Hulle manipuleer. Hulle jok om uit die moeilikheid te bly en verdraai dinge in hul guns. Hulle kry ’n gier of bevlieging en volg dit, maak nie saak wat nie. Hul oordeel is swak. Hulle leer nie uit hul foute nie. Hulle beplan nie. Môre sorg vir homself. Hulle is argeloos en onverantwoordelik. Hulle is waaghalsig en hou van risiko’s, soek die hele tyd opwinding en is maklik verveeld. Soms is hulle aggressief en buierig. Hulle rebelleer teen gesag.

’n Jeugmisdadiger in wording? Selfs ’n jong Don Steenkamp of Henri van Breda? Nee, jou doodgewone, gemiddelde, normale tiener wat dink hy weet alles.

“When I was a boy of fourteen, my father was so ignorant I could hardly stand to have the old man around. But when I got to be twenty-one, I was astonished at how much he had learned in seven years,” het Mark Twain gesê.

Wanneer adolessensie aanbreek, kan dinge lelik skeefloop, want die tiener se (sosiale) self ondergaan diepgaande veranderinge, sê die Britse neurowetenskaplike Sarah-Jayne Blakemore op Edge (www.edge.org). Sy morele waardes verander, sy politieke oortuigings, die vriende wat hy maak of die groep waarbinne hy beweeg.

Dit begin met ’n teenstrydigheid, sê die Amerikaanse National Institute of Mental Health (NIMH) op sy webblad (www.nimh.nih.gov). Tieners staan op die drumpel van ’n piek in fisieke gesondheid, krag en verstandelike vermoëns, maar vir sommige kan dit ’n riskante tyd wees. Die sterftesyfer skiet op. Tussen 15 en 19 jaar sterf ses keer meer tieners weens ongelukke as tussen 10 en 14. In nog ’n Edge-gesprek sê Blakemore die ander rede is selfmoord.

Die misdaadsyfer is die hoogste onder jong mans. Alkoholmisbruik is hoog vergeleke met ander ouderdomsgroepe. In ’n TED-praatjie definieer Blakemore “adolessensie” as die tydperk van lewe wat begin met die biologiese, hormonale en fisieke veranderinge in puberteit – sowat 10/11 jaar vir meisies, 11/12 jaar vir seuns – en eindig teen die ouderdom waarop ’n individu ’n stabiele, onafhanklike rol in die gemeenskap bereik. Die tiener is nog lank nie daar nie. Sy brein ontwikkel nog ...

Net bokant die oë, agter die voorkop, lê die prefrontale korteks. Dis waar rasionele denke, insig, oordeel, beplanning en besluitneming, regulering van emosies en impulse, en die veg-of-vlug-reaksie setel.

Henri van Breda dien tronkstraf uit weens gesinsmoord op sy pa, ma en ouer broer. FOTO Getty Images / Gallo Images

Kortom: uitvoerende funksie. Dié deel in ’n tiener se brein is nog “onder konstruksie”, sê die NIMH. Die brein ontwikkel letterlik agterstevoorom, van agter na voor. Die korteks, die buitenste laag, kom dus laaste aan die beurt, en dit maak meer as 40% van die brein se totale volume uit, sê die neurowetenskaplike Frances Jensen in The Teenage Brain. Wat beteken meer as 40% van die tiener se brein funksioneer nog nie volledig nie. (Sjimpansees se prefrontale korteks beslaan sowat 17% van hul brein en honde s’n net 7%.)

Trouens, ’n tiener se hele brein is net 80% ontwikkel.

Twee half teenstrydige faktore speel ’n rol. Enersyds is die tienerbrein kragtiger as in enige ander tyd van ontwikkeling, maar terselfdertyd ook kwesbaarder, verduidelik Jensen. Tieners is “sensasie-soekende leermasjiene” en leer dus dinge besonder vinnig aan. Terselfdertyd word grysstof – neurone en onnodige sinapse (die verbindings tussen breinselle) – “gesnoei” (pruning) om die brein as ’t ware meer vaartbelyn te maak. Dis bekend as breinplastisiteit. ’n Databasis van die NIMH met meer as 8 000 breinskanderings het gewys hoe sinapse gesnoei word tot in die 20’s en selfs 30’s. 

