Go, go, go!” styg die stemme ’n oktaaf hoër in dringendheid. Saam met ’n expat-stapgroep is ek in die berge om die Chinese Nuwejaar te vier. Dis die Jaar van die Rot ...

Vroegaand word ons uit die bloute bus toe gejaag ná ’n dag se stywe stap teen die Bulkopberg in asemrowende landskap. Die paniek word aangewakker deur die feit dat ons die 328 km, ’n vyf uur lange rit, terug na Sjanghai moet aandurf. Die nuus is kort tevore ontvang: Passasiersbusse sal net tot middernag die stad binnegelaat word.

Die griep in Wuhan wat tot nou toe ver en geïsoleer was, kom sit as ’n stil passasier in die bus. Maskers word uitgedeel terwyl selfone gons om meer inligting te bekom. Ons dogter, Clea, hou skool in Sjanghai. Sal ek grendeltyd by haar deurbring of eerder in my eie nes op Longshan op die platteland?

Die afgelope nege maande is dié dorp my huis. Clea se positiewe ervaring in China het my aangespoor om huis en Baard (dis nou manlief) ’n ruskans te gee en ’n gryskop-gap-jaar aan te durf.

“Sjanghai is ’n vinnige jongmensstad,” maan Sussie. Maar ek land toe by Guanghua, ’n kosskool met 3 000 leerders aan die voet van ’n berg op Longshan (long is draak en shan is berg). Dis so 90 minute per bus buite die hawestad Ningbo. Soos die kraai vlieg suid van Sjanghai aan die oorkant van Hangzhoubaai. Tog duur die reis amper vyf uur voor ek aan my kind se deur klop vir ’n lekker kuier. Longshan lê omring van klein nywerhede en landboubedrywighede. Die lelike dorp het gou in my hart gekruip. Met my elektriese motorfietsie verken ek die nabygeleë natuurskoon en dorpies uit ’n ander era met genot.

My Nuwejaar, dis nou die Westerse een van 1 Januarie 2020, begin met my Japannese vriendin Noriko, haar man en dogtertjie se besoek uit hul tuisland. Noriko vertel dat haar suster hulle kwalik neem. Hoe kan hulle die tweejarige Tsumugi neem na ’n land waar ’n virus uitgebreek het? Nee wat, ons is 705 km van Wuhan af! “No worries,” soos die Oosterlinge sê. Nadat ek vir sewe dae heerlik met “my” China kon spog, neem ek selfingenome afskeid. Die kuier het seepglad verloop.

En net daar verloor ek my paspoort! Jeremia, dis ’n ding om oor te kom! Die polisie help soek op straatmonitors, maar ek het dit in ’n blindekol neergesit en weggestap. My reisengel was gedaan en sug: “Die vroumensie met haar gryskoppie en vinnige kort treetjies moet nou by huis en Baard uitkom, ek is bloeming moeg!” ’n SOS aan die SA konsulaat in Sjanghai bevestig dat dit tussen ses en agt maande neem om ’n paspoort uit te reik. Enigste genade is om met ’n noodpaspoort suid te vlieg. Die kortknip is nie te ontydig nie, my kontrak verstryk einde Maart. My hart voel seer in simpatie met my jeukende voete. Ek het nog heelwat beplan ... nog nie eens Beijing beleef nie.

In die bus besef ek die Sjanghai-opsie by Clea gaan nie werk nie. Saam met ’n groep stappers klim ek aan die buitewyke van Hangzhou af. Dis halfpad Longshan toe en my nes is mý nes. Ek moet nog my uitgangspermit in Ningbo kry om 12 Februarie huis toe te kan vlieg. Marco Polo het Hangzhou besing as een van die mooiste stede. Amen! Die Hangzhou Dong-treinstasie was ’n week gelede ’n byenes van mense wat oor die Chinese Nuwejaar gereis het. Die knooppuntstasies in China is enorm en word seepglad bestuur. Die Chinese reis soos sprinkane oor hul Nuwejaar. Die “Spring Movement” is die grootste migrasie in die wêreld met drie miljard reise. Die virusbom het gebars terwyl miljoene mense in die week voor 25 Januarie na tuisdorpe gereis het. Die skole was reeds gesluit vir die belangrikste feesdae op die Chinese kalender.

Met my aankoms dié Sondagoggend is Hangzhou Dong verlate, met net hier en daar ’n gemaskerde reisiger. Die skoolkampus lyk soos die Mary Celeste, met niemand aan boord nie. Ons is vyf buitelanders wat op die kampus woon en werk. My twee jong landsgenote het op 12 Januarie huis toe verkas en John, die een Amerikaner, is Kambodja toe vir ’n plesiervakansie. Gelukkig is Nick, ’n Louisiana-boorling, se woonstellig aan. Oor die volgende twee weke is ek en Nick soos ou getroudes wat nie ’n kooi deel nie! Soggens loer ek in om die dag te bedink: “What are the numbers today?” Dag vir dag hou ons asem op vir die grafiek wat met tot 4 000 nuwe gevalle klim. Die VPN gee toegang tot ’n wyer perspektief. Gou verskaf die expat-groep op WeChat inligting, moed en raad (WeChat is die WhatsApp-alternatief in China). Die Suid-Afrikaanse groep in Ningbo is oppie bol met saamstaan en huise soek vir katte en honde. Vlugte word ál skaarser – ’n gesin het vasgeval in Thailand, ’n vriendin wat Rusland besoek het, moet teen groot koste via SA terugkeer China toe, John se Kambodja-besoek rek onbepaald uit. Sonder toegang tot Mandaryns raak jy net aan die bolagie van die samelewing. Die drie vrouekollegas by die Engels-departement van die skool is reeds huis toe, maar kontak ons daagliks met nuus.

