Jy wéét jy kan die werk doen, maar vir die soveelste keer doen jy nie aansoek om die pos nie. En ’n liggewig word bo jou aangestel. Die tyd is nooit “reg” vir daardie belangrike sprong nie, daardie droom wat vir jou vreugde kan gee . . . en jy bly onvervuld.

Ná ’n lang stryd om te verslank begin jy komplimente kry soos jy jou doelgewig nader, maar nou eet jy weer sonder brieke ... en die skaal se naald klim.

Só saboteer jy jouself keer op keer. Kliniese sielkundige Leandri Beyers van Irene, Centurion, sê haar kliënte beskryf hul selfsabotasie dikwels só: “Ek voel asof ek my eie grootste vyand is. Ek staan in der waarheid in my eie pad.” En die ergste van alles is jy weet self nie hoekom jy dit doen nie. Waarom hét jy?

Die antwoord op daardie vraag is deel van die oplossing, sê Michelle Bloem, lewensafrigter van Kaapstad. Jy kan ophou om jouself te kelder, maar dan moet jy weet wat jou beweegrede is. “Dis die eerste stap na selfinsig, wat noodsaaklik is om jou denkpatrone te verander. Verkeerde denkpatrone is een van die groot redes hoekom mense hulself saboteer.”

Gerda de Villiers, lewensafrigter van Somerset-Wes, noem hierdie foutiewe denkpatrone jou innerlike stemmetjie > < of saboteur. (Jy weet byvoorbeeld jy kan iets doen, maar ’n teenstrydige gevoel diep in jou laat jou anders optree.) “Die saboteur kan enige aspek van jou lewe negatief beïnvloed, wat insluit jou selfbeeld, persoonlike verhoudings, prestasies, gesondheid, en vele meer. Hierdie stem beïnvloed jou deur jou positiewe gevoelens oor jouself en ander te ondermyn. Dit kan ook daartoe lei dat jy ander wantrou, jouself verloën, wegskram van doelgerigte aktiwiteite (soos om te begin oefen), en dit kan jou meer kwesbaar vir verslawing maak.”

Die stem wat fluister: “Ek kan dit nie doen nie”, “is nie belangrik genoeg nie”, “verdien nie ’n goeie verhouding nie” of “ek kan nie met geld werk nie, ek sal net weer misluk”, is nie jou eie stem nie, dit kom van ’n verskeidenheid ervarings in jou lewe. Soos van jou ouers, onderwysers, versorgers, ouer familielede of ander volwassenes wat ’n groot invloed op jou lewe gehad het. Jou onderbewussyn probeer jou beskerm, pyn voorkom en diep vrees hanteer, sê Gerda.

Leandri verduidelik: “As jou onderbewussyn iets identifiseer as ’n bedreiging, gaan hy ’n manier kry om dit te saboteer. Dalk is dit in reaksie op ’n spesifieke situasie jare gelede, en dis nie meer nodig nie, of selfs verkeerdelik aangeleer. Maar hy wil jou ten alle koste beskerm.

“So kan ’n vrou wat as kind seksueel gemolesteer is, kompulsief begin eet om gewig aan te sit en onaantreklik te lyk vir mans. Elke dieet wat sy probeer, is onsuksesvol, omdat haar onderbewussyn probeer om haar ‘veilig’ te hou teen mans wat haar seksueel kan misbruik. “Of dalk het jy as kind geleer om in jou eie verbeeldingswêreld te ontvlug wanneer jou pa en ma baklei, en nou doen jy dit sodra daar konflik is. Gevolglik word geen verskille met mense met wie jy nabye verhoudings het ooit deurgewerk of opgelos nie, en so saboteer jy daardie verhoudings.”

Leandri ondervind ook gereeld in haar praktyk dat vrees ’n rol in selfsabotasie speel.

“Ons almal het ’n sekere indruk van wie ons is – dis ons ‘self-identiteit’. Sodra verandering dié prentjie bedreig, raak ons bang. Ons kan bv. mislukking vrees, wat ironies genoeg juis tot mislukking kan bydra. Jy wil dalk alles perfek doen, maar omdat jy bang is jy doen ’n taak nie perfek nie, vermy jy dit en bly uitstel, totdat daar te min tyd is om dit ordentlik te doen. En mislukking word ’n werklikheid.”

En ’n vrees vir sukses klink dalk vergesog, sê sy, maar dis ook algemeen. Die “bekendheid” van jou gemaksone – hoe ongelukkig ook al – is “veiliger” as die onbekendheid van sukses. Want sukses gaan die prentjie van hoe jy jouself sien en jou verwagtinge van jouself verander.

