Nadat hy en sy vrou twee weke lank alleen in hul kajuit op die Diamond Princess-passasierskip in kwarantyn moes deurbring, het een passasier aan The Wall Street Journal vertel hoe hulle die tyd met lang gesprekke verwyl het en sy vrou haar “merkwaardige geheue” ten toon gestel het. “Sy het die vermoë om elk van my oortredings op te rakel, en ek dink nie sy is klaar nie!” het hy gesê.

Inperking weens die Covid-19-pandemie – in ’n stadium was tot die helfte van die wêreld se bevolking onderhewig aan een of ander vorm van isolasie – het eise gestel aan verhoudings reg oor die wêreld.

In sommige lande is reeds berig hoe dit sy tol op huwelike begin eis. Nadat isolasiemaatreëls in Maart in China verslap is, het talle paartjies hulle tot die skeihof gewend, en familieregkenners voorspel dieselfde gaan in Amerika gebeur. In die Verenigde Koninkryk het Ayesha Vardag, Brittanje se sg. Queen of Divorce, aan die Evening Standard gesê dat Londense regsfirmas hulle staal vir ’n toename in skeisake – hulle is tydens lockdown oorval met oproepe van mense wat die situasie nie meer kon verduur nie.

Rampe is dikwels ’n katalisator in ’n verhouding, sê die Belgiese verhoudingsterapeut Esther Perel, wat onlangs ’n nuwe podsending, Where Should We Begin?: Couples Under Lockdown, bekend gestel het. “Jy word bewus van jou eie sterflikheid. Dis dan wanneer mense sê: Die lewe is kort. Ek het lank genoeg gewag. Nou vat ek die pad.”

Tog maan dr. Elize Morkel, kliniese en voorligtingsielkundige van Somerset-Wes, mense moenie net aanneem dat die probleme wat hulle met inperking ervaar het, ’n betroubare aanduiding is van die gehalte en potensiaal van hul verhouding nie. “Dis ’n uitsonderlike tyd waarin ons leef. Pare wat dalk andersins goed oor die weg kom en eintlik baie raakpunte het, kan vind dat die spanning wat die pandemie op soveel vlakke veroorsaak, ook hul verhouding affekteer. Mense reageer verskillend in stresvolle tye. Dis ’n ongekende en onbekende situasie: om ontneem te wees van byna alle persoonlike vryheid terwyl jy ’n onsigbare vyand vrees. En daar is ekstra emosionele druk omdat julle moet aanpas by ’n nuwe roetine en nuwe verpligtinge, alles te midde van ’n onseker toekoms.”

Om ingeperk te wees kan verskillende uitdagings vir pare inhou, sê dr. Morkel:

  • Te veel tyd saam (baie verhoudings het ruimte nodig om gesond te bly);
  • Te min afleiding (die meeste verhoudings word verryk en gestimuleer deur ’n maat se betrokkenheid by mense en aktiwiteite buite die verhouding);
  • Ekstra verpligtinge en rolle (ongelukkigheid of konflik oor byvoorbeeld wie wat moet doen);
  • Vrese en bekommernisse oor finansies en loopbaansekuriteit (jou maat voel dalk magteloos, is buierig en so gefokus op sy kwellinge dat hy “afwesig” is, en dit lei tot ’n verwydering tussen julle);
  • Onsekerheid oor die toekoms (party mense reageer veral sleg op onsekerheid, wat weer druk op die verhouding plaas).

Dit alles kan spanning meebring, sê sy. Aan die ander kant kan so ’n grendeltyd ook verhoudings laat groei: Baie mense het in dié tyd hul maat in ’n ander konteks gesien, hom of haar opnuut leer ken en waardeer, en vir baie was daar selfs weer ’n nuwe spark.

’n SARIE-leser vertel sy en haar man (albei werk voldag) het “ná die eerste bonus van dae aaneen in mekaar se geselskap wees”, op mekaar se senuwees begin werk, veral oor hul gewoontetjies. “Maar later het ons grappies gemaak oor wie s’n die irriterendste is – en toe is die angel daaruit! Humor het ons hierdeur gedra – ek het al vergeet hoe lekker hy my kan laat lag.”

