Daar kom ’n tyd in enige huwelik wanneer jy dink: Dit werk nie meer nie. Hoe nou? Troos jou daaraan: Alle verhoudings beleef sulke fases, sê Elise Beeby, sielkundige en hipnoterapeut van Kaapstad en Johannesburg. Dis dan dat jy afgeskeep en teleurgesteld voel en selfs bang vir verwerping. Maar dis eerstens belangrik om te besef daar bestaan nie iets soos die volmaakte maat nie, sê Elise. Tog soek jy na daardie ander helfte wat jou tekortkominge aanvul en jou sal liefhê soos jy is. Uiteindelik ontmoet en trou jy met die “regte” maat. Die eerste twee jaar voel julle soos een mens en die passie vier hoogty. Julle glo dit gaan vir ewig duur, maar dan besef jy op ’n dag: Hy voldoen nie meer aan al jou behoeftes nie. Daarby het hy sy eie behoeftes. “Maar met harde werk kan julle saam ’n tipiese huweliksfase te bowe kom,” sê Elise. Die (normale) huweliksfases 1. Ná die eerste, romantiese fase volg die verwagting-en-kompromie-stadium wanneer die werklikheid intree, sê Bea Potgieter, sielkundige van Johannesburg. Julle sit dalk vas oor irriterende gewoontes, huis koop, huishoudelike take of finansies. Albei voel die wonderlike verhouding is verby en julle sukkel om teleurstellings te bowe te kom. Oplossing - Probeer weer die eienskappe raaksien wat julle na mekaar aangetrek het, en probeer die romanse terugbring. 2. Ouerskap-fase ’n Baba bring groot spanning mee, sê Elise. Julle het meer uitgawes, min slaap en te min seks. Albei voel afgeskeep en jou man sien jou dalk as ma-figuur. Hy bekla dalk sy lot by ’n vriendin en die gevaar van ontrouheid dreig. Met tieners in die huis is jul huwelikstevredenheid moontlik op sy laagste, sê Murray Jooste, Kaapse sielkundige. Daar’s groot werksdruk en julle skeep mekaar af. Julle praat nie meer so baie en intens met mekaar af, dikwels weens die teenwoordigheid van nuuskierige ore. Oplossing - Aanvaar jul rolle as ouers. Werk as ’n eenheid saam. Moenie die verhouding as vanselfsprekend sien nie. Kommunikeer behoorlik en onthou die romanse. Gee jou maat liefde en erkenning. Jul vertrouens-verhouding moet opreg wees, sê Elise. “En die kinders moenie verdeeldheid aanvoel, vrees dat julle gaan skei of julle sien stry oor dissipline nie.” 3. Magstryd-fase Klein dingetjies veroorsaak groot argumente, sê Bea. Julle beskuldig mekaar, is sarkasties en selfgesentreerd. Julle probeer selfs mekaar verander en oorweeg soms om die verhouding te verlaat. Oplossing - Jul bagasie uit die verlede moet aandag kry. Hy herinner jou dalk byvoorbeeld aan jou selfsugtige pa. Julle sal mekaar se tekortkominge moet aanvaar, leer om konflik op te los, te onderhandel en behoorlik te kommunikeer. 4. “Sewejaar”-jeuk (enige tyd in die huwelik)  Julle sien die realiteit, mekaar se beperkings en onvermoë om te verander. Julle praat met ander oor jul probleme pleks van met mekaar. Julle vrees verwerping en wonder: Kan ek dit op my eie maak? Sal enigiemand anders my aantreklik vind? Julle onttrek emosioneel en het veel minder seks. Die gevaar van ’n verhouding, skeiding of egskeiding kom nou meer as ooit voor. Jul verhouding kan sukkel om te herstel. Oplossing - Julle moet weer jul toewyding eer, maar julself ook as aparte mense sien. Tydelike skeiding kan perspektief gee, sê Bea. 5. Die leë nes is ’n groot aanpassing. Jy ontdek dalk julle het vir die kinders geleef en het nie meer veel vir mekaar te sê nie. Miskien ervaar julle albei ’n middeljare-krisis. Julle soek na opwinding en besef ook julle gaan nie vir ewig leef nie. Siekte en aftrede speel ’n rol. Julle streef na vernuwing, maar bly dikwels in jul gemaksone. Oplossing - Aanvaar mekaar en aanvaar verantwoordelikheid vir jul gedrag. Maak innerlik vrede. Vertrou jou geliefde, toon begrip vir swakhede en bagasie. Werk dan opnuut aan die verhouding. Wees lief vir hom sonder te veel verwagtinge. Mettertyd kan julle selfs weer so gelukkig soos pasgetroudes word. 6. Fase van versoening en samewerking Julle stel weer in mekaar belang, sê Bea. Julle kan konflik hanteer en besef julle kan mekaar nie verander nie. Julle begin ’n eerlike en intieme verhouding. Julle besef ook die verhouding gaan jou nie red van jou verlede of aan al jou behoeftes voldoen nie. Julle is tevrede en gelukkig. 7. Aanvaarding Net 5% van pare bereik die stadium van algehele aanvaarding sonder ontkenning of fantasie, sê Bea. Dan neem jy verantwoordelikheid vir jou eie behoeftes en lewe, maar ondersteun ook jou maat. Julle is ’n span, maar behou ook jul individualiteit.

