Hoeveel keer het jy al gevra: Is ek werklik gelukkig? Om dan self die antwoord te gee: Nee, ek is nie . . . Ander mense se lewe lyk soveel rooskleuriger.
Ontspan. Daar skort niks met jou nie, want dis heeltemal normaal om soms ongelukkig te wees – dis deel van die lewe.
In verlede maand se SARIE sê Sol Kerzner: “Niks is perfek nie. Soos ’n mens ouer raak, leer jy dinge aanvaar.
Dis belangrik om te leer hoe om betréklik gelukkig te wees. Wees so gelukkig soos jou omstandighede jou toelaat.”
Russ Harris, ’n Australiese sielkundige en skrywer van The Happiness Trap (Robinson, Londen, 2008), stel dit só: "Dis ’n mite dat almal behalwe jy gelukkig is. Ons breine is deur die eeue ‘bedraad’ om sielkundig te ly. Ons vergelyk, evalueer of kritiseer onsself, fokus op ons swak punte, is ontevrede en verwag die ergste."

Maar dit beteken nie jy moet maar ongelukkig bly en glo geluk is jou nie beskore nie. Jy kan ACT (oftewel Acceptance and Commitment Therapy) leer toepas – met positiewe gevolge.

Steven C. Hayes, ’n Amerikaanse sielkundige en die skepper van ACT, sê in sy boek Get Out of Your Mind & Into Your Life (New Harbinger Publications, 2005) met hierdie benadering aanvaar jy negatiewe gedagtes of gevoelens as deel van jou lewe en baklei nie meer daarteen nie.
Dit werk só: Jy is vreesbevange om ’n voorlegging te doen. Hoe meer jy vir jouself sê jy’s bang dat jy jou gehoor gaan teleurstel, hoe meer gespanne raak jy. Die oplossing: Erken jou vrees.
Vrees herinner jou net aan hoe graag jy gerespekteer wil word en ’n verskil wil maak. Eers as jy die onderliggende rede besef, kan jy fokus op jou taak en sal jy nie tyd en energie verspil deur aan te hou hoop jou vrees verdwyn nie.
"Ons probeer so hard om negatiewe gedagtes reg te stel dat ons hulle bloot versterk," beaam Murray Jooste, ’n Kaapse sielkundige. "Pasop daarom ook vir woorde soos ‘kan nie’, ‘mag nie’, ‘moet’, ‘nooit’ en ‘altyd’," sê hy. Soos wanneer jy sou sê: "Ek móét hierdie twee kilogram teen Maandag afskud." Sê eerder: "Ek sal my bes doen om dit teen Maandag te doen."
ACT se uitgangspunt is: Aanvaar jou gedagtes en emosies, verbind jou tot jou waardes en gaan doeltreffend oor tot aksie.
Dr. Gretchen Erwee, opvoedkundige sielkundige van Centurion, praat van aanvaarding, verwerking en herbetekenis (om iets nuwe betekenis te gee).
"Dis ’n natuurlike proses om gedagtes of gebeure sinvol te verwerk," sê sy. Jy kry byvoorbeeld ’n ernstige siekte. Hoekom? wonder jy. Dan begin jy op spirituele vlak oplossings soek. Later besef jy die siekte het jou geestelik verryk. Só gee jy nuwe betekenis (herbetekenis) aan die moeilike tydperk. Geluk moenie die doel op sigself wees nie – dis eerder ’n byproduk van die proses om betekenis in die lewe te vind.
Benewens nuwe betekenis leer ACT jou ook om pyn, so deel van die lewe, doeltreffend te hanteer en die uitwerking daarvan te verminder.


Prof. Ian Rothmann, buitengewone professor in bedryfsielkunde aan die Noordwes-Universiteit, Vanderbijlpark, en kenner van sogenaamde positiewe sielkunde, sê geluk is nie kortstondige plesier nie.
