Ons weet almal hoe dit voel: Dit is Saterdag en jy wil bitter graag die dag saam deurbring, maar hy lê reeds op die bank, reg vir die dag se Super 14-wedstryde. Jy ontplof en die uiteinde van die saak is dat daar ’n donker wolk oor die huis hang.

Ons soek toenadering en liefde, maar ons aksies én reaksies (om hom te blameer, aan te val of te kritiseer, of om stilstuipe te hê), het presies die teenoorgestelde uitwerking.

“Ek word so kwaad dat ek myself nie kan keer nie,” is gewoonlik die verskoning. Maar Pippa Solomon, ’n Kaapstadse verhoudingsraadgewer, glo dat jy jouself wel kán keer. Hou net die volgende in gedagte:

  1. Solomon sê, “Daar is ’n spesifieke deel van die brein wat oorneem wanneer ons bedreig voel.” (En wanneer hy die TV aanskakel en dit voel of hy jou verwerp, kan jy dit as ’n bedreiging vir jul verhouding ervaar.) Sy sê die tipiese respons is om te veg, versteen of vlug; drie reaksies wat op selfbehoud gemik is en nie om ’n konneksie te maak nie. Wanneer jy besef dat jy op die randjie daarvan is om op een van dié maniere te reageer, is dit beter om eers iets te doen wat jou sal kalmeer.
  2. Na jy klaar gestap het, of genoeg varkies opgeblaas het terwyl jy Angry Birds speel, moet jy jouself vra waarom jy so verdedigend opgetree het. Wat het jou bang gemaak? Maak dit dan jou vertrekpunt, nie jou woede nie. Solomon verduidelik die verskil so: ‘Woede sê: “Jy is die probleem.” Vrees sê: “Ek het jou nodig; jy is belangrik in my lewe. Ek wil nie voel dat ek verwerp word nie.” Met ander woorde, dit is nie wat jy sê nie, maar hoe jy dit sê. Daar is ’n groot verskil tussen “Jy wil nooit meer iets saam met my doen nie” en “Dit voel of ons besig is om van mekaar weg te dryf.”
  3. Net soos jy nie openlik sal praat as jy nie voel dat jy die ander persoon kan vertrou nie, gaan hy dit ook nie doen nie. Niemand kan iemand anders oorreed om hulle te vertrou nie, maar jy kan hom aanmoedig deur die regte omstandighede te skep. Gee dus net die eerste tree. Solomon sê, “Paartjies verval in ’n groef en weet nie hoe om mekaar weer te vind nie. Julle liefde sál weer opvlam wanneer julle ou wonde genees, met mekaar gesels en begin verstaan hoe die ander persoon voel, en waarom.”

Hoe behou julle die gevoel van nabyheid in jul verhouding? Ons wil graag van alle Suid-Afrikaanse paartjies hoor wat dit regkry om die vonk tussen hulle te behou – daar wag ’n romantiese Spark-aandjie op die eerste SARIE/LUX Spark-paartjie.

Klik hier om deel te neem.

lux-slider