Maar om by daardie punt te kom, moes hulle eers deur al die seer werk – “byna soos ’n waarheid-en-versoeningskommissie” van hul huwelik.

Hulle het van mekaar wegbeweeg en verby mekaar geleef sonder dat hulle dit besef het, vertel Mariana. “Die lewe gebeur met ’n mens. Ons het ons twee kinders grootgemaak, elkeen ons eie besigheid gehad, maar ons het nie meer oor dinge gepraat nie. As ons kwaad was, het ons stilgebly of lelik baklei, en dít word ’n groot seer. Daar was ’n tyd dat ons pal gestry het, totdat my man uit die kamer getrek het. Dinge het slegter en slegter geraak . . .”

Toe hulle die dag skei, het hulle besluit: Ons het op ’n mooi manier getrou, ons gaan op ’n mooi manier afskeid neem. Die aand het die twee gaan uiteet. “Maar binne my het dit verskriklik gevoel, jy voel asof jy wil doodgaan.”

Vir ses maande het elkeen op sy eie gebly, maar hulle het steeds in dieselfde kantoorblok gewerk, mekaar raakgeloop, beleefd gekommunikeer. Hulle het tyd gehad om na te dink oor wat verkeerd geloop het. Jy gaan eintlik deur ’n rouproses, sê Mariana. Dis ’n lang storie, maar op ’n dag het die twee besef hulle het ’n fout gemaak. “

Ons het mekaar styf vasgehou en geweet dat ons nie sonder mekaar kan leef nie. Dit was ’n baie intense emosionele oomblik. Jannie het na ons huis teruggetrek en dit was die begin van oorbegin.” Hulle het besluit hulle gaan mooi praat met mekaar, oor álles wat pla – selfs al het dit twintig jaar terug gebeur. En al het dit hóé seergemaak, vertel sy. “Die seer moes oop. Ons het geen onopgeloste kwessies gelos nie, ons moes daardeur en alles uitsorteer. Totdat ons gevoel het ons is gemaklik met mekaar, daar is geen bagasie oor nie.”

Jannie en Mariana het weer saam dinge begin doen. Op dates gegaan. Tienuur in die aand gaan koffie drink. Saam motorfiets gery. “Ons het mekaar herontdek, en met ander oë na mekaar begin kyk. Mense wat ons voorheen nie geken het nie, het gedink ons het pas begin uitgaan. Ons was weer verlief, en het selfs verloof geraak voor ons ná twee jaar weer getrou het.”

Hul grootste fout was swak kommunikasie, sê Mariana. “Dis bog dat julle nie kwaad vir mekaar moet gaan slaap nie. Daar is tye wat jy eerder moet wegstap. Môre, as die kwaad weg is en albei is kalmer, kan julle rustiger praat daaroor, pleks van in die hitte van die oomblik die bom laat ontplof.”

Hulle verstaan mekaar baie beter. “Ek ken Jannie nou so goed. Voorheen, as hy ingedagte was, sy kop besig met werk, sou ek gedink het hy is kwaad of ongelukkig of dat ek iets verkeerd gedoen het. Nou weet ek al aan sy liggaamstaal – ek los hom en bring net vir hom koffie. Dit klink na simpel goedjies. Maar dít kan alles bydra tot gemoedere wat oploop. En dan kulmineer dit in iets wat nie moet gebeur nie.”

Hul dogter (nou 27) en seun (21) was aanvanklik baie skepties oor ma en pa se besluit om weer te trou. Maar mettertyd het hulle rustig geword. Daar’s absolute vrede in die huis. “Ons is ’n dinamiese familie met sterk persoonlikhede. By geleentheid het ons dogter vir ons gesê sy is trots op ons dat ons ons huwelik kon opbou, ons is vir hulle ’n voorbeeld dat niks finaal is nie. Sy kyk op na ons, ons het dit reggekry om uit ’n oorlog vrede te maak.”

Lees nou: Wil julle weer trou? Kry eers dít onder die knie