Sulke dierbare mense ... Tsk ... tsk ... klap die bure van Martin en Jenny van der Merwe van Port Elizabeth tong. Hulle was so ’n normale egpaar. Hy’t nog Sondag die reënmeter leeggemaak en allerhande werkies om die siersteenhuis gedoen.

Intussen lê sy vrou se lyk in die vrieskas ... Dood weens ’n hou teen die kop met ’n stomp voorwerp. Enkele ure later het hy homself opgehang, volgens Netwerk24.

In Suid-Afrika word drie vroue daagliks deur ’n eggenoot, minnaar of eks vermoor. Dis een elke agt uur, negentig ’n maand ... Wêreldwyd word 119 vroue per dag deur ’n intieme maat of familielid vermoor – een elke 12 minute. 

Daar is ’n onsigbare oorlog teen vroue, sê joernalis en skrywer Schalk Schoombie. Nie net in sogenaamde ontwikkelende, arm lande nie, maar ook “beskaafde” plekke met wette in plek daarteen. So pas het sy boek daaroor, Tot die dood ons skei: Mans wat hul vroue vermoor (Human & Rousseau, 2018), verskyn.

Die voorval kan wêreldwyd opslae maak, soos met die Amerikaanse voetbalheld O.J. Simpson destyds. Hy is uiteindelik vrygespreek van die moord op sy vrou, Nicole, en ’n vriend. Dit kan bisar wees, soos Joel Mahoase van Amanzimtoti wat sy vrou, Lesego, met ’n handgranaat opgeblaas het. Dalk word ’n huurmoordenaar ingespan: Christopher Panayiotou het R70 000 betaal om sy vrou, Jayde, te laat vermoor omdat dit hom glo te veel geld gekos het om haar én sy minnares gelukkig te hou.

Reeva Steenkamp, Anni Dewani, pas weer die twee boesemvriendinne wat in die Stella-skoolkoshuis vermoor is en waaroor die een se eks-kêrel glo gebieg het ... En sovele ander van wie skaars in koerante melding gemaak word. ’n Netjiese prentjie van dié man soek jy verniet. Nasionaliteit, kleur, ouderdom, kinderjare, geleerdheid, loopbaan, vorige misdaadoortredings: daar is nie ooreenstemming nie. Dit kan jou vaal buurman wees. Of jou joviale kollega.

FOTO: Getty / Gallo Images
FOTO: Getty / Gallo Images

Net so uiteenlopend is die wapens wat gebruik word. Messe, pylgewere, klippe, toiletbak se deksel, handsae, bore, so asof hy die ding gryp wat die naaste is. Kevin Smitham, ’n Brit, het onlangs sy vrou, Kanda, doodgeskop. Meestal is dit ’n vuurwapen, dalk omdat dit tradisioneel ’n man se wapen is, volgens Schalk.

Hetsy ’n passiemoord, in die hitte van die oomblik. Of fyn beplan, oor tyd. ’n Man staan nie net een oggend op en besluit hy gaan sy vrou vandag vermoor nie. “Daar is dikwels ’n patroon, ’n lang aanloop, waarskynlik fisieke, emosionele en/of geldelike mishandeling,” sê dr. Pixie du Toit, forensiese kriminoloog van Pretoria. Sowat 84% van haar werk bestaan uit gesinsgeweld.

En Schalk sê: “Dis onmoontlik om oor intieme vrouemoord te praat sonder om nie ook huishoudelike geweld te noem nie. Dis spanmaats.”

Dikwels is dit iemand met ’n skadu-kant, maar nie noodwendig sigbaar vir die wêreld daarbuite nie. Kennisse en kollegas kan dalk nie glo hy het dit gedoen nie.

Maar sy vrou kán. En sy kinders. Gereeld hoor jy daarna sy het vir iemand, ’n vriendin, sielkundige, maatskaplike werker, gesê: “Hy gaan my vermoor.” Hulle dink sy oordryf.

Mense wat hom goed ken, sal dalk ná die tyd sê die gevaartekens was daar. Jaloesie, besitlikheid, ’n vinnige humeur, dominerend. ’n Moeilike man.

Volgens dr. Du Toit hou die vrou as slagoffer óók ’n front voor. “Sy’s skaam en wil nie hê mense moet weet nie.” Jy is ook nooit te oud om deur jou man vermoor te word nie. Kobus Groenewald (84) van Stilfontein het sy vrou, Dienkie (69), met ’n kierie doodgeslaan.

