’n Eerste afspraak kan jou sterre in die oë gee. Maar as die rooi ligte ook begin flikker, is dit nie verliefdheid nie – hardloop eerder vir die berge!

Dis jul eerste afspraak. Die aantreklike en sjarmante man saam met jou by die restaurant kan jou trouman wees. Jy voel sommer hoe die skoenlappers in jou maag amok maak. Jy’s net besig om jou te verbeel hoe julle in die toekoms saam op ’n eksotiese strand gaan uitspan, toe hy die spyskaart voor jou wegvat en namens jou bestel. Jy oortuig jouself hy ken dalk net die restaurant goed en weet wat die lekkerste is. Maar wanneer hy aan die einde van die aand vir jou vra om die helfte van die rekening te betaal, wonder jy of dit nie eerder jul laaste afspraak moet wees nie ... 

“Gewoonlik waarsku ons vroue se sesde sintuig ons vinnig of ons moet voortgaan met ’n verhouding of nie,” sê Suzette Heath, kliniese sielkundige van Pretoria. “Maar baiemaal wil ons eerder na ons hart as ons kop luister. Dis belangrik om nie té vinnig te oordeel op grond van een afspraak nie, maar as jou kop ná ’n ruk vir jou sê iets is nie heeltemal pluis nie, stap liewer weg.”

En party rooi ligte hét ’n duidelike boodskap: Hardloop vir die berge. Hier’s die tekens, en Suzette sê hoekom.

FOTO Getty Images/ Gallo Images

1. Jag al wat n rok is

Hy’s ’n tipiese kapokhaan wat heeltyd vir al die mooi “henne” moet kraai en sy stertvere laat pronk. Hy wil eerder hê sy ego moet gestreel word as wat hy in ’n betekenisvolle verhouding belang stel. Dié soort man weet gewoonlik hoe om jou te laat goed voel. As jy oor sy optrede kla, sê hy dikwels jy’s jaloers. Werk aan jou selfvertroue. As jy goed voel oor jouself, gaan jy nie maklik ’n slagoffer van so ’n kapokhaan wees nie.

2. Geen respek vir sy ma nie

Iemand met sulke maniere is verdag. Nie net het hy nie respek vir sy ma nie, maar ook nie vir jou nie omdat dit hom nie pla om so voor jou op te tree nie. Dié soort man gaan jou moontlik in ’n verhouding geleidelik afbreek.

3. Kyk diep in die bottel

Dit lyk asof hy probleme het wat hy probeer wegdrink. Dalk is hy nog nie oor ’n vorige verhouding nie of het hy ernstiger emosionele probleme. Dit help nie om met so ’n verhouding voort te gaan en hom te probeer red nie. Hy moet self besef hy het ’n probleem en verantwoordelikheid daarvoor neem.

4. Seun in n man se lyf

Dis belangrik om dinge aan die begin van ’n verhouding stadig te vat en tyd te neem om uit te vind of iemand werklik is wie hy voorgee om te wees. Dis maklik om een aand ridderlik op te tree, maar die ware Jakob kom ná ’n ruk na vore. Dis duidelik hierdie man is gewoond daaraan om bedien te word en het maar nog min vir homself gedoen. Dit kom voor asof hy ’n ma en versorger soek, eerder as ’n maat en geliefde.

FOTO Getty Images/ Gallo Images

5. Ken jou skielik van geen kant af nie

Dit lyk asof hy ’n verskuilde agenda het. Jy pas net in sy lewe in wanneer dit vir hom gerieflik is. Hy is waarskynlik nie seker of hy ’n verhouding wil hê nie. Geheimsinnigheid is maar altyd ’n teken van iets wat nie heeltemal reg is nie. As hy nie wou hê ander mense moet weet dat julle twee uitgaan nie, moes hy dit vooraf met jou bespreek het en verduidelik het hoekom hy dit eers privaat wil hou.

6. Vrekkerige Jannie

Dit is nou iemand wat jy ’n “vroetel-Jannie” noem. So ’n man dink as hy lank genoeg in sy sakke rondvroetel, gaan iemand anders die rekening betaal. Hy lyk soos iemand wat nie verantwoordelikheid kan neem of vooruit beplan nie, of hy is bloot iemand wat mense uitbuit en kyk hoeveel hy uit ander kan kry. Hy’s beslis nie troumateriaal nie. Jy gaan die verantwoordelike een in die verhouding moet wees.

7. Die versmorende siel

Hy stel meer in homself en sy eie behoeftes belang as in iemand anders s’n, en hy is nie sensitief vir ander se grense nie. Pasop, dit lyk asof hy net ’n “gehoor” nodig het en dat dit nie juis oor jou gaan nie.

8. In beheer van die spyskaart

Dit lyk asof hy iemand is wat geheel en al in beheer wil wees. Hy sal dalk nog uiteindelik wil besluit watter klere jy mag dra, watter haarstyl by jou pas, hoe jou grimering moet lyk, en wanneer jy jou vriendinne mag sien. Hierdie soort man wil dikwels ook nie hê jy moet ’n loopbaan hê nie of hy wil jou geldsake beheer as jy wel werk. Daar is ’n kans dat hy gaan sorg dat jy afhanklik van hom word en nie sonder hom kan klaarkom nie.