Daar is ’n fyn lyn tussen mooi, gesonde selfvertroue en ’n opgeblase ego. Gee jou kind se selfbeeld ’n hupstoot op die régte manier.

Jy wil so graag hê jou dogter moet selfversekerd en goed aangepas wees. Dus doen jy al daardie dinge wat die kenners aanbeveel: jy oorlaai haar met tonne liefde, ondersteun haar en prys haar vir alles wat sy regkry, selfs die kleinste prestasie. En kenners is dit inderdaad eens dat jy jou kind ’n hupstoot in die lewe kan gee deur te help bou aan haar selfbeeld.

Met ’n goeie selfbeeld het sy immers die selfvertroue om nuwe dinge te probeer, vriende te maak en gesonde verhoudings aan te knoop, sê die Amerikaanse ouerskapkenner Eileen Hayes in ’n BBC-artikel.

Maar daar is ook ’n fyn balans hier ter sprake ... Want uiteindelik mik jy ook na ’n realistiese selfbeeld. As jy jou kind 24/7 vertel hoe oulik en wonderlik sy is, hou dit eerder net nadele in, waarsku ouerskapkenners. Robert Brooks, ’n Amerikaanse kindersielkundige van die Harvard Mediese Skool, maan dat te veel lof jou kind kan laat fokus op die beloning eerder as dit wat sy moet leer. “Mislukking en teleurstelling wag op kinders wie se selfvertroue gebou is op ’n opgeblase ego eerder as hul werklike vermoëns.”

Bea Potgieter, kliniese sielkundige van Johannesburg, meen kinders met ’n onrealistiese beeld van byvoorbeeld hul sangtalent (aangepor deur oorentoesiastiese ouers!) kan baie seerkry. Dink maar aan kompetisies soos Idols. “Hulle voel gekwets wanneer Mamma sê hulle het ongelooflike talent en die beoordelaars nie saamstem nie.”

FOTO Getty Images/ Gallo Images

Bea sê om sulke kritiek te kan hanteer vereis volwassenheid en ’n goeie eiewaarde. “Dit neem jare om te ontwikkel en dis jou taak as ouer om dit te kweek. Maar as jy ’n wanindruk van jou kind se vermoë het, sal sy dit nie kan doen nie. Almal het talente, maar die manier waarop jy dit aanmoedig kan jou kind verskillend beïnvloed. Sy moet realisties wees oor haar vermoëns en dit geniet op die vlak waarop sy dit uitleef.”

Volgens Bea het ons samelewing ’n obsessie met glanspersoonlikhede. Sommige kinders glo as jy nie bekend en ryk is en uitstaan bo die res nie, dan is jy nie suksesvol nie. Die enigste manier om jou talente uit te leef is as jy celebrity-status bereik. Sy sê die grootste geskenk wat jy jou kind kan gee, is ’n gevoel van eiewaarde, wat onlosmaaklik deel is van selfvertroue. Dit moet deel wees van haar menswees en behoort los te staan van eksterne evaluering, prestasie, voorkoms en materiële besittings. Sy moet weet sy het waarde, ongeag wie of wat sy is.

“Jou kind begin al van haar eerste oomblikke in die wêreld ’n gevoel van waarde kry. Dit word geskep deur die gevoel dat sy geliefd, geborge, kosbaar en veilig is. Later speel die omgewing waarin sy grootword en die terugvoer wat sy van ander kry, soos haar vriende, familie en skool, ook ’n baie belangrike rol in die ontwikkeling van haar selfkonsep.” Sy waarsku dat dinge kan skeefloop as jy jou kind oorbeskerm, oormatig ophef of afbreek of as jy haar veroordeel, verneder of verwerp. Haar grootste taak as sielkundige is dikwels om kinders en volwassenes terug te neem na die kern: Die wete dat hulle waarde het en dat hul eie innerlike wysheid die pad vir hulle sal wys. Hulle hoef nie te bewys dat hulle waardig is nie.

