Besig, raserig, stresvol. Só lyk ons wêreld vandag. Maar deur bewustelik te leef kan jy – en jou kind – ’n voller lewe hê. 

FOTO Unsplash

“Kinders het meer stres as ooit tevore weens aanhoudende stimuli soos slimfone, TV’s en videospeletjies. Hulle ontsnap nie meer en wees net bloot kind nie,” sê Claire Breen van Kaapstad, ’n opvoedkundige sielkundige wat daarin spesialiseer om bewustelik (mindful) te leef.

Sy en verskeie kenners meen om bewustelik te leef is een van die beste teenvoeters vir vandag se gejaag. “Ons gaan deur die lewe soos robotte. Gevoelens bou dikwels in ons op, tot die damwal breek wanneer die spanning oorweldigend raak. Dan skree ons en blameer ander mense vir ons gevoelens, en só verwilder ons ook ons kinders.

“Aanhoudende stimuli veroorsaak ook dat kinders ‘toemaak’ om hulself te beskerm. Verhoogde kortisolvlakke weens stres is baie nadelig vir ’n ontwikkelende brein.”

Deur bewustelik te lewe kan jy jouself – en jou kind – meer bewus maak van die wêreld om julle, en ook van die innerlike self, sê Theresa van den Berg, ’n opvoedkundige sielkundige van Pretoria. “Die wêreld is vol stressors, maar ons kan ons kinders leer om soms stil te word, stil te staan en te ervaar en verstaan hoe hul gedagtewêreld en emosies werk. Dit alles help hulle om meer gebalanseerd te lewe.”

FOTO Unsplash

Wat beteken dit om bewus te wees?

Om bewustelik te lewe beteken dat jy ruimte maak om na binne te kyk, sonder om dít wat jy voel en sien te wil beheer, sê Theresa. “Dit beteken om die oomblik bloot te ervaar.” Wanneer jy “onbewus” optree, skenk jy aandag aan allerhande eksterne dinge. Jy oordeel dit eerder as om dit net te ervaar.

Vir kinders is bewustheid so eenvoudig soos om belang te stel in dít wat in die hier en nou gebeur, sê Linda Kantor van Kaapstad, ’n sielkundige berader, bewustheidsafrigter en direkteur by die SA Instituut vir Bewustheid. ’n Kind wat nie bewustelik lewe nie, wonder byvoorbeeld wat op sy slimfoon aangaan terwyl hy soek na iets om op TV te kyk. Maar as hy met al sy sintuie op sy omgewing fokus – iets wat die meeste kinders van nature doen as hulle buite speel – kry hy kans om net kind te wees. En as hy stilsit in sy gunstelinghoekie van die tuin, raak hy makliker bewus van sy emosies. Soos hy ouer word, kan die proses hom help om sy emosies te herken en aan te spreek, en dan as volwassene meer deurdag te leef.

FOTO Unsplash

Hoe help dit jou en jou kind?

Om gelukkig te wees is ’n vaardigheid en nie ’n toestand nie, sê Claire. Bewustheid bou ook op dié manier kinders se selfvertroue, dit help hulle om te konsentreer en beter te onthou, selfbeheersing toe te pas en meegevoel aan te leer, sê dr. Shirley Kokot van Wellington, ’n opvoedkundige sielkundige en hoof van Integrated Learning Therapy, wat kinders met leer- en gedragsprobleme help.

“Om stil en nadenkend te wees verlaag ook hul kortisolvlakke. Die kinders in my praktyk is vreeslik gestres – weens skool, buitemuurse aktiwiteite, boelies, aanhoudende stimuli en verskeie ander redes. As hulle nie weet hoe om dit te verwerk nie, tree hulle onvanpas op – en word dan as ‘moeilike’ kinders bestempel.”

Theresa sê dís omdat jong kinders nie altyd hul gevoelens verstaan nie. “Hulle ervaar soms woede, hartseer of frustrasie, maar verstaan nie hoe om dié emosies te herken of hoe om uiting daaraan te gee nie. Deur bewustheid leer jy selfbeheersing, hoe om emosies te herken en om deurdag daarop te reageer.”

Wanneer ’n kind byvoorbeeld ontsteld is en nie verstaan hoekom nie, neig hy om kwaad of hartseer te reageer. Maar as hy weet hy voel nóú kwaad omdat hy gister slegte punte in sy toets behaal het, kan hy iets daaraan doen – en dís bemagtigend.

Onthou net: Bewustheid alleen sal nie ’n kind se leer- en gedragsprobleme regmaak nie, maar dis ’n uitstekende hulpmiddel om ander terapieë aan te vul, sê dr. Kokot. Kinders met aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteitsindroom (ADHD) of angstigheid sal ook meer sukkel om dit aan te leer, want hulle is meer rusteloos.

Dit kan egter veral vir hulle van waarde wees as hulle dit regkry. As jy jou kind wil help om bewustelik te lewe, móét jy dit self ook doen, want kinders leer hul ouers se gewoontes aan. “Dit het selfs meer voordele vir volwassenes. Boonop sal jy dan in die oomblik teenwoordig wees wanneer jy saam met jou kind is en hy sal dít aanvoel. As jy betyds besef wat jy voel, en daaraan werk, kan jy uitbarstings keer en meer geduld hê met die lewe se struikelblokke – én met jou kinders,” sê Claire.