Dit het ’n bietjie inspanning en tyd van paartjies en gesinne geverg om ’n roetine en ritme te ontwikkel, maar dit klink asof baie daarin geslaag het, sê dr. Morkel. Mense het ruimte gemaak vir alleen- en saamwees-tyd. Mans het in broodbakkers en vermaaklikheidskunstenaars ontpop, ma en pa het in aflosspanne kinders opgepas én gewerk en saam projekte aangepak wat gesinsbande versterk het.

Die kwesbare pare in dié tyd was diegene wat al vooraf krake in hul verhouding gehad het. Inperking was die vergrootglas, sê dr. Morkel. “In ons besige lewens is dit maklik vir paartjies om maar so op die oppervlak te leef, bo-oor probleme en verskille. Baie mense raak so bedrywig met beroepe, kinders, organisasies, probleme van hul uitgebreide familielede, sport- en sosiale aktiwiteite, dat hulle die emosionele intimiteit van hul verhouding afskeep en vervreemd raak van mekaar.”

Met die grendeltyd het daardie “besigwees” en “trimmings” weggeval. Daar was meer tyd vir introspeksie, oor wat werklik belangrik is. Mense het dinge ervaar en raakgesien wat hulle andersins nie sou nie, en hul keuses en leefstyl begin bevraagteken, verduidelik sy. “Ek dink party mense het ‘geskrik’ vir die persoon met wie hulle saamleef en vir die gebrek aan ’n konneksie toe hulle hulself in dié situasie bevind waar die krake in hul verhouding so blootgelê is – krake wat hulle vroeër nie raakgesien het nie.”

Hoe nou gemaak?

’n Swak huweliksverhouding en onderdrukte probleme kan jou liggaamlike, geestelike en emosionele gesondheid affekteer, sê Gerda. As jy en jou maat tydens inperking probleme ervaar het waaroor jy jou kwel, moenie dit ná die inperkingstyd bloot los of ignoreer nie. Dit sal nie vanself regkom nie.

Die eerste stap is om te erken dat julle ’n probleem het. Gee die probleem ’n naam. Julle kan dalk verskil oor wat die werklike probleem is, maar dit dwing julle om op ’n dieper vlak te kyk na die verhouding.

Volgens Gerda moet albei liefs instem om aan die verhouding te werk. “In my praktyk vind ek dat paartjies dikwels probeer om self die probleme op te los. Teen die tyd dat hulle besef hulle het hulp nodig, is albei al so emosioneel ‘verniel’ dat die herstelpad lank en moeilik is. Hoe gouer julle hulp kry, hoe beter.”

Dr. Morkel stel voor dat paartjies aanklop by ’n professionele persoon wat vertroud is met verhoudings-werk. “Hy of sy sal julle kan help om probleme wat tydens die inperking opgeduik het, te beoordeel en saam met julle daaraan werk.”

Gerda de Villiers, leefstylafrigter van Somerset-Wes, sê paartjies kon in afsondering (veral in ’n beperkte ruimte) nie die kans kry om te ontvlug van onopgeloste kwessies wat dalk al lank deel was van die verhouding nie. “Die deur waardeur hulle gewoonlik van onaangename situasies ontsnap het, was gesluit. Daardie deur is tipies dinge soos om langer ure by die werk deur te bring, besoeke aan vriende en familie, sport, inkopiesessies . . .”

Volgens Gerda is paartjies veral kwesbaar as hulle al voorheen in hul verhouding angs, seer, woede, frustrasie en spanning ervaar het – en die kwessies nooit opgelos is nie. “Sulke gevoelens kon deur die inperking vererger word. As hulle boonop vasgevang gevoel het, magteloos, onseker oor die toekoms, verveeld of selfs eensaam, dan is dit waarskynlik dat hulle ná ’n ruk eenvoudig net nie meer die lus of energie sou hê om aan die verhouding te werk nie, en opgee.”

Ook in verhoudings wat reeds skade gely het weens ’n vertrouensbreuk soos ’n affair, oneerlikheid oor finansies, ’n gebrek aan ondersteuning of weens geweld, is die kanse goed dat negatiewe emosies weer tydens inperking na die oppervlak sou kom en verdere skade aangerig het, sê dr. Morkel.

