Dit lyk so idillies: Demi Moore en haar katelknaap, Ashton Kutcher, hou vakansie op 'n eksotiese plek. Saam met Demi se drie kinders uit haar huwelik met Bruce Willis. En wie hou saam met hulle vakansie? Einste Bruce en sý liefde van die oomblik. Ook net in Hollywood . . .

Want vat jou eks en mý eks, albei se nuwe liefde én die kinders (joune, myne en ons s'n) - en jy kry meestal nie die Brady Bunch nie. Mense besef nie altyd wat die implikasies van skei is nie, sê dr.Tanya Robinson, gesinsterapeut van Johannesburg. Die gras lyk dalk groener aan die ander kant van die draad, maar dis dikwels vol duwweltjies. Dís wanneer die dilemmas opduik, soos dat jy nooit werklik vrede maak met jou egskeiding nie. Wat jy voor die egskeiding verwag het, hoe jou lewe sommer stukke beter gaan wees, het nie gerealiseer nie.

Om te skei beteken jy staan geldelik op jou eie voete. Jy kan nie van jou eks verwag om jou die res van jou lewe te onderhou nie. Dit beteken ook jy is verantwoordelik vir jou kinders wanneer hulle onder jou toesig is. En dat jy nie meer 'n sê in jou eks se lewe het nie. Jul kinders is al wat julle nog bind. En hulle moet nooit by jul probleme betrek word nie.

Jy moet weet: As julle skei en daar is kinders, is dit nie die einde van die verhouding met jou eks nie, sê Magriet van Schalkwyk van Pretoria, 'n maatskaplike werker in private praktyk. Daardie verhouding loop nou net 'n ander pad. En trou jy met 'n man wat ook vir die tweede keer die paadjie na die kansel stap, moet jy besef jy "trou" ook met sy eks en hul kinders.

Dan kan daar probleme opduik - wat gelukkig oorkombaar is . . .

1. Ek en my man is besig om te skei en daar is baie bitterheid tussen ons. Ek is bang ons kinders ly daaronder.

Ouers wat skei, is dikwels diep gewond, sê Elize Morkel, 'n sielkundige van Somerset-Wes. Dis 'n uitdaging om jou eie pyn opsy te skuif en op die belange van jou kinders te konsentreer. In Noorweë, waar Elize gesinsterapeute oplei, betaal die staat vir drie sessies by 'n sentrum vir gesinsterapie.

"Dis verpligtend vóórdat jy met regstappe vir 'n egskeiding kan begin. Dan word gekyk na elkeen se bydrae tot en verwagtinge van ouerskap. Die fokus val minder op die regte van die ouers - en meer op maniere hoe julle as ouers kan saamwerk.''

In een geval het die kinders bv. in die gesin se huis aangebly terwyl hul ouers beurte gemaak het om daar te woon en na hulle te kyk. As mense skei, is daar dikwels 'n vertrouensbreuk. Dit kan uitkring na wantroue in die ander een se vaardigheid as ouer en bedoelinge.

Elize vind dis soms nuttig om in die beradingsessies afsonderlik met die ouers oor hul verwagtinge, drome en hoop vir hul kinders te praat. Sy deel dit daarna met die ander ouer.

"Ouers word dikwels gerusgestel wanneer hulle besef hulle het eintlik dieselfde drome vir hul kinders. In die beradingsessies kan julle gesels oor wat jou eks die kinders kan bied en hoe jy hom daarin kan ondersteun.

"Dis opbouend en verval nie in klagtes oor mekaar se tekortkominge nie,'' sê sy.

Volgens Magriet wys navorsing dis nie die egskeiding self wat kinders emosionele skade berokken nie - dis wanneer die breuk met voortslepende bitterheid en konflik gepaard gaan. As albei in belang van die kinders optree, kan hulle emosioneel gesonde volwassenes word.

2. My eks maak die kinders wys dat die egskeiding my skuld is. As hulle vir 'n naweek by hom was, is hulle onmoontlik.

Tanya sê daar is werklik 'n sindroom waar een ouer uit sy/haar pad gaan om 'n prentjie te skets dat alles die ander een se skuld is. Die kinders kry dan baie swaar. Hulle raak deurmekaar en verloor hul vertroue in albei ouers: Hulle weet nie meer wie om te vertrou nie.

"Dis belangrik dat hulle weet dis verkeerd dat jou eks hulle probeer manipuleer. Hulle moet vir hom kan sê hulle wil nie betrokke raak en slegte goed van Ma hoor nie, en dat hulle julle albei liefhet. Dit haal hulle uit die middelman-posisie.''

