Minki van der Westhuizen, TV-glansvrou en voorheen mede-aanbieder van die joernaalprogram Pasella op SABC2 en Boer soek 'n vrou op kykNET, het al ruiterlik erken: "Ek voel sexier met blonde hare ..." (SARIE, Januarie 2013). Niemand stry nie – sy is immers een van die sensueelste vroue in Suid-Afrika.

FOTO Instagram / Minki van der Westhuizen

Toe Minki kortstondig, in Augustus 2012, haar hare donkerblond kleur, het haar man, die voormalige Leeus-rugbyspeler Ernst Joubert, gesê: "Blondes have more fun, but brunettes are more fun." Maar sowat vyf weke ná haar kleurverandering het Minki weer ligstrepies in haar hare gesit. Sy hou van blonde hare en dis dit.

Navorsers van die Augsburg-universiteit in Minnesota, Amerika, het onlangs foto's van vroue met blonde, bruin en swart hare aan mans gewys. Die resultaat? Die meeste mans verbind jeugdigheid en skoonheid met ligter hare. Die blondines is ook saam met die brunette beskou as beter toekomstige romantiese maats as die vroue met swart lokke.

Die aktrise Hanna Grobler het al in SARIE vertel haar geliefde, die sanger Bok van Blerk, verkies haar met donker hare. "My hare was al byna elke moontlike kleur." Sy het dit in haar Matiedae selfs swart gekleur. En sy was al platinumblond. Maar Hanna het besluit om nie sommer weer haar hare lig te kleur nie. (SARIE, Januarie 2013)

Hanna Grobler met donker hare. FOTO Instagram/ Hanna Grobler

Die vader van die evolusieleer Charles Darwin is eenmaal deur ene dr. John Beddoe genader om hom te help bepaal of blondines nie meer geneig is om enkellopend te bly nie. Dr. Beddoe het aan hom data verskaf oor sy vroulike pasiënte – blondines en brunette, berig The Telegraph. Darwin het later egter handdoek ingegooi en gesê hy kan nie tot 'n slotsom kom nie.

Dr. Marelize Swart, 'n seksterapeut van Kaapstad, sê haar eie haarkleur was al onderskeidelik blond, rooi en donker. "Ek kry beslis meer aandag van mans as ek blond is. Dit is asof ek meer fun is, lighartiger. As my hare donker is, is ek vir seker ernstiger. Ek trek ook verskillend aan: Blond, vrolik en funky; donkerkop, swart. Deesdae wen die blond – ek hou daarby."

Marelize vertel die sielkundige Nicolas Guéguen van die Universiteit Bretagne-Sud, Frankryk, het interessante navorsing gedoen oor haarkleur en hofmakery. Toe vroue met blonde, rooi en swart pruike in 'n nagklub drankies gaan drink het, het die "blondines" die meeste dansaansoeke gekry. Die rooikoppe het die slegste gevaar. Ook het hy bevind blondines wat geld insamel vir liefdadigheid, samel veel meer in as hul bruin- of swartkop-susters.

FOTO Getty Images/ Gallo Images

"Die blondines is waarskynlik so gewild omdat blond dui op jeugdigheid en gesondheid – wat weer verbind word met vrugbaarheid. Mans kyk hierna wanneer hulle 'n maat kies," verduidelik Marelize. "Hulle dink wel brunette is aantreklik, intelligent en doelgerig – maar soms ook arrogant."

Volgens 'n studie van navorsers aan die Universiteit van Westminster in Engeland hoef rooikoppe nie eens te praat nie – hulle is reeds gestereotipeer as moeilik, temperamenteel en minder aantreklik as die brunette of blondines. Hulle staan ook soms as "die stout klomp" bekend, vertel Marelize.

Interessant bevind navorsing in 'n Skandinawiese sielkundejoernaal blondines word soms beskou as "emosioneel afhanklik, neuroties, uitputtend en, verrassend, dikwels introverte ..."

Op soek na 'n man? Wees net jouself!