou eks jou begin verwyt, want jou afhanklikheid maak dalk dat hy ook nie kan aanbeweeg nie. Vriende en familie kan moeg raak vir jou negatiwiteit en jou begin vermy.

“As julle saam ouers is, doen jy jou kinders ook skade aan. Kinders leer hoe verhoudings werk deur hul ouers dop te hou. As jy vasklou, jou eks slegsê of manipulerend is – alles tekens dat jy nie aanbeweeg het nie – sal hulle dit moontlik ook in hul toekomstige verhoudings doen. Dit kan jou kinders boonop dwing om kant te kies, wat ’n moeilike situasie net meer gekompliseerd maak.”

HOE OM DAAR TE KOM

Drs. Andri Burger en Annemarike de Beer van Synergy Psychological Services gee hul wenke:

  • Begin ’n joernaal waarin jy jou gevoelens neerskryf. Dit kan jou help om jou gedagtes te orden en sin te maak van wat gebeur het.
  • Stel klein doelwitte en maak tyd vir dinge waarvan jy hou, soos om dalk drie keer per week te gaan stap, een keer per maand vriende vir ete te nooi, of te leer hoe om daardie kraan te vervang wat jou eks altyd reggemaak het.
  • Werk doelbewus daaraan om jouself en jou eks te vergewe sodat jy die woede wat jy ervaar, kan laat gaan. Om te vergewe is ’n daaglikse keuse.
  • Oppas vir “wat as”-gedagtes. As dit jou nie help om tot nuwe insigte te kom nie, of jou net slegter laat voel, dien dit geen doel nie en moet jy ’n doelbewuste besluit neem om daardie gedagtes te stop as dit by jou opkom.
  • Moenie jouself en jou lewe ná die egskeiding met dié van jou eks vergelyk nie – dit gaan jou net meer angstig en depressief laat voel. Al waaroor jy beheer het, is jou eie keuses binne die omstandighede van jou eie realiteit – wat van jou eks s’n verskil.

GEVAARTEKENS

Daar is nie ’n spertyd om te laat gaan nie – die rouproses verskil vir elkeen en hang af van faktore soos jou persoonlikheid, die omstandighede en hoe heg jul band was. Dis egter moeilik om te weet of jy wérklik laat gaan het. Só lyk ’n paar gevaartekens dat jy nog vashou, sê dr. Annemarike de Beer, ook van Synergy:

  • Jy volg jou eks op sosiale media, op soek na inligting oor sy doen en late, sy liefdeslewe, of tekens dat hy jou mis.
  • Jou eks is steeds die eerste persoon wat jy wil kontak wanneer jy goeie óf slegte nuus het.
  • Jy dink verskonings uit om jou eks te sien (kinders kan maklik hiervoor misbruik word).
  • Aan die ander kant: Jy vermy doelbewus jou eks, of selfs plekke waar julle mekaar maklik kan raakloop.
  • Jy sit soms en dink aan maniere om wraak te neem op jou eks, of probeer hom jaloers maak.
  • Jy’s steeds afhanklik van jou eks vir praktiese take en doen nie moeite om self verantwoordelikheid daarvoor te neem nie.
  • Jy vergelyk almal wat jy ontmoet met hom, en almal skiet te kort.
  • Jy gee jou eks die skuld vir alles wat tussen julle skeefgeloop het, eerder as om jou bydrae ook te probeer raaksien.

HOEKOM DOEN ONS DIT?

Selfs al weet jy dit was beter om te skei, kan dit jou “na” aan jou eks laat voel as jy vashou aan die verhouding – al is dit op ’n negatiewe manier. ’n Egskeiding, sê dr. Burger, is immers nie net die verlies aan ’n verhouding en jou eks nie, maar ook ’n verlies aan al die toekomsdrome wat jy en jou maat gehad het – en dís moeilik om te laat vaar, selfs al weet jy die verhouding het nie meer gewerk nie.

