Donderdag het die bom in die koerante gebars: Joost van der Westhuizen het uit sy en Amor se huis in Dainfern Valley in Johannesburg getrek. Hy woon glo nou by 'n sakekennis, mnr. Garry Hartslief. Volgens 'n berig in Beeld en Die Burger wou Hartslief nie kommentaar lewer nie.

Amor het ook nie gereageer op 'n versoek op haar selfoon om kommentaar nie. En Joost het glo gesê wat in sy huis gebeur, is "privaat". Dít volg op die video-debakel waarin Joost saam met 'n ontkleedanseres verskyn het en waar dit lyk asof hy dwelms snuif. Baie mense is eintlik verbaas dat Amor so lank by haar man gebly het. Marguerite van Wyk het met `n paar kenners gepraat om te hoor of hulle hoegenaamd gedink het die huwelik het `n kans. Aanvanklik het Joost  ontken dis hy in die video, maar toe wel later in sy biografie skuld erken. Boonop het die gewese hoogspring-kampioen Charmaine Weavers toe ook beweer sy en Joost het tevore ‘n affair gehad.

Gys Els

Huweliksberader, Alberton

 
As mense werklik berou het en kan vergewe, kan 'n huwelik wat deur stormwaters is, weer herstel. Vertroue kan herstel word.
Mense wat in die openbare oog is, het beslis 'n baie moeilike tyd omdat daar heeltyd op hulle gefokus word. In die geval van die gholfspeler Tiger Woods wat onlangs in die nuus was oor al sy affairs, het hy wél erken hy het gedink hy is onaantasbaar. Wanneer mense openbare helde word, dink hulle dikwels – soos die krieketspeler Hansie Cronjé destyds met sy krieketknoeiery, baie politici, kerkleiers en glanspersoonlikhede – hulle kan met sekere dinge "wegkom".
'n Mens moet versigtig wees vir die greep van mag. Dikwels word jou sin vir waardes verdoof deur die blink liggies. Dis 'n dilemma. Sogenaamde celeb-mag is aan die een kant lekker. Dis heerlik as almal jou ken en na jou kom kyk en daarvoor betaal. Maar dis nie lekker as hulle jou harder oordeel as jy fouteer nie. Piet Pompies het dalk ook sy vrou verneuk en sy vrou slaan hom met die koekroller uit woede, maar niemand weet daarvan nie. Alle paartjies beleef onmin. Hulle maak droog en maak dan weer dinge reg. Maar niemand lees daarvan in die pers nie.
Ek sou met Joost en Amor wou gesels en hoor wat het vir hulle gewerk in hul verhouding en sou dan wou bou aan die sterk boustene.
Daar is geen formules in verhoudings nie. Die vraag wat albei moet vra, is: Watter situasie help my om die mens te word wat ek wil wees? As ek wil vergewe en regmaak en ek dink ek sal dit regkry deur te bly, bly. As ek veiliger voel deur die verhouding te verlaat, gaan.

Elmari Mulder-Craig

Seksuoloog, Pretoria

 
Joost en Amor het langer "gehou" as wat ek gedink het. Juis omdat daar aanvanklik oneerlikheid en ontkenning was. Ek weet nie of hulle vir terapie gegaan het nie, maar só 'n huweliksprobleem het spesifieke traumaberading nodig vir albei partye. Slegs dán is daar die moontlikheid van versoening. Dit hang ook af hoe sterk die verhouding vóór die probleme was. Die prognose vir iets waardeur Joost en Amor is, is egter gewoonlik nie goed nie. Die skok was bloot te groot vir Amor. Die hantering van verlies is soos 'n rouproses.
Jy bevraagteken jou idee van die huwelik en die mens met wie jy getroud is. Die verontregte party gaan dikwels in 'n staat van veg, vlug of vries. Baie vroue vries en weet glad nie wat om te doen nie. Dikwels is dit nóg moeiliker vir hoëprofiel-mense, want hulle moet dink aan hul loopbane en hoe dit hul kinders gaan beïnvloed. Dan is daar die geloofskwessie. Hulle het hulself voorgehou as 'n familie met stewige Christelike waardes. 'n Mens kan vergewe en vergeet en aangaan. Maar die lewe werk nie altyd so nie.

Vergifnis is 'n proses. Sommige goed is net nie hanteerbaar nie. Dikwels is jou integriteit só geskend dat jy nie kan terugbeweeg in die verhouding sonder om te voel jy het jou siel verkoop nie. Dan moet jy vra: Wat is die beste vir my? Baie vroue kom op daardie punt en sê dan: Ek kan die situasie net nie meer hanteer nie en beweeg aan. 

Ek glo glad nie 'n proefskeiding sou gewerk het nie. Dit is gewoonlik net die voorloper tot 'n egskeiding.

 

Dit help nie jy raak in 'n moddergooiery betrokke nie. Hy bly die pa van jou kinders.

 

Amor het die ekstra myl geloop. Ek het baie respek vir haar en vir Natasha Sutherland (Steve se eksvrou) oor hoe hulle hul mans se ontrou hanteer het. Dit help nie jy raak in 'n moddergooiery betrokke nie. Hy bly die pa van jou kinders.
 

Kobus van der Merwe

Imago-verhoudingsterpeut van Pretoria

 
As Joost en Amor vir terapie gegaan het, was versoening moontlik. Mense wat pyn ervaar, soek salwing daarvoor buite die huwelik in byvoorbeeld affairs, dwelms, drank, werk, huisskoonmaak, hulle skop die
hond . . . As jy weer tot besinning kom, byvoorbeeld ná die affair, is jy nog nét so kwaad. Maar dan moet jy kommunikeer, anders gaan die pyn nie weg nie. 'n Affair maak albei mense in hul diepste wese seer. Sewe uit tien mense het 'n affair en net 30% van daardie verhoudings oorleef.

Al hoekom hulle s'n moontlik nou nie oorleef nie, is omdat hulle nie die ondersteuning, gereedskap en heling het om die verhouding weer te laat genees nie. Terapie sal daarvoor sorg.

'n Proefskeiding sou nie werk nie, want hulle moes juis kommunikeer. En dan sou hulle net nog verder van mekaar wegdryf. Dat hulle so lank bymekaar gebly het, sê iets van die kapasiteit van hul verhouding. Dis goed.

Aan die ander kant help dit ook nie net om maar net aan te karring sonder om oplossings te vind nie. Jy moet oor jou pyn práát.

Indien hulle sou skei, is die kans statisties groot dat hulle twee tot drie jaar later, sou hulle weer met iemand trou, in dieselfde verknorsing sou sit. As jy loop, neem jy jouself immers saam. Dis nie een of die ander se skuld nie. Dis dinge wat in albei moet verander.