‘Ek help die kinders weer die pad vind’ Margot Dawson van die Eljada Kairos-skool se outistiese eenheid, Oudtshoorn

Hy het lang wimpers, sagte oë wat verbouereerd by jou verby-staar. Hy haal hortend asem. Angstig. Sy praat sag met hom in ’n gerusstellende, ferm stem, vou sy skraal arms oor sy bors, vryf sy skouertjies met egalige, diep hale. Sy asemhaling raak rustiger terwyl hy sy kop bietjies-bietjies teen haar sy stut.

Margot Dawson kyk op. Die donker, onbeskroomde blik wat alles raaksien, val dadelik op. “Onthou jy daardie Scalextric-speelgoedrenmotortjies wat so vinnig op hul spore gejaag het? Baiekeer het die wiele net té vinnig getol en dan ry hulle woerts van die spoor af. Ek sit die karretjie net weer terug op die spoor.

“Ek is die werktuig wat hierdie kinders in hul geslote wêreld gebruik sodat hulle kan leer om die alledaagse dinge van grootword in hul anderster en verwarrende omgewing te bemeester.”

Die jong vrou met die kortgeknipte donker hare en fyn gelaatstrekke glimlag terwyl sy nog een van haar jong outistiese leerders geduldig help om die legkaartblokkie van die maanhaar in sy leeublokkie te pas.

“Ek help hierdie kinders om weer die pad te vind. Almal van ons val so dan en wan van die spoor af, selfs met gewone uitdagings. Ek glo outistiese kinders moet bemagtig word om hul plek in die samelewing te vul, sonder dat ons hulle hoef op te piep.”

Dis agt jaar sedert Margot by die Eljada Kairos-skool se outistiese eenheid op Oudtshoorn begin werk het, iets wat sy nooit gedink het sy sou doen nie. Sy onthou goed hoe sy toe sy jonger was, wye draaie om “sulke mense” geloop het. Destyds wou sy net grondslagfase-juffrou wees en het twee jaar lank vir graadtwees skoolgehou. Totdat ’n sesjarige outistiese seuntjie se ma kom hulp vra het en Margot sy persoonlike tutor geword het.

Hierdie ervaring het haar al hoe meer laat wonder hoekom ons “abnormaliteit” so sleg hanteer. Sy het besef mense het vooropgestelde reëls oor wat hulle as “normaal” beskou. “Normaal is nie my gunstelingwoord nie. Ons plak so maklik ’n plakker op iemand se voorkop.” Sy beduie met haar hande. “Jy’s ’n introvert. Jy’s voor op die wa. Dieselfde geld ‘normaal’ en ‘abnormaal’.”

Dié begrippe is nie vir almal dieselfde nie. Tog is almal deel van ons samelewing. “Eintlik is so ’n kind maar net ’n normale mens met ’n geblaasde fuse. Die kar kan ry, maar die flikkerliggie werk nie,” verduidelik sy. Party het net meer smeltdrade wat ontbreek as ander.

Die uitdaging bly om te leer aanvaar dat alles nie altyd perfek is nie. ’n Deurlopende leerskool as jy sewe outistiese kinders in jou klas het wat nie hul gevoelens in taal kan uitdruk nie.

Die onvermoë om aan hul gevoelens te kan uiting gee, lei tot frustrasie en kompulsiewe gedrag. Die een skree en wieg, ’n ander spring die hele dag trampolien of klouter in die vensterbank rond, seil heen en weer tussen die banke of klim onophoudelik die trappe op en af.

Vir Margot is elkeen van haar leerders maar net ’n kind en wat vir ander kinders geld, geld ook vir die sewe wat elke skooldag aan haar toevertrou word.

Sy het geleer om nie bang te wees nie en om haar werk met passie te doen. Daarom skroom sy nie om nuwe dinge met haar unieke spannetjie aan te pak nie. Sy leer hulle selfs saam koekies bak en jellie maak. Aanvanklik is dit ietwat chaoties. Maar as sy later terugkyk, waardeer sy hoe elke kind uit die warboel en chaos tog leer om emosionele struikelblokke te oorkom.

