Jy ry elke middag rond tussen ballet- en dramaklasse, rugby- en kooroefening. En dan wonder jy soms of dit alles die moeite werd is.

Beslis, sê kenners. Buitemuurse aktiwiteite gee jou kind selfvertroue. Al die vaardighede wat sy daar leer - of dit is om op te staan ná mislukking of om te konsentreer - dra by tot haar selfbeeld. En sy sal haarself in die lewe kan handhaaf, sê dr. Ronel Tarnow, opvoedkundige sielkundige en konsultant van Johannesburg.

Volgens Jim Fay, Amerikaanse ouerskapkenner, bestaan selfvertroue uit drie pilare: Hoe jou kind haar vaardighede gebruik. Hoe sy haar verantwoordelikhede hanteer. Wat ander van haar dink en of hulle haar waardeer.

"Buitemuurse aktiwiteite bied jou kind 'n gulde geleentheid om hierdie pilare op verskillende maniere te ervaar, te ondersoek, daardeur te groei, uit mislukkings te leer en geleenthede te benut," sê Ronel.

Deline van Ieperen (20), 'n student van Durbanville, stem saam. Deline het op hoërskool tot die halfeindronde van die ATKV-redenaarskompetisie deurgedring en was ook onderhoofmeisie.
"'n Aktiwiteit wat jou met ander mense in aanraking bring en jou leer om voor 'n gehoor te praat help jou om 'n gesonde en gebalanseerde mens te word. Want as jy jou sê op 'n ingeligte manier kan sê, is daar nie veel wat jou kan onderkry nie," reken Deline.

Kenners beveel aan dat jou kind van jongs af aan aktiwiteite deelneem, maar dis nooit te laat om te begin nie. Soos Ronel sê: "Vroeë stimulasie is voordelig, tog is laat ontwikkelaars ook soms uitblinkers in hul veld."

Nie dat jou kind briljant hoef te vaar nie, solank sy dit net wíl doen, sê Riana Lighthart, opvoedkundige sielkundige van die Strand. Natuurlik is dit 'n hupstoot vir haar selfvertroue as sy wél sukses behaal.

Enige kind kan deelneem, al is sy skaam, sê sy. 'n Skaam kind vrees dikwels die onbekende of is sensories sensitief. 'n Aktiwiteit soos drama skep ervarings wat die onbekende minder bedreigend maak. Sy voel vry om te eksperimenteer, want sy word aangemoedig om te waag en foute in 'n veilige omgewing te maak. Sy kan sukses behaal en só sal haar vrees vir die onbekende gaandeweg verminder, sê Riana.

Cara Rust (19), 'n student van Welgemoed buite Kaapstad, was so 'n teruggetrokke kind. "In die preprimêre klas het ek moeilik vriende gemaak en voor ek op laerskool dramaklasse begin neem het, was ek nie baie sosiaal nie," vertel sy.

"In die dramaklas kon ek wegkom en enigiets doen of sê wat ek nie in die werklike lewe sou doen nie. Dié selfvertroue het oorgespoel na my daaglikse lewe. Ek het meer uitgesproke geword en ook veel meer vriende gekry."

Buitemuurse aktiwiteite het nóg ’n voordeel: “Die interaksie met ander vorm jou kind se siening van haarself,” sê Chrismari Herholdt, kliniese sielkundige van Panorama, Kaapstad. Sy leer haarself beter ken. Sy en haar maats of spanlede deel ervarings, emosies en verhoudinge. Sy leer só dat dit oor baie meer as wen of verloor gaan. Dit help met haar ontwikkeling en dis pret, sê sy.

Dis juis dié belangrikste reël: Jou kind móét haar aktiwiteite geniet. “Sodra dit ’n straf is of as sy teen haar wil deelneem, sal sy nie ’n positiewe leerervaring hê nie. En sal dit ook nie bydra tot ’n gesonde selfbeeld nie,” sê Chrismari.

As jou kind dalk sou sê ballet is nie vir haar nie, praat met haar daaroor. Moenie dat sy dit dadelik staak nie, sy moet leer vasbyt. Sê byvoorbeeld: “Ek kan sien dit maak jou ongelukkig, maar ons gaan nog net hierdie kwartaal uithou,” stel Riana voor. Kies dan eerder ’n ander aktiwiteit wat haar positief sal laat groei.