Die kliënte oor wie sy haar veral bekommer het toe die lockdown afgekondig is, is paartjies wat reeds erge verhoudingspanning ervaar het. “Om saam in gedwonge afsondering te leef met soveel sterk negatiewe emosies maak die gevaar van geweld en emosionele afknouery baie hoog. Finansies speel ’n groot rol in ’n egskeiding. Party mense kan dit bloot nie bekostig om te skei nie – ek is bevrees dat die pandemie se uitwerking op die ekonomie dinge nog meer gaan kompliseer en ongemaklik maak.”

Ekstra bronne: theatlantic.com; thecut.co.za

Kontak

  • Dr. Elize Morkel: 021 850 0004, elize@elizemorkel.co.za, elizemorkel.co.za
  • Gerda de Villiers: 021 852 5374, gerda@livelifecoach.co.za, livelifecoach.co.za
LAAT INPERKING VIR JULLE WERK

Net die tyd sal leer hoe lank gedeeltelike inperking nog sal geld en of dit dalk selfs weer ten volle ingestel kan word. Gerda de Villiers gee raad:

  • Maak ’n lys van elkeen se prioriteite. Waar prioriteite radikaal verskil, verbeel jou julle is in ’n sakevennootskap en gebruik die denkbeeldige platform om oor jul prioriteite te onderhandel. Spanning vererger wanneer jy aanneem en aandring daarop dat jóú prioriteite geld. Ons omarm enigiets wat lyk of dit ons prioriteite ondersteun en verwerp dinge wat dit bedreig. As jou maat dus iets doen wat in lyn is met hoe jy dit sien, voel julle na aan mekaar. Maar die teenoorgestelde is ook waar. As jou maat iets doen wat nie strook met jou prioriteite nie, raak jy verdedigend en selfs hardkoppig. ’n Introvert het byvoorbeeld baie alleentyd nodig terwyl die ekstrovert baie tyd nodig het om op sy/haar foon met vriende te gesels.
  • Skep ’n daaglikse roetine of skedule wat almal se basiese behoeftes akkommodeer. Roetine help ons om meer in beheer te voel van ons lewe, veral in ’n tyd van groot onsekerheid. Elkeen kry só tyd om daardie dinge te doen wat vir hulle persoonlik belangrik is – sonder dat hy of sy skuldig hoef te voel daaroor of iemand hom/haar teregwys. Roetine gee ook vastigheid vir kinders en skep balans tussen familietyd, werk, speel en rus.
  • Gun elkeen sy persoonlike ruimte en tyd. Terloops, as jul verskille baie konflik veroorsaak, skep ’n skedule met minimum kontak met mekaar.
  • Verdeel verantwoordelikhede. Maak ’n lys van dinge wat gedoen moet word. Elkeen kies wat sy/haar verantwoordelikhede is. Die ongewilde take kan weekliks afgewissel word.
  • Voed weer jul konneksie met mekaar deur speletjies, legkaarte, of deur foto-albums of video’s saam deur te kyk – die eindresultaat is baie lag en vreugde. Nostalgie lig ook mense se gemoed en laat hulle weer ’n groter verbintenis voel.
  • Fokus op die positiewe. Vertel jou maat wat jy van hom bewonder. Fokus op wat hy reg doen en sê dit. Vermy kritiek – dit het ’n baie klein uitwerking op gedrag en kan ’n verhouding tot ’n nuwe laagtepunt laat daal. Probeer ook dit wat jy wil bereik, positief en duidelik stel. Bv. “Ek wil met jou praat oor iets wat vir my moeilik is, maar ek wil nie hê jy moet aangeval voel nie. Dis nie omdat jy verkeerd is nie, dit is net dat ek dit nie baie goed hanteer nie.”
  • Gebruik die tyd om jul kommunikasie te verbeter. Praat is nie kommunikasie nie. Dis ’n vaardigheid om aan te leer, en dit sluit behoorlik luister in. As julle ouers is: Jul goeie kommunikasie is ook ’n uitstekende voorbeeld en leergeleentheid vir jul kinders.
  • Bedink planne A, B, C. Gebruik die tyd saam as ’n goeie geleentheid om aandag aan haakplekke en irritasies in verhoudings te gee, is dr. Elize Morkel se raad. Praat saam ou griewe uit of bedink saam planne A, B en C in ’n wêreld waar finansiële, gesondheids- en werksekerheid nie meer ’n gegewe is nie.