“As jy stout is, roep ek die polisieman dat hy jou in die tronk kan gooi.” 

“As jou kamer nie netjies is nie, mag jy net een rok, een paar skoene en sokkies en een pantie in jou tassie pak. Dan kan jy in die weeshuis gaan bly en kyk hoe lekker dit is.” 

“Ek gaan my tasse pak en wegloop en jy gaan my nooit weer sien nie. Jy wil mos nie stilbly nie . . .” 

In haar hart sal daar seker altyd ’n klein dogtertjie wees wat hunker na ’n ma wat haar liefhet, ’n ma vir wie sy ‘goed genoeg’ is en een wat haar geluk gun. Maar in haar laat veertigs moes Lisa Nel* aanvaar dat sy met háár ma vergeefs op moederliefde hoop.

Die fyngeboude blondine voor my glimlag meewarig vir die ongeloof in my oë wanneer sy vertel wat haar ma – ’n “gewone voorstedelike huisvrou en voorste kerktannie” – van kleins af vir haar gesê het. (Sy het selfs vir haar die “weeshuis” in Pretoria uitgewys, onthou sy.)

Maar vir klein Lisa was sulke uitlatings “normaal”, die gevoel dat sy “nooit goed genoeg” vir haar ma was nie, was al wat sy geken het, en die drie, vier pakke slae per dag so “deel van die lewe” soos skool toe gaan.

Toe sy ouer word, het sy gedink sy verbeel haar seker net dat haar ma haar nie sukses en geluk gun nie. En dalk lyk dit maar net of haar ma lekker kry as dit nie met haar of haar gesin goed gaan nie . . . Nietemin het sy hard probeer (en later nóg harder) om haar ma se guns te wen.

Dit was baie jare voordat Lisa oplaas besef het dat sy dít nooit gaan regkry nie. Die dag toe sy by ’n sielkundige om hulp aangeklop het, en haar ma se gedrag ’n naam gekry het: narsisme. Sy skud haar kop, kyk af na haar koffie wat al koud geword het. “Dit het my 47 jaar geneem voor ek uitgevind het my ma is ’n narsis. Die een mens wat my teen die lewe se boelies moes beskerm, wás my grootste boelie, en ek het dit nie eens besef nie.”

Op die tafel in die restaurant waar ons gesels, lê ’n ligpienk joernaal waarin sy as deel van haar terapie haar lewe as die dogter van ’n narsistiese ma moes uitbeeld.

Daar’s vroeë herinneringe: Die drie uur wat sy gedwing is om aan tafel te bly sit totdat sy albei snye marmeladebrood opgeëet het. Sy wóú mos vra vir marmelade . . . (Sy was drie jaar oud.) Die lepel rooipeper wat haar ma haar gevoer het nadat sy die plaaskinders se vloekwoorde herhaal het. (Sy was vier.) Die dae wat sy ná skool tuisgekom het, en dan lê al haar klere buite haar kamervenster. (Haar kaste was nie netjies genoeg nie.)

Daar’s ook blaaie navorsing en aanhalings oor narsisme – inligting wat uiteindelik soveel dinge wat sy oor die jare nooit kon verstaan nie, in plek laat val het.

Dis juis hoekom sy haar storie wil deel, verduidelik sy. “Noudat ek iets van dié persoonlikheidsafwyking weet, sien ek die eienskappe raak: In ’n vriendin se man van wie sy al vyf jaar nie kan skei nie, ’n kollega se ma wat haar keer op keer verwerp . . . Al is daar net een leser wat ek met my storie kan help, was en is my pyn nie verniet nie.”

Sy is ’n suksesvolle sakevrou, gelukkig getroud, met drie kinders, maar haar verhouding met haar ma is steeds soos “om op ’n Saterdagaand in ’n donker stegie in ’n misdaadgeteisterde gebied te loop sonder lig of beskerming. Jy weet enigiets kan jou tref, en dit gaan nie goed wees nie, maar jy weet nie van watter kant af of hoe om dit te keer nie.” Lisa besef nou eers sy was haar lewe lank haar ma se emosionele slaansak.