Onthou ook jou kind is nie ’n verlengstuk van jóú onvervulde drome nie. Sy moet haar eie unieke talente verwesenlik en uitbou, sê Ronel. As dit jou droom was om ’n model te wees, maar jou dogter het nie die liefde of talent daarvoor nie, kan jy haar nie dwing nie. Maar as sy modelwerk geniet en dit wil doen om ’n mooi houding te kweek kan dit haar help met haar ontwikkeling, al word sy nie ’n top-model nie.

Waak daarteen om jou kind aan te veel buitemuurse bedrywighede te laat deelneem. Twee of drie is genoeg, sê Chrismari.

’n Ma van Gauteng vertel dat sy so oorweldig was deur al die advertensie-pamflette in haar graad-eentjie se skooltas dat sy nie geweet het waar om te vat of te los nie – veral toe sy agterkom party ma’s skryf hul kind in vir byna elke klas.

“Ek het besef van die ma’s ding eintlik met mekaar mee. Ek het vriende gemaak met ’n groepie vroue wat soos ek is – tevrede dat my kind een of twee buitemuurse klasse bywoon wat sy geniet. Ek gaan dit nie oordoen nie.”

Ronel beaam dit: “Te veel, te vroeg kan haar laat uitbrand.” Langdurige stres is destruktief en teenproduktief en die genot word al hoe minder. Dit kan ook veroorsaak dat sy nooit weer byvoorbeeld ’n musiekinstrument opneem nie, al het sy goed presteer. Soos Riana dit stel: “Jou kind moet tyd hê vir kind wees of om haar eie ding te doen. Balans is die wagwoord.”

Leer haar selfvertroue kom van binne af. Dit moenie afhang van alles wat sy doen en waarin sy goed is nie. Sy as mens, nes sy is, moet selfvertroue hê.

Leer haar wat toepaslike gedrag is en wat nie, want jy wil tog nie hê sy moet soos baie Amerikaanse kinders te veel selfvertroue hê nie. Stel grense wat dissipline en struktuur betref, sê Riana.

“Selfvertroue, soos om haar mening teenoor volwassenes te lug, gaan saam met ’n mooi manier van praat en respek,” sê sy. Jou kind kan trots voel, maar sy moenie optree asof sy beter as ander is nie. Verduidelik dit en stel ’n voorbeeld.

Jy kan haar help om die beste uit haar aktiwiteite te kry. Wys haar hoe om doelwitte te stel. As sy die hoofrol wil vertolk en dit kan doen, sal sy hard moet werk.
Moenie die klem op wen laat val nie. Vra: “Hoe was die wedstryd vandag?” en nie: “Het julle gewen?” nie.

Help haar om haarself deur die aktiwiteite beter te leer ken, sê Chrismari. Prys haar gereeld vir haar deelname en gee positiewe terugvoer. Soos: “Jy het mooi uitgehou by die swemles vandag.”

“As sy van kleins af verstaan sy is aanvaarbaar, sal haar selfvertroue groei,” sê Riana.

Elke buitemuurse aktiwiteit dra op ’n unieke manier by tot jou kind se selfvertroue. Modelwerk kan haar postuur- en houdingsvaardighede leer en haar help om selftrots te ontwikkel, sê Ronel.

“As sy skaam is, kry sy die kans om haar unieke skoonheid uit te leef en waardering te ervaar.”

Drama verg ’n standvastige karakter: Jou kind leef haarself uit in ’n rol, maar moet haarself bly. Dis ook lewensverrykend omdat drama empatie, insig in jou medemens en kommunikasievaardighede verbeter, sê Ronel.

Ballet of dans leer haar liggaamstrots en selfbeheersing en dis belangrike boustene van gesonde menswees. Bewegings- en skeppingservarings lei daartoe dat sy haarself makliker kan uitleef en gee beter selfwaarde. “Stres kry ook nie vatplek aan ’n bewegende mens nie!” sê Ronel.

Musiek, dans en kuns is ideaal om emosie uit te druk en só emosionele balans te bring, sê Riana.

Sport bied geleenthede om vaardighede aan te leer, strategies te dink en om in ’n span saam te werk. Jou kind leer ook om emosie op ’n minder aggressiewe manier uit te druk, op ’n
gesonde manier van energie ontslae te raak en stres te ontlaai, sê Chrismari.

Om ’n redenaar te wees leer jou kind krities en konstruktief dink. Dis waardevol wanneer sy verantwoordelike besluite oor haar loopbaan, werk en ’n lewensmaat
moet neem.

Ondersteun, stel belang en wees betrokke, is Ronel se raad.

LEES OOK: Só bou buitemuurse aktiwiteite jou kind se selfvertroue.

VERTEL ONS: Watter aktiwiteit het al jou kind se selfbeeld laat blom?