"Ek het ’n suksesvolle loopbaan en is al dikwels bevorder, maar om een of ander rede dink ek heeltyd ek doen nie my werk goed genoeg nie. Met elke nuwe projek wat ek aanpak, is ek vreesbevange ek gaan dit nie regkry nie of iemand gaan agter kom ek kan dit nie regtig doen nie. Ek weet nie hoekom ek so voel nie, want my base was nog altyd gelukkig met my werk. Dis asof ek bang is ek gaan uitgevang word. Waarvoor weet ek nie, want ek doen alles volgens die reëls en is baie betroubaar," skryf 'n SARIE-leser.

Petra Muller, bedryfsielkundige van Johannesburg:

Dit is glad nie ongewoon om met dié soort emosies te worstel nie. Daar is selfs ’n term hiervoor: die bedrieër-sindroom (imposter syndrome). Mense wat hieraan ly, sê dikwels vir hulself iemand gaan hulle uitvang en agterkom hulle is nie so goed in hul werk soos wat hul baas of kollegas dink nie. Jy voel dalk soms selfs soos’n bedrieër en dat almal om jou meer bevoeg en intelligenter is as jy. Dis dikwels mense tussen 35 en50 jaar wat hierdeur gaan, omdat dit gewoonlik die tyd in jou lewe is dat jy ’n hoë posisie beklee. En hoewel mans ook hierdie soort gevoelens beleef,kom dit meer onder vroue voor. ’n Moontlike rede hiervoor is die manier hoe ons grootgemaak is. Seuns word tradisioneel geprys wanneer hulle presteer, terwyl meisies geleer word om beskeie te wees en dat dit nie mooi is om te spog nie. Ons vroue vereenselwig ons met eienskappe soos sagtheid, koestering en omgeeen word nie noodwendig geleer hoeom selfgeldend te wees nie. Omdat ons dan sagter en meer emosioneel is, soek ons die fout eerste by onsself wanneer ons gekritiseer word, terwyl mans makliker objektief na die situasie kan kyk en hulself nie sal kasty as hulle ’n fout gemaak het nie. Wanneer gevoelens van minderwaardigheid jou terughou, is dit tyd om dit te hanteer. Jy is dalk só bang vir ’n nuwe uitdaging by die werk dat jy nie kans sien om dit aan te pak nie. Of jy is oortuig daarvan jy gaan nie ’n projek regkry nie en dan sloer jy daarmee en handel dit nie betyds af nie. In uiterste gevalle kan jy so gebuk gaan onder spanning dat jy nie meer energie het om jou werk te doen nie.

Dié wenke kan dalk help

- Onthou, wanneer jy nuwe uitdagings aanpak, gaan jy iewers foute maak. Sien dit as ’n leerproses, eerder as jy wat misluk.

- Probeer die negatiewe boodskappe aan jouself in positiewe boodskappe verander. Wanneer jy ’n taak inhandig, sê jy dalk dadelik vir jouself: Hierdie is nie my beste werk nie. Klop jouself eerder op die skouer omdat jy hard gewerk het, en sê vir jouself jy het dit na die beste van jou vermoë gedoen.

- Stel ’n lys op van dinge waarmee jy goed is en gee jouself toestemming om trots te wees daarop.

- Maak ook ’n lys van vaardighede wat jy verder kan ontwikkel en maak ’n daadwerklike plan om dit te doen. Jy sal dan meer bevoeg voel en meer in jouself glo.

- Sê elke keer dankie wanneer iemand jou werk komplimenteer en sê dan vir jouself jy verdien die kompliment. Hoe meer jy dit doen, hoe minder gaan jy voel jy verdien dit nie. Jy kan selfs ’n lêer op jou rekenaar oopmaak en al die positiewe terugvoer wat jy oor jou werk kry daarin bêre. Gaan kyk daarna elke keer as jy onseker oor jouself voel.

- Onthou, dis normaal dat jou werk soms gekritiseer gaan word. Moenie dadelik op die verdediging wees en dit as verwerping ervaar nie. Laat kritiek in jou guns tel en gebruik dit as ’n geleentheid om te groei.

- Dis ’n lang ontdekkingsreis, jy gaan nie oornag verander nie. Dit sal tyd neem om die negatiewe boodskappe aan jouself in positiewes te verander.

- As jy voel jy het nie beheer nie, is dit dalk ’n goeie idee om ’n terapeut se hulp te vra.

Só kry jy selfvertroue by die werk

Heather Watson, leierskap-afrigter van Henley-on-Klip:

- Leer jouself ken. Wees eerlik oor jou sterk punte asook die vaardighede wat jy nog moet ontwikkel. Vra mense soos jou vriende en kollegas om ook hul mening te gee. Hulle noem dalk dinge waaraan jy glad nie eens gedink het nie.

- Sodra jy weet aan watter vaardighede jy moet werk, stel ’n ontwikkelingsplan op met spesifieke en realistiese doelwitte. Soos om kursusse te doen of ’n mentor te kry. Skryf ook ’n datum neer wanneer jy dit moet afhandel en hou daarby.

- Sê nee. Baie vroue voel soos ’n mislukking wanneer hulle nee sê en dit is hoekom ons dikwels te veel hooi op ons vurk het. Jy kan nie altyd alles doen nie en dit is oukei.

- Gesels openlik met jou bestuurder en span oor wat hulle van jou by die werk verwag. Dan is dit makliker om nee te sê vir die dinge waarvoor jy nie tyd het nie.

- Doen gereeld iets wat jou laat goed voel oor jouself, soos om elke maand vir ’n manikuur te gaan. Wanneer jy dinge doen wat jou laat goed voel oor jouself, bou dit jou selfvertroue.

Lisa Wilson, personeel-konsultant van Johannesburg:

- Gebruik visualiseringstegnieke. Wanneer jy in ’n situasie by die werk is wat jou intimideer, verbeel jouself jy is kalm en in beheer. Jy kan dikwels jou emosies verander deur jou optrede te wysig. Wanneer jy jouself byvoorbeeld dwing om op ’n selfversekerde manier te loop en te praat gaan jy meer selfversekerd voel en daarom so optree.

- Bring meer tyd deur in die geselskap van positiewe mense wat jou selfvertroue ’n hupstoot gee en minder tyd saam met mense wat jou kritiseer, afkraak en jou energie steel.

- Moenie jouself met ander vergelyk nie. Die lewe is nie ’n kompetisie nie. Dit is oukei as jy dinge anders doen as jou kollega. Daar is nie net een manier om ’n taak aan te pak nie.