'Ek het opwinding gesoek ...

                                                ná 5 jaar wou ek vry wees'

VERA VILJOEN(skuilnaam) van die Paarl het nie besef sy was in ’n tipiese huweliksfase nie en sê sy moes nooit geskei het nie. Sy vertel: “Ek is op 21 getroud. Hy was ouer en sy wêreld te oud vir my. Later was hy ook nie meer vir my aantreklik nie. Ek het opwinding gesoek. Ná ’n huwelik van vyf jaar wou ek vry wees. Toe kon ek nie insien dat ek net verstand moes kry nie. Vandag weet ek wat belangrik is: Die saam bou aan herinneringe, ’n gedeelde lewe. Om liefgehê te word en nie alles alleen hoef te doen nie. As ek hom eers op 27 ontmoet het, was ons nog getroud.” BEA POTGIETER, Johannesburgse sielkundige, sê dié egskeiding kon gekeer gewees het. “Ouderdom kan nie aan trougereedheid gekoppel word nie, want elke mens is uniek. Maar as jy jonk trou, loop jy wel ’n groter risiko vir egskeiding, wys navorsing. Want jy het ’n groot mate van heelheid en volwassenheid nodig vir ’n gesonde langtermynverhouding. “’n Mens kan nie mekaar heeltyd aantreklik vind nie. Julle word ouer, maar ook mooier vanweë jul volwassenheid, karakter en ervarings. Aantreklikheid vergaan, maar om iemand op sielsvlak te ken is soveel meer verrykend. “Vera moes eers haarself gevind het en bereid wees om die verbygaande aard van die verliefde fase te aanvaar. Hulle moes betyds gewerk het aan probleme en besef het die huwelik is harde werk.” In so ’n fase: Stel vas wat elkeen verwag en hoe julle mekaar se behoeftes kan bevredig. Neem onverwerkte konflik en verledes in ag. Bepaal deurentyd saam prioriteite. Maak tyd vir intimiteit en seks asook spontaneïteit en pret. Raadpleeg ’n huweliksberader voor die vonk verdwyn. En onthou: Liefde is nie ’n gevoel nie, dis ’n besluit, sê Murray Jooste, Kaapse sielkundige.
KYK HOE VAAR JUL VERHOUDING
As julle voorbereid is op moeilike huweliksfases, kan julle oplossings vind, sê Bea Potgieter. Twee Amerikaanse sielkundiges, Judith Wallerstein en John Gottman, het afsonderlik navorsing gedoen oor hoe om verhoudings te evalueer en swak punte te verbeter. Bea vat hul navorsing oor goeie verhoudings saam en wys op waarskuwingstekens. (As meer as vyf hiervan op julle van toepassing is, kort jul verhouding werk.) ? Julle wy julself ten volle toe aan jul verhouding en het goeie verhoudinge met ander familielede.
Pasop – As jul families té betrokke raak, kan dit probleme meebring. ? Julle het ’n identiteit as paar en as individue.
Pasop – Julle is soms dislojaal teenoor mekaar. Julle luister nie behoorlik na mekaar nie. Al woon julle saam, leef julle aparte lewens. Julle is nie fyn ingestel op mekaar se gevoelens nie, hou jul gevoelens vir julself of respekteer nie mekaar se privaatheid nie. ? Julle het jul kinders ten volle by jul verhouding geïntegreer.