"Dit het drie komponente: betekenisvolheid, plesier en begeestering of vervulling, soos wat jy uit jou werk,’n stokperdjie of ’n verhouding kry. Ja, pyn en frustrasie is dikwels betrokke. Maar jy gebruik jou sterk punte om dit te hanteer, voel vervul daardeur en ervaar op lang termyn geluk," sê hy. As jy goed is met verkope, sal ’n werk as bemarker jou byvoorbeeld vervul. As skryf een van jou talente is, sal verhale skryf as stokperdjie nommerpas wees vir jou, en as jy maklik vergewe, sal jy minder konflik in jou verhouding ervaar.
Prof. Rothmann, wat binnekort geluk in Suider-Afrika gaan navors, stem saam ons moet ons emosies erken. Gun jouself dit om soms “af ” te voel. Sê ja, ek is hartseer. Huil as jy wil.
"Hartseer en selfs depressie is normale reaksies op verlies en jy moet daardeur werk," sê hy. Sodra jy dit probeer ontken, deur bv. obsessief te begin werk, sal jy onmoontlik gelukkig wees.
As jy, daarenteen, jou hartseer erken en dit in iets betekenisvols omskep, kan jy geluk ervaar. Soos ’n kunstenaar wat sy pyn op doek vasvang en só iets positiefs skep. Dis iets heel anders as om op ’n hoop te sit en wroeg.
Prof. Rothmann sê jy kan ook negatiewe emosies nek omdraai deur waardering te toon teenoor ander mense of jou Skepper.
"Gee of vra vergifnis. Dit beteken nie noodwendig jy herstel jou verhouding met die oortreder nie. Vergifnis doen jy vir jouself. Só vervang jy vermyding of onderdrukking met iets positiefs.
"Verbeter ook jou oplettendheid." Dus: Stop and smell the roses. Moenie net in en uit die bad spring nie. Voel die warmte, die gevoel van die seepskuim. Leef in die oomblik en geniet dit!
Moet ook nie te gou op teleurstelling reageer nie, maan prof. Rothmann. Ja, ’n teleurstelling sal die "plesier-deel" van geluk beïnvloed. Maar sê eerder: "Ek is wel teleurgesteld omdat ek nie die pos gekry het nie. Maar, wie weet, iets beters lê dalk om die draai."
Só verspil jy nie tyd deur te wroeg nie, maar fokus jy op betekenis en vervulling, sê hy. ‘Geluk is nie ’n eindbestemming nie. Dis ’n reis vol verrassings’ - Bea Potgieter, sielkundige

Die 4 mites van geluk Russ Harris, skrywer van The Happiness Trap, sê daar is 4 mites oor geluk. Ons kenners sê as jy dié mites omverwerp, is jy al ’n stap nader aan geluk. Mite 1 Ons moet van nature gelukkig wees.
WAARHEID "Die natuurlike aard van die mens is eerder om voortdurend te ontwikkel en te groei, en dis net uit ongemak dat ons dit regkry," sê Bea Potgieter, kliniese sielkundige van Johannesburg.
Mite 2 As jy nie gelukkig is nie, is daar fout met jou.
WAARHEID Prof. Ian Rothmann sê jy is dalk geneties geprogrammeer om minder plesier as ander te ervaar, maar jy kan steeds geluk vind deur by aktiwiteite betrokke te raak. Bea voeg by: "Geluk is nie ’n eindbestemming nie. Dis ’n reis vol verrassings en dinge wat geleer moet word."
Mite 3
Raak van negatiewe gevoelens ontslae en jy sal ’n beter lewe hê.
WAARHEID Wonderlike kreatiwiteit het al uit negatiewe emosies gespruit, sê prof. Rothmann. Laat die gevoelens na vore kom en werk daardeur. Opgekropte emosies kan lei tot onder meer depressie, angs, verslawing en eetsteurnisse.
Dit maak wel sin dat jy ook positiewe emosies moet ervaar, sê hy. "Doen daarom dinge wat vir jou lekker is. Só het jy ’n 40% kans om jou eie geluk te beïnvloed."