In die snoeiproses sukkel tieners met swak besluitneming, risikogedrag, ’n gebrek aan insig en portuurdruk. Met ’n prefrontale korteks wat nog nie ten volle ontwikkel is nie, gáán daar denk- en oordeelsfoute wees. Die tiener doen, maar dink nie voor hy doen nie.

“Wat het jy gedink dóén jy?” is ’n algemene beskuldiging wat tieners hoor. Die antwoord: “Sorrie, Pa, ek het nie gedink nie,” is heeltemal geldig.

Jensen haal ’n eksperiment deur die Britse Rooi Kruis aan waarin gekyk is na die oordeel van tieners wanneer ’n maat te veel gedrink het. Sowat 9 uit 10 Britse tieners tussen 11 en 16 moes al die een of ander krisis hanteer waarin ’n maat siek of beseer was, en die helfte van dié tieners moes al reageer op ’n maat wat bewusteloos dronk was.

Byna die helfte het paniekerig geraak en erken hulle het nie geweet wat om te doen nie. Een seun het vertel hoe ’n meisie op ’n huispartytjie haar bewussyn verloor en begin vomeer het. Haar maats het haar opgehelp en buitentoe geneem vir vars lug. Hulle het besef hulle moet keer dat sy nie verstik nie.

Terwyl hulle gewag het dat sy moes bykom, het nie een daaraan gedink om ’n ambulans te ontbied nie ...

Niks van adolessensie kan verstaan word buite die konteks van stadiger prefrontale ontwikkeling nie, sê die neurowetenskaplike Robert Sapolsky. Hy som dit in ’n mondvol op: “Dis die verklaring waarom adolessente so frustrerend, wonderlik, onnosel, impulsief, inspirerend, destruktief, selfvernietigend, onselfsugtig, selfsugtig, onmoontlik is, en die wêreld kan verander. Dink ’n bietjie – adolessensie en vroeë volwassenheid is die tyd waarin iemand die maklikste kan doodmaak, doodgemaak word, vir altyd uit die huis gaan, ’n kunsvorm uitvind, help om ’n diktator omver te werp of ’n dorpie etnies te suiwer, hulself aan behoeftiges kan wy, verslaaf raak, trou buite die groep, fisika transformeer, aaklige modesmaak het, hul nek breek vir ontspanning, hul lewe wy aan God, ’n ou dame op straat beroof, dat die hele geskiedenis in hierdie oomblik saamgekom het vir hulle om betrokke te raak en ’n verskil te maak.

“Met ander woorde, dis die tyd van die lewe vir maksimum risiko’s neem, nuwe dinge najaag en inskakel by ’n portuurgroep. Alles omdat daardie frontale korteks nog ontwikkel.”

Die brein leer ook om emosioneel te reageer, vandaar ’n tiener se intense emosies. Daarmee saam kom al die hormonale veranderinge wat onder meer sosiale reaksies bepaal. Ook slaappatrone, wat verklaar hoekom tieners heelnag wakker kan wees en die volgende dag slaap tot middagete. Melatonien, wat afgeskei word voor slaaptyd en jou vaak maak, word eers later in die aand of nag in die tienerbrein afgeskei.

Dan kry die tiener nie genoeg slaap nie (die aanbevole 9 uur per nag). Daar’s navorsers soos Blakemore wat meen kinders word te vroeg opgejaag om skool toe te gaan.

Die adolessent is impulsief, buierig, kry mal bevliegings, gooi goed rond, wat alles frustrasiegedrewe is. En soos dit ’n goeie tiener betaam, dink hy sy ouers – grootmense – weet niks.