Pasop – Julle is sommer vies as julle ’n kind se behoeftes voor julle s’n moet stel. Of julle is te gefokus op jul kinders. Julle kan ook dalk emosioneel uit voeling met mekaar wees en skaars alleentyd saam hê. ? Julle het al lewenskrisisse (bv. dood) saam oorkom.
Pasop – As die een die ander tydens ’n krisis emosioneel verwerp het, julle mekaar beskuldig het, een van julle toe buitengewoon kwaad, bekommerd of angstig geraak het, of julle nie bereid was om hulp te kry nie. ? Julle mag maar uiting gee aan angs, konflik en moeilikhede.
Pasop – Jul konflikte het jul verhouding seergemaak. Julle verskil oor baie dinge, maar praat nie daaroor nie. Julle probeer mekaar intimideer om saam te stem en julle probeer woede vermy. Daar is geen perke aan wat een sal doen wanneer hy kwaad is nie. ? Seks is goed.
Pasop – Julle sukkel om oor seks te praat of het nie tyd daarvoor nie. ? Julle lag, het pret saam en werk aan jul gesamentlike belangstellings.
Pasop – As julle min pret saam het, verveeld is met mekaar, tyd saam vermy of min belangstellings deel. ? Julle mag weerloos wees.
Pasop as dit onveilig is om broos of “needy” te wees, of as julle mekaar emosioneel uitput, nie aandag aan mekaar se emosionele behoeftes gee nie, nie kwellinge deel of mekaar se buie in ag neem nie. ? Julle bly romanties en idealisties oor mekaar.
Pasop – As julle skaars kan onthou toe julle verlief geraak het of as jou maat se ouderdom jou ontstel omdat dit jou herinner dat jy ook ouer word. ? Daar is meer positiewe as negatiewe oomblikke.
Pasop – As julle iets bespreek het, voel julle gefrustreerd. Julle pik op mekaar. Gesprekke eindig dikwels in konflik. ? Julle weet hoe om konflik te hanteer.
Pasop – As julle mekaar beskuldig, sonder respek behandel, jy nie verantwoordelikheid vir jou optrede kan aanvaar nie en jy so kwaad word dat jy wegloop en jou emosioneel onttrek. MOET ONS SKEI? Egskeiding het enorme implikasies en moenie ligtelik opgeneem word nie, sê Bea Potgieter. Moenie oorhaastig besluit nie. Deurdink dit veral goed as julle kinders het, ’n huis besit en finansies deel. Maak staat op jou instink én jou logika. Eers as julle alles probeer het en die verhouding steeds nie werk nie, is dit tyd om aan te beweeg. VRAE WAT KAN HELP ? Watter voor- en nadele hou die huwelik vir my in?
? Wat is die belangrikste redes om in die huwelik te bly?
? Hoekom moet ek dit verlaat?
? Wat het in my huwelik verander? Wat sê dit van my?
? Kan dit gered word?
? Wat het ek al gedoen om dit te herstel?
Oorweeg ’n egskeiding ernstig as jou maat jou verbaal of fisiek mishandel; skuldig is aan oneerlike gedrag; beloftes verbreek; ’n ander verhouding het; gay is; jou nie voldoende emosioneel, fisiek, sosiaal of finansieel ondersteun nie; nie genoeg deernis,