Kyk ook na die groter prentjie en vra jouself af of die negatiewe ding wat gebeur het werklik nog oor ’n jaar sal saak maak.
Mite 4 Jy moet kan beheer wat jy dink en voel.
WAARHEID Jy kan aanleer om meer beheer oor jou gedagtes en gevoelens te hê, maar dis nie so maklik nie. Ons ís menslik. Bea sê omdat jy groei as jy jou denke en emosies ruimte en tyd gun, sal te veel beheer groei en heling belemmer.
Maar moet ook nie oor die negatiewe wroeg nie. Dit maak die hartseer erger en beïnvloed jou vermoë om probleme op te los.
Hoe werk ACT? Die Januarie 2006-uitgawe van Behaviour Research Therapy, ’n internasionale sielkunde-joernaal, sê navorsing bewys ACT (Acceptance and Commitment Therapy) help vir siektes soos depressie, verslawing, eetsteurnisse, angs en selfs epilepsie. Hoeveel te meer nie vir negatiewe gevoelens nie?
ACT het ses kernbeginsels, sê Steven C. Hayes, die skepper van dié terapie, op www.contextualpsychology.org.
Plaaslike kenners lewer kommentaar:
1. Aanvaar jou emosies
Aanvaar en ervaar jou emosies, sê Bea Potgieter, sielkundige van Johannesburg, "selfs al dink ander mense jy moenie". Heling kom gewoonlik ná gevoelens soos irritasie, woede of frustrasie, sê sy. Gee ook uitdrukking aan die dieper emosies wat jy dalk weens gebeure uit jou kinderjare ervaar, soos emosionele pyn, woede, verwyte, bitterheid, seer, vrees, skuldgevoelens en minderwaardigheid.
"As jy dié emosies sou onderdruk, kan jy selfs siek word en dit kan jou werk- of persoonlike verhoudings skaad," sê Bea. Jy tree dalk anti-sosiaal op of misbruik alkohol of pille. Kry, indien nodig, sielkundige hulp vir dieper emosies.
Visualiseer jou negatiewe gedagtes, sê dr. Gretchen Erwee, opvoedkundige sielkundige. Laat byvoorbeeld ontsteltenis toe om soos ’n golf oor jou te spoel en jou te verlaat met die terugtrek-aksie. "Só word die emosies simbolies verwerk en bedruktheid met blydskap en dankbaarheid vervang."
As jy die emosies verwerk het, sal jy meer geluk en produktiwiteit ervaar, sê Bea.
2. Ontlont jou gedagtes
As jy leer hoe om onaangename of ontstellende gedagtes te ontlont, sal jy minder vreesbevange en ontsteld raak. Besef jou gedagtes is eintlik net woorde, sê Russ Harris in The Happiness Trap. Vra jouself: As ek aandag gee aan hierdie gedagte, sal dit my lewe betekenis gee of my tyd mors? En belangrik: Is die gedagte waar?
Jy kan ook afstand van ’n gedagte kry, reken hy. Jy sê dalk vir jouself "ek is darem pateties". Verander dit na "ek let op dat ek gedink het ek is pateties". Só besef jy dis net woorde, nie ’n monster nie – en meestal onwaar!
3. Leef in die oomblik
Wat jy ook al doen, selfs al eet jy net iets, moet jy dit nie bloot doen om beter te voel nie. Omskep dit eerder in ’n vervullende ervaring, sê prof. Rothmann. Geniet elke happie, dink na oor die tekstuur, proe dit werklik.Doen elke dag iets wat jou plesier gee. Al is dit net om ’n blom te pluk. Herroep die goeie uit die verlede en droom of dink na oor dinge wat voorlê en waarna jy uitsien, sê hy. Só vind jy bevrediging in die lewe en gee jy betekenis aan elke oomblik.
Dankbaarheid vir jou seëninge help ook om jou lewe vreugdevol te maak, voeg dr. Erwee by.