Mari Nel, navorsingsielkundige en berader van Pretoria, sê die manier waarop jy jou kind aanmoedig moet gepas wees. “As jou kind waarlik talentvol is op ’n gebied, kan dit vir haar in die toekoms voordelig wees as sy dié talent al op ’n jong ouderdom begin ontwikkel. Maar moenie buitensporige verwagtinge van haar hê of druk op haar plaas nie. Onthou, sy is steeds ’n kind.” Sy glo dit is wel soms nodig om jou kind se selfbeeld ’n hupstoot te gee. “Maar nie tot nadeel van ander kinders nie. Jou kind moet weet al is sy hoe goed, is die ander kinders nie ‘minder werd’ nie, en hulle moet ook met respek behandel word. Dis ’n situasie van I’m ok, you are ok.”

FOTO Getty Images/ Gallo Images

’n Kind se oorgroot ego kan later vir haar sosiale probleme skep. “Op skool en veral in die tienerjare speel groepsdruk ’n rol en dis gewoonlik makliker vir sulke kinders om deur ander as cool en gewild beskou te word. Maar as ’n kind se verhoudings in haar kinderjare bloot gegrond is op haar gewildheid, kan sy later jare sukkel om ware vriendskappe aan te knoop omdat sy nooit die regte kommunikasievaardighede aangeleer het om goeie bande met ander te vorm nie,” sê Mari.

Die opvoedkundige sielkundige Alet Mattheus van Pretoria meen die groot probleem van ’n opgeblase selfbeeld lê by die wanpersepsie wat ouers skep. Heel dikwels lê die wortel van die kwaad by die ouers self. Hulle het óf self ’n swak selfbeeld óf het as kind nie veel vermag nie en wil nou deur hul kind iets bereik. Druk vanuit die gemeenskap speel ook ’n rol. Daardie keeping up with the Joneses-tendens is hier ter sprake. En die klieks waarin ouers beweeg, hang af van hul kind se prestasies, meen sy. “Daar word ook dikwels in die media verkondig dat ’n kind met selfvertroue en ’n goeie selfbeeld die ideaal is. Almal word beoordeel en gemeet aan dieselfde vereistes, maar dikwels word die uniekheid van elke kind nie in ag geneem nie.”

Alet meen dis hoekom ouers glo hulle moet voortdurend bou aan hul kind se selfbeeld deur haar heeltyd te vertel hoe oulik sy is en hoe oulik sy dinge doen. Die kind kry soveel positiewe terugvoer dat dit haar laat voel: “Ek is onaantasbaar, want ek kan mos alles doen wat ek wil.” Ongelukkig kan dit gebeur dat sulke kinders so hoog met hul kop in die wolke loop dat hulle nie agterkom dat hulle in die proses om die beste te wil wees, op ander trap nie. Dit wek ook die indruk dis aanvaarbaar om op ander te trap. Volgens Alet kan jy nie begin bou aan jou kind se selfvertroue en eiewaarde as jy nie weet wat haar uniek maak nie.

“Jy moet jou kind verstaan en onvoorwaardelik aanvaar. As jy nie blind is vir haar tekortkominge nie, kan jy begin deur die verwagting te stel dat sy op ’n sekere vlak kan presteer. Maar wees versigtig vir onrealistiese verwagtinge wat later tot emosionele en gedragsprobleme by kinders kan lei. Elkeen van ons het iets wat ons spesiaal maak. Soek eerder dit wat jou kind besonders maak as die ‘perfekte kind’ wat deur die samelewing as aanvaarbaar voorgehou word.”

Mari maan jy moet versigtig wees om jou kind onrealisties te prys as sy goed presteer. Pasop vir kommentaar soos: “Jy is eintlik baie beter as die ander meisies. Ek het jou mos gesê. Onthou, maak nie saak wat nie, jy is baie beter as die ander. Die ander kinders is maar gemiddeld.” Só kan sy ’n wanpersepsie van haarself kry. “Sy kan voorbarig raak en altyd vir die maats vertel hoe sy die heel beste is. En later in haar lewe kan dit ander irriteer. Niemand hou daarvan om in die geselskap van iemand te wees wat heeltyd haar eie beuel blaas nie.” Sy benadruk dat dit belangrik is om kinders te leer om in ’n mate beskeie te wees.

