Dit gaan beter as ooit met jou en jou geliefde . . . maar dan beëindig jy jul verhouding uit die bloute. Of jy’t uiteindelik al jou skuld afbetaal - dan blaas jy weer ’n klomp geld wat jy nie het nie. Of dalk gooi jy jou dieet oorboord en éét (al is jy amper by jou ideale gewig).

Só saboteer jy jouself keer op keer. En die ergste van alles is jy weet nie werklik wat die redes daarvoor is nie. Wanneer jy jouself so kelder, is daar dikwels ’n onbewustelike motief.

Self-sabotasie het gewoonlik te doen met ’n gebrek aan selfvertroue - selfliefde, selfrespek, selfaanvaarding. Want onbewustelik sê jy vir jouself: “Ek’s nie belangrik genoeg nie. Ek verdien nie ’n goeie verhouding nie.” Of: “Ek kan nie met geld werk nie, ek sal net weer misluk.” Of: “Ek verdien nie om maer of mooi te wees nie.”

Dis soms ook deels gewortel in angstigheid: “Wat gaan ek doen as ek maer en mooi is?” Soms is die “bekendheid” van mislukking byna “veiliger” as die onbekendheid van sukses - dis ’n gemaksone, al is jy ongelukkig.

Jy is ook dalk bang vir verandering of om jouself te verbind. Dié patroon waarin jy verval, is dikwels vir buitestanders baie duideliker as vir jouself. Maar miskien herken jy tog jou swakheid in een van die volgende scenario’s. (Min mense saboteer hulself in álle aspekte van hul lewe).

Selfkritiek beperk jou en wat jy kan bereik

* Jy is heeltyd krities oor jouself. “Ek is nie goed genoeg nie.” Selfkritiek beperk jou en wat jy kan bereik.

* Jy ly aan die indringer-sindroom: Jy glo jy’s “toevallig” suksesvol. Jy kan nie erken dat jy goed is in wat jy doen nie, en gee altyd ander die erkenning of maak jou prestasies af as niks. (In die proses verwar jy dié geringskatting van jouself met nederigheid.

* Jy oor-analiseer ander mense se gedrag. As jou baas sê jy is ’n goeie spanspeler, dink jy hy beskou jou nie as goed genoeg om ’n leier te wees nie. Oor-analise hou jou terug. (Jy besluit dalk daarteen om aansoek te doen om ’n bestuurspos.)

* Jy stel uit. Jy het altyd ’n rede hoekom jy iets nie kan doen nie, al het jy die vermoëns. As uitstel oorgaan tot verlamming, moet die gevaarligte flikker.

* Jy kan nie nee sê nie. Jy sê dus nee vir jouself en ja vir ander. Jy stem in tot dinge waarvoor jy glad nie lus is nie, want jy glo jy is nie belangrik genoeg om jou eie keuses te maak nie.

* As jy vermoed jy het in so ’n patroon van selfsabotasie verval, is dit ’n goeie beginpunt om ander na aan jou te vra of hulle dit al opgelet het

* Dis ook belangrik om vas te stel wat jou onderliggende beweegrede is, anders gaan jy moeilik verander. Dit kan bv. uit jou kinderjare kom. (Jou ouers het jou dalk geleer om altyd die minste te wees, of dalk was jy nooit “goed genoeg” nie.) Of miskien is dit jou persoonlikheid. (Jy is miskien ’n perfeksionis wat aanhou uitstel omdat jy mislukking vrees.) Insig is belangrik, maar dít alleen kan jou nie laat verander nie. Dis ’n lang proses.

* Karin Büter is ’n kliniese sielkundige, 021 863 3128

Hier is raad

  • Moeilik om raak te sien dat jy jouself saboteer? Jou verskonings vir jou gedrag sal dikwels vaag wees: “Ek dink nie dis vir my nie; ek was nie lus nie . . .”
  • Erken jou patroon. En in watter aspekte van jou lewe jy jouself saboteer. Doen jouself die grootste guns: Leer ken jouself. En leer jouself dan aanvaar, foute en al. Van selfaanvaarding kom selfliefde. En selfvertroue.
  • Niks sal oornag verander nie. Dit verg harde werk. Belê ook in goeie literatuur oor persoonlike groei en selfkennis.
  • ’n Goeie vriendin is die ideale klankbord en kan jou baie ondersteun. As jy in dieselfde patroon bly verval, raadpleeg ’n professionele persoon