Die klink nie juis romanties nie. Maar Britse kenners reken elke paartjie behoort mekaar ’n paar belangrike vrae te vra voor die verhouding té ernstig raak.

Die 10 vrae, saamgestel deur ’n paneel van egskeidingskenners, sluit in of julle goeie vriende is. En of julle uiteindelik dieselfde dinge in die lewe soek. Die lys is die uitvloeisel van ’n studie aan die Universiteit van Exeter in suidwes-Engeland en saamgestel deur twee regters en 10 egskeidingsprokureurs en -bemiddelaars. Dit sluit in barones Fiona Shackleton, wat as Brittanje se voorste egskeidingprokureur bestempel word. Prins Charles en Paul McCartney tel onder haar kliënte. Die paneel het die lys met vrae saamgestel op grond van onderhoude met kenners, gelukkig getroudes en geskeides. Dit het 43 pare ingesluit wat reeds tien jaar getroud is en steeds saam is of intussen uitmekaar is en nog 10 pare wat reeds 15 jaar in ’n verhouding is.

Barones Shackleton sê: “Meer as 50 persent van mense wat my oor ’n egskeiding raadpleeg, sê hulle het óf reeds voor óf baie gou ná hul troue besef hulle is fundamenteel uiteenlopend. Daar is baie onderrig op skool oor seks, dwelms en alkohol. Maar min of niks oor die belangrikste besluit wat jy in jou lewe gaan maak nie – met wie jy gaan huis opsit en kinders hê.”

FOTO Getty Images/ Gallo Images

Die mense wat ondervra is en wie se verhouding floreer, was dikwels vriende voor hul romanse begin het. Hulle praat gereeld oor klein, alledaagse dingetjies en soek oplossings vir konflik.

Die twee grootste redes waarom mense skei, is onversoenbaarheid en onrealistiese verwagtinge, volgens die studie. ’n  Onvermoë om probleme uit te stryk en ’n onbereidwilligheid van een of albei om aan die verhouding te werk, was ook algemene redes.

Professor Anne Barlow, wat die navorsing gelei het, sê: “Elke verhouding is anders en dis belangrik dat pare ’n verhouding bou waaraan hulle sin en betekenis heg. Maar ons het gevind verhoudings wat floreer, deel sekere fundamentele eienskappe. Die pare het meestal ’n maat gekies wat goed by hulle pas en het maniere gevind om stresvolle tye te bestuur.”

10 vrae wat elke paartjie moet beantwoord

1.  Pas ek en my maat goed by mekaar?

2.  Is ons goeie vriende?

3.  Sien ons die beste in mekaar?

4.  Is ons verwagtinge realisties?

5.  Wil ons dieselfde dinge in ons verhouding en in ons lewe hê?

6.  Kan ons dinge wat krap met mekaar bespreek?

7.  Hou ons ons verhouding energiek en lewendig?

8.  Is ons albei bereid om in moeilike tye aan ons verhouding te werk?

9.  Sal ons saamstaan in stresvolle situasies?

10. Het ons albei mense naby aan ons wat ons ondersteun?

Bron: Universiteit van Exeter