Hoe vergewe ek myself en omskep ek dit in iets positiefs? Truida Heymann, sielkundige van Kaapstad, antwoord: Dis ironies: Mense wat hulself maklik te veel verwyt, doen dit dikwels onnodig. Terwyl iemand wat regtig skuldig is, sy/haar foute baie keer ignoreer en ontken dat hy/sy iets verkeerds gedoen het. Ongelukkig is dit ’n illusie dat jy deur ’n blote wilsbesluit jouself (of ander mense) kan vergewe. Slegs ’n goddelike wese kan vergewe. Baie van ons háát heimlik ons foute en blapse, veg daarteen en streef daarna om foutloos te lewe. Weer eens kan slegs ’n goddelike wese dit doen. Solank jy leef, gaan jy foute maak en jouself aanmekaar teleurstel. Dié onrealistiese ideaal van perfeksie is skietgoed vir jou innerlike kritikus. Vergifnis is moontlik, maar dis ’n lang proses. En dit werk só: Moenie van jou foute wegskram nie, maar fokus juis daarop. Jy gebruik dit dus om jouself te leer ken. Want geen persoonlike groei, dus groter objektiwiteit, wysheid en insig, is moontlik sonder foute nie. Dis waarom mense wat ander in hul lewe toelaat – met al die konflikte en aanpassings wat daarmee gepaard gaan – ’n beter kans het om te groei as iemand wat ’n alleenlewe lei. Jou vriende en lewensmaat is spieëls – dit wys wedersyds jul foute uit. Om jou foute in die oë te kyk beteken twee dinge: Jy moet eerstens die impak daarvan voel. Lug dus jou woede en frustrasie en huil jou lang trane, totdat jy uitgewoed voel. Jy het soms ’n betroubare vriend of vriendin (of terapeut) as klankbord nodig. Die tweede taak is om jou foute te gebruik om jouself beter te begryp. As jy jouself verstaan, sal jy ook meer genade vir jouself hê. Ons wil almal só graag glo ons het beheer oor ons lewe. En dan is ons ontnugter as ons besluite, uitlatings en optrede totaal teenstrydig met ons goeie voornemens is. Vra jouself vrae soos: Hoekom is dit só moeilik om myself te vergewe? Hoekom het ek die fout gemaak? Waarom maak ek dikwels oor en oor dieselfde soort foute? Hier is ’n paar moontlike antwoorde:

  • Ons leef in ’n kultuur waar sukses en perfeksie die maatstaf is en enige mislukking en swakheid verwerp word. As my kultuur dan foute afkeur, hoe kan ek myself vergewe as ek fouteer en misluk? Die Westerse kultuur maak dit dus moeilik om genadig met jouself te wees.
  • Dalk is jy van kleins af só geprogrammeer: As jy suksesvol is, kry jy liefde. Só ook as jy reg optree en as jy wen. Verloor jy egter beheer oor jou emosies, huil jy of is jy aggressief, is jy ’n "slegte" kind. Verstaan jy egter die rede vir bv. jou woede-uitbarsting, kan jy empatie met jouself ontwikkel. Jy verloor bv. beheer as jy gekritiseer word. Want jou pa het jou as kind gekritiseer. Of jy raak woedend as iemand jou wil dwing om iets te doen, omdat jy onder die ysterhand van jou ma grootgeword het.
  • Dalk is daar van kleins af die etiket "sondaar" of "slagoffer" om jou nek gehang en speel jy steeds willoos dié rol. Jy maak dus keuses wat jou oor en oor in dié rol laat beland.
  • Jy kan dalk ’n diepgewortelde minderwaardigheidsgevoel hê en só oorgretig wees om ’n goeie indruk te laat dat jy van pure stres foute maak. Jy saboteur dus jouself en jou selfwaarde net verder.
Vergifnis is die eindproduk van ’n tydsame proses van binne toe kyk. Jy kan dit nie met die druk van ’n knoppie regkry nie. Soos wat jy jou eie foute en die motivering daaragter leer verstaan, verander jou innerlike "aanklaer" mettertyd in ’n genadige ma. Jy het dan ook meer genade vir ander mense. Jou selfverwyt smelt weg en verander in selfliefde. Elke keer dat jou selfverwyt sy kop oplig, sê vir jouself: Ek hoef myself nie te kasty en te straf nie. Ek hoef net lief te wees vir myself, foute en al. As jy op daardie punt gekom het, is jy reg om aan te beweeg. * Truida Heymann, 021 930 1368