Klara* (11) se gedrag het eensklaps handomkeer verander. Die opgeruimde dogtertjie het skielik muisstil geword en haar in haar kamer onttrek. Sy wou ook nie meer skool toe gaan nie.

“My kind wat altyd so lekker gesmul het aan ’n bord kos, het oornag haar aptyt verloor. Sy was net nie haarself nie. Ek het nie verstaan wat aangaan nie, totdat ek een middag toevallig, toe sy by ’n balletklas was, op opgefrommelde ‘briefies’ in haar skooltas afgekom het,” vertel haar ma, Sandra*, ’n apteker van Durbanville.

“Ons gaan jou nie na ons partytjie nooi nie, jy dink mos jy is slim.” Só het die een briefie gelui, maar daar was ook ander met soortgelyke “wrede”, emosioneel afbrekende boodskappe.

Sandra kon dit nie glo nie. Sy het altyd gedink boelies teiken die “afvlerkies”. Klara was immers ’n oulike blondekop wat akademies goed presteer en in musiek en drama uitblink. En sy was gewild onder haar maats.

FOTO Unsplash
FOTO Unsplash

Meisies wat boelie is deesdae ’n wêreldwye verskynsel. Janine Shamos, senior berader by die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (SADAG), sê daar is geen plaaslike statistieke oor hoeveel Suid-Afrikaanse meisies ander meisies (of selfs seuns) boelie nie.“Ons weet wel sowat drie uit elke vier meisies word die een of ander tyd geboelie. Dit sluit ook kuberboelies in.”

Dikwels word teruggetrokke kinders geteiken, maar ook dié wat uitstaan (of “anders”is) vanweë hul seksuele oriëntasie, ras of kultuur, gestremdheid of godsdiens, of wat akademies sukkel. Maar soms teiken jaloerse kinders ook skoolmaats wat uitblink, sê Ilse Pauw, ’n kliniese sielkundige van Kaapstad, wat navorsing oor boelies gedoen het. Sy het al twee keer die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) in Port Elizabeth oor die onderwerp toegespreek, en word soms uitgenooi om by skole hieroor te praat.

Navorsing wys meisies begin tussen gr. 4 en 5 met boelie-gedrag en hervat dit weer gedurende puberteit (gr. 8 en 9), wanneer die hormone begin pla. Ilse definieer ’n boelie as iemand wat “doelbewus en herhaaldelik mishandeling of aggressie gebruik om ’n magsbalans te versterk”.

Tradisioneel is ons geneig om te dink boelies is bullebakke wat iemand katswink slaan. Dit is maar een vorm. Seuns is geneig om dít te doen, vertel Robyn Jacobs, ’n kliniese sielkundige van Kaapstad. “Meisies knou mekaar meer ‘subtiel’ af – veral emosioneel en met woorde.”

Volgens Robyn boelie meisies ander omdat hulle tuis ontmagtig voel (of dalk geboelie word) en hulself nie emosioneel kan uitdruk nie. “Ons leef in ’n wêreld waar alles draai om wen, mag en geweld. Wanneer ouers van hul kinders verwag om tot elke prys uit te styg, kan dit dikwels tot dié gedrag aanleiding gee.”

FOTO Unsplash
FOTO Unsplash

Navorsing wys meisies gee gewoonlik binne groepsverband uitdrukking aan mag. “Hulle sal wel op hul eie boelie, maar voel veiliger om in ’n groep te wees wanneer hulle iemand aanval,”sê Marlize Heppell, ’n kliniese sielkundige van Klerksdorp.

Ilse verduidelik: “Daar is gewoonlik ’n sterk ‘koningin-by’. Dié meisie is magtig omdat sy byvoorbeeld baie mooi, gewild onder die seuns, of ryk is. Sy het gewoonlik twee of dalk drie ‘adjudante’ wat haar slaafs volg, gewoonlik uit vrees . . . Dit is inderdaad die formule in baie Amerikaanse tienerrolprente, soos Mean Girls, met die nare meisies as die rasieleiers. Almal wil deel van die ‘koningin-by’ se ‘in’-groep wees, en as jy nie saamspeel nie, word jy geïsoleer.”

Die isolasie kan verskillende vorme aanneem. “Meisies sal onder meer skinderstories oor ander ‘maats’ versprei, iemand in die rug steek of onregverdig blameer en leuens oor haar vertel, ’n klasmaat skielik nie meer na partytjies nooi nie, saggies begin fluister sodra die slagoffer ’n vertrek binnekom of haar ignoreer,” sê Robyn.

Dit is deesdae ook nie ongewoon vir meisies om dan en wan seuns te teiken nie. “Veral die ‘sagter’seuns loop deur, dalk omdat mans nie meer ’n hoër status het bloot omdat hulle mans is nie. Seuns sien immers ook rolverskuiwings in die samelewing raak,” meen Marlize.