Die foto van Matty en haar kleuterskoolkroos wat tot haar verbasing op advertensieborde in Longshan verskyn. FOTO Verskaf

Maandag ry ek op my e-ponie winkels toe vir voorraad. Alles lyk nog normaal. Toe ek terugry, is daar ’n gedoente om padversperrings op te rig. Vinniger as wat jy “People’s Republic of China” kan sê, is die dorp in sones afgekamp met beheerpunte. Ek word vriendelik gestop reg by ’n advertensieplakkaat van die kleuterskool waarop ek pryk! Nooit gedink ek sal op my ouderdom in China van alle plekke ’n advertensiemodel wees nie. Hulle vra my paspoort (wat die engel verloor het), maar is tevrede toe hulle my op die foto herken! “Go, go, go!” Ek trek weg met baie om vir Nick te vertel.

Laatmiddag hoor ons afkondigings oor luidsprekers. Die skooldames laat weet voedselvoorrade sal vervolgens afgelewer word. Ek en Nick kook saans saam en braai dikwels op die stoep op die maat van Van Morrison. So bly die gemoed lig. Op dag vier wil ek die draakberg uitstap. Daar is geen draak of mens in sig nie. Skaars by die hek uit, lui my foon. Die hekwag het ’n skoolbeampte laat weet dat die “kort, grys enetjie” ontsnap het. Net daar word ek ferm teruggejaag. Ek en Nick oorreed hulle wel dat ons elke derde dag self mag gaan kos (en drank!) koop. Ons teken in en uit vir die uur vergunning. Op my inkopielys is handreiniger, maar alles is uitverkoop. ’n Plat botteltjie baijiu (Chinese ryswyn) werk egter net so goed.

Is ek bang? “My mamma is vir niks bang nie!” het my dogter kleintyd vir ’n vriendin gesê. Gefassineerd is ek wel. Vroeër die jaar was ek die nag vasgenael voor die venster toe ’n tifoon verbytrek. Die blik wat ek uit my klein venstertjie op corona in China het, beïndruk my. Die gemeenskapsgevoel wat ek bespeur het, neem nou toe. Die mense se dissipline is merkwaardig, niemand trek dwars nie. Oor die bekendmaking van getalle ruik ek en Nick soggens saam met die internasionale media lont. Daar is net te veel teenstrydigheid. Ek is jammer vir my man tuis met die kommer oor sy vrou en dogter wat potensieel in die Covid-19-web vasgevang kan word. Ons twee voel egter veilig en hou by die voorgeskrewe maatreëls. Daar is kronostyd en kairostyd. Kronostyd is horlosietyd waarin ons daagliks die marmotwieletjie trap. Kairostyd is tyd-buite-tyd – die genade-geskenk van tyd wat gaan stilstaan. Ons beleef nie dikwels kairostyd in ons gejaagde lewe nie. Hierdie grendeltyd is Kairos met ’n hoofletter! Ek het “ba duan jin” oftewel “agt stukke brokaat” leer beoefen. Dié vorm van tai chi is ’n belegging vir die oudag se pyne en skete en hou my kop rustig op my skouers. Hoe heerlik is die tyd om die legkaart van my tot boordensvol reis mooi te kan orden voordat ek die Ooste groet.

Met die regte kontakte en baie moeite reël die skool my uitgangspermit twee dae voor die vlug. Nick bly alleen agter in die spookskool. Dit sal nog maande wees voordat die kinders weer halfsewe soggens met ’n “yi, er, san, si” (1,2,3,4) marsjeer op die skoolgrond. ’n Laaste groetnag by my dogter in Sjanghai. Ben, haar Amerikaanse vriend, is vir besigheid in die VSA en sal met sy terugkeer saam met haar vir twee weke onder streng huisgrendel gehou word. Een van die moeilikste aspekte is die onsekerheid – iets wat ons in Suid-Afrika ’n paar maande later ook sal leer ken. Clea se uitstekende salaris droog ná die eerste maand op. Millenniër wat sy is, vind sy gou ander inkomstebronne. Na alles gaan dit daaroor of jy jou kop kan reghou en die uitdagings en moontlikhede kan aangryp. China was vir my ’n konstante verrassing op vele vlakke. Kosbare lesse is versigtig in my tas saam met blou-en-wit porselein gepak. Ek is in dankbaarheid terug by die huis en my liewe Baard.