“Daar is baie gekompliseerde emosies betrokke, wat dinge ook bemoeilik. Daar is dalk vrees, want die bekende wêreld waarin jy gemaklik was, het verdwyn en jou toekoms lyk onseker. Jou roetine, verantwoordelikhede, huis en verhoudings met vriende en familie lyk dalk anders. En die self-identiteit wat jy in jou huwelik gebou het, word uitgedaag. Jy voel dalk ook soos ’n mislukking omdat jou huwelik nie uitgewerk het nie. Juis om dié redes bly baie mense in ongelukkige verhoudings eerder as om soveel uitdagings te moet aanpak. En dis dieselfde redes wat jou kan laat vasklou aan die verlede.”

Dis wat met Kristel* gebeur het – sy kon haar eks laat gaan, maar nie haar drome nie, sê sy. “Ek is een van daardie vroue wat al van kleins af gedroom het oor die wit rok, die ridder op die perd, hoe ons saam sou oud word en aftree. Maar my ridder, ná so twee jaar se verliefdheid, word toe iemand wat eerder gedurig wou uitgaan en kuier as om by my te wees.

Vir ’n hele paar jaar het ek probeer om dinge tussen ons te laat werk, maar uiteindelik dink ek ek het aanvaar dit gaan nie beter word nie en daarmee vrede gemaak – selfs terwyl ons nog getroud was. Maar toe hy in 2015 wou skei, was dit steeds ’n skok. Ek het skielik besef ek het nie ’n plan B nie. Dit het vir lank nie eens by my opgekom dat ek daardie drome saam met iemand anders kan bereik nie, want jy trou mos nie om te skei nie.”

Sy het met depressie gesukkel en uiteindelik ’n sielkundige gaan sien. “Daar het ek, ná baie trane en ’n paar harde sessies om my emosies te verwerk, aan nuwe planne en drome begin bou. Dis wat my uiteindelik gered het.”

Louisa sê depressie is baie normaal ná ’n egskeiding, en die aard van depressie maak dit juis moeiliker om aan te beweeg. “Depressie kleur alles negatief in, laat jou eensaam en kwesbaar voel, en steel jou energie, wat dit moeiliker maak om op te staan en jou nuwe lewe aan te gryp.”

HOE LAAT GAAN JY?

Eerstens en bo alles, laat jouself toe om te rou oor die verlies van jou huwelik, sê Louisa. “Gee jouself tyd om álles te voel – hartseer, kwaad, bang, woedend, seergemaak; voel dit net. Die meeste mense probeer om weg te skram van die pyn deur dit te ignoreer, hulself besig te hou of vir hulself te jok, maar dit rek die proses net uit. Steun op jou vriende en familie vir daardie eerste ruk – jy sál daardeur kom.”

En selfs wanneer jy beter begin voel, is dit normaal om steeds af dae te hê, sê dr. Burger. “Om te rou is nie ’n lineêre proses nie: Jy kan dalk een dag voel jy het aanbeweeg, en die volgende dag ’n terugslag hê omdat dit jul huweliksherdenking sou wees. Solank jy vordering maak en nie vashaak by die slegte dae nie. As jou emosies ná ses maande of selfs ’n jaar nog net so intens is soos kort ná die egskeiding, moet jy by ’n terapeut hulp kry.”

Hoe weet jy jy het dan régtig laat gaan? Daar is ’n paar tekens, sê dr. Burger. “Jy sal waarskynlik die goeie tye in jou huwelik weer onthou, en jou eks se goeie eienskappe. Jy sal daaroor kan praat sonder om ’n intense emosionele reaksie te hê. Jou eks se nuwe huis/motor/liefde sal nie meer jou geluk beïnvloed nie, want jy sal waarskynlik te besig wees om jou eie lewe te leef en uit te sien na jou eie toekomsplanne. En al stem jy steeds nie saam met jou eks se gedrag nie, voel jy nie meer elke keer woedend of seergemaak as jy daaraan dink nie.”

Onthou, sê Louisa, ’n einde is nie net ’n einde nie, maar die begin van iets nuuts. “Moenie vashou aan iets wat jou nie meer dien nie. Voor jou lê nuwe dele van jouself, nuwe dinge wat jy nie binne jou huwelik sou kon ervaar nie, en nuwe geleenthede wat jy kan aanpak. Dis opwindend, en soos die tyd verloop, sal jy dit so sien.”

* Skuilname is gebruik.

KONTAK: 

Louisa Niehaus: louisaniehaus.com

Synergy Psychological Services: 011 662 1196, ruimsigpsych.com