Dié verskynsel is egter nog baie nuut en bitter min navorsing is al daaroor gedoen, sê Sintechè van der Merwe, genderkenner aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). Sy sê baie ouers maak deesdae hul dogters groot om meer selfgeldend en selfversekerd te wees as volwassenes sodat hulle beter by die werkskultuur inpas. “Dit is ’n goeie ding,”sê sy, maar bespiegel dit is wel moontlik dat sommige van dié meisies kan dink boelie-gedrag binne hul portuurgroep is in die haak om mag te bekom en te behou. “Daar is niks met selfgelding verkeerd nie, maar sommige gaan dalk ’n stappie te ver,” verduidelik Sintechè.

“Die moderne rolmodel vir meisies bestaan al hoe meer uit dominerende vroue wat smag na mag om in die wêreld van die man te kan meeding. Dit maak dus sin dat meisies meer ‘aggressief’ raak – en reken as hulle seuns boelie, styg hul aansien in die sosiale hiërargie,”sê Avie Cherrington, ’n opvoedkundige sielkundige van Johannesburg.

Die uitwerking van sulke meisieafknouers op ander meisies moet ook goed dopgehou word, meen Ilse. As jou kind geboelie word, kan dit sielkundige gevolge op lang termyn vir haar inhou, byvoorbeeld ’n lae selfbeeld, eensaamheid, angstigheid, depressie, woede, frustrasie, drank en dwelmmisbruik, eetsteurnisse en swak akademiese prestasie. “In ernstige gevalle kan dit selfs aanleiding gee tot selfdood.”

FOTO Unsplash
FOTO Unsplash

Volgens Huffingtonpost.com meen dr. Cheryl Dellasega,’n professor in vrouestudies aan die Amerikaanse Pennsylvania State University, meisies wat boelie sit dikwels dié optrede as volwassenes voort. Hul geskinder en vermakerige gedrag gaan voort en verkleineer ander en laat hulle beter voel. Dit saboteer egter ook die moontlikheid dat dié “koningin-bye” enige sinvolle en gesonde vriendskappe kan kweek, lui die artikel.

“Ter wille van die slagoffer én die boelie is dit dus belangrik om so gou as moontlik in te gryp,” waarsku Marlize.

Slagoffers vertel ongelukkig selde hul ouers daarvan, meestal uit vrees dat die boelie sal uitvind en hulle verder teister. Hulle is dikwels ook skaam en voel self verantwoordelik vir die situasie.

“Wees dus bedag op waarskuwingstekens in jou kind se gedrag wat moontlike gevaarligte kan wees,”sê Ilse. Dit sluit onder meer in angs, swak skoolprestasie, buierigheid en depressie, aggressie, konsentrasieprobleme, slapeloosheid, vrees om skool toe te gaan, lusteloosheid, onttrekking en verlies aan eetlus.

Maar hoe kan jy help as jy vermoed jou kind word geboelie? Wees sensitief as jy haar wil bystaan. “Vra of sy jou hulp nodig het. As sy sê ‘nee’, respekteer dit. Stel dan voor dat julle oor ’n maand weer oor die situasie gesels. As dit steeds aangaan, kan jy besluit wat jy volgende moet doen. Jy kan dalk intussen stil-stil met ’n onderwyser praat en haar vra om ’n ogie te hou,” sê Ilse. “Jy kan ook help deur bewyse (soos die briefies in Klara se skooltas) te hou. Dít kan help om die boelies te konfronteer, sou ’n gesprek nodig wees,” meen Ilse.

FOTO Unsplash
FOTO Unsplash

Sandra het nadat sy die briefies ontdek het, vir Klara genooi vir ’n melkskommel en haar oorreed om vir ’n paar sessies na die skoolsielkundige te gaan. “Dit het haar baie goed gedoen. Sy kon haar hart in ’n veilige omgewing uitpraat.” Sy het ook, nadat sy Klara se toestemming gekry het, met haar lewensoriëntering-onderwyser gaan gesels.

“Ek het gevra of hy nie subtiel by sy lesse iets oor respek vir jou maats en die gevare van afknouery kon inwerk nie.” Gelukkig vir Klara het haar boelies uiteindelik verveeld geraak en iemand anders begin teiken. Ilse meen dit is sinvol as skole ’n “boelie-beleid” instel. “As jou kind se skool nie een het nie, stel dit voor. Ouers en onderwysers kan self bepaal wat toelaatbaar is en hoe om die teisteraars vas te vat. Dit beskerm die slagoffers en laat die teisteraars dalk twee keer dink voor hulle met hul streke begin.”

