Hy het haar nog die oggend vertel hy’s lief vir haar. Vyf uur later het sy saam met die res van die wêreld uitgevind haar verhouding van twee jaar is op ’n einde: Toe die man in háár lewe (dink sy nog ewe) ’n foto van sy nuwe meisie op Instagram plaas.

En jy het gereken om iemand met ’n teksboodskap af te sê is die toppunt van slegte maniere. Of, soos in ’n episode van Sex and the City, toe een van Carrie Bradshaw se minnaars ’n boodskap op ’n geel Post-it-nota agterlaat: Dis verby. Niks nuuts nie, dus. Solank as wat mense romantiese verhoudings aanknoop, sal hulle maniere vind om dit te beëindig. Maar met die nuwe tegnologie wat nou ’n reuse-rol in opsitkers-rituele speel, het baie van die hofmaakproses se ou reëls verander. En het ’n glibberige manier verskyn om ’n verhouding te beëindig: Jy verdwyn, word ’n skim.

Ghosting . . . Dit het niks te doen met Casper nie. Ook nie die seuntjie wat dooie mense kon sien in daai fliek nie. Patrick Swayze en Demi Moore? Huh-uh . . . Dit word deur The Urban Dictionary gedefinieer as “die daad om skielik alle kommunikasie met iemand te verbreek”. Jy beantwoord nie meer sy telefoonoproepe of e-posse nie, blok hom op sosiale media. Die skinderkoerante skryf Charlize Theron het haar verlowing met Sean Penn glo so beëindig, maar sy ontken dit.

Thuli*, in haar twintigs, erken dit was ’n bietjie gemeen: “Ek woon in Kaapstad, hy in Johannesburg. Die langafstand-verhouding het nie vir my gewerk nie. En hy was so verlief, hy’t my versmoor. Ná sowat ’n jaar en ’n half het ek net verdwyn. Drie weke later het hy al die pad Kaap toe gekom om met my te praat. Ek het geweier om hom te sien. Ja, ek het sy hart gebreek. Dit sal hom leer om mense nie so maklik te vertrou nie . . .”

Vir sy boek Modern Romance het die Amerikaanse akteur en komediant Aziz Ansari 150 000 mense in sy gehoor gevra hoe hulle die nuus aan iemand oordra dat hulle nie belangstel nie. Die gewildste was om te sê jy is besig, en dan volg die ghosting-tegniek. Net ’n fraksie van die skare het gereken eerlikheid is die beste uitweg.

Amerikaanse navorsing wys sowat 25% van deelnemers is al deur ’n vorige minnaar ge-ghost, 20% het dit self al gedoen. Nog navorsing wys dit gebeur meer gereeld in vriendskappe: Meer as 30% van deelnemers het al ’n vriend ge-ghost, of was al die slagoffer daarvan, volgens die Journal of Social and Personal Relationships. En albei geslagte is ewe skuldig daaraan.

Julle kon dus uitgegaan het, of dit was ’n goeie vriendin wat jy vertrou het. Maar hy/sy wil jou nie meer sien nie – en maak homself skaars. Hy hoop jy kry die boodskap sonder ’n lastige konfrontasie. Daar is nie ’n beslissende einde met een of ander (dikwels deursigtige) verskoning nie: “Dis nie jy nie, dis ek.” Nee, hy laat jou wonder, lê die fout by my?

Maryna*, wat sê sy is al dikwels aanlyn ge-ghost, vertel van die dinge wat deur jou kop maal: “Wat het ek verkeerd gedoen? Het ek iets simpels gesê? Dalk te gretig oorgekom? Was daar kos tussen my tande? Is ek maar net paranoïes? Wat as iets met hom gebeur het? Hoekom sal hy andersins net padgee? Hy het dan so gaaf gelyk.” Dan probeer jy hom kontak, maar ’n doodse stilte volg. En jy kom agter hy’t jou geblok op sosiale media.

Sonder enige drama vir onse “skim”. Hy verskoon homself dat hy jou nie wil seermaak nie. Nè? Daar is soveel maniere hoe jy kan sien hoe hy “skouer skuur” met die wêreld en sy maat. Net jy word geïgnoreer.