Sy kinders vertel hy was altyd ’n gewelddadige man, dat hulle altyd bang was vir hom.

Swangerskap kan dit ook nie keer nie. Hy voel dalk hy gaan haar aandag met die kind moet deel, of dis ’n geldelike las. Hy gee voor hy sien uit na die baba se koms, maar in sy kop beplan hy moord, volgens Schalk.

Een ding waaroor kenners saamstem, is dat intieme vrouemoorde se wortels in die patriargale sienswyse lê. Schalk sê: “Hy wil totale beheer oor haar uitoefen, soos ’n alsiende oog. Sy is ’n besitting wie se lot hy kan bepaal.” En André le Roux, skrywer van Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste (Tafelberg, 2017): “Dis ’n onding en ons word so groot. Daai man moet besef hy’s niks beter as sy vrou nie.”

Die kritieke tyd vir ’n intieme vrouemoord, is navorsers dit eens, is net voor of ná sy haar man verlaat. Sommige studies wys tot 75% van die moorde vind dán plaas. Die gevaar neem mettertyd af, maar daar is mans wat dit jare later doen as sy eks ’n nuwe verhouding aanknoop, of weer wil trou.

Dis ’n mite dat ’n man wat nooit sy hand teenoor sy vrou sal lig nie, haar nie sal vermoor nie. André sê: “Die bedeesde outjie kan ook moord pleeg.”

’n Veel groter gevaarteken is as hy haar obsessief dophou, haar e-posse en aktiwiteit op sosiale media monitor en haar teister deur aanhoudend te bel, te e-pos en onverwags ongenooid by haar op te daag (stalking). ’n Studie het bevind 76% van vroue wat deur hul maat vermoor is en 85% wat dit oorleef het, is só geteister, volgens Schalk.

FOTO: Getty / Gallo Images

Ja, daar is ook vroue wat mans vermoor, maar dikwels word dit deur jare se mishandeling voorafgegaan.

Anders as mans, sê André, gebruik vroue gewoonlik ’n nie-bloedige manier, iets minder persoonliks as ’n wapen. Gif, of sy rand hom aan terwyl hy slaap, verwurg of verdrink hom. Of sy gebruik ’n huurmoordenaar.

Nes die intieme vrouemoordenaar, kan sy slagoffer nie in ’n kassie geplaas word nie. Behalwe vir een eienskap, volgens André: aangeleerde hulpeloosheid. ’n Gevoel van magteloosheid. “Ek kan nie opstaan teen hom nie, ek’s vasgevang.” Sy loop later op eiers, wil niks sê of doen om hom uit te lok nie.

’n Onsigbare oorlog ... hoe nou? Die antwoord begin by hoe jy jou seun grootmaak, sê Schalk. Met rugby en jag as gode en die idee dat ’n man nie durf uitdrukking gee aan diep, menslike emosies nie? Dat geweld, vloek en skree as oplossing vir probleme gebruik word? Leer hom liefs van kleins af Pa is nie die enigste gesagsfiguur nie. Daar moet ’n balans van mag wees. As hy ewe veel liefde, respek en agting vir albei ouers het, sal hy dit waarskynlik eendag na sy eie gesin oordra.

Volgens dr. Du Toit geld sulke aangeleerde gedrag ook vir meisies. Sy sien as Ma telkens die knie buig voor Pa: “Ek’s jammer, my man.” As sy ’n passiewe ingesteldheid het en nie opstaan vir haar regte nie. “Ouers is steeds ons grootste rolmodelle. Kinders is soos sponse. Wat in hul ouerhuis gebeur, word herhaal wanneer hulle groot is.”

Verandering begin ook by jóú. As jou man jou die eerste keer slaan, moet dit die laaste keer wees. Doen jy niks nie, gaan dit weer gebeur. En glo dit maar, dit gaan toeneem in intensiteit, meer gewelddadig raak. Dis ’n voorspelbare patroon. Totdat hy jou dalk met ’n mes steek, of skiet, sê sy.

“As hy sy hand teen jou lig, gaan sien sáám ’n berader. Staan jou man. ‘Jy’t nou gevloek en geskree, die eerste en laaste keer. Jy is gestres, maar haal dit nie op my en die kinders uit nie.’”

