’n Geneul kan tot erge rusies,  onmin en selfs geweld in ’n verhouding lei. Wie moet die blaam dra? Nie net die neulpot nie

Op ’n dag besef jy jou liefie doen iets verkeerd. Uit liefde (natuurlik!) vestig jy sy aandag daarop en hy belowe hy wysig sy weë. Dit gebeur nie. Hy sê hy’t vergeet, of hy doen dit volgende keer. Maar niks verander nie en dinge gaan voort op die ou trant. Jou sagte aanmanings raak stadigaan skeller, kwater – totdat julle tierend op mekaar gil.

Drup, drup, drup . . . Enige twee mense kan in die patroon van neulpot en teiken vashaak. Ouer en kind, baas en werknemer. Ook in die huwelik, waar dit groot onmin kan veroorsaak. “Die vernietiger van huwelike: Meer algemeen as egbreuk en potensieel net so giftig,” skryf The Wall Street Journal op sy webtuiste (www.wsj.com).

Pare wat aanklop om berading, skop dikwels nie met dié klagte af nie, volgens Elise Fourie, sielkundige en huweliksberader van Pretoria. Maar met verloop van tyd duik dit op. Die geneul. Ja, dit bring baie frustrasie mee, vir albei. “Erge rusies en aggressie, onbetaamlike gedrag en ook geweld vind soms plaas as die een oormatig en knaend neul. En die ander een dit eenvoudig nie meer kan vat nie.”

Mans het dit selfs al as rede voorgehou waarom hulle hul vrou vermoor het, wys ’n Google-soektog. Van Amerika tot Duitsland en Brittanje het hulle al só hul straf probeer ontduik. Let wel: Nie in een geval het die hof dit as versagtende omstandighede aanvaar nie.

In die Rohde-moordverhoor plaaslik is getuig Susan het haar man, Jason, in die maande voor haar dood gepeper met whatsapps en telefoonoproepe. Hy word aangekla van haar moord. Jason het skuld ontken en hou vol dit was selfdood.

Nadat sy vir hom 93 boodskappe op WhatsApp in minder as twee dae gestuur het, laat weet hy: “Ek gaan nie langer onderwerp word aan jou aanhoudende getreiter [badgering] nie.” En ’n paar dae later: “Jy hou nie op bel nie. Dit maak my mal, Sue!” (Bron: Sunday Times, www.timeslive.co.za).

Neul het nooit tydens die hofsaak ter sprake gekom nie. Maar dit illustreer tog hoe twee mense mekaar se nerwe rou kan skuur.

’n Geldige rede vir moord en fisieke geweld? Nooit. Elise sê tereg: “Daar is ongelukkig mense met ’n baie kort lont wat makliker verbaal of fisiek aggressief raak. Selfs wanneer die geneul nie so erg is nie. Wanneer dit as regverdiging vir verbale of fisieke aggressie gebruik word, is daar ’n ander slang in die gras.”

Sitkoms vertel ons dis meer gereeld Eva wat so karring. En ja, sielkundige navorsing beaam vroue is twee keer meer geneig daartoe as mans, volgens The Wall Street Journal. Elise is egter versigtig om die etiket net om vroue se nek te hang. Soms is die rolle omgeruil. “Dis dan die man wat neul en sy vrou wat hom daaroor verkwalik. Mans karring oor ander dinge, byvoorbeeld finansies, haar spandabelrigheid, die vuil motor, haar oormatige netheid, hoe moeg hy is en hard hy werk,” sê sy.

Hy kla ook gewoonlik meer in die slaapkamer en dis die vrou wat dan ontwykend raak, is bevind in ’n Amerikaanse studie, volgens ’n blog op psychologytoday.com.

Maar dalk is vroue meer geneig om te neul, bloot omdat hulle meer het om te doen. Hulle word gekondisioneer om meer verantwoordelik vir huis en haard te voel. En is boonop meer sensitief vir vroeë tekens van probleme in ’n verhouding. As ’n vrou iets vra en nie reaksie kry nie, kom sy vinniger agter als is nie wel nie. Die probleem is egter dat sy dinge vererger deur aanmekaar daaroor te praat, volgens nog ’n blog op psychologytoday.com.

In ons moderne samelewing, waar baie vroue voltyds werk, deel mans toenemend verpligtinge by die huis, sê Elise. “Ongelukkig is daar nog baie mans wat dit beskou as ’n kwessie van ‘ek sal haar help as sy vra’. Dus: In sy oë is dit steeds hoofsaaklik haar verantwoordelikheid. Sy neul aanvanklik baie, totdat sy opgee en ophou kla. Met mettertyd ’n verlies aan emosionele intimiteit.”

Dit kan ook wees dat vroue dikwels sukkel om hul behoeftes direk oor te dra, volgens die mediese webtuiste webmd.com. Elise glo egter dis vir albei geslagte moeilik om hul behoeftes te verwoord. En dat gebrekkige kommunikasie dalk ’n groter rol in huweliksonmin speel as ’n geneul. “Wanneer die een voel hy/sy word nie ‘gehoor’ nie en nie weet hoe om dit te hanteer nie, kan dit tot ’n neulery lei.”