Volgens Magriet kom sulke gedrag gewoonlik voor as die een ouer nog nie die egskeiding verwerk het nie. Die rouproses is nie afgehandel nie en hy/sy fantaseer dikwels nog oor 'n versoening. Hy probeer homself regverdig: "Dit was nie mý skuld nie".

"Moet nóóit dieselfde speletjie speel nie. Verduidelik aan jou kinders dat mense soms gal braak as dinge skeefloop. Sê hoewel dit nie reg is nie, is dit 'n manier waarop hy van sy seerkry ontslae raak.

"Kinders is nie dom nie. Hulle word groot en sal besef alles wat hy sê, is nie waar nie, en uiteindelik kan jou man hulle verloor.''

3. Ná ons egskeiding het ek toesig oor ons kinders gekry. Hoewel my eks gereeld onderhoud betaal, is geld voortdurend 'n strydpunt. Sy nuwe vrou daag by familiegeleenthede met duur geskenke op. En ek moet die sente tel . . .

Jou eks skuld jou nie finansiële gemoedsrus nie, verduidelik Tanya. Hy moet gewoonlik bloot vir die kinders onderhoud betaal. Jy moet verantwoordelikheid vir jou eie geldsake aanvaar en nie jou finansiële druk op jou eks laai nie. Selfs al beteken dit jy moet jou lewenstandaard effens verlaag. Pas geldelike dissipline toe en jy sal meer respek vir jouself kry. (As jy'n tuisteskepper was, betaal jou man dikwels sg. rehabilitasie-onderhoud vir 'n tydperk soos ooreengekom tussen julle. Dit gee jou dan tyd om op jou voete te kom.)

Elize se raad is dat jy voor die egskeiding uitwerk hoeveel geld jy nodig gaan hê en dan 'n realistiese skikking beding.

"Dikwels wil vroue net wegkom uit die huwelik. Die laaste ding waaroor hulle wil stry, is geld. En dan voel hulle later die geldknyp.''

Magriet sê dis dikwels moeilik vir 'n vrou om te aanvaar sy deel nie meer in haar eks se welvaart nie. As jou eks se geldelike situasie ná die egskeiding verbeter en jy regtig sukkel, kan jy altyd met hom onderhandel.

As dit nie help nie, gaan weer na die onderhoudshof, maar doen jou huiswerk sodat jy 'n begroting kan voorlê.

4. My man se eks tree op asof hulle nog getroud is. Sy bel hom op onmoontlike tye oor onbenullighede en hy moet aanmekaar goed by haar huis gaan regmaak.

Volgens Tanya is dit meestal vroue wat hul eks met hul onopgeloste probleme of gevoelens manipuleer en frustreer.

"Mans voel dikwels hulle word deur hul eks geteister. Jy wil nie die werklikheid aanvaar dat jou eks-man aanbeweeg het nie. Jy moet genoeg respek vir jouself hê om dit ook te doen. Sulke onbenullighede om kontak te bewerkstellig is 'n vorm van obsessiewe gedrag.''

Magriet sê as jy weer trou, moet jy op jou nuwe huwelik fokus. Maar tussen kinders en 'n eks wat 'n oorlas is, kom die nuwe huwelik dikwels tweede. Jy is dan só besig om almal te paai dat dit al jou energie opeis.

"As jy die man is: Stel duidelike grense. Sê vir jou eks sy kan vir jou 'n e-pos of SMS stuur. Jy kan dan self besluit wanneer jy daarop wil reageer. As sy oor die kinders móét bel, kan sy dit net spesifieke tye doen.

"En as jy die eks-vrou is: Besef jy tree so op omdat jy nog nie die egskeiding verwerk het nie. Gaan vir berading as dit moet. Moenie redes soek om jou eks te kontak nie. Bel 'n nutsman vir werk in en om die huis.''

5. Ek en my eks-vrou is op goeie voet uitmekaar. Maar haar nuwe man is baie jaloers en wil nie hê ons
moet kontak hê nie. Hy en sy eks-vrou praat nie met mekaar nie. Ek en my eks het nie kinders nie, maar heg waarde aan mekaar se vriendskap.

Dis nie verkeerd om kontak met jou eks te hê nie, maar dit veroorsaak dikwels probleme in 'n nuwe verhouding. Veral as dit die nuwe man (of vrou) in jou lewe bedreig en onseker laat voel.

Volgens Tanya moet al die betrokke partye probeer om redelik en regverdig te wees.

"Bespreek moontlike grense baie deeglik - en sorg dat almal weet waar hulle staan. Respekteer sulke grense en moenie op mekaar se tone trap nie. Die realiteit is dat jou eks se nuwe man nie veel met jou te doen wil hê nie - respekteer dit.''

