My sussie was kleintyd altyd midde-in een of ander moles. As die groter skoolseuns haar nie uit die bus wou smyt omdat sy hul siele uittrek nie, het sy en haar vriendinne mekaar bestook met stinkbomme wat hulle in die wetenskapklas gebrou het.

Ek, daarenteen, was tevrede om met my maatjies onder die groot bloekomboom huis-huis te speel. Hoekom was my ouers dan oor mý bekommerd? Want net ek kon my vriendinnetjies, Miemie en Tielie, sién! “Die wêreld is ons woning nie,” kla die ou digter Totius. Soos baie introverte dikwels voel: of hulle van ’n ander planeet kom. Dit ten spyte daarvan dat studies wys 30% tot 50% van mense is introverte. Dus een uit elke twee of drie mense wat jy ken. Selfs al is jy nie een nie, werk jy waarskynlik saam of is getroud of vriende met ’n introvert.

Nietemin word baie introverte groot met die gevoel dat hulle nie lekker inpas nie. Ons lewe in ’n vinnige, raserige wêreld wat spraaksaamheid tot ’n deug verhef het. Wat is dan verkeerd met jóú, daar in jou klein hoekie? “Kan jy glo ek het nog nooit eens die binnekant van ’n dansplek of nagklub gadegeslaan nie?

My eie kamer met my eie goed is hemel op aarde, dit maak my weer sterk ná ’n dol dag,” sê Brittiney de Jager, Top-10-finalis in vanjaar se SARIE Voorbladgesig-wedstryd. “Ek is glad nie skaam nie, ek hou net nie van sosiale geleenthede nie, tensy dit my naaste familielede is. Selfs dan knip ek hul kuiertjies kort, ek hou nie van al die onnodige small talk nie. Ek het maar baie onlangs eers ’n Twitter- en Instagram-profiel geskep, mense hoef my nie te sien nie.”

Uit die perd se bek. Die mees basiese definisie van ’n introvert is iemand wie se energie gelaai word wanneer hy alleen is, maar deur ’n stimulerende omgewing (soos sosiale aktiwiteite) getap word. Dis hoofsaaklik omdat introverte se brein anders reageer op dopamien as ekstroverte s’n, volgens dr. Elizma van der Smit, kliniese sielkundige van Klerksdorp. “Die introvert se brein is minder dopamien-gedrewe, met ander woorde, eksterne stimulasie gee hulle nie dieselfde woema as vir ’n ekstrovert nie. Jou sensitiwiteit vir dopamien word deur jou DNS bepaal. Babas wys vanaf geboorte reeds hul geneigdheid tot introversie/ekstroversie.”

Tans is daar ’n introvert-revolusie aan die gang. Stadigaan begin die wêreld, gerig op ekstroverte, leer om die introvert se manier van dinge doen te verstaan en aanvaar. Só breek Jessica Pan met haar boek Sorry I’m Late, I Didn’t Want to Come (2019) ’n paar lansies vir introverte. Jessica, self ’n skaam introvert (die twee gaan nie noodwendig hand aan hand nie), het ’n jaar in haar lewe soos ’n ekstrovert aangepak. Sy het besef sy gebruik die etiket “introvert” as verskoning om nee te sê vir dinge: om uit te gaan, nuwe mense te ontmoet, te netwerk. En dat dit haar wêreld laat krimp. Dus het sy ’n lys gemaak van alles wat ’n nagmerrie is, soos om met vreemdelinge te gesels (op die Londense moltrein), as skerpskertser op te tree (help, waar is die nooduitgang?), alleen te reis (die bestemming ’n verrassing) ... genoeg om enige introvert na die naaste hoekie te laat skarrel.

Nee, Jess het nie ’n ekstrovert geword nie, sy sal altyd een-tot-een-gesprekke verkies. Maar haar wêreld is vol nuwe, interessante dinge.

