Die Italianers weet hoe om die lewe te geniet – en hulle het ’n gesegde dat, net soos jy nie tel hoeveel glase wyn jy drink nie, tel jy nie hoeveel jare jy al op die aardbol is nie. Maar tog – ná vyftig is liefde iets wat jy meer as ooit koester. Veral as jy al ’n moeilike pad gestap het voor jy weer ’n holte vir jou liggaam en gees gevind het.

Vir Retha Alberts, ’n sakekonsultant en leierskapsafrigter van Worcester, is haar en haar Belg, Alain Hubert, se nuutgevonde liefde kosbaar – en die intimiteit beter as ooit. Teresa Smit, ’n Pilates-instrukteur van Citrusdal, lag nou ook weer soos van ouds met Jeffrey Tierie, ’n semi-afgetrede Nederlander, in haar lewe. Riette Rust, skrywer en joernalis van Welgemoed, en haar Leon Erskine, ’n ingenieur van Durbanville, blom albei. En almal is bo vyftig ...

Dit word deesdae al hoe makliker vir middeljariges om liefde te vind, meen dr. Marelize Swart, ’n seksterapeut en sielkundige van Kaapstad. Dink aan al die afspraakwebtuistes waar hope potensiële maats beskikbaar is met die klik van ’n muis. Maar “tradisionele” hofmakery bly ook gewild onder die baby boomers (gebore tussen 1946 en 1964), sê sy.

Luidens Amerikaanse statistieke misluk sowat 50% van eerste huwelike, teenoor 67% van tweede en 73% van derde huwelike. (Dikwels omdat geskeides te gou weer trou en nog nie al die kwessies van die vorige verhouding uitgesorteer het nie.)

Maar dít sit mense nie af om die liefde weer ’n kans te gee nie.

Dr. Swart meen voorts seks ná vyftig kan vervullend wees want mense is gewoonlik ryper, minder gejaagd en het meer vrede met hul liggaam. Boonop is die risiko van swangerskap uitgeskakel. Probleme soos ’n verlaagde libido as gevolg van die menopouse, pynlike seks weens ’n dunner vaginale wand of erektiele disfunksie by mans, kan alles medies uitgeskakel word, is haar bemoedigende raad.

Volgens haar kan seks in jou later jare meer fokus op aanraking en intimiteit as penetrasie. Paartjies is dikwels meer gesteld op gehalteseks, eerder as gereelde seks.

“Liefde bly altyd spesiaal en opwindend. Of jy twintig of sewentig is. Vertroetel die vlinders op jou maag en sielsgenootskap,” sê dr. Swart. Retha Alberts, Riette Rust en Teresa Smit vertel hul verhale.

Retha Alberts en Alain Hubert FOTO Bryony van Wyk
Retha Alberts en Alain Hubert FOTO Bryony van Wyk

Die intimiteit is beter as ooit ...

Retha Alberts en Alain Hubert

Dit was in September 2018 wat Alain, “die liefste Belg”, onverwags haar hart ingestap het.

Retha was in Malmedy, België, op besoek aan jare lange vriende. Sy was sedert 2011 ’n weduwee nadat haar man oorlede is aan leukemie. “Ek het intens gerou, en deur selfrefleksie en professionele hulp heling gevind.” Alain is in 2005 geskei.

Hoewel sy nie aktief liefde gesoek het nie, meen sy haar heling het haar daarvoor ontvanklik gemaak. “Maar my lewe was bedrywig. Ek was selfs effe selfsugtig met my vrye tyd.” As enkelloper het sy jare oorsee gewerk – onder meer drie jaar lank in Muscat, Oman. “Dié vreemde land, met al sy uitdagings, het my gehelp om nuwe perspektief op die lewe te kry.” Sy het geleer om van haar eie geselskap te hou en het begin skilder. Net af en toe het sy gewonder of sy weer “daardie magiese gevoel van omgee vir iemand” gaan beleef.

Retha en Alain se eerste ontmoeting was kortstondig, maar kort ná haar terugkeer na Suid-Afrika het hulle vir mekaar e-posse begin stuur. WhatsApp-boodskappe van tot twee uur lank per dag sou volg.

“Sy humorsin, integriteit, menswees en intellek het my hart laat oopgaan.” Alain was dadelik seker hier kom ’n ding. Vir Retha het dit geleidelik gebeur.

Hy was mal oor haar vroulikheid, wispelturigheid, kreatiwiteit, vasberadenheid, en hoe sy haar kinders en kleinkinders hanteer. Sy sê: “Noudat ons ouer is, is ons wyser en ons fokus op die konstruktiewe dinge in ons verhouding. Dit is onbeskryflik om liefde weer so intens te ervaar.” Hy is vyf jaar jonger as sy.

