Dis net jy, die stilte van die nag, die plafon waarna jy staar . . . en jou gedagtes: “Gaan ek ooit môremiddag my projek klaarhê? Het ek die motorligte afgeskakel? Ek moet tog onthou om die briefie vir die skoolhoof te skryf . . .”

Kort voor lank is jy snaarstyf gekwel. Maar dalk het jy al jóú oplossing ontdek: Jy staan op, gaan maak seker die motorligte is wel af, skryf daardie brief en doen ’n deel van jou projek voordat jy terugklim in die bed en sorgeloos wegdommel.

Om jou te kwel hét voordele: Dit hou jou op jou tone en laat jou oorgaan tot aksie. Anders het jou belastingvorms dalk nou nog in die laai gelê . . .

Algemene kwellinge is dikwels meer “vlietend”, maar dit kan ’n probleem word as dit lei tot ’n voortdurende besorgdheid of angstigheid, as jy daarby vashaak en dit voel asof ’n oplossing jou bly ontwyk.

As dié voortdurende getob ook ander aspekte van jou lewe benadeel, soos jou verhoudings of jou werk (jou kop is bv. só besig daarmee dat jy nie jou werk kan doen nie), moet gevaarligte flikker (sien kassie).

As kommer oorgaan in stres kan dit lei tot fisieke simptome soos ’n maagseer, hoë bloeddruk, hoof- en spierpyne, min energie, slaapprobleme, ’n laer seksdrang en jou aptyt kan ook af- of toeneem. Jy is dalk ook buierig, geïrriteerd, deurmekaar, jou konsentrasie word beïnvloed, jy sukkel om ’n uitkoms te sien en jy voel hopeloos of moedeloos.

Maar jy kan dit voorkom as jy leer om jou bekommernisse beter te bestuur.
Selfs al is jy weens jou “bedrading” meer geneig om jou te kwel (jou ma was dalk ook ’n kommerkous), kan jy dit met die regte vaardighede goed hanteer.

Moenie die groter prentjie uit die oog

verloor nie.

GEBRUIK DIE VOLGENDE RIGLYNE AS JY MET KWELLINGE STOEI

  • Raak kieskeurig. Kom by die belangrike dinge uit en moenie dat kommer oor onbenullighede jou verswelg nie.
  • Kwel jou minder oor wat mense van jou dink, veral mense wat nie vir jou belangrik is nie. Kwel jou meer oor wat jy van jouself dink!
  • Span ’n lojale vriendin in as objektiewe klankbord om te sê as jou kommer onnodig is. Of sy kan net luister. Dikwels, as jy eers die kwelling verwoord het, is die “towerspreuk” verbreek - en uit jou kop. (Dis gevaarlik om alleen met jou eie kwellinge te sukkel. As jy heeltyd daaraan dink, begin jy dit later glo.)
  • Leer om beter te beplan, sê nee, delegeer. Sodra jou planne agtermekaar is, verdwyn sorge dikwels. As jy jou snags kwel, skryf dít of die oplossing neer, en slaap rustig.
  • Moenie die groter prentjie uit die oog verloor nie. ’n Kwelling is soos om deur ’n klein gaatjie na een ding te kyk. Bekommerd oor jou kind se tienerjare? Onthou, dis een kolletjie van sy hele bestaan.
  • Godsdiens of spiritualiteit (en die wete dat dit “nie in jou hande is nie”) kan help.
  • Kweek vriendskappe met positiewe en eerlike mense. En dalk moet jy net jou standaarde vir jouself en ander laat sak - dan kwel jy jou ook minder.
  • Slaap genoeg. As jy moeg is, is dit moeiliker om jou kop kwelvry te hou. Ontspan, lees, doen hand- of tuinwerk of ander stokperdjies. Oefening (soos draf) is ook ’n goeie manier om jou kop skoon te maak.
  • Goeie kommunikasie (met jou baas/kinders/maat) is belangrik. Veral as jy eerlik kan wees oor jou gevoelens. Soos as jy bv. na jou baas kan gaan en sê wat jou kwel, of na die persoon wat jou kwelling veroorsaak en die probleem met hom/haar oplos.
  • Kry perspektief. Vra jouself af: Wat is die ergste wat kan gebeur? Gaan ek dit oorleef?
  • Sommige goed is eenvoudig buite jou beheer. As jy alles in jou vermoë gedoen het, probeer om dit dan te aanvaar.

Vasgevang?

Jy kan jou nie ophou kwel nie, jy voel vasgevang in ’n spiraal van erge bekommernisse. Niks help nie. Jy voel dit ál meer aan jou lyf en jy is emosioneel ook omgekrap. Moenie dit net ignoreer nie. Jy het dalk professionele behandeling nodig - klop aan by ’n psigiater, sielkundige of dokter.

* Karin Büter is ’n kliniese sielkundige, 021 863 3127/8