Die emosionele uitwerking kan verpletterend wees. Soos ’n blogger op XOJane.com dit stel: “As jy sonder enige verduideliking padgee, gaan ek met ’n miljoen en ’n half redes vorendag kom waarom jy nie meer belangstel nie. Totdat jy daardie deur finaal toemaak, gaan ek vashou aan daardie klein, onrealistiese stukkie hoop dat jy my nog steeds wil sien. Dat jy dalk gaan bel (’n teksboodskap stuur, wie bel nou nog?) en alles wel sal wees.”

Ghosting, reken ’n blogger op PsychologyToday.com, is inderdaad die uiterste vorm van stilstuipe (silent treatment), ’n taktiek wat dikwels gesien word as ’n vorm van emosionele wreedheid. Jy is magteloos en kry nie kans om vrae te vra en inligting te bekom wat jou help om die ervaring emosioneel te verwerk nie. Dit keer dat jy jou emosies verwoord en gehoor word, belangrik vir jou selfrespek. Dit laat jou nie net die geldigheid van die verhouding waarin jy was, bevraagteken nie. Jy bevraagteken ook jouself. “Hoe kon ek my so misgis het met sy karakter? Hoe kan ek myself in die toekoms daarteen beskerm?

“Die teenoorgestelde van liefde is nie haat nie. Dis onverskilligheid,” volgens die blogger. As jy aan die ontvangkant daarvan staan, voel jy jy word nie gerespekteer nie, gebruik, weggedoen mee, soos iets waardeloos, volgens dr. Helgo Schomer, gedragsielkundige van Kaapstad. “Mense met ’n lae selfbeeld kry die seerste. Sosiale verwerping aktiveer dieselfde brein-pyn-paaie as fisieke seerkry.”

PsychologyToday.com haal mense in lang- en korttermyn-verhoudings aan met wie dit gebeur het. “Dit was soos ’n hou op my maag.” “Ek het soos ’n idioot gevoel.” En ghosters: “Ek beskou myself as ’n eerlike en reguit mens. En tog het ek al ge-ghost . . . Ek vertel myself oor en oor dis die skuld van die giftige dating-kultuur wat ons geskep het,” vertel een.

Wel, sedert die koms van afspraak-webtuistes en die feit dat so baie mense met wie jy uitgaan geen bande met jou het nie, is dit maklik om uit iemand se lewe pad te gee, aldus HuffingtonPost.com. Dus: Die kanse is skraal dat julle baie sosiale kontakte deel – en daar is minder gevolge vir jou optrede. As dit jou ’n paar keer oorgekom het, aanvaar jy dit boonop as normaal en doen jy dit dalk óók.

Dan werp apps soos Tinder ook die indruk daar’s altyd iemand anders – letterlik – om die naaste hoek. En dit versterk spoke in hul kwaad, laat hoor The New York Times (nytimes.com).

Afspraak-webtuistes en apps neem ook ’n bietjie van die menslikheid uit die proses, volgens ’n seksuoloog op HuffPost. Dit kan mense meer geneig maak om te ghost. “Want al wat dit verg, is ’n veeg. Só maklik is dit en dit vereis min menslike betrokkenheid.” Chelsea, wat al aan albei kante van die spektrum was, word aangehaal in die artikel: “Selfs ná twee afsprake is hulle steeds net ’n profiel vir jou, nie ’n mens nie. Ek voel nie die normale empatie wat ek andersins vir iemand sou gehad het nie.”

Volgens dr. Schomer het sosiale wetenskaplikes opgelet daar is ’n duidelike afname in empatie in ons tyd van inligting-oorlading en narsisme. “Dink aan die stortvloed selfies wat elke dag op sosiale media gedeel word.

“Die sosiale media en afspraak-apps maak dit te maklik om komplekse menslike gedrag te hanteer: die behoefte om te behoort, aanvaar te word, om deel van ’n groep te wees . . . Ons haastige leefstyl wat op onmiddellike bevrediging gefokus is, help ook nie eintlik nie.”