4. Moenie broei nie
Jy kan elke situasie evalueer en besluit hoe jy daarop gaan reageer, sê dr. Erwee.
Jy kan ’n gedagte of emosie bloot waarneem of registreer, of jy kan daaroor broei en geïrriteerd, ontsteld of seergemaak voel.
Sê nou jy sit in die verkeer vas. Jy’s gefrustreerd en wil skel. Maar dan besluit jy: Ek neem kennis van my irritasie, maar verspil nie verder tyd of energie daarop nie. Jy haal diep asem, skakel mooi musiek aan en geniet jou reis, al gaan dit stadig.
5. Hou by jou waardes
As jou lewe deur jou waardes gelei word, sal jy blydskap ervaar, energiek voel en betekenis vind. Murray Jooste, ’n Kaapse sielkundige, sê jou waardes is jou "interne grondwet". As jy so kwaad is dat jy iemand wil beledig, vra jouself af of dit met jou waardes strook. Behoort jy nie eerder stil te bly nie?
"As jy nie volgens jou waardes optree nie, sal jy skuldgevoelens hê, angstig voel en vreesbevange wees," sê Murray.
6. Doen iets daaraan
Wanneer jy ’n negatiewe gedagte of emosie ervaar, erken dit en vra jouself: Wat gaan jy nou doen wat betekenis het? "Só bekyk jy dinge uit ’n ander oogpunt," sê Murray.
Erken aan jouself: "Ja, ek is vreesbevange dat die uitgewer nie my boek sal publiseer nie." Maar sê ook: "Ek gaan steeds die boek skryf omdat ek wil probeer. En wie weet, dalk verryk dit ander se lewe."
As jy ’n krisis beleef, soek die doel. Dalk is jou geestelike lewe verryk. Gaan nou tot doelgerigte aksie oor, soos om iemand anders deur ’n soortgelyke krisis te help.
*As jy hulp met ACT nodig het, soek ’n sielkundige wat die beginsels van positiewe sielkunde onderskryf, is prof. Rothmann se raad.
Jou riglyne vir blywende geluk Aanvaar jouself nes jy is, mét jou sterk en swak punte. "Dis jou lens wat alles beïnvloed wat jy sien, jou keuses en jou maatstaf van geluk," sê Bea.
  • Moenie jouself met ander vergelyk nie. Daar sal altyd iemand wees wat mooier, maerder, ryker of suksesvoller is. Dit kan jou minderwaardig laat voel, jou gespanne maak en jou selfwaarde aantas, sê prof. Rothmann. Meet jouself aan jou eie standaarde.
  • Kyk na die blink kant. Wanneer iets verkeerd geloop het, gee jouself die voordeel van die twyfel. Jou bedoelings was tog opreg, of hoe?
  • Ontwikkel vaardighede om moeilike situasies te hanteer. Soek die waarde in ’n negatiewe gebeurtenis. Dan leer jy liefde en vreugde meer waardeer en sal jy meer empatie met ander se pyn hê.
  • Kies self jou doelwitte. Dit laat jou voel jy kan iets regkry. Só streef jy ook na verdere uitnemendheid, sê dr. Erwee.
  • Breek doelwitte op in hanteerbare stukkies.
  • Onthou: As jy nie probeer nie, gaan jy nooit weet of jy iets kan regkry nie.
  • Koester jou verhoudings. Leer om te vra en te gee. "Jou verhoudings ondersteun jou en dien as buffer teen die lewe se aanslae," sê Bea.
  • Skep pret en betekenisvolle rituele met jou gesin en vriende. "Dit skep hoop en herinneringe waaruit jy vreugde kan put in onseker tye," sê Bea.
  • Moenie meer aanpak as wat jy kan hanteer nie. Maak tyd vir ontspan, kreatiwiteit en pret. Bou opnuut energie op, sê Bea.
  • Vier jou suksesse!
Webwerwe en kenners