En ja, so ’n getorring dui beslis op behoeftes wat nie raakgesien en bevredig word nie, volgens Marlize Heppell, sielkundige van Klerksdorp. “Want dis sekerlik vir niemand lekker om heeldag te kla nie. Die onbevredigde behoeftes kan selfs iets heeltemal anders as huistake wees waarmee nie gehelp word nie. So ’n dieperliggende onvervuldheid kan as ’n geneul oor iets alledaags te voorskyn kom, soos ’n vullissak wat oorloop.”

Mans is soms geneig om van kritiek/versoeke te onttrek omdat dit vir hulle voordelig is om die status quo te handhaaf, volgens die genoemde studie in psychologytoday.com. “Wanneer een ’n klagte opper – dus neul – bly die ander een stil, probeer die onderwerp verander of loop.” Elise noem dié optrede erge passiewe aggressie. Albei raak later moeg vir die negatiewe sirkeldans: Jy vra, word geïgnoreer, raak kwaad en moet weer vra. Neul help nie en onttrekking van mekaar maak dinge net erger, volgens die blog.

Daar is wrokkigheid aan albei kante. Die een aan die ontvangkant van die neulery kan begin uitstel, of weier om toe te gee. Beslis nie ’n doeltreffende manier om ’n geneul te hanteer nie, sê Elise. “As daar ’n geldige rede vir die gemor is, raak die neulpot mettertyd ál meer knorrig. Die boodskap wat sy kry, is: ‘Jou behoeftes is onbelangrik.’ Of erger: ‘Jy is nie belangrik genoeg dat ek jou hoef te antwoord nie.’”

Dié negatiewe sirkel moet verbreek word. Nie een is boonop sonder blaam nie. Nie die neulkous nie en ook nie die een aan die ontvangkant daarvan nie. Want dit neem twee mense om so ’n patroon te vestig. Eerder as om mekaar te blameer, soek na beter maniere om te kommunikeer.

Is jy ’n neulpot? Vra jouself af waaroor dit eintlik gaan, sê Marlize. Voel jy jou lewensmaat neem jou oor die algemeen nie in ag nie? En dat jy oorweldig raak deur die sleurtakies in die huis? Dalk is jy gefrustreerd omdat dit lyk asof hy net eenvoudig met sy lewe aangaan en jou tuis met die sak patats los? Miskien bekommer jy jou oor ’n onderliggende probleem en projekteer jou stres op jou maat? Dink eerlik daaroor na en probeer by die kernoorsaak vir jou geneul uitkom. As jy bloot ophou neul, gaan jou ongelukkigheid net op ’n ander plek oorkook – en opnuut spanning skep.

Indien jy oorweldig voel deur huistake en gefrustreerd is omdat jy reken jou lewe het op een plek gestol, moet jy dalk na die groter prentjie kyk. Is jy nie net in ’n lewensfase waar jy byvoorbeeld meer aan sleurtake blootgestel word nie? Is dit jou maat se skuld? Pak die probleem dan op ’n realistiese manier aan. Praat daaroor, verdeel die take sodat julle albei daarmee tevrede is. Stippel die gevolge uit as die take nie uitgevoer word nie. Hou jul vordering dop en maak aanpassings waar nodig, sê sy.

Dit behoort ’n eenvoudige som te wees. Albei het verantwoordelikhede wat nagekom moet word. As al twee hul kant bring, is dit vir niemand nodig om te kerm nie. “Ongelukkig is sommige huweliksmaats nie geseën met emosionele volwassenheid nie en klein takies raak jakkalsies wat die wingerd verniel. Dit kan tot ernstige huweliksprobleme lei – want die een gaan heeltyd voel sy/haar behoeftes word nie erken nie. Dan het jy ’n probleem wat moontlik ’n emosionele afstand tussen julle kan skep.”

Probeer die heuningkwas, is die raad van die Amerikaanse verhoudingskenner dr. Tammy Nelson in ’n blog op huffingtonpost.com: “Waardering is die teenoorgestelde van teleurstelling. Jy is dalk gefrustreerd omdat jou maat nie die vullis uitvat nie, maar jy hou daarvan dat hy skottelgoed was. Vertel hom jy sien dit raak. Hy gaan dit waarskynlik weer doen en dié keer sommer die kombuistoonbank ook afvee. En as jy jou dankbaarheid dáárvoor wys, vee hy dalk bykomend die vloer ook. Wil jy nie liefs in ’n verhouding wees waar julle mekaar waardeer nie? Eerder as wat julle gedurig mekaar se foute uitwys.”

Die probleem is nie soseer ons neulery nie, skryf sy, maar dat ons vergeet om mekaar te waardeer. Omdat ons mekaar as vanselfsprekend neem, laat ons na om iets te sê oor die positiewe goed wat ons raaksien. Daardie dele van ons maat waarvoor ons lief is. En dankbaar voor is.

Kontak Elise Fourie 012 348 7393/1342, elise@fourie-psych.com Marlize Heppell 083 273 9245, marlizeheppell18@gmail.com