’n Introvert, wat dit beteken

Ons almal het ’n aangebore temperament – die manier waarop jy energie kry en verkies om met die wêreld om te gaan, volgens Jenn Granneman, skrywer van The Secret Lives of Introverts: Inside Our Hidden World (2017), op haar webblad introvertdear.com. Of jy ’n introvert of ekstrovert is, word grootliks deur jou gene bepaal. Jy word egter ook deur jou lewenservaring gevorm. As jou stil, nadenkende manier deur jou ouers, onderwysers en ander rolmodelle aangemoedig is, het jy waarskynlik vol selfvertroue grootgeword en aanvaar jy wie jy is. Maar as jy soos baie introverte geterg, geboelie en vertel is om uit jou dop te kruip, het jy dalk sosiale angs ontwikkel. Of gevoel jy moet maak asof jy iemand is wat jy nie is nie.

Die meeste mense is nie ’n totale ekstrovert of introvert nie, maar iewers in die middel met eienskappe van albei, volgens dr. Van der Smit. Dalk het jy net ’n bietjie alleentyd nodig om jou batterye te herlaai. Of jy voel baie gou gedreineer en verkies lang tye in jou eie geselskap. Vroeër of later, sê Jenn Granneman, gaan alle introverte egter die gevreesde “introvert-babelas” beleef, die gevoel dat jy lippe teen die klippe is van te veel “mensetyd” of stimulasie. Dit kan beteken jy voel uitgeput, kan nie konsentreer nie en is selfs knorrig. Dis asof jou brein al sy krag opgebruik het en tot die droesem toe leeg is.

Is introverte skaam?

Sommige is, ander nie. “’n Introvert geniet alleentyd en jy word emosioneel gedreineer as jy baie tyd saam met ander deurbring. Is jy skaam, daarenteen, wil jy nie noodwendig alleen wees nie, maar jy raak senuweeagtig en selfbewus in sosiale situasies,” verduidelik dr. Van der Smit. “Skaamheid kan verander oor tyd, maar introversie is ’n lewenslange persoonlikheidstipe.”

Baie introverte geniet dit om te kuier. Maar omdat dit jou uiteindelik só moeg maak, gaan jy snoep daarmee om. Jenn Granneman vergelyk sosiale stamina met hardloop. As ekstroverte marathonatlete is, is introverte naellopers. Dit beteken nie jy hou nie van hardloop (sosiale samesyn) nie, jy moet net jou energie spaar.

Introverte is dus nie noodwendig sosiaal onbeholpe nie. “Sommige het uitstekende sosiale vaardighede en is selfstandig, kan hulself laat geld en is interessant om mee te gesels,” sê dr. Van der Smit. Introverte kan hulself nie verander nie. En wil meermale ook nie, hulle geniet hul ryk, innerlike wêreld en alleentyd terdeë. Hulle het boonop “unieke gawes wat diepte en kalmte na ’n gemeenskap bring”, volgens dr. Van der Smit. Jy kan wel jou sosiale vaardighede slyp en meer bevoeg in sosiale situasies raak. (Maar wees gewaarsku: Dit gaan jou steeds dreineer.) Een van die eerste dinge wat Jess Pan gedoen het, was om met vreemdelinge te begin gesels. Ons sit almal in stilte op ’n trein of bus, bloot omdat niemand nog die ys gebreek het nie. Praat met iemand en hy gaan heel waarskynlik saampraat, sê sy.

’n Vriendin, ’n introvert en toevallig ook skamerig, het ’n blaadjie uit Jess se boek geneem. “As ons by vriende gaan eet en ’n gas laat my geïntimideer voel, bly ek gewoonlik stil, luister en lag net saam. Dié keer, sê ek vooraf aan my vriendin, die gasvrou, gaan ek daai een trompop loop en begin gesels. Wel, dit is toe ’n bekende, gerekende skrywer. Aanvanklik sit ek met my mond vol tande, tot my vriendin my onder die tafel skop. Ek haal diep asem, trek weg en daarna kon jy my nie stilkry nie. Toe ek en my man uiteindelik in die motor klim, sug ek: ‘Nou is ek vodde!’ Dit het my weer eens laat besef ons is almal maar net mense. En dit sal my beslis help as ek weer saam met so iemand aan tafel beland.”

Jenn Granneman reken jy moet saam met jou introversie werk, eerder as daarteen veg. Dit kan beteken jy moet dalk daardie uitnodiging van die hand wys. Op vriende fokus wat vir jou baie beteken, en nie alles vir almal probeer wees nie. Meer afsondering in ’n oopplankantoor probeer vind. En bo alles jou instink vertrou oor wat jy regtig nodig het om gelukkig te wees.