Weer Mark Twain: “When I was ten, I thought my parents knew everything. When I became twenty, I was convinced they knew nothing. Then, at thirty, I realized I was right when I was ten.”

Ma en Pa weet dus beter?

Nie noodwendig nie. Blakemore meen volwassenes is geneig om te dink hulle weet wat die beste vir tieners is, terwyl tieners waarskynlik baie meer weet van wat die beste vir hulself is wat betref hul opvoeding, hul sosiale omgewing en wat hulle te doen staan.

Don Steenkamp dien tronkstraf uit weens gesinsmoord op sy ma, pa en jonger suster. FOTO Getty Images / Gallo Images

“Volwassenes onthou waarskynlik nie meer hoe dit was toe hulle tieners was nie, en dinge het verander. Elke generasie is anders.”

Dit beteken ook nie kinders is irrasioneel nie, sê Jensen. Anders as wat mense gewoonlik dink, is kinders se redenasievermoëns reeds gevorm op 15, maar hulle word aangedryf deur emosie, nie rede nie. Dié verhoogde emosionaliteit is ook ’n resep vir stres, waaraan tieners deesdae in ’n mededingende internetwêreld en op sosiale media besonder blootgestel is.

In een studie is bevind adolessente steur hulle nie juis aan wat met hulle in die toekoms kan gebeur nie. Daarom maak waarskuwings teen, byvoorbeeld, die langtermyngevolge van rook nie juis indruk op tieners nie.

Kanker of hartprobleme oor 30 jaar? Ja, right.

’n Beter benadering in antirook-veldtogte sou wees om op die kort termyn te fokus, soos navorsers inderdaad bevind het. Byvoorbeeld: Jou asem gaan stink, meisies gaan jou nie wil soen nie. Of kyk, jou sportheld rook nie.

Dan kom die boodskap dalk makliker deur ...

Die tiener se brein het nie brieke nie, en daar’s botsende belange. Adolessensie op sigself het nie brieke nie.

Wanneer volwassenes ’n verkeerde besluit neem, is hul prefrontale korteks gou by om te waarsku, in millisekondes: “Wag! Verkeerde besluit, dink weer.” Tieners word nie op dieselfde manier gewaarsku nie. Hulle kom dus nie agter dis ’n verkeerde besluit nie. Of hulle steur hulle nie daaraan nie en gaan net voort. Die tiener kan wel sosiaal beïnvloed word om beter besluite te neem. In kulture waar kinders meer tyd in die geselskap van volwassenes deurbring, leer hulle om beter deurdagte besluite te neem. Dis bekend dat gene, ondervindings en omgewing die tiener vorm. Sit daarby ’n brein wat nog ontwikkel en die tiener weet nie mooi hoe hy dit het nie.

“Kinders se brein word gevorm deur hul omgewing en fisiologie tot ver verby hul middel 20’s,” sê Jensen. Party navorsers meen selfs tot in die vroeë 30’s, nie net wat struktuur betref nie, maar ook funksie. Daar is nie ’n definitiewe afsnypunt waarop ’n mens kan sê iemand is nou ’n volwassene nie. Maar dit gebeur op die vroegste ná 20.

Jongmense in hul 20’s is in ’n stadium van “ontluikende volwassenheid”, sê Jensen. (“Adolessensie” is afgelei van die Latynse adolescere, wat bloot beteken “om groot te word”.) Hulle kom gelukkig weer “reg” hoe ouer hulle word. Verreweg die meeste van hulle, al bly die 20’s steeds ’n onseker tyd vir jongmense wat hul voete in die lewe moet vind. Dit neem tyd om groot te word. Jare. Al die drama.