Pasop!

“What Happens Before An Intimate Partner Homicide”, ’n praatjie op YouTube deur Neil Websdale, gee ’n oorsig van die tekens waarvoor vroue in hul pasoppens moet wees, wanneer mishandeling moord kan raak.

Gebruik hy ’n wapen soos ’n mes of vuurwapen as deel van die mishandeling? Selfs al doen hy dit nie, is die gevaar groter as daar ’n vuurwapen in die huis is.

Wurg hy jou gereeld? ’n Man wat sy vrou vermoor, het haar waarskynlik al gewurg as deel van die mishandeling.

Dwing hy jou om seks te hê of verkrag hy jou? Sy metode hoef nie gewelddadig te wees nie. Dreig hy om jou te vermoor en word die dreigement dringender en gereelder?

Het die aanranding die afgelope ses maande vererger of toegeneem?

Monitor hy jou obsessief?

Is hy jaloers en loop dit telkens op geweld uit? Het hy jou ooit aangerand terwyl jy swanger was?

Begin die mishandeling ander vorme aanneem? Loop sielkundige mishandeling oor in geweld?

Voel jy vasgevang? Hy het ook emosioneel ’n greep op jou. Daar bestaan ’n vreemde interafhanklikheid tussen julle wat moeiliker is om te verbreek as die verhouding. In een geval het ’n vrou haar man verlaat en sy was in die motor, op pad na haar nuwe lewe toe. Hy het gebel en gesê hy is pas met kanker gediagnoseer. Sy het teruggedraai en hy het haar doodgeskiet. Emosioneel kon sy haarself nie losmaak nie, hoewel sy reeds honderde kilometer weg was.

Dink jy hy kan en wil jou vermoor? Jy ken sy buie haarfyn en kan sy gedrag goed voorspel.

Drie soorte

’n Studie in ’n tronk in Israel het drie soorte intieme vrouemoordenaars aan die hand van persoonlike, interpersoonlike en omgewingsfaktore geïdentifiseer, skryf Schalk in Tot die dood ons skei.

Hy voel verraai. Sy het by ’n ander man geslaap en hy neem haar kwalik dat die huwelik daarom verbrokkel het. Hy’t as kind nie ’n beskermende ouerhuis gehad nie en sy wêreld draai om sy gesin. Sowat ’n derde van die mans in die studie het in dié groep geval. Nie een het sy vrou voorheen mishandel nie.

Hy voel verwerp. Hy vermoor haar omdat sy hom wil verlaat. Hy is uit die staanspoor obsessief, maar nie juis gewelddadig nie. Sy obsessiewe gedrag ontaard later in teistering, gevolg deur dreigemente as sy die verhouding wil verbreek. Die moord vind tipies plaas terwyl sy haar tasse pak, of binne weke nadat sy padgegee het.

Die tiran gebruik sielkundige, emosionele, fisieke en/of seksuele geweld om haar te beheer. Hulle is jare lank getroud met kinders en haar rol is om na sy behoeftes om te sien. Hulle is gewoonlik lank voor die moord uitmekaar en daar is ’n uitgerekte, onaangename egskeidingsproses met ’n bakleiery oor die kinders en onderhoud.

FOTO: Getty / Gallo Images

’n ‘Gevaarlike’ man

Watter rol speel persoonlikheidsteurings (nie ’n siekte nie) soos psigopatie of narsisme?

Een van die eienskappe van ’n narsis is dat hy hom dinge aanmatig (sense of entitlement), sê André le Roux, skrywer van Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste. “Hy dink hy is geregtig op dinge, mense skuld hom iets. Hy beheer sy gesin en as hulle skeeftrap, raak hy kwaad. Jy durf hom nie teëgaan nie. Hy’s belangriker as jy. Dan los jy hom. Hy wil die een wees wat jóú los, nie andersom nie. Hy redeneer: ‘As ek jou nie kan kry nie, kan niemand nie.’ En hy pleeg moord.”

As jy te doen kry met so ’n “gevaarlike” man, moet daar rooi ligte flikker. Want hy’s onvoorspelbaar, sê André. Maar ook ’n “doodnormale” man kan ’n intieme vrouemoord pleeg, gedryf deur ’n motief soos geld. ’n Netjiese kassie is daar eenvoudig nie vir dié man nie.