Kontak

Dr. Elizma van der Smit: 018 468 5365, southafricantherapist.com, zenzilelife.com

Oorleef Kersfees só
  1. Wees buigsaam, aanvaar dat jou roetine anders gaan wees. Laat jouself toe om sommige sosiale geleenthede by te woon.
  2. Wees kreatief om stilte- en alleentyd te kan hê. Verskoon jouself en neem mini-verposings – al gaan jy net badkamer toe.
  3. Hou liewer jou eie partytjie. Só het jy beheer oor die gastelys en aktiwiteite en kan jy genoeg alleentyd inpas.
  4. Jy hoef nie met almal te gesels nie, maar kies een of twee mense met wie jy meer intieme geselsies kan hê.
  5. Daag vroeg op. Dit gee jou kans om aan te pas en alles “uit te kyk” voordat dinge te besig raak.
  6. Soek ander introverte op, dit sal dinge minder intens maak en julle kan mekaar se sosiale angs verlig.
  7. Bied aan om die gasvrou te help. Só bly jy besig sonder om noodwendig met almal te moet gesels.
  8. Verduidelik introversie aan familie en vriende, sodat hulle nie jou behoefte aan ruimte as verwerping sien nie.
  9. Sorg vir ’n ontsnappingsplan as dinge te veel raak.

Bron: Dr. Van der Smit

Is jy ’n introvert?
  • Jy kan sosiale geleenthede geniet, maar stiltetyd is noodsaaklik vir jou gesondheid.
  • Jy is nie gekant teen vergaderings en groepbesprekings nie, maar kry beter oplossings wanneer jy alleen is.
  • Jy het ’n klein vriendekring wat baie na aan jou is. Introverte verkies diep verhoudings met baie intimiteit.
  • Mense ervaar jou dalk as gereserveerd, stil en skaam en dis moeilik om jou te leer ken. Tog tree jy soos ’n ekstrovert op wanneer jy tussen mense is wat jy goed ken.
  • Jy voel maklik oorweldig in besige sosiale tye.
  • Jy bestee baie tyd aan jou gedagtes en ervarings. Jy hou daarvan om meer van jouself te leer.

Bron: Dr. Van der Smit

Moenie voel jy moet ‘groter’ wees as wat jy is nie. Jy is genoeg. En die regte mense wat jou aanvaar vir wie jy is, sal op jou pad kom
Cintaine Schutte, aktrise en ja, introvert
Die introvert se gids, à la Jessica Pan

Oor selfsorg

Sê jy nee of stel iets af uit selfsorg, of is jy net lui? Stel dit af as iets anders wat in jou lewe aangaan jou angstig of oorweldig laat voel. “Maar wanneer ek kanselleer of nie opdaag nie, weet ek ook ek sou waarskynlik beter gevoel het as ek uitgegaan en met mense gepraat het ...”

Oor vriendskap

Neem die eerste en ook die tweede tree. Op Bumble BFF, die vriendskapsweergawe van die afspraak-app Bumble, het sy interessante vroue ontmoet, maar daar was altyd ongemak omdat nie een die ander eerste vir koffie wou nooi nie.

Oor netwerk

Moenie laat opdaag nie, want dan voel dit of almal reeds met ’n gesprek besig is en of jy uitgesluit word.

Oor praatjies maak

As ons netwerk, haak ons dikwels by oppervlakkighede vas: die weer, daaglikse pendel, werk. Jy hoef nie noodwendig in te duik met dieper praatjies as jy iemand pas ontmoet het nie: ons begeertes, kwesbaarhede en drome. Maar ’n belangstelling in ander aspekte van daardie mens se lewe en meer diepsinnige vrae kan julle meer betekenisvol verbind. Vra jouself: Wil jy so diep gaan? As dit jou boekhouer is, waarskynlik nie.

Oor praat met vreemdelinge

’n Kompliment kan die ding doen. “As ek ’n vrou sien en regtig van haar skoene, handsak of lipstiffie hou, sal ek so sê.” Is julle in ’n gedeelde situasie – soos om op die lughawe vir ’n vertraagde vlug te wag – kan dit dinge draagliker maak as jy met mense om jou praat.