Ja, hy het 'n obsessie met homself, kan nie empatie betoon nie en maak jou lewe hel. Dís die narsis, in ’n neutedop.

Narsisme is aan die toeneem, onder mans en vroue en onder meer weens die invloed van die sosiale media en ouers se opvoedingstyl. Kenners wêreldwyd praat van ’n “epidemie wat buite beheer is”.

Soos die jare aanstap, raak die situasie darem rooskleuriger. Dié persoonlikheidsafwyking verbeter met ouderdom; narsistiese trekke is maar skaars onder 65-jariges. Teen daardie tyd het die narsis se “sondes” hom al ingehaal en word hy tot inkeer gedwing.

Jy kan ook jou narsistiese man leer hanteer, maar verander kan hy nie sommer nie want hy het geen insig in sy probleem nie. Hy dink: “Hoe kan ek verskoning vra as ek altyd reg is?”

“Dis ook waarom dit byna onmoontlik is om hom by ’n terapeut te kry,” sê Murray Jooste, Kaapse sielkundige. Kenners beveel in elk geval aan dat jy eerder skei van iemand wat jou emosioneel, verbaal of fisiek mishandel.

As jou man “net” narsistiese trekke het – en dis reeds ’n nagmerrie – is daar wél hoop.

HANTEER JOU MAN MET NARSISTIESE TREKKE SÓ

  • Skaal jou verwagtinge dramaties af. Verstaan dat die narsis emosioneel beperk is en dat hy nie jou emosies kan verstaan nie.
  • Besef dat jý nie die een is met die probleem nie.
  • Moenie sy optrede persoonlik opneem of toelaat dat hy jou minderwaardig laat voel nie. Jou selfwaarde hang nie van hom af nie. Onthou, jy sal hom nooit tevrede kan stel nie.
  • Wys altyd voordele vir hom uit. Pleks van te sê “Ek wil gaan fliek”, sê eerder: “Dit is glo ’n fliek vir hiperintelligentes.”
  • Streel sy ego, maar wees opreg. Dit is uitputtend, maar onthou hy het ’n baie swak selfbeeld.
  • Stel grense. Wys hom daarop dat hy nou al ’n halfuur net oor homself praat. Gesels dan oor iets anders.
  • Noem sy gedrag op die naam. Eerder as om te sê “jy is ’n ongenaakbare narsis”, sê liewer “dis nogal selfsugtig (manipulerend of egosentries) van jou”. Of: “Dit was darem nou ’n verskriklike ontploffing oor iets so kleins.” Namate hy só gedwing word om grense te respekteer sal jou selfvertroue groei en sal jy nie meer so verskrik op sy uitbarstings en eise reageer nie.
  • Moenie heeltyd op eiers loop omdat jy en die kinders vrees Pa kan kwaad word nie. Jy voed sy narsisme.
  • Kyk anders na sy optrede en woedebuie. Dis ’n teken van onsekerheid, onvolwassenheid en om te kry wat hy wil hê. Bly eerder stil en loop weg. (Dis moeilik!)
  • Moenie histeries raak wanneer hy jou beledig nie. Fokus eerder op hom en sê net “dit klink of jy my nou aanvat”. Hy sal ongemaklik voel en hy wil tog nie sleg oorkom nie.
  • Prys hom as jy oor jouself mag praat. Sê: “Ek waardeer jou aandag.”
  • Praat tóg oor jou gevoelens, al sal hy jou kritiseer of laat skuldig voel. Dit kán mettertyd insink.
  • Gee hom opsies, pleks dat jy besluite neem. Hy hou van beheer.
  • Fokus op oplossings. Hy moenie die kans kry om probleme te ontleed nie, want hy raak maklik geïrriteerd.
  • Sê vir hom dat hy jou gaan verloor/jy wil skei. Narsiste vrees verwerping. ’n Man met narsistiese trekke kán verander sodra hy besef al sy verhoudings loop skeef omdat hy “selfsugtig is” en “nooit emosioneel daar is” vir sy metgeselle nie. Jy kan hom ook wys op wat alles verkeerd verloop in sy lewe. Dalk afdanking of ander verhoudingsprobleme.
  • Sorg dat jy ’n ondersteuningsnetwerk het wat jou emosionele behoeftes kan bevredig. Maak tyd vir jouself, raak finansieel onafhanklik en begin ’n aktiwiteit/stokperdjie sodat jy ook positiewe terugvoer kan kry. Sodra jy beter oor jouself voel, kan jy die versteurde magsbalans in jou huwelik takel.

Lees die volledige artikel met nóg wenke in die April-uitgawe van SARIE. Nou op die rakke!