“My ousus, aan wie ek baie geheg is, was nog altyd sterker as ek – kleintyd het Ma eers ons albei afgeknou, maar later was net ek haar teiken. So vorm die narsis jou. Daar is drie van ons. My boetie is die goue seun wat niks verkeerd kan doen nie. My sus die een wat my ma kan uitoorlê – sy het al in graad agt vir my gesê: ‘Ma is ’n psycho, moenie jou aan haar steur nie.’ Maar ek kon dit nie regkry nie. Ek bly die swartskaap, die een wat niks werd is nie.” 

Die onvoorwaardelike liefde van ’n ma ken sy nie. “Dis altyd voorwaardelik. As jy dít doen, is ek lief vir jou. Vandag is jy goed genoeg, môre nie meer nie. As ek vandag kwaad is, haal ek dit op jou uit. Dis jou skuld. Nou aanvaar ek jou, netnou verwerp ek jou . . . Sy is ’n meester-manipuleerder.” 

Blonde adult mother brings up naughty girl teenage
FOTO Getty Images / Gallo Images

Lisa se hegte verhouding met haar liefdevolle pa het die las ligter gemaak. Alles het agter sy rug gebeur, want haar ma het dit weggesteek. “Die narsis hou altyd ’n front voor.” Sy was wat jy ’n koverte narsis noem – sy’t jou so agteraf ge-grind, vertel Lisa. Voor vriende en kerkmense was sy gaaf, die “mense” moes tog net nie weet nie, uitpraat mág jy nie.

Sowat veertien jaar gelede is haar pa oorlede nadat hy weens swak gesondheid vroeg afgetree het. “Kort voor sy dood het hy aan my suster erken dat hy nie meer só kon lewe nie. Sy oë het oopgegaan, hy het begin agterkom wie en wat hierdie vrou is en waarmee hy werklik te doen het.”

Ná sy dood was die handskoene af. Ongeag wat sy doen, Lisa kon haar ma nie tevrede stel nie. Of dit nou blomme, die betaal van haar woonstelhuur (dertien jaar al), geskenkies of ’n gereelde kuier is, niks is ooit goed genoeg nie.

“Ek sal spesiaal op pad na ’n kliënt in Pretoria gou ’n koppie tee by haar drink. Vyftien minute ná my besoek kom haar noodoproep: ‘Kom dádelik.’ Ek kanselleer my afspraak en jaag terug. Daar gekom, trap sy my uit oor watter slegte mens ek is, en hoe ek neersien op my familie. Of: Ek word bevorder en bel my sus. Later bel ek my ma. Geen antwoord nie, nie op haar sel of landlyn nie. Heeldag. Later sê Sus my ma was reg langs haar toe ek met die nuus gebel het. Sy’t my tot vandag toe nie gelukgewens nie. Sy kán nie.”

Eendag was Lisa besig met pottebakkery toe haar tienerseun laat weet Ouma is op die foon. Met haar hande vol klei, vra sy hom om te sê sy bel oor ’n halfuur, sodra sy klaar is. ’n Halfuur later skakel Lisa terug. Haar ma se eerste woorde: “Nou het jy op jou laagste gedaal . . . dat jy selfs jou kind kry om vir my te jok.”

Sy kraak jou af, maak jou gelyk met die grond, beskuldig jou van dinge wat nie bestaan nie. Sy sê en doen wat sy wil. Plak die foon neer. Bel jy terug (jy kruip maar altyd terug), antwoord sy nie . . . 

Lisa besef nou dis alles deel van die narsis se spel. “Hoekom het ek dit toegelaat? Dis al wat ek nog ooit geken het. Jy baklei heeltyd vir haar aanvaarding. As jy net hard genoeg probeer, gaan sy jou liefhê. Niks is ooit haar skuld nie, sy aanvaar nie aanspreeklikheid of verantwoordelikheid nie. Geen konflik of kwessie word deurgesels nie. As ek iets wil aanroer, sê sy met so ’n trekkie om haar mond: ‘O, jammer, dan is ek seker maar ’n slegte ma.’ Watter verweer het ek teen sulke woorde?”