Die heel beste is om jou kinders paraat te maak teen boelies sodat jy nie agterna hoef in te gryp nie. “Moenie jou kind oorbeskerm nie. Bou liefs van jongs af aan haar selfbeeld. Moedig haar aan om selfgeldend te wees. Stel haar bloot aan die wyer gesin, familielede en maats wat haar positiewe terugvoer gee sodat sy voel sy het baie waarde.

Sy moet ook nie dink haar eiewaarde is nét aan maats se goedkeuring gekoppel nie. ’n Wye sosiale netwerk is ook baie belangrik. Dan is jou kind nie verpletter as ’n ‘beste maat’ haar verlaat en dalk met ander meisies saamspan, haar uitskuif en subtiel begin boelie nie,” meen Ilse.

“As sake handuit ruk, maak ’n afspraak met die skoolhoof en die boelies en bespreek die probleem tussen mekaar. Die skoolsielkundige kan ook betrek word,”sê Marlize. Kortom: As jou dogter herhaaldelik deur ’n groep meisies afgeknou word, kán jy dit nie ignoreer nie. *Skuilname is gebruik.

Bykomende bron: www.huffingtonpost.com

Meisie-boelies in die kuberruim

Meisies is twee maal meer geneig om kuberboelies te wees as seuns. Só sê Marlize Heppell, ’n kliniese sielkundige van Klerksdorp. “Dit is waarskynlik omdat meisies meer subtiele boelie-gedrag verkies, waartoe die kuberruim hom leen. Hulle sal agter die skerms kwaad stook, op hul rekenaars of selfone. Seuns verkies direkte, fisieke geweld, hoewel baie hulle deesdae ook tot die internet wend.”

Hierdie kuberboelies is tieners en kinders wat sosiale media – enigiets van Facebook, Twitter, e-pos, WhatsApp en Instagram – gebruik om mekaar te teister, sê Janine Shamos, senior berader van die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (SADAG).

Meisie-boelies hou van die kuberruim, sê Ilse Pauw, sielkundige van Kaapstad, omdat jy baie vryheid het en kan skryf net wat jy wil. “Jy kan immers nie die ander kind se reaksie sien wanneer jy haar teister nie. Dit lyk dalk baie ‘subtiel’, maar is eintlik baie ‘wreed’ omdat mense die teistering baie verder voer as in die werklike lewe.”

’n Kind kry ook nie ’n blaaskans met ’n kuberboelie wat haar 24/7 teister nie. “Vroeër kon ’n kind darem smiddae ná skool rus nadat sy afgeknou is op die speelgrond,” sê Ilse.

Die kuberruim is ook “voordelig” vir boelies omdat dit dikwels anoniem is (jy kan maklik ’n vals profiel skep), dit is vinnig, jou gehoor is enorm en jou “mag” omvangryk, reken Janine. Kuberteistering kan byvoorbeeld insluit: Jou kind word doelbewus uitgesluit uit ’n kubergroep, videomateriaal word in die kuberruim versprei om haar te verneder, skinderstories via Twitter, of iemand stuur boodskappe namens haar.

“’n Slagoffer sal selde bieg dat sy geteister word, omdat sy bang is haar slimfoon, rekenaar of tablet word deur haar ouers weggeneem. Sy voel ook gewoonlik skuldig,” maan Janine.

Hoe weet jy jou kind word deur kuberboelies geteiken? Tekens kan wees: Sy boer voor die rekenaar, maak die rekenaar toe as jy die kamer binnestap, is geheimsinnig oor rekenaarbedrywighede, agter met haar skoolwerk, altyd besig met gespreksgroepe op die internet, slaap sleg, haar aptyt is swak, sy is huilerig, wil nie skool toe gaan nie, kry maag- en hoofpyn, is lusteloos, aggressief en haar skoolpunte verswak.

As die kuberboelies nié vasgevat word nie, is die langtermyn-gevolge nét so skrikwekkend as in die geval van gewone boelies, sê Janine.

Die eerste stap is om ingelig te wees, meen Ilse. “Die dae toe ouers hul skouers opgehaal en gesê het hulle stel nie in die sosiale media belang nie, is verby. Hoe kan jy jou dogter help as jy nie verstaan wat in haar aanlynlewe gebeur nie?”

Marlize maan kinders moet níks op hul kuberprofiel versprei wat hulle nie in die openbaar sou sê of doen nie – en beslis nie persoonlike inligting soos adresse en telefoonnommers nie.

KONTAK

Robyn Jacobs: www.robynjacobs.co.za

Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (SADAG): www.sadag.org

Janine Shamos: @JanineShamos

Marlize Heppell: MHeppell@nwpg.gov.za