Die wêreld krap steeds kop oor Brangelina wat vroeg in 2016 aangekondig het dat hul paadjies gaan skei. Vir 12 jaar was Angelina Jolie en Brad Pitt saam, die laaste twee jaar daarvan as getroudes. Hoe gebeur dit dat ’n verhouding ná jare saam, en toe kortliks getroud, skielik verkrummel?

Die Hollywood-aktrise Goldie Hawn glo vas dat haar verhouding met Kurt Russell sal eindig die dag wanneer hulle trou. Sy woon al vir 33 jaar saam met Kurt. Hulle het een kind saam, Wyatt Russell (30).

Sy het op die geselsprogram Loose Woman vertel: "Daar iets sielkundigs daaraan om nie getroud te wees nie, want dit gee jou die vryheid om besluite te neem soos jy wil."

Goldie sê sy sou beslis geskei het indien hulle wel getrou het, berig Huffington Post.

Dueling movies but a match made in heaven ?? @snatchedmovie @guardiansofthegalaxy

A post shared by Goldie Hawn (@officialgoldiehawn) on

Jorgan Harris, ’n kliniese sielkundige van Kaapstad, sê paartjies glo dikwels dat hulle hul probleme met ’n huwelik kan oplos.

"Dikwels is die verhouding reeds lankal verby oor ’n probleem wat hulle nie kan oplos nie. Dan dink hulle die huwelik sal dit laat werk. ’n Saambly-verhouding kan nog die krake versteek. Maar met ’n huwelik raak die krake selfs groter. En dan val die verhouding uitmekaar."

Jorgan meen ook dat hulle dalk druk van buite ervaar.

"Familie, vriende of selfs een van die maats kan aandring op ’n troue. Nou verwyt die een die ander een en voel dan skielik te na gekom."

Unsplash Wedding FOTO Unsplash

Volgens dr. Adelbert Scholtz, ’n kliniese sielkundige van Somerset-Wes, kan dit dikwels ook by ’n gebrek aan vertroue lê.

"Veral as die verhouding as ’n affair begin het, kan albei mekaar net nooit vertrou nie. En wanneer hul getroud is, raak die wantroue net nog groter. Dis werklik ’n vreemde verskynsel en elke saak is uniek."

Volgens Ansie Joubert, ’n verhoudingsterapeut van Kaapstad, gebeur dit dikwels dat een maat vasgevang voel.

"Dis dalk ’n subtiele persepsie wat plaasvind. Maar dinge in die verhouding het verander en eintlik het albei verander. Maar nie een weet hoe om met die ander te kommunikeer nie. Dikwels weet hulle nie hoe om op die regte manier te praat en te luister nie."

Unsplash Couples FOTO Unsplash

Francois Estherhuizen, ’n terapeut en huweliksberader van Stellenbosch, sê liefde is nie altyd genoeg nie. "Dit klink hard, maar dis ongelukkig die waarheid. Dis nie genoeg nie, veral as jy nie weet hoe om te kommunikeer nie."

Esterhuizen sê hy vra altyd vir paartjies wat vir jare saambly en nou skielik wil trou, die volgende vrae. Die antwoord is dikwels dieselfde:

Hoekom wil julle trou? "Ons wil graag iets doen voor familie en vriende."

Is iets anders ná julle getroud is? "Dit voel anderste - meer veilig."

Maar Esterhuizen sê paartjies kan ook onkundig wees en nie voorbereid op die huwelik nie. "Daar word nie altyd ordentlike voorbereiding gedoen nie. Dis soms net iets wat vinnig afgejaag word."

FOTO Unsplash FOTO Unsplash

Goldie sê sy en Kurt het bewustelik besluit om bymekaar te bly. "En dis vir ons genoeg. Vryheid is ook belangrik."

Kyk hoe gesels Goldie oor haar verhouding: