Wat is dan nou lekkerder as om familie en vriende weer te sien ná al die gejaag van die jaar se laaste

klompie maande? Maar soos ons almal maar alte goed weet, kan Kersfees sy eie onderstrominge en spanning meebring. Elkeen het immers sy eie manier van doen en dis nie noodwendig versoenbaar met ander s’n nie. Dis wanneer netelige situasies opduik . . . Jy moet gasvrou speel vir jou baasspelerige skoonsuster, jou swaer kuier totdat hy lawaaierig raak en jou skoonma hou dalk nie van jou skatlike katjies wat teen haar kom skuur nie. Of die mense by wie jy kuier, reël vir jou die een sosiale aktiwiteit ná die ander, maar al wat jy eintlik wil doen, is rus. Moenie moedeloos word nie, daar ís maniere om dit te hanteer sonder om vyandskap te veroorsaak: 1) Ek is geskei en na regte moet die kinders elke tweede Kersfees na my gewese man toe gaan. Maar
hy het ’n tipiese losloper-leefwyse, met vriende wat oorkom. Ek gaan na familie waar die kinders
nefies en niggies het om mee te speel, en daarom verkies hulle om elke Kersfees by my te wees. My
eks wil dit egter nie toelaat nie. My vriendin het ’n soortgelyke probleem: Haar ouers verwag sy moet elke tweede Kersfees na hulle toe kom, maar daar is geen maatjies vir die kinders soos by haar skoonouers se huis nie.
Elma Bartlett, verhoudingskenner van Johannesburg

Dis onmoontlik om almal tevrede te stel. ’n Mens kan ook nie altyd alles ter wille van die kinders doen nie. Kinders moet kontak hou met albei ouers ná ’n egskeiding. Jou vriendin het ook ’n verantwoordelikheid teenoor albei “stelle” oupas en oumas. Soos in enige konfliksituasie is dit raadsaam om met jou kinders – veral as hulle ouer is – om ’n tafel te gaan sit en die saak te bespreek. Is daar nie ’n wen-wenoplossing
nie? Miskien kan ’n mens vir die grootste deel van die vakansie saam met die nefies en niggies kuier en dan vir ’n korter rukkie saam met Oupa en Ouma. Luister ook na jou kinders se behoeftes. Kreatiewe “idee-berade” kan wondere verrig in sulke gevalle. Dikwels gebruik geskeide ouers die kinders om mekaar te manipuleer – onbewustelik óf doelbewus. Vra jouself as ma ook eerlik af wat jou motiewe is. Verkies die kinders werklik om net by jóú te wees oor Kersfees? 2) Wat maak jy met ’n gas wat te veel drink en ’n verleentheid vir almal is? Emsie Schoeman, etiketkenner van Knysna

Gee jou gaste binne ’n halfuur nadat hulle opgedaag het iets om te eet, verkieslik ’n substansiële voorgereg. As hulle moeg, honger en dors is en op ’n leë maag drink, raak hulle gouer beskonke. Maak ook seker dat jou gaste nooit vir hulself drankies skink nie: Dis die gasheer of kelner se voorreg. Só kan
jy beheer uitoefen. En geen dubbele sopies nie! As iemand handuit ruk, vra ’n rustige, betroubare man om dié gas huis toe te neem. 3) Hoe hanteer jy dit as jou skoonsuster wat kom kuier die huishouding wil oorneem? Annerie Joubert, voorligtingsielkundige van Durbanville

Daar is ’n spreekwoord wat sê elke haan kraai koning op sy eie mishoop. Die uitdaging is om jouself te laat geld en in beheer te bly sonder om die atmosfeer en goeie verhoudings te versteur. Die grootste slaggat wat jy moet vermy, is om te aanvaar dat jou skoonsuster se gedrag daarop dui dat jy ’n slegte huisvrou/gasvrou is of dat jou manier van doen nie goed genoeg is nie/verkeerd is. Elke vrou het haar
unieke styl van dinge doen en mag dit uitleef, veral in haar eie huis! Sê dus op ’n vriendelike, ferm manier
vir jou skoonsuster jy verstaan dat sy graag wil help en nie ’n ekstra lading op jou skouers wil plaas nie. Ook dat sy vanweë haar geaardheid baie georganiseerd en doeltreffend is en dat jy haar daarvoor bewonder. ( Jy dink waarskynlik sy is dominerend en oorheersend, maar wees taktvol en moet dit nie sê nie.) Sê dan dat elke huisvrou mos maar haar eie manier het waarop sy dinge doen en dat dit vir jou beter werk as jy die huishouding bestuur soos jy daaraan gewoond is. Vra haar hulp met spesifieke take, soos om die wasgoed op te vou. Ken sekere verantwoordelikhede aan haar toe, soos om slaai te maak. Bedank haar telkens opreg en hartlik vir die feit dat jy op haar nommer kan druk. 4) Wat doen jy as jou gaste nie diereliefhebbers is nie en retireer elke keer as jou kat teen hulle kom
skuur?
André Schwartz, sanger en etiketkenner van Johannesburg

Vertel jou gaste voordat hulle kom kuier dat jy diere het. Dan moet hulle maar allergiepille inpak en hulself
daarop voorberei. Anders moet hulle nie kom kuier nie. (Ek sal gelukkig nooit daardie probleem hê nie, want al my vriende ís diereliefhebbers.) Hoe kan ’n mens van gashere wat jou spesiaal laat voel, verwag dat hulle hul diere uit hul eie huis moet verwyder? Dis verregaande. Dis soos om vir mense te sê verwyder jou kinders uit die huis omdat ons nie van hulle hou nie! Mense moet meer verdraagsaam wees. Party mense rafel uit ná drie glase wyn, ander se kinders is lastig, almal het maar hul dinge . . . Ek dink: Take the good with the bad. Dis nou maar net hoe dit is as jy wil gaan kuier by mense. 5) Wat is goeie etiket met Kersgeskenke vir die familie? Emsie Schoeman, etiketkenner

Kom gerus onderling ooreen oor die waarde van geskenke, soos dat dit nie meer as R50 of R100 moet kos nie. Dit is beslis nie goeie etiket om baie duur geskenke te gee vir familie wat self dalk nie sulke duur geskenke kan bekostig nie. ’n Mens wil niemand minderwaardig laat voel met die geskenk nie. Sit ’n bietjie tyd, moeite en persoonlike kreatiwiteit in jou geskenke. Daar is hope selfmaak-idees in tydskrifte. Dit is ook nie nodig om vir elkeen in die gesin ’n geskenk te gee nie. Julle kan ooreenkom dat slegs die kinders’n klein speelding kry. Die volwassenes kan dalk net vir mekaar ’n kosmandjie vol lekkernye gee. As jy byvoorbeeld ’n versamelaar van eetgerei of wit tafellinne is, vra ander in die familie om miskien een item (’n koppie, piering of servet) by te dra. Só word die koste versprei. Jy kan ook ’n geskenklys omstuur,maar dit werk beter met ’n ooievaarstee of troue. Die hele idee van Kersfees is tog om vir mekaar iets persoonliks uit te soek en dit gaan nie soseer oor die geskenk (of die prys daarvan!) nie, maar oor die idéé daaragter. Jy kan jou kinders ook leer dat daar niks fout is om vir Oupa, wat dalk belang stel in tuinwerk, iets so eenvoudigs soos ’n paar potjies tuisgekweekte kruiesteggies te gee nie. Of om self vir Ouma ’n lekker baksel koekies te maak en mooi te versier nie. As jy oorspronklik is met jou Kersgeskenke (én kaartjies), hóéf jy nooit mee te ding met duurder geskenke nie. 6) Hoe gemaak as jou jong swaer en sy meisie in dieselfde kamer wil slaap, maar dis nie die voorbeeld wat jy vir jou kinders wil stel nie? Doreen Hofmeyr, voorligtingsielkundige van Durbanville

In jou eie huis het jy die volste reg om die reëls neer te lê. Sê vir jou swaer dat jy nie ’n waarde-oordeel fel oor sy leefwyse nie en dat hy in sy eie woonplek kan doen wat hy wil. Hy moet wel verstaan dat dit vir jou gaan oor die voorbeeld wat aan jou kinders gestel word. Jong kinders is nog baie ontvanklik en heg baie betekenis aan wat hulle sien. Om dié rede moet ouers altyd probeer om konteks aan kinders se
belewenisse en waarnemings te gee. As daar byvoorbeeld ’n toneel op TV is waar ’n ou en meisie sommer ná die eerste afspraak tussen die lakens inspring, behoort ouers te verduidelik dat dit in die “regte lewe” nie die ideale resep vir standvastige, respekvolle verhoudings is nie. As ouers dan hierdie waardes voorhou, maar die swaer word toegelaat om saam met sy meisie te slaap, skep dit dubbele standaarde. Kinders verstaan dit nie. Praat openlik met jou swaer en verduidelik vir hom en sy meisie wat jou situasie is. Stel die grense reeds vooraf duidelik deur aparte slaapplek vir hulle gereed te kry. Om die boodskap vas te lê kan jy sommer jou kinders vra om jou te help om die beddens op te maak. Jy het jou verantwoordelikheid nagekom. As jou swaer dan in die nag rondloop (terwyl jou kinders slaap), is dit sy saak – solank hy net in sy eie bed wakker word. 7) Ons onthaal altyd Kerstyd die familie en vriende en dra die grootste deel van die koste, selfs al bring almal geregte vir die ete. Maar vanjaar is ek regtig bekommerd. Ons kan dit nie bekostig nie en almal aanvaar nou al dis by ons. Hoe kan ek die onderwerp aanroer sonder om vrekkerig te lyk? Nico Swart, hoof van persoonlike finansiële bestuur by Unisa in Pretoria

Daar is verskillende opsies: *Begin deur ’n Kersbegroting op te stel. (Onthou om sowat 15% meer te begroot vir onvoorsiene koste.) *Besluit of jou geldsake so benard lyk dat julle dit liefs moet afstel. Lig almal dan voor die tyd in. Wees bloot eerlik met hulle. *Of vra of dit moontlik is om dit by iemand anders se huis te hou, dalk met ’n groter swembad of onthaalarea. *Julle kan ook jul geldelike situasie evalueer en op sekere onkoste bespaar. Maak jul eie Kersversierings. Of versier slegs die Kerstafel – geen bykomende Kersboom en ander versierings nie. Koop goedkoper bestanddele vir die kos en nagereg. *Moenie goedkoop wyn koop nie, anders drink niemand dit in elk geval nie. Werk vir die kleiner kinders ’n goedkoper spyskaart uit. Pluk jou eie blomme uit die tuin. Moenie te veel kos maak en onnodig kos vermors nie. Moenie jou kredietkaart misbruik nie. Koop met jou debietkaart, tensy jy seker is jy gaan dit regkry om jou kredietkaart in bedwang te hou.

8) Hoe gemaak as jou vervelige swaer heeltyd oor homself gesels en jy sit met hom opgeskeep terwyl die ander ontsnap? Hoe kan jy wegkom sonder om hom in die gesig te vat?

Nataniël, kunstenaar en etiketkenner

Ek sê altyd in sulke situasies: “Hoor hier,my Kersgeskenk aan myself is hierdie nuwe boek wat ek móét lees. Gaan jy my vir ’n paar oomblikke verskoon . . .? ”Dan gaan drink of slaap ek in my kamer. 9) Wat doen jy as jou gasheer en -vrou ’n besige sosiale program vir jou opstel en jy wil net rus? Elma Bartlett, verhoudingsterapeut van Johannesburg Dit is belangrik om vóór die vakansie reeds te sê wat jou behoeftes is. Wees eerlik. Moenie dominerend wees nie, maar wees ferm. As jy stilbly en alles net ter wille van die “vrede” aanvaar, veroorsaak dit bloot wrokkigheid in jou wat die verhouding op die duur in elk geval sal versuur. ’n Mens kan altyd nee sê. Annerie Joubert stem saam en meen jy kan vooraf taktvol vir jou gashere sê hulle hoef nie spesiale moeite te doen of vir jou vermaak verantwoordelik te wees nie. Eweneens hoef hulle ook geen aanpassings aan
hul eie program of leefwyse te maak nie.  As hulle nogtans nie luister nie, mag jy op ’n vriendelike manier sê dat jy hul pogings om jou te vermaak respekteer en waardeer, maar dat jy liefs ’n sosiale geleentheid of twee gaan mis en tuisbly, of verkies om ’n slag jou eie ding te doen.

Emsie Schoeman 044 877 0746

Doreen Hofmeyr info@hofmeyr.info

Nico Swart swartnj@unisa.ac.za

Annerie Joubert 021 976 4764

Elma Bartlett 011 888 5452

Elmarie Claassens pinkshrink@vodamail.co.za, 011 975 0631