Uiteindelik is dinge einde 2017 op die spits gedryf – sodat Lisa nie net sielkundige hulp gaan soek het nie, maar ook die moed gehad het om vir haar ma te sê dat sy eers kontak met haar wil verbreek.

“Toe ek eendag in ’n gesprek met my ma ’n traumatiese kleintydse voorval noem, het sy teenoor my erken dis hoekom my pa so beskermend teenoor my was. Toe ek later vir haar vra hoekom net my pa beskermend was, en sy my nie ook beskerm het nie, het sy ontken dat die voorval enigsins gebeur het. Dis tóé dat ek besef ek moet van haar wegkom. Dit het baie guts geverg.”

Shot of a woman supporting her elderly mother thro
FOTO Getty Images / Gallo Images

By die sielkundige het sy geleer hoe belangrik grense is. “Die narsis breek jou grense af en kan dan met jou doen wat hy of sy wil. Ek is altyd geleer ek mag nie nee sê nie, ek het nie privaatheid nie. Dr. Henry Cloud se boek Boundaries is ’n moet-lees, vir alle verhoudings. Ek laat nie meer toe dat iemand my ‘boelie’ nie – ek trek ál meer my grense. Dis bemagtigend.”

Jare terug, ná sessies by ’n sakeafrigter, het sy besef verwerping is een van haar rooi vlaggies. “Of dit nou iemand in my span is wat bedank of ’n vriend wat nie saam met my kan uiteet nie. Ek ervaar dit dadelik as verwerping. 

“Dit spruit alles uit my kinderdae. Daar is heeltyd die stryd om aanvaarding. Nou leer ek om dit te hanteer.” Min mense weet van die uitkoms van haar sielkundesessies. Net haar man, haar sus en enkele hartsvriendinne. Haar broer praat nie met haar sedert sy ’n jaar gelede kontak met haar ma verbreek het nie. “Hy dink ek is die vark in die verhaal, hy het geen benul nie.”

Dis dikwels vir mense moeilik om te verstaan hoe erg dié tipe mishandeling is. Selfs ’n goeie vriendin het haar al gevra of sy nie te fyngevoelig is of haar dalk verbeel nie. “Kan jy en jou ma dit nie maar agter julle sit en saam daaraan werk nie?”

Lisa weet sy kan netsowel haar kop teen die muur kap – dit sal dieselfde uitwerking hê. “My ma gáán nie verander nie, sy gaan my altyd gebruik, niks gun nie en nooit my kant kies nie. Sy gaan die dag doodgaan en nog steeds nie vir my lief wees nie. Dis nog net daai sinnetjie wat my wil laat tjank . . .”

Sy en haar ma was reeds drie maande sonder kontak, toe Lisa ’n noodoperasie moes ondergaan. “As dit my kind in die hospitaal was, sou ek my knieë deurgekruip het om dinge met haar reg te maak. My ma het nie eens vir my of my man gebel of my probeer besoek nie.”

In haar hart sal daar seker altyd ’n klein dogtertjie wees wat hunker na haar ma, wat wens dat daar een mens is wat vir haar lief is soos net ’n ma kan wees, sê sy. “In Grey’s Anatomy is daar ’n toneeltjie waar dr. Meredith Grey so voor dr. McDreamy staan en sê: ‘Choose me’ [toe hy moes kies tussen haar en sy vrou]. Daai prentjie bly so by my. Ek wens ek kon vir my ma sê: ‘Choose me.’ Maar deel van my terapie is om te aanvaar dat sy my nie gekies het nie. Ek het die naweek weer my oë uitgehuil, maar ek weet wat die feite is. Sy het my nie lief nie. Maar sy kan my nooit weer verwerp nie, dit het sy reeds gedoen.”