'Omdat ek hom liefhet, het ek gebly'

WILNA DU PLESSIS (skuilnaam) van Pretoria is bly sy’t haar huwelik gered: “My man was nog altyd uitgesproke, maar mettertyd het hy verbaal aggressief geword. Niks was ooit goed genoeg nie. Hy het my en die kinders oor alles verskree. My man was destyds ’n onbeplande baba, seker dié dat hy maklik bedreig voel. ’n Mens mag hom nooit kritiseer nie. “Ek het besluit tot hiertoe en nie verder nie. Met sy uitbarstings het ek myself en die kinders verwyder. Ek het bv. in ’n ander kamer gaan slaap en vir hom gesê daar’s iewers iets ernstigs fout met hom. “Ek het dikwels met egskeiding gedreig en hom laat verstaan ek hoef dit nie uit te hou nie. Maar omdat ek hom liefhet, het ek gebly. Sy optrede het mettertyd handomkeer verander. Die enkele kere dat hy nou wel sy humeur verloor, onttrek ek my en keur die volgende dag sy optrede af. Ek is bly ons is nog bymekaar. Hy’s ’n goeie pa, betoon meer respek en behandel ons met liefde en deernis.” BEA sê Wilna het dit baie goed hanteer deur haar afkeur vir haar man se gedrag duidelik te maak en die gevolge uit te stippel. “Sy het besef dat sy nie verantwoordelik is vir sy gedrag nie en het haar en haar kinders toepaslik beskerm. Maar dis ’n risiko om ultimatums te stel en met egskeiding te dreig, want dit kan maklik sy impak verloor. Ek kan nie met beperkte inligting sy gedrag interpreteer nie, maar ek vermoed hy voel geïsoleerd, verwerp en nie goed genoeg nie. Hy het hulp nodig, nie verdere veroordeling of verwerping nie. Hul huwelik kan oorleef, want hulle het reeds hul toewyding getoon. Hulle moet net aandag gee aan die kinders se gevoelens voor emosionele probleme dalk kop uitsteek."

Red só jou huwelik

As julle jul trots sluk, mekaar vergewe, steeds waarde heg aan die verhouding en saamwerk aan oplossings, kan julle deur ’n moeilike fase kom, sê Elise Beeby. Selfs ’n buite-egtelike verhouding, siekte, sterfte of verhuising kan dan hernuwing beteken, sê sy.

? Besoek saam ’n huweliksterapeut om die sterk en swak punte van jul verhouding te identifiseer en ’n bouplan vir jul verhouding op te stel.
? Hersien jul verwagtinge.
? Erken dit wat seermaak.
? Kry saam oplossings vir elke probleem. Konsentreer op die spesifieke. Sê bv. “Ons het een keer per maand seks. Ek sal gelukkiger wees met weeklikse seks.”
? Hou by die feite, bv. “Verlede maand was die kredietkaartskuld R950, maar ons het op R300 ooreengekom.”
? Help mekaar om jul doelwitte te bereik en werk aan konflikhantering, woedebeheer en luistervaardighede.
? Beoefen saam stokperdjies.
? Trou weer.
? Weerhou julle tydelik van seks en leer mekaar weer ken.
? Een van julle kan vir 30 dae uit die huis trek.
? Bring gehaltetyd saam deur.
? Kyk op ’n nuwe manier na mekaar. Aanvaar mekaar, foute en al.
? Doen elke vyf jaar saam ’n huweliks- of verhoudingswerksessie.

HIER IS HULP

Bea Potgieter, 011 462 5984, info@papillonpsychology.co.za of
www.papillonpsychology.co.za
Elise Beeby, 021 554 4433 of 761 1188, 011 475 3975 of elisebeeby@zamail.co.za
(Sy bied ook verhoudingswerksessies aan)