SARIE-leser vra:

Ek gaan al sowat ’n jaar lank uit met ’n man wat die ewige vrygesel is. Almal het my gewaarsku dat hy nooit tot trou gaan kom nie. Hy is al veertig. Maar hy is aantreklik, suksesvol en charismaties. Ek was vas oortuig ek is die een wat hom tot ander insigte gaan bring. Want ’n man en kinders is onlosmaaklik deel van my toekomsprentjie. Deesdae baklei ons aanmekaar. Veral as die toekoms ter sprake is. Moet ek die pad vat? Of kan ek iets doen om hom tot ander insigte te bring?

DR. ADELE PRETORIUS, kliniese sielkundige, Kaapstad

Dis nie net mans wat sukkel om hulle op lang termyn aan iemand toe te wy nie, party vroue is ook maar skrikkerig daarvoor. Maar mans is veral huiwerig om hulle permanent te verbind – om ’n verskeidenheid redes:

  • Die einde van sy vryheid. Mans is van nature onafhanklik en hou daarvan om volgens húl reëls te leef. Hulle dink dikwels as ’n vrou in die prentjie verskyn, moet hulle alles met haar uitklaar en dít laat hulle vasgevang voel.
  • Verlies aan persoonlike ruimte. Mans het baie plek nodig vir dinge soos sporttoerusting en voertuie. Hulle het ook hul eie ruimte nodig om aksierolprente en sport te kyk. Hulle vrees dikwels dié spasie gaan “vervroulik” word met blomme, gordyne en kussings wat hul aktiwiteite in die wiele kan ry.
  • Een seksmaat vir ewig. Dít is ’n vreesaanjaende gedagte vir sommige mans omdat hulle bang is een maat verveel hulle mettertyd.
  • Geen sosiale druk. Daar is baie minder sosiale druk of die verwagting dat pare jonk moet trou, en mense is vry om verskeie opsies te oorweeg voor hulle trou (of kinders kry). Mans wil dikwels hul opsies so lank moontlik oophou om vordering in hul loopbaan te maak, geld te spaar en bates aan te skaf, te wag op die “perfekte vrou” en met baie “kandidate” uit te gaan. Dit is strydig met baie vroue se behoefte aan sekuriteit en ’n gesin.

As jy oortuig is hy is die man vir jou, moet jy slim wees en geduldig wag. Jul verhouding gaan nie verbeter as jy allerlei spertye en ultimatums stel nie. Gee hom ruimte, wys jy verstaan, moet hom nie versmoor nie, geniet wat julle wel saam doen. Miskien het hy vrese wat spruit uit disfunksionele gesinsverhoudings uit sy kleintyd, of dalk het hy in ’n vorige romantiese verhouding baie seergekry. Moedig hom aan om oor sy vrese te praat. Jy sal weet wanneer dinge geen kans meer het nie. Dán moet jy maar aanbeweeg.

ANRI VAN DEN BERG, kliniese sielkundige en verhoudingsterapeut, Pretoria-Oos

Dit is goed om toekomsverwagtinge te hê, maar staan ’n oomblik stil en vra: “Wil ek ’n ‘ideale eendag’ hê, terwyl ek nóú eintlik baie het om voor dankbaar te wees?”

Kyk na al die positiewe eienskappe waaroor jou vriend beskik: hy is suksesvol, charismaties en aantreklik.

Maar wil jy nie ook weet oor watter “hartsdinge” hy beskik nie? Vra jouself eerlik af of emosionele eienskappe soos empatie, humor, lojaliteit, positiwiteit, eerlikheid en ’n liefde vir diere nie punte vir jou sal tel nie. Hét hy dit, of minstens van die eienskappe wat vir jou belangrik is?

Sekere lewenswaardes wat vir jou belangrik is, is vir seker ononderhandelbaar en jy moet dit met hom bespreek. Dit is jou reg. Het jy al rustig gesit en gedink oor ’n moontlike toekoms saam met hom? Het jy hóm al gevra of en hoe hy ’n toekomsprentjie vir julle sien? Jy sê self dat julle stry as die toekoms ter sprake is. As julle nou al baklei, kan jy dink hoe dit gaan wees as julle vir ewig saam is. Vir ’n gesonde, standvastige verhouding is dit baie belangrik om saam te stem oor die toekoms. Daarsonder kán dit nie werk nie. As een van die twee nie opgewonde oor die toekoms is nie, het jy mos nou al jou antwoord …

Die gevaarklokkies moet baie hard lui as jy glo en oortuig is jy kan sy idee oor jul verhouding verander. Geen mens kan iemand anders verander nie. Jy kan iemand ook nie “laat pas” by jou ideale prentjie van ’n lewensmaat nie. Onthou, verandering is iets wat van binne-af gebeur. Bygesê, mense kan wel saam groei en by mekaar leer.

VIR NAVRAE Anri van den Berg | 082 541 4357 | www.vitanova.co.za November 2014 andrea streso nov   In die November-uitgawe van SARIE gee twee kenners raad vir mense wat aanhou uitstel, of procrastinate.