Suiwer hel . . . dis ál manier hoe ek 33 jaar van my 35 jaar lange huwelik kan beskryf. Dis nou maar twee jaar dat ek weet wat met my slim, suksesvolle, hoogs gerespekteerde ingenieurman skort. Twee jaar sedert die grootste probleem in my lewe ’n naam gekry het, heel toevallig, danksy ’n radio-praatjie.

My man is ’n narsis.

Wat ’n openbaring. Dit was asof tien berge se gewig van my skouers af is. Ek het soos ’n besetene begin oplees, boeke van oorsee bestel en ’n diepte-studie begin doen. Ek kon dit nie glo nie . . . Daar was ander, soos ek, wat met so ’n man getroud is. Dit was nie my skuld of weens my ontoereikendheid nie.

Ek het altyd geweet my man is ongebalanseerd, of pleinweg mal, soos ek in my gedagtes aan hom gedink het. Hy is briljant, maar kon die domste dinge aanvang. Sy kop het by tye eenvoudig uitgehaak, veral as hy baie moeg was of te veel gedrink het. Ek het geleer die narsis het ’n hoë dunk van homself en dink hy is baie intelligenter en belangriker as ander. Hy het ook die prestasies om dit te boekstaaf, soos my man my menigmaal herinner het. Ander is sy mindere. (En hy meng ook net met ander suksesvolles.)

Sy firma en ander kringe waar sy kollegas en invloedryke vriende beweeg, is ’n voedingsbron vir sy groot ego. Hy teer op bewondering. Hy moet almal en alles om hom beheer, anders voel hy bedreig en ontplof hy. Niemand durf hom ooit teëgaan of uitdaag nie. Hy weet die beste. Finish en klaar.

Dié verskriklike woede-uitbarstings het altyd gebeur wanneer ander nie by was nie. Ek moes veral dán op eiers loop. Ek kon hom nie verlaat nie, hy sou my vernietig en het dit gesê ook. Hy sou almal teen my opmaak en my finansieel op my knieë dwing. Die narsis se hele lewe is ’n front. Hy gee voor dat alles aan hom van die beste en hoogstaande gehalte is. Hy tree altyd korrek op en niemand kan ’n vinger na hom wys nie. Dit het my klaargemaak, want dit was so ’n valse beeld. Ek het sy slegte kant so goed geken, maar nooit met enigiemand daaroor gepraat nie. Ek is te lojaal en Christelik grootgemaak. Hy het goed vir ons gesorg en het gedurig vir my gesê ek kan koop wat ek wil, ‘so wat is jou probleem?’, as ek ooit ets sou opper.

Ek en ons vier kinders het nie sy liefde geken nie. Hy het nooit met ons gekommunikeer oor gewone dingetjies nie. Ek het ons kinders alleen grootgemaak; hy was nie by oueraande of sportwedstryde nie. Hy het besluit wanneer ek mag goed voel en het ’n intense behae daarin geskep om my neer te trek in 'n put van ellende. Sou ek die dag opgewonde wees, sou hy dadelik iets doen of sê om my bui en dag te bederf. Lojaliteit was daar nie. As ek of die kinders in ’n dispuut betrokke geraak het, sou hy dadelik die ander persoon se kant kies, sonder om eers te luister na die storie. Ek moes my eie battles veg en trane of ’n gekla het hy nie geduld nie. ’n Narsis verafsku swakhede. Ek en die kinders mag nie siek of ‘af ’ gevoel het nie. Hy hou net van sterk mense wat hul man kan staan.

Uit my navorsing het ek geleer die narsis het ’n diepgaande, onderliggende afsku in homself. Tydens die jare dat sy persoonlikheid vorm (‘persoonlikheidsvormingsjare’), het dit as ’t ware verdeel en het sy alter ego ontwikkel sodat hy homself kon laat geld. Dit is ál hoe hy aandag of emosionele aanvaarding kon kry. Van kleins af leer die narsis om iemand blitssnel op te som en tot sy eie voordeel nader te trek. Nadat hy by hulle gekry het wat hy wou hê, word ulle net so eenkant toe gestoot. Hy het nie werklik empatie met andere nie, hoewel hy ’n meester daarin is om emosies na te maak.

Die ergste was toe ek hom sien huil op ’n familielid se begrafnis, terwyl hy nooit by daardie persoon wou gaan kuier nie. Hy het altyd gekla die familielid spog tog net heeltyd oor al sy besittings en sy kinders se prestasies. Dit was vir my as sy vrou die toppunt van ironie. Hy het in hierdie meer as drie dekades van getroude lewe nog nie een keer vir my gesê dat hy lief is vir my of verskoning gevra oor iets nie. Vir niemand nie. Dit is nie oordrywing nie. As ek hom uitgevra het daaroor, was sy antwoord: ‘Hoe kan ’n mens verskoning vra as jy altyd reg is?’

En hy bedoel dit.

Sy woord was wet: Wat, hoe en hoekom ons dinge koop, waar ons vakansie hou . . . Enige voorstel van my is summier van die tafel gevee, behalwe as dit hom sou pas. Ek mag nooit geregte op my manier maak nie. Ek moes kos maak soos dit in sy ouerhuis gemaak is, ek moes stryk, mop, tafel dek, tuinmaak . . . soos hy dit wou hê.

