Dilemma: die menopouse is op my

“Op 48 is ek in my peri-menopouse, stewig op pad na my menopouse. Ek bly moeg en wanneer my man saans wil liefde maak, wil ek net lees of slaap. Ek het boonop die afgelope ses maande ’n histerektomie gehad wat sake nie verbeter het nie. My situasie dryf my man al teen die mure uit. Die warm gloede en hormonale veranderings in my lyf laat my boonop oud en depressief voel. Help asseblief!”

Die ekspert:

Catriona Boffard - Seks- en verhoudingsterapeut van Johannesburg:

PROBLEME

  • In dié tyd en in jou middeljare kan jy las hê van onder meer warm gloede, hoofpyn, ’n verlaagde libido, vaginale droogheid en gemoedskommelings.
  • Baie vroue voel minder vroulik omdat hulle nie meer gereeld (of glad nie) menstrueer nie of omdat hul uterus in ’n histerektomie verwyder is.
  • Jy voel baie moeg.
  • Jy sukkel met depressie.

OPLOSSINGS

  • Vir sommige mense help hormoonterapie vir die gemoed- skommelings, warm gloede en lae libido. Maar raadpleeg eers jou huisarts of ginekoloog.
  • Gebruik ’n watergebaseerde smeermiddel (lubricant) mildelik wanneer jy seks het om vaginale droogheid te verlig.
  • As penetrasie te pynlik is, probeer op ander maniere intimiteit skep. Masseer mekaar of beplan date-aande en gaan eet uit.
  • Oefening help vir depressie en lae energievlakke. Dit stel endorfiene (goedvoel-hormone) vry. Joga is veral goed om die bekkenspiere en maagspiere te versterk. Dit sal ook help dat seks nie so pynlik is nie.
  • As jy nie goed voel oor jou lyf nie, wat van ’n kompromis? Bedek jou lyf met ’n sexy kantnagrok, dan voel jy nie so blootgestel wanneer julle liefde maak nie.
  • Jy is nie ewe skielik minder vroulik of begeerlik nie, al voel jy so. Doen dinge om jouself te koester. Gaan?vir ’n skoonheidsbehandeling, besoek die haarkapper, koop nuwe lingerie, vra jou man om vir jou deur die dag sexy e-posse of SMS’e te stuur. En reageer daarop!

SARIE-leser sê ...

“Ek kan nie fout vind met die raad nie, maar dit bly moeilik om my aptyt terug te kry. Dit sal vir my glad nie saak maak as ek nooit weer seks het nie. Ek doen reeds baie oefening soos die terapeut voorstel. Die hope tuinwerk, huiswerk en ver- sorging van twee gemaksugtige loseerders put my só uit dat ek saans vir niks anders as blok- raaisels kans sien nie. My man verseker my gereeld dat ek sexy is, maar ek dink hy steek sy frustrasie net goed weg. Soms probeer ek in die regte bui kom deur ’n glasie wyn te drink, en dit help darem dat ek ontspan. Ek moet hard met myself praat om nog iewers krag vandaan te kry vir die liefdespel ...”