“Hoe bevrydend dat ons getrou aan onsself kan wees. Ons is werklik maats en hóú van mekaar, maar bou ook daagliks toegewyd aan ons verhouding.” ’n Langafstand-verhouding bied uitdagings. “Ons sien mekaar soveel as moontlik. Óf in België, waar hy steeds woon, óf in Suid-Afrika.” Hulle spaar elke sent vir vliegkaartjies, en verlede September het hulle saam vakansie gehou op die Griekse eiland Lesbos. “Meimaand tree ek af en dan word ons swaeltjies wat tussen Suid-Afrika en België gaan woon.”

Hulle wil tyd saam spandeer. Albei hou immers van aanraking. “Die intimiteit is beter as ooit,” sê hulle. Alain is baie romanties, volgens Retha. Hy bederf haar met lekker kos en sê elke aand oor die foon nag. Die verhouding werk omdat albei pynlike lewenservarings moes verwerk “sonder enige verwagtinge dat die ander jou sal heelmaak”. En gedeelde waardes gom hulle aan mekaar. “Ons vertrou mekaar honderd persent.”

Daar is vele raakpunte. Albei is lief vir letterkunde, kuns en reis. “Alain het die mooiste stem en sing gereeld verspotte liedjies uit ons jeug oor die telefoon!” Dit klink soos ’n romantiese kunsfliek: hulle stap in die natuur, bespreek boeke, woon kunsuitstallings by, besoek die orkes, fliek ...

“Ons is bewus van ons eie verganklikheid en geniet elke oomblik saam. Uiteraard word daar ook soms lekker koppe gestamp,” sê sy. Alain: “Dis eerder woordewisselings. Saans voor slaaptyd, as ons saam is, soen ons mekaar altyd.” Hy is mal oor sy “lieferd, schatje, babe en lekker stuk”.

“Die kinders het van die begin af van ons verhouding geweet en dit goedgekeur,” sê Retha. “Liefde het geen ouderdomsperk nie. Hy laat my lag en gee my selfvertroue want ek weet hy ondersteun my in alles. Dit is ongelooflik om op ons ouderdom weer te kan liefhê.”

Riette Rust en Leon Erskine
Riette Rust en Leon Erskine

Hy is my Richard Gere

Riette Rust en Leon Erskine

“Ek het ’n paar paddas gesoen voor ek Leon, my eerste real verhouding ná JD, ontmoet het.” Riette se man, JD, het einde 2016 selfdood gepleeg.

“Ek het via Facebook iemand gesoek om my tuinafval weg te ry.” Leon het sy Kaapse skoonseun gestuur. Later het Leon haar uitgevra oor een van haar boeke, wat oor narsisme handel. Hierna het hy haar vir koffie genooi, maar sy kon dit nie maak nie. Hy het hom nie laat afsit nie en haar vir ete uitgevra.

Vriendskap het oorgegaan in liefde. As bevryde vrou het Riette hom eerste gesoen, op ’n reëndag op Philadelphia. “Nou kan ek my hande nie van my ‘Richard Gere’ afhou nie.”

Haar twee dogters is dankbaar dat hul ma weer liefde gevind het. Hul pa se dood was die grootste tragedie in hul lewe.

Riette is ook baie geheg aan Leon, ’n wewenaar, se twee dogters. Sy middelste dogter is dood in ’n duikongeluk in Kanada. Hy is oupa van vier.

Leon kom haar orals tegemoet, vertel sy. Hoewel hy allergies is vir katte, streel hy haar drie vierpotige geliefdes en was maar agterna sy hande en oë. Sy is ook mal oor Leon omdat hy positief is en nie dramas van klein dingetjies maak nie. “Hy is saggeaard, liefdevol en slim. Ons lag lekker saam.”

Sy kan nie glo dat sy iemand so spesiaal ontmoet het nie. “Ek soek nog sy foute.”

Gedeelde belangstellings hou die verhouding interessant: Albei hou die aandelemark dop, hulle bespreek finansiële tendense en kyk romantiese komedies op Sondagaande. TED Talks, meestal met sielkundiges of motiveringsprekers aan die woord, is ook gunstelinge.

Hulle hou daarvan om lekker uit te eet en ’n glasie yskoue Cap Classique op die strand te drink terwyl hulle soos ware verliefdes na die sonsondergang kyk. Riette, wat wynskrywer was, leer die oud-Vrystater ook meer oor wyn.

Hoewel Riette nie mal is oor stap nie, het hý haar oortuig om aan ’n pretstap vir liefdadigheid deel te neem en om in die maanlig halfpad teen Leeukop op te klim. En sy het dit geniet.

“Leon is prakties en deel sy two-for-one vitamiene, gesondheidsdruppels en velrome met my. Hy sorg dat ek supergesond is en vir alle belangrike doktersondersoeke gaan, is ’n nutsman as iets by my huis breek, maak tee, vryf my moeë voete ...”

En sy bederf hóm deur intens na sy behoeftes te luister. Of dit nou ’n versugting na kolwyntjies, peppermint crisp-tert of lekker kos is.

