Goeie gesprek is soos blaarslaai, is die wyse woorde van ’n goeie vriend van die bekende Amerikaanse skrywer Mark Twain. “Lettuce is like conversation; it must be fresh and crisp, so sparkling that you scarcely notice the bitter in it.” Met ander woorde, dit moet vars, pittig en so sprankelend wees dat jy nie ’n greintjie bitterheid proe nie, het Charles Dudley Warner, ook ’n skrywer, in die laat negentiende eeu gesê. Om doeltreffend te kommunikeer is van die belangrikste vaardighede van menswees, en tog sukkel ons baie keer daarmee.

1. Positiewe lyftaal en 'n warm stemtoon

Wen mense se vertroue. ’n “Oop” houding straal selfvertroue en toeganklikheid uit. Moet byvoorbeeld nie jou arms oor jou maag vou nie – dit stuur die sein dat jy jou afsluit. Glimlag en praat duidelik. Jou stem (toonhoogte en intonasie) dra 33% van jou boodskap oor. As jy mompel, dink mense jy’s ’n suutjiestrap. Praat jy te hard, sag, vinnig of stadig, irriteer jy mense. Moenie jou stemtoon te hoog maak nie, dit laat dit klink asof jy angstig is. ’n Laer stemtoon klink gemoedelik. As mense jou vertrou, maak hulle makliker oop en dit vergemaklik kommunikasie. – Monique Rissen-Harrisberg, uitvoerende hoof van The Voice Clinic.

2. Stel opreg belang

Vra uit en luister. Moet bv. nie wanneer jy by ’n partytjie met iemand praat en ’n glanspersoon trek jou aandag, sommer net verby jou gespreksgenoot kyk na die nuwe persoon nie. Dit is ongeskik. Behou heeltyd oogkontak. Selfs al stel jy glad nie in die onderwerp belang nie en jy wil almal om jou groet, dit gaan nie oor jóú nie. Maak ten minste asof die ander persoon (en onderwerp) jou interesseer. – Martelize Brink, RSG-omroeper

3. Sosiale ysbrekers

Dikwels beland jy op ’n sosiale geleentheid waar jy niemand ken nie. Vra dan ’n paar (veilige) generiese vrae: Hoe was dit om ’n kind te wees waar jy grootgeword het? Of: Wat doen jy graag in jou vrye tyd? Gestel jy kan, watter rol sou jy wou vertolk in ’n rolprent? Waar het jy al die lekkerste vakansie in jou lewe gehou? As jy ’n onderhoud met ’n bekende moet voer, wie sal dit wees? – Haydee Antezana, spesialis in indrukbestuur

FOTO Unsplash / Priscilla Du Preez

4. Doen navorsing

Indien moontlik, en probeer uitvind waaroor die geselligheid gaan wat jy bywoon. Of iets oor die plek: As dit ’n kunsuitstalling is, lees ’n bietjie op oor iets relevants in kuns sodat jy nie met ’n mond vol tande staan nie. As jy ’n nuwe lid van ’n boekklub is, probeer vooraf uitvind watter boeke die vroue al gelees het en praat tydens jul verposing oor ’n paar van die skrywers. – Haydee

5. Vermy

Onderwerpe soos politiek en geloof en moenie skinder nie. Dit het gewoonlik ’n nare uiteinde. Mense sal eerder daaroor stry as om daaroor te praat. – Haydee

6. Dra 'n gespreksisteem (hoed, borsspeld, mus, serp)

Mense sal twee keer kyk, vrae vra, wonder of dit ’n erfstuk is. Dit is ’n prettige manier om die aandag te prikkel en iemand aan die gesels te kry oor iets wat sentimentele waarde het in húl klerekas. – Haydee

FOTO Unsplash / Climate

7. Komplimenteer mense opreg

Dit verskaf die perfekte geleentheid om ’n gesprek te begin. Dit laat die ander mens goed voel en is belangrik om die geselskap aan die gang te hou. Vriendelikheid kos niks . . . Maar dit moet verkieslik ’n spesifieke kompliment wees, byvoorbeeld: “Rooi lipstiffie lyk pragtig by jou donker hare.” Nou kan julle praat oor hoe lief julle vir die kleur rooi is en waar julle jul grimering koop. - Success