Die skerm-generasie ontwikkel boonop geen verhoudings-vaardighede nie, verduidelik Christo van der Westhuizen, opvoedkundige sielkundige van Randburg. “Die skerm is die filter waardeur alle menslike interaksie plaasvind. Vir oorlewing leer hulle om dit wat relevant is, blitsvinnig uit te ken tussen al die inligting wat via die kuberruim na hulle stroom. Dit wat onbelangrik is, word eenvoudig geskrap. En as ’n verhouding nie meer werk nie, hanteer hulle dit nes enige ander stuk oorbodige inligting.”

Volgens Christo is ghosting glad nie vreemd vir tieners nie, dis maar hoe jy dinge doen. Hoe jonger, hoe meer algemeen is dit. “Hulle weet eenvoudig nie van beter nie. Ouers doen dit óók en hulle behoort beter te weet. Maar hulle dink dis maar hoe dit is op die sosiale media, dat dit die nuwe etiket is.”

As jy ge-ghost word, kan jy dit ignoreer. Dit beteken egter nie dit het geen effek op jou nie. Jy moet doelbewus afsluiting probeer vind, want dit kan beïnvloed hoe jy verhoudings vorentoe benader, reken Christo. Jy kan sukkel om mense te vertrou, vrees iets soortgelyks gebeur in die toekoms en angstig wees as iemand nie onmiddellik op ’n oproep of teksboodskap reageer nie. Skryf ’n brief aan daardie een, stort al jou gevoelens daarin uit. Sê jou sê en skeur dit dan op.

Gebeur dit dikwels met jou, kan dit dalk ’n groeigeleentheid wees, sê hy. Vra jouself af wat jy doen wat mense afsit? Is jy dalk so aggressief dat hulle bang is om vir jou te sê dis verby? Dring jy dalk hul persoonlike ruimte binne? Hoekom wil hulle niks meer met jou te doen hê nie?

’n Vriendin se oorafhanklikheid het haar genoop om haar te ghost, vertel Des*. Toe die vrou ook haar tienerdogter met e-posse en telefoonoproepe begin looi, soms laat in die nag, het sy summier alle bande verbreek. Só keelvol was sy, sy het nie eens probeer verduidelik nie. As jy ge-ghost is, beveel dr. Schomer aan jy praat met iemand daaroor, van aangesig tot aangesig. Beweeg dan aan, na reeds goed gevestigde vriendskappe. “Ou” vriende wat die toets van tyd deurstaan het. En beskikbaar is om te sit, te praat, te luister, te deel. Moenie jouself isoleer nie, raak besig.

Onthou een ding: Hy het duidelik gewys hy is nie ’n goeie kommunikeerder nie, nie in staat om ’n gesonde verhouding met jou te hê nie, aldus HuffPost. ’n Gesonde verhouding tussen twee mense verg oop en eerlike kommunikasie. En dís waarna jy in ’n verhouding moet streef. * Skuilname is gebruik.

Ouers doen dit óók en hulle behoort beter te weet Christo van der Westhuizen, opvoedkundige sielkundige
Wilde e-woordeboek

“Zombieing” (ook bekend as “submarining”): Hy het jou ge-ghost, maande lank geïgnoreer en skielik ontvang jy uit die bloute ’n teksboodskap van ’n eks. Of daar is een of ander vorm van sosialemedia-interaksie. Gewoonlik ook net wanneer jy weer jou voete begin vind. Maryna vertel dit gebeur nogal baie op afspraak-webtuistes. “Die verskoning is gewoonlik dat hulle baie besig was, of gereis het. Die ergste is mans wat vertel hulle het kanker gehad en is nou in remissie. En dis nie een man nie, maar verskillende mans se verskoning gewees!”

“Ghostbusting”: Jy dwing hom om te antwoord.

“Caspering”: Die vriendelike alternatief vir “ghosting”. Pleks dat jy iemand ignoreer, is jy eerlik oor jou gevoelens en breek bande so sagkens moontlik. Bron: www.theguardian.com

Wat sê navorsing?

Sowat 25% van deelnemers is al deur ’n vorige minnaar ge-ghost

20% het dit self al aan iemand anders gedoen

Meer as 30% het al ’n vriend ge-ghost, of was al die slagoffer daarvan

Kontak

Dr. Helgo Schomer: www.drschomer.com

Christo van der Westhuizen: 076 984 0007 of 079 405 7668, admin@rbgcc.co.za