“Hy dink ek is weird and wonderful. Ek dra my lewe lank hoë hakke, grimeer myself mooi en my hare blink. Ek is in voeling met my seksualiteit en sensualiteit. Hy sien in ieder geval nie selluliet of plooie raak nie.” Sy glo hulle moes mekaar ontmoet. “Ons waardeer die lewe, leef in die nou en probeer soos goeie rooiwyn verouder.”

Theresa Smit en Jeffrey Tierie
Theresa Smit en Jeffrey Tierie

Hy neem my altyd in ag

Teresa Smit en Jeffrey Tierie

Sy kan nie glo dat sy ’n dérde keer liefde gevind het nie.

Teresa Smit van Citrusdal moes baie pyn deurmaak voordat sy uiteindelik weer in Oktober vanjaar gaan trou. Dié keer met ’n Nederlander, Jeffrey Tierie.

Maar die blondekopvrou met die blou oë wéét dit is die regte ding.

Die ma van twee dogters en ’n seun is in 2008 ná ’n huwelik van 21 jaar geskei. Sy moes haar gemaklike lewe op die plaas laat vaar en het dorp toe getrek, waar sy ’n Pilates-kursus gedoen en sedertdien as instrukteur werk.

Toe vind sy liefde by die predikant op die dorp. ’n Sielsgenoot saam met wie sy kon dans, droom en gesels. In 2017 het hulle besluit hulle wil iets meer permanent hê en ’n vakansie in September in Frankryk bespreek.

Op 2 September 2017 om seweuur die oggend het haar lewe inmekaar gestort toe sy hoor hy is in ’n motorongeluk oorlede. “Vir my en ’n groot deel van die gemeenskap was hy amper ‘onsterflik’.” Sy het diep gerou en nie in haar wildste drome gedink sy sou ooit weer verlief raak nie.

Op 6 Oktober daardie jaar, op ’n familietroue, sou sy egter die lewe van ’n geskeide Nederlandse man onherroeplik verander. Jeffrey, ’n paar jaar ouer as Teresa en semi-afgetree, het in haar die vrou van sy drome gesien. Self was sy nog te gebroke om enigiemand om haar raak te sien. Hy sê: “Dit was liefde met die eerste oogopslag.”

Hy was te senuweeagtig om met haar kontak te maak, maar het wel haar selnommer bekom. In Januarie 2019 stuur hy uiteindelik ’n whatsapp en vra of hy haar kan sien voor hy terugkeer na Amsterdam. Hy het gesê hy sou verstaan as sy dink hy is te voor op die wa en dan sou hy haar in vrede laat. Teresa kon haarself nie sover kry om te reageer nie.

Ses weke gaan verby. Maar op Valentynsdag, danksy gemeenskaplike vriende, stuur hy ’n reuse-bos blomme aan haar.

Haar hart het vermurwe en sy het ingestem om hom op 23 Februarie 2019 by die Silo-hotel in die Waterfront vir ete te ontmoet. “Ek was so senuweeagtig soos ’n agtienjarige,” vertel Jeffrey.

Die aand het sy hom per whatsapp bedank vir ’n lekker dag en gesê sy wil hom die volgende dag aan twee van haar vriende voorstel. Hy het vlinders op sy maag gehad. Met sy terugkeer na Amsterdam het hulle begin whatsapps stuur. “Ek het besef ek is hopeloos verlief,” sê hy.

Teen Maart het hulle mekaar gereeld begin sien en goeie vriende geraak. “Nooit het ek gedink ek gaan weer iemand in my lewe toelaat nie. Ek glo hy is vir my gestuur,” vertel sy. Einde 2019 het hy haar en haar kinders na Amsterdam genooi en die groot vraag gevra. “Ons kinders het mekaar dadelik gevind en heerlik saam in Amsterdam gekuier.”

Jeffrey het vroeër, in 2015, sy besigheid in Nederland verkoop en ’n plaas buite Riversdal gekoop. Hy het twee volwasse seuns wat in Amsterdam woon. Hy het nog nie ’n permanente verblyfpermit nie en gaan driemaandeliks terug na Nederland. Teresa is mal oor sy gematigde temperament, respek vir haar en haar kinders en haar verlede.

“Hy neem my altyd in ag en sal my nooit seermaak nie. Ek word gereeld bederf met die mooiste blomme. En ons het baie pret, veral oor Nederlandse woorde wat soms vreemd in Afrikaans klink.” Sy sien daarna uit om binnekort gereeld te reis omdat sy bedank het. Vanaf 2012 het sy ook ’n private skool op die dorp bestuur.

As onafhanklike mens sukkel sy nie met ’n pendelverhouding nie. “Dit was wel uitdagend om my hart bloot te stel, maar ek voel gemaklik om by hom die volle spektrum van my gevoelens te wys. Hy is emosioneel intelligent en voel nie bedreig deur my hartseer verlede nie. “Dit is ’n voorreg om weer bemin te word – min mense kry nóg ’n kans ná vyftig,” sê sy.