Gestel jy sien jouself as ’n sukkelende kunstenaar. Wie gaan jy wees as jy al jou skilderye verkoop? En sal jy nóg kan skep, sou dit verkoop? Daarom kelder jy die proses en maak bv. nie genoeg werke om ’n uitstalling te regverdig nie. (Dis straks hoekom jy nie aansoek doen om daardie pos nie, al verdien jy dit. Want sê nou jy kry dit?) Die idee van (moontlike) sukses plaas druk op jou. Dit veroorsaak dalk ook innerlike konflik: Hoekom kon ek dit nie voorheen regkry nie? En dit kan erkenning en aandag ontlok, wat jou dalk ongemaklik laat voel, sê Leandri. Om dié druk, aandag en innerlike konflik te vermy, kelder jy jouself.

FOTO Unsplash

Soms het selfsabotasie ’n baie spesifieke funksie – soos om ’n verhouding te kan hanteer, volgens Leandri. Jou man verdien dalk minder as jy, is fyngevoelig daaroor en daarom hou jy aan om geleenthede vir bevordering te ontwyk sodat hy nie minderwaardig voel nie.

Gerda sê ons optrede en keuses word ook deurentyd gedryf deur ons oortuigings en waardes. Wanneer ons eie of ander mense se optrede of idees teenstrydig is met ons diep gesetelde persoonlike waardes, voel ons ongemaklik. Dit gebeur soms dat ons bv. eerder ons verhouding op die spel plaas as om teen ons eie waardes op te tree.

“Ek werk met soveel mans en vroue wat liefde wil vind, maar as hulle dit kry, is hulle onverdraagsaam. Vir een vrou was deursigtigheid uiters belangrik. Sy was geïrriteerd en ontsteld as haar man sekere dinge vir homself hou. Hy het weer gevoel sy hoef nie alles te weet nie. Albei se reaksies kon ons terugspoor na pynlike gebeure in hul verlede. Hierdie ‘oorlewingsmeganismes’ het eens ’n doel gedien, maar hul verhouding skade berokken.”

Ons maak ook onbewustelik sekere “reëls” vir die waardes waarvolgens ons leef, en dit raak ’n denkwyse, verduidelik Michelle. “Ag jy perfeksionisme hoog, is jou ongeskrewe ‘reël’ dalk: ‘Net die hoogste gehalte werk sal deug.’ Prysenswaardig, maar dit kan jou kelder omdat jy dalk te veel tyd spandeer om take ‘perfek’ te doen – take wat nie perfeksie verg nie – en dan ál meer agter raak met werk.”

In ’n mate maak ons almal ons op een of ander manier skuldig aan self-sabotasie. Maar sodra dit ’n patroon raak en daagliks tot spanning en angstigheid lei, of jy voel emosioneel afgetakel, moet jy werk maak daarvan, sê Gerda.

“Om ernstige selfsaboterende gedrag te verander is nie maklik nie. Dit beteken dat jy ou, diepgesetelde denkpatrone en jare lange benaderings tot ’n situasie moet verander. Dikwels is die hulp en steun van ’n terapeut of lewensafrigter nodig.”

’n Lewensafrigter kan jou help om doelwitte te stel vir die verskillende areas in jou lewe waaraan jy wil werk, en daardie denkpatrone of gewoontes te verander wat jou nog altyd verhinder om die spesifieke doelstellings te bereik, sê Michelle. (Sien kassie “Vestig nuwe denkpatrone” hiernaas.)

Leandri sê “selfspraak” is nog ’n nuttige instrument. As vrees vir mislukking die rede is hoekom jy jouself kelder, probeer om jouself nie in absolute terme te sien nie, maar maak jou selfspraak meer neutraal. Moenie sê: “Ek is ’n goeie skrywer” (te veel druk) as jy uitstel om te skryf nie, maar sê eerder: “Ek is ’n ontwikkelende skrywer.” Of: “Ek is ’n skrywer wat graag verskillende goed doen.”

Psigoterapie kan ook doeltreffend ingespan word. En as selfsabotasie die gevolg van trauma is, het hipnoterapie baie impak, sê sy. Hipnoterapie gee jou toegang tot herinnerings wat in jou onderbewussyn gestoor is. Met die hulp van ’n terapeut kan jy die onopgeloste emosionele ervarings deurwerk en die patroon van selfsabotasie verbreek.

Kontak Leandri Beyers: info@leandribeyers.co.za; leandribeyers.co.za Michelle Bloem: michelle@salifecoaching.co.za Gerda de Villiers: gerda@livelifecoach.co.za; livelifecoach.co.za