Maar dis ’n mite dat adolessensie onafwendbaar ’n sielkundig onstuimige tyd vol drama is, sê die sielkundige Scott Lilienfeld. Dis net ’n wydverspreide stereotipe. Hy haal die psigoanalis Anna Freud aan wat reeds in die 1950’s opgemerk het “om normaal te wees gedurende die adolessente tydperk is op sigself abnormaal”. En adolessensie onderbreek “vreedsame groei”, het sy gemeen.

Dié dwaling is lank geglo, maar die werklikheid is anders. Toe navorsers gekyk het na “tipiese” tienergedrag in drie domeine (1. konflik met ouers, 2. buiveranderinge en 3. risikogedrag), het hulle agtergekom daar steek net ’n greintjie waarheid in en ook net vir sommige tieners, net sowat 20%.

Dis gewoonlik kinders met gedragsteurings en sielkundige probleme soos depressie wat sukkel. Die res gaan sonder probleme deur hul tienerjare ondanks hormoonveranderinge en ’n brein wat nog ontwikkel.

Jou onmoontlike tiener ’n jeugmisdadiger in wording? Dis een van die vrae waarna gekyk word in Andre le Roux se boek “Kinders wat moor”.

Die gevaar bestaan, sê Lilienfeld, dat tieners wat werklik hulp nodig het, dit nie kry nie omdat volwassenes dink hul gedrag is maar net ’n normale en verbygaande fase. (Adolessensie word deesdae as ’n “breinfase” beskou, nie ’n lewensfase nie.)

Stanton Samenow, kliniese sielkundige, sê dis ’n mite om te dink antisosiale kinders (hy bedoel dié met gedragsteurings) se opstandigheid is maar deel van grootword. Om te sê die kind wat lieg, steel, baklei en boelie, rebelleer maar net, is ’n wanpersepsie, want daar is niks waarteen hierdie kind rebelleer nie.

“Hy is daarop uit om sy sin te kry.” Dis ook nie heeltemal korrek om te dink adolessente kan nie rasionele besluite neem nie. Wanneer daar nie emosies betrokke is nie, vaar adolessente net so goed soos volwassenes in selfbeheertake, sê die kindersielkundige Suzanne Houston op. Wat beteken dis nie net die prefrontale korteks se skuld nie, maar eerder daardie stelsels in die brein wat emosies verwerk. Sodra daar emosies uitspring, dán raak rasionele besluite vir tieners moeiliker. En adolessensie is juis, in baie gevalle, ’n emosionele tyd.

Die kindersielkundige Philip Graham maak ook ’n saak daarvoor uit dat adolessensie nie ’n aparte lewensfase is nie. Tieners is te uiteenlopend om almal oor dieselfde kam geskeer te word en veralgemenings oor die tienerjare te maak.

Daar is immers nie iets soos ’n “tipiese” tiener nie. Behalwe vir die klein groepie wat wel antisosiaal en van kleins af ontwrigtend is, is tieners nie meer buierig of miserabel as die res van ons nie. As hulle ongelukkig is, is dit omdat hulle in ’n “magtelose verknorsing” is, omdat hulle nie beheer het in sosiale situasies nie.

Deel eerder besluite met hulle en respekteer hul menings, sê Graham.

Hy meen adolessente word gestigmatiseer en die media en handboekskrywers moet bykom. Tieners is baie bekwamer as wat volwassenes wil toegee. Volwassenes neem nie tieners se bevoegdhede in ag nie en laat hulle nie toe om hul vaardighede te gebruik nie. Behandel hulle soos jongmense, nie tieners nie, sê Graham. En práát met hulle oor seks, alkohol en dwelms!

* ’n Geredigeerde uittreksel uit Kinders wat moor: Wie se skuld is dit?, Tafelberg, R265.

Vandag se kinders is tiranne ... Hulle staan nie op as ouer mense die vertrek binnekom nie. Hulle stribbel teë, praat in die geselskap, eet al die snoepgoed op, sit kruisbeen, en boelie hul onderwysers.
Sokrates (470-399 v.C.)