8. Hou dit lig

Meeste mense wil nie oor swaar onderwerpe soos depressie of plaasmoorde praat nie, terwyl ek weer baie daarin belangstel. Maar ek sien gereeld hoe mense se oë “glaserig” word as onderwerpe té intens is. Hou die geselskap vrolik en gesels liefs met vriende en familie oor kwessies wat jou aangryp. Mense is aangetrokke tot iemand wat (opreg) positief is en selfvertroue uitstraal. – Martelize

9. Luister

Moenie dadelik oorneem nie. Gee die ander persoon kans om te praat. Daar is niks so irriterends soos ’n praatsiek mens wat die hele tyd hul eie stories en anekdotes deel en nie weet wanneer om op te hou nie. Hou die fokus altyd op die ander persoon. Wanneer daar stiltes is, kan jy dit oorbrug deur iets van jouself te deel, soos ’n amusante storie of interessante brokkie inligting. Maar leer om meer te luister as te praat. En moenie ’n “name-dropper” wees nie. Mense vel dikwels ’n oordeel, maak aannames of vorm indrukke lank voordat jy klaar gepraat het. Wees oopkop, almal hoef nie soos jy te dink oor die lewe nie. Jy stuit dadelik lekker gesprekvoering as jy mense wild en wakker veroordeel. Die grootste respek wat jy aan mense kan betoon, is om te luister. Dis een van die belangrikste boustene vir goeie kommunikasie. – Dr. Thalyta Louw Swanepoel, senior lektor in joernalistiek aan die Noordwes- Universiteit se Potchefstroom-kampus

FOTO Unsplash

10. Skep positiewe gesprekke

Swaai die oppervlakkige “Hoe gaan dit met jou?”, “Nee, goed dankie”, om in iets meer sinvols. Vra dalk ’n meer spesifieke vraag. Praat jy met ’n boer in ’n droogtegeteisterde gebied, sê: “Hoe het die droogte jou boerdery geraak?” En praat jy met ’n vrou wie se kinders almal studeer en uit die huis is: “Vang die leënes-sindroom jou?” As jy met iemand praat wat Suid-Afrika die  eerste keer besoek, vra pertinent wat hul belangstellings is en hoekom. Dit gee die gesprek dadelik meer substansie. Navorsing wys as mense genooi word om stories met mekaar te deel oor positiewe en merkwaardige ervarings, kan ons mekaar tot groot hoogtes (dalk soortgelyke merkwaardige ervarings) motiveer. En dít is mos die kuns van suksesvolle kommunikasie. – Roela Hattingh

11. Die fyner detail

Die régte woordgebruik, die presiese weergee van jou gevoelens, nuwe insigte; jy wil immers ’n unieke atmosfeer skep wat die ander persoon spesiaal laat voel. En jy kan dit slegs doen as jy moeite doen om jou woordeskat uit te brei, jouself beter leer ken, en wyd lees vir vars insigte. - Life Optmizer

12. Hou terug totdat jy iemand beter leer ken en verstaan voordat jy te veel van jouself deel.

As jy iemand reg lees, kan jy hulle die eerste uur alles van jouself vertel. Kyk of die persoon oogkontak maak en jou so as’t ware “uitnooi” om meer oor jouself te deel. Dit gaan alles oor mensekennis. As jy sien iemand kyk weg, lyk ongemaklik of wil ewe skielik kleedkamer toe gaan as jy begin praat oor jou man se affair of jou kind se dwelmprobleem, hou opbabbel. – Martelize Brink

Die goeie nuus is, ons kan almal leer hoe om beter te kommunikeer. En ja, ons kan ook, net soos die Amerikaners wat oënskynlik so gemaklik hul sê by partytjies sê, leer om te práát – in verhoudings, op die verhoog, by die werk. “Dis ’n vaardigheid wat jy kan aanleer soos fietsry of tik. As jy bereid is om hard daaraan te werk, kan jy elke element van jou lewe daardeur verander,” reken Brian Tracy, ’n Amerikaanse motiveringspreker. Hy behoort te weet – hy maak sy lewe uit openbare praatjies . . .