FOTO Getty Images/ Gallo Images

“Dit beteken nie dat hulle die graad van hul prestasies moet ontken nie. Slegs dat hulle moet weet om byvoorbeeld die top-atleet te wees, maak hulle nie in enige ander opsig meer waardevol of verdienstelik as die ander kinders nie. Hulle moet weet dat almal spesiaal is, elkeen op haar eie manier. En dat alle mense verdien om met liefde en respek behandel te word.”

’n Kind se siening van haarself word dikwels beïnvloed deur hoe sy haarself in vergelyking met ander sien. En dis veral hier waar jy versigtig moet wees, waarsku Mari. “Gestel jou gr. 3-dogtertjie is baie goed in sport en het ’n langafstand-wedloop gewen. Vanselfsprekend sal jy trots wees op haar. Maar die meisie wat laaste gekom het se ma kan ook trots wees op haar kind – omdat sy weet dat sy haar bes gedoen het en die wedloop voltooi het.”

Onthou altyd dat dit oor jou kind gaan, eerder as oor jou as ma. “Wees versigtig om nie vasgevang te raak in ’n kompetisie met ander ouers nie. Dit kan lelik raak – van wie se kind die beste is tot wie dan nou eintlik die beste ouer is omdat sy/haar kind so goed doen. En dit alles is tot jou spruit se nadeel.” 

FOTO Getty Images/ Gallo Images

Kweek gesonde selfvertroue by jou kind:

- Onthou, jy kan net haar eiewaarde bevestig as jy self volwasse is en reeds jou eie probleme uitgesorteer het.

- Moenie deur jou kinders jou onvervulde drome, wense en behoeftes uitleef nie.

- Iemand met ’n gesonde selfbeeld is bewus van (en aanvaar) haar swak en sterk punte. Dit beteken nie jou kind hoef glad nie te werk aan aspekte waarin sy nie goed is nie, maar sy moet weet wie sy werklik is en gemaklik wees daarmee. En al is sy nie die beste nie, het julle haar onvoorwaardelik lief.

- Wees versigtig vir die boodskappe wat jy oordra wat dalk ’n ewige indruk op jou kind se selfbeeld kan hê. ’n Niksvermoedende ma sê dalk (sonder bybedoeling) iets soos: “Ag, hierdie dom kassier, kan sy nie somme doen nie ...” Haar kind hoor dit toevallig en besef dat sy self nogal sukkel met sulke somme by die skool – en heel onbewustelik begin sy dink dat sy ook dalk dom is. In sommige gevalle kan hierdie boodskappe dan so ingegraveer word dat dit later ’n selfvervullende profesie word en die kind nie eens meer sal probeer om haar somme te doen nie, “want ek is in elk geval te dom”.

- Leer haar om gesonde vertroue in haar eie sowel as ander se vermoëns te hê. Net omdat haar een maatjie nie so vinnig soos sy hardloop nie, beteken dit nie dat sy nie haar maatjie kan wees nie. Jou dogter kan dalk vinniger hardloop en dit geniet, maar sy moet weet daai dogtertjie is ’n goeie maatjie, ons speel lekker saam en sy is altyd vriendelik met my.

- Oortuig haar sy kan uitdagings aanpak. Sy sal nie weet of sy iets kan doen as sy nie probeer het nie. As sy haar bes gedoen het en sy is steeds onsuksesvol, dan kan jy haar help om te aanvaar dat dit nie deel is van haar Godgegewe pakket van talente nie. As sy suksesvol is en besef sy kan wél presteer, help haar om dit te bestuur.

- Leer haar om dankbaar te wees vir haar talent. Sukses maak haar nie beter as ander nie.