LOUIS ANTWOORD:  Kompulsiewe ooretery se oorsaak is meestal ‘n aanduiding van die persoon se geestelike toestand. Faktore soos kulturele druk, ’n geskiedenis van trauma, individuele eienskappe soos ’n swak selfbeeld, angstigheid, perfeksionisme en familiepatrone kan die kringloop aan die gang kry.  Dan is daar ook biologiese redes, soos genetika, en mediese redes, bv. probleme met die endokriene stelsel.  Die keuses wat mense rondom kos maak word ‘n lewenswyse, wat uiteindelik veroorsaak dat mense vetsug ontwikkel.

Die probleem is dat dit ‘n bose kringloop word.  Wanneer jy jou ooreet, word sekere prosesse in die brein geaktiveer. Jou brein kry dan nie die versadigingsboodskap nie en jy ooreet, voel honger, ooreet weer, ensovoorts.

LISE:  Wat is die verskil tussen mense wat gewoon te veel eet en mense wat aan ‘n ooreet-versteuring ly? Is dit waar dat mense eet om ‘n leemte te vul, soos Oprah sê?

LOUIS:  Mense wat regtig diagnoseerbaar is met ooreet, het `n voedselverslawing. Hulle gebruik kos om hulle emosies te verwerk en stres te hanteer en is in die meeste gevalle oorgewig.  Dit kom bv. algemeen voor by pasiënte wat seksueel gemolesteer is. Baie van die persone beleef skuldgevoelens, voel ontoereikend en het `n swak selfbeeld. Die ooreetsessies lei tot verdere skuldgevoelens en verswakking van hulle selfbeeld. Dit is vir hierdie pasiënte net so moeilik om `n diëet te volg as vir `n anoreksiese persoon om weer te begin eet.  In hierdie voorbeeld gaan dit beslis daaroor om ‘n leemte te vul of sielkundige oorsaak te probeer verwerk.

Mense wat sukkel met ‘n ooreet-versteuring het herhalende ooreet-episodes en eet in ‘n kort tyd meer as wat die gemiddelde mens in dieselfde tyd en omstandighede sou eet.  ‘n Gevoel van verlies aan beheer oor eetgewoontes word beleef. Tipiese simptome is onder meer:

  • Eet vinniger as normaalweg
  • Hou aan eet tot jy ongemaklik voel
  • Eet groot hoeveelhede kos sonder om honger te voel
  • Eet alleen, want voel verleë oor eetgewoontes

LISE:  Wat is die gevare van ooreet?

LOUIS: Baie erger as wat die meeste mense besef.  ’n Mens hoor soms iemand sê: “Ek is oorgewig, maar gelukkig.” Die probleem is dat jou liggaam nie altyd met jou gemoedstoestand saamstem nie.  Vetsug (wat gewoonlik voorkom by ooreet-versteurings) word geassosieer met ’n verhoogde risiko vir chroniese siektes soos hoë bloeddruk, beroerte, diabetes, kardiovaskulêre probleme en kanker.  Mense met vetsug  kan ook sukkel met onvrugbaarheid en asemhalings- en velprobleme. Kinders kan ook hieraan ly, en dit kom al hoe meer voor. Daar is kundiges wat voorspel dat 75% van die wêreldbevolking teen 2015 oorgewig gaan wees en 41% van hulle aan ‘n vorm van ooreet-versteuring gaan ly.

LISE:  Moet ‘n mens regtig na ‘n sielkundige gaan vir hulp om gewig te verloor? Wat as dit net ‘n mediese probleem is en nie ‘n ooreet-versteuring nie?

LOUIS: My raad sou wees om by jou huisdokter te begin.  Enige huisdokter sal jou ondersoek en na alle mediese redes kyk.  ‘n Huisdokter behoort jou na ‘n psigiater of ‘n kliniese sielkundige te verwys as ‘n ooreet-versteuring vermoed word.  Maar dit werk ook andersom: as jy ‘n afspraak by ‘n sielkundige maak, behoort die sielkundige jou na die regte mediese spesialiste te verwys.

Die ideaal is om ooreet holisties te benader.  ‘n Huisdokter, kliniese sielkundige en dieetkundige is gewoonlik die beste professionele span om in jou hoek te hê.  Almal kan dit natuurlik nie bekostig nie, maar dit gaan baie moeilik wees om ‘n ooreet-versteuring sonder professionele hulp te oorkom.  In dié geval sal ‘n kliniese sielkundige wat ervaring van eetversteurings in sy/haar praktyk het, amper noodsaaklik wees.

WAAR KAN EK VRAE VRA/MY STORIE VERTEL?