FOTO Unsplash

Hoe leer ons bewustheid aan?

Ons doen dit eintlik met tye vanself – maar die kuns lê daarin om dit gereeld te doen, sê Theresa. “Reeds babatyd leer ons ons kinders om so te leef wanneer ons fokus op hul behoeftes. Ons los nie ’n baba om te huil nie, en deur ons aanraking en stem kalmeer ons hulle en help ons die baba met emosionele regulering. Deur jou baba te kalmeer en sommer net vas te hou, leer jy hom as’t ware om bewus te wees van die hier en nou.”

Linda wys daarop kinders leer nie graag iets aan wat aan hulle opgedwing word nie, maar sal waarskynlik belangstel as hulle jou sien mediteer. "Jou voorbeeld bly maar belangrik,” sê sy.

Bewustheid klink eenvoudig, maar dit is moeilik om dit aanhoudend te doen – volwassenes móét immers ook aan die dag van môre dink, sê Claire. “Daarom is dit waardevol om elke dag tyd daaraan af te staan. Hoe meer jy dit doen, hoe makliker sal dit raak om dit in jou alledaagse lewe toe te pas en ook jou kinders ‘aan te steek’ met jou gedrag.”

VIR JOUSELF

  • Selfs net vyf minute per dag is beter as niks! Begin klein – wees teenwoordig as jy jou tande borsel – proe die tandepasta, wees bewus van die gevoel in jou mond, van jou vars asem ná die tyd.
  • “Groet” jouself soms deur die dag. Raak bewus van jou liggaam en die sensasies wat jy ervaar, jou gedagtes en gemoedstoestand.
  • Vertel vir jou kind wat jy doen wanneer jy bewustheid toepas. As jy dalk kwaad is, sê: “Ek gaan nou bewus raak.” Raak dan bewus van jou omgewing om te kalmeer, of gaan mediteer. Jou kind sal sien hoe dit jou help om te kalmeer en die positiewe effekte daarvan ervaar. Hulle sal sien hoe waardevol die gebruik is en self dan daarin begin belangstel.

FOTO Unsplash

VIR JOU KIND

  • Probeer jou kind eers vir kort tydjies leer, soos om vir net 30 sekondes bewus te wees van wat hy ruik, sien, hoor en voel. Rek die tydperk dan geleidelik uit.
  • Vra hom voor slaaptyd om ’n paar keer asem te haal en te voel hoe die lug sy longe binnestroom, hoe sy spiere beweeg. Of om te fokus op sy bene, dan sy maag, sy arms en sy kop en bewus te wees van elke liggaamsdeel en hoe dit voel.
  • Laat jou kind ’n sagte speelding op sy maag sit terwyl hy lê. Sê vir hom om dan diep in en uit te asem en te fokus op die beweging van die speelding.
  • “Groen tyd” behoort ’n onontbeerlike deel van elke kind se lewe te wees – veral dié wat sukkel om te konsentreer, soos kinders met ADHD. Sportdeelname en buite speel is belangrik, maar jy kan hulle ook dan vra om op te let na hul omgewing en later vir jou te vertel wat hulle gewaar het.
  • Kry ’n kosbak vir voëls in die tuin sodat hulle die voëls kan dophou terwyl hulle eet. Of kry ’n vistenk en maak tyd om gereeld saam te sit en kyk na die visse se beweging.
  • Laat jou kind borrels blaas buite en dan kyk hoe hulle in die lug opwaai en weer val. Hy kan hom ook verbeel hy is die borrel wat so lig deur die lug waai.
  • Lê buite op ’n kombers en kyk saam na die beweging van die wolke.
  • Later kan jy jou kind ook vra wat hy binne-in homself ervaar. Vir kleiner kinders is dit moeilik om emosies te herken, so help hom deur hom te vra om dit as diere te beskryf. Byvoorbeeld:

    Watter dier is die gevoel? (’n Olifant); Watter kleur is die olifant? (Rooi); Wat maak die rooi olifant? (Hy skree); Hoekom? (Want hy is kwaad en bang); Wat is sy naam? (Ben); Kom ons help Ben. Haal diep asem en blaas dan stadig uit, en herhaal dit ’n paar keer. Fokus op Ben. Waar voel jy die bang en kwaad van Ben in jou lyf? (My kop); Haal nog ’n keer diep asem, voel die asemhaling, die sensasie in jou kop. Hoe voel Ben nou? Is daar iets wat jy nou vir Ben wil sê? Wil jy Ben graag teken?

FOTO Unsplash

Vir jouself: Laai gratis meditasies op dié webwerwe af:

– www.centerformsc.org/meditations

– http://self-compassion.org

– www.mindfulselfcompassion.org/meditations

Vir jou kind:

Kyk YouTube-video’s wat wys hoe jy jou kind bewustheid kan leer by www.youtube.com.

Soek vir "How to meditate with your kids", "Mindfulness for kids and parents".