Ek het eenkeer twee stoele vir ons huis gekoop en moes dit verleë terugvat en die winkelvrou smeek om dit terug te neem, want die stoele was ‘aaklig’ in sy oë en ‘sulke *** staan nie in my huis nie’. My man het ook altyd die duurste en mooiste karre en grootste huis gekoop, want dit beïndruk ander. Met die koop van ons eerste huis het ek so bitter skaam gekry toe hy weier om uit die agent se kar te klim om na gewone drieslaapkamerhuise te kyk soos ander jong mense van ons ouderdom. Hy wou dadelik ’n groot huis en tuin hê. Of ons dit kon bekostig of nie. My man beskou gewone, hardwerkende mense as lui en sleg. Sy maatstaf daaroor is verwronge en sy standaarde is ver bo die gemiddelde. Hy is freneties en dryf homself ook geweldig.

’n Ander kenmerk van die narsis is dat hy onmiddellik ’n argument teen hom omdraai en terugprojekteer. Hy verbreek sy beloftes maklik en draai sy stories om soos dit hom pas. As jy hom daaroor uitvra, sal hy net sê: ‘Wel, ek verbreek my belofte nou en dis hoe dit nou is.’

Hoe meer ek nagelees het oor narsisme, hoe meer het ek gevoel hoe ek myself bemagtig . . . Ek het sommer openlik boeke oor die onderwerp in die huis laat lê. Die probleem was in hom, nie in my nie. Ek het baie diskreet hier en daar met ’n vriendin hieroor begin praat en my genesing het begin. Ek het lig begin voel en wou vlieg van vreugde en bevryding. My kinders (nou al uit die huis) is ingelig dat daar ’n ‘probleempie’ met Pa is, maar dit is ál. Hy bly hul pa en hulle is lief vir hom. Ek wil hom nie afkraak voor hulle of enigiemand anders nie, maar dis ook nie reg dat hy skotvry daarvan afkom nie. Die heel belangrikste is dat ander slagoffers bemagtig moet word. Dit is hoekom ek my storie deel.

Op ’n dag het ek krag by die Heilige Gees gekry, ek is oortuig daarvan. Ek het ná werk op die stoep gaan sit en met my man begin praat. Voor die tyd het ek gebid dat ek asseblief nie sal begin huil sodat hy geïrriteerd met my raak nie. Toe ek praat, het hy sy oë een of twee keer gerol, maar nie kwaad geword of ’n woord gesê nie. Ek kon enduit praat. Ek het ’n innerlike krag en vrede ervaar wat ek werklik nie kan beskryf nie. Ek was glad nie angstig of bevrees nie. Ek het in elk geval by die point of no return gekom.

Ek het nie die moed gehad om die woord narsisme te gebruik nie, maar ek het dit duidelik gestel ons weet albei dat hy al baie jare ’n groot probleem het – waaroor ons nooit praat nie. Ek het vir hom verduidelik wat sy manipulasie, alewige beheer en veral sy verskriklike woedeuitbarstings aan my doen. My boodskap was min of meer: Jou kritiek op my onvermoë as mens (volgens jou) gaan my nou verby. Ek het lief geword vir myself en weet ek is ook menswaardig, al dink jy wat.

Ek stel nie ’n ultimatum aan jou nie, ek weet jy kan hierdie probleem nie verhelp nie. Jy moes duidelik heeltyd as kind veg om liefde en aanvaarding te kry. Ek het niks meer oor nie, behalwe my God. Dink na oor wat ek vir jou gesê het. Ek het stadig en veerlig weggeloop.

Hy het tot vandag nie weer ’n woord daaroor gepraat nie, maar ek kan sien hy probeer om sy bose alter ego te beveg. Hy kry dit nie altyd reg nie, soos as hy moeg is of ’n wyntjie te veel in het, maar ek kan in alle eerlikheid sê hy wend ’n bo-menslike poging aan. Hy het in al hierdie maande nog nie weer ’n woede-uitbarsting gehad nie. Ek het wel voorgestel dat ons meer dikwels apart vakansie hou, want dis wanneer die meeste van sy uitbarstings plaasvind; as hy buite sy magsfeer is, waar hy nie heeldag gevlei en ’n ophef oor hom gemaak word nie, en waar hy dan nie meer in beheer voel nie.

Ek was aanvanklik geweldig wrokkig, hatig, verbitter, sinies en aanvallend. Dit was later so erg dat hy oplaas op ’n dag moedeloos uitgeroep het: ‘Hoe lank gaan jy nog so verskriklik wrokkig bly?’ Ek het besef ek moet aanbeweeg en begin vergewe. Dit was en is steeds soms uiters moeilik. Nie net omdat hy my hele lewe opgemors het nie, maar daar is ook die verskriklike teleurstelling in myself, omdat ek dit toegelaat het. Hoe kon ek myself so willens en wetens toelaat om ’n slagoffer te wees? Ek was sekerlik self ook maar skuldig, want ek het ook ’n vals front van 'gelukkig en suksesvol’ voorgehou.

Maar ek kan getuig daar is ’n God. My raad aan ander slagoffers is: As jy die dag besef dis narsisme, stap weg. Dit is nie die moeite werd om te bly nie. As ek kon kies, sal ek nie weer só kies nie. Dit is hel. Jy is ewig en altyd in ’n klein tronksel, sonder enige vryheid.