6. My vriend het 'n eks-vrou uit die hel. Sy wou skei, maar toe sy uitvind hy het 'n nuwe liefde, wou sy hom skielik met alle mag terughê. Sy het my geteister met SMS'e en beskinder. Ek en my vriend het besluit om mekaar vir 'n ruk lank nie te sien nie. Toe het sy skielik alle belangstelling in hom verloor.

Tanya kom baie sulke situasies in haar praktyk teë.

"Jy kan nie ná die egskeiding aanbeweeg nie en is vasgevang in 'n onwerklikheid waarin jy dink julle is nog getroud. En dit maak nie saak of jý die een was wat wou skei nie.

"Verhoudingsterapeute sê 'n egskeiding word eers 'n werklikheid wanneer jy of jou eks 'n nuwe liefde gevind het. Sommige vroue (of mans) tree egter dan irrasioneel op. Dit kan tot patologiese, obsessiewe en selfbejammerende gedrag lei - jy fokus net op hoe jy kan wen, al is dit ten koste van al die ander mense. Almal ly daaronder: jou eks-man, die nuwe vrou in sy lewe en die kinders.''

As dit jou eks-vrou is: Moenie saamspeel nie. Kom jou wettige verpligtinge na en onttrek uit sensasionele, irrasionele situasies. Vermy kontak en praat net met haar as dit werklik nodig is.

As jý 'n eks-uit-die-hel is: Dis in almal se belang dat jy ophou om ander mense se lewens te versuur. As jy nie kán aanbeweeg nie, kry berading. Tanya sê sy sien dikwels vroue in haar praktyk wat jare lank só 'n speletjie gespeel het. En nou is hulle alleen: Niemand het meer simpatie met hulle nie.

As jy die derde party is: Bly beleefd. En bly uit haar pad! As haar beledigings aan naamskending grens, kry 'n interdik teen haar.

7. My eks se vriendin laat die kinders alles toe as hulle naweke by hom kuier. En ek is die heks wat altyd 'nee' sê en hulle moet dissiplineer. Ek het bv. gesê my dogter kan eers gaatjies in haar ore laat skiet as sy op hoërskool is. Toe laat doen sy vriendin dit terwyl my dogter by hulle kuier.

Jý moet die grense bepaal, sê Magriet.

"Gesels met jou man en sy vriendin. Hou jou toon nugter en nie aggressief nie. 'Julle ondermyn my gesag en dis nie in die kind se belang nie. As daar in die toekoms so iets opduik, kontak my eers.' Moenie jou kinders kwalik neem nie. Hulle sê moeilik 'nee' vir iets wat hulle regtig graag wil hê. By jou eks se huis kan ander reëls as by joune geld. Die kinders leer mettertyd wat hulle by Pa en wat hulle by Ma se huis kan doen. Solank dit nie te uiteenlopend is nie, aanvaar hulle dit.

"Doen ook selfondersoek. Is jy dalk 'n bietjie jaloers? Dit benadeel net jou kind. As dit egter 'n beginselsaak is, móét jou eks jou ondersteun en jou wense respekteer.''

8. My vrou is kort ná ons egskeiding weer getroud en haar nuwe man het nie ooghare vir ons kinders nie. Hy trek syne voor en myne voel hulle word stief behandel. Ek voel magteloos: My vrou het toesig oor hulle en ek sien hulle net naweke.


Weer eens: Praat met jou eks daaroor, is Magriet se raad.

"Onthou net, dit neem tyd voor 'n werklike verhouding tussen 'n stiefpa (of stiefma) en stiefkinders ontwikkel. Dit kan tot 'n jaar of langer duur voor die gesin as 'n eenheid funksioneer. Daar sal aanpassingsprobleme wees. Is dit nie nog maar deel daarvan nie?

"Dit gebeur dikwels dat kinders hul pa teenoor die stiefpa afspeel. Dis veral die geval as hulle nog nie die egskeiding verwerk het nie. Hulle sukkel dan om die stiefpa (of -ma) te aanvaar.'' (Magriet het bv. 'n kind wie se ma oorlede is, behandel. Haar pa is gou daarna weer getroud. Die kind het nog nie haar ma se dood verwerk nie - en toe is daar 'n nuwe vrou in haar plek.)

Besoek 'n berader wat die situasie objektief bekyk en perspektief kan gee. (Almal word betrek: Ma, Pa, stiefouer en kinders.) As jy voel die situasie verbeter nie en jou kinders ly daaronder, kan jy altyd stappe doen om toesig oor hulle te kry. Want dit kan tog gebeur dat stiefouers kinders "stief '' behandel.

Die stiefouer moet ook besef hy (of sy) kan nie sommer in die rol van ouer instap nie. Hy moet eers die kinders se vertroue wen en 'n verhouding met hulle opbou. Laat die biologiese ouer die eerste ruk die dissipline hanteer.