“Om te sien hoe ’n kind wat aanvanklik nie kon stilsit nie, of sosiale kontak vermy het, uiteindelik in die oggendkring sit, betrokke raak en deelneem, hou my voete op die aarde.”

Margot, wat intussen self ma geword het van ’n baba-seuntjie, Jeanlu, probeer haar ook in die skoene van hierdie kinders se ouers indink. In ’n huishouding met ander kinders, dikwels met beperkte hulp en finansies, geen sorgsentrums naby nie, waar altyd plan gemaak moet word, saans, naweke en vakansies. Hoe baie hierdie ouers op hul skouers dra.

“So ’n kind gee nie altyd terug nie. Die suksesse is soms min en dit laat jou voel jy is ’n mislukking. Maar jy moet leer om geen verwagtinge te hê nie. Jy moet elke dag van voor af begin. Elke dag op sy eie.”

Margot weet al leef elkeen van hierdie kinders in ’n eie geslote wêreld, is hulle ’n bietjie anders, maar tog uniek, nes ek en jy.

Margot Dawson is ’n blink ster vir haar spesiale kinders by Eljada Kairos op Oudtshoorn.

‘Jy moet in ’n kind se wêreld inklim’ Jenny Joubert van die Kleine Kuikens-kleuterskool naby De Rust

Van ver af sien hulle al die bussie aangery kom. Klokslag elke weeksoggend, douvoordag is Juffrou Jenny op haar pos. Sy ry by ’n hele handvol plaashekke in die De Rust-omgewing aan om haar spannetjies kleingoed op te laai vir ’n skooldag by Kleine Kuikens.

Dié Klein-Karoo-kleuterskool staan vlak langs die plaaspad waar die padpredikant sê: Middelplaas. Oorkant wei sybokhaarbokke in hul kampie en duskant troon die Swartberge bo die skooldak uit.

Die klaskamermure is ’n sonnige geel en kinderkuns hang aan toutjies soos wasgoed op die draad. Dis bont en vrolik. Byna huislik, al is dit skool.

“B is vir Bennie het ’n boepens! En k is vir kwaai Karel met ’n arm wat klap en ’n been wat skop!” Juffrou Jenny Joubert verduidelik en beduie, en die kinders sê hul klanke in ’n koor agterna. Hul oë blink en wye haasbek-glimlaggies volg elke beweging van haar vingers wat die klanke vorm. Hulle is meegevoer.

“Jy moet in ’n kind se wêreld inklim. Uitvind hoe hulle dink. Dan leer jy gou hulle dink sonder voorbehoud en doen soos hulle wil doen. As hulle die son wil rooi maak, is hy rooi.

“As hulle dink juffrou se hare lyk vandag mooi, sê hulle dit. Of jou bril lyk snaaks, sê hulle dit ook. Altyd eerlik.”

“Daar’s ’n wildsbok in haar voetval en ’n lagduif in haar praat,” het Freda Schoeman, boervrou van die omgewing, op ’n keer gesê, en dit som hierdie krulkop-kindertuinjuffrou so mooi op.

Jenny het vroeg in haar lewe al geweet sy wil met kleuters werk en het as grondslagfase-onderwyseres vir baie jare op Stellenbosch, Vredenburg en Heidelberg (Kaap) skoolgehou. Ná ’n egskeiding en ’n tweede kans saam met haar Klein-Karoo-wildboerman, Gideon, het sy 14 jaar gelede Kleine Kuikens hier begin.

“Toe was dit maar net ekke met my bakkie en agt kindertjies. Maar my hart het gesing want ek kon ’n plan maak om die kleuters te help wat bedags so rondloop, geen opvoeding kry nie en niks het nie.”

Danksy die oop hand van die plaaslike boerderygemeenskap kon sy haar skooltjie stadig maar seker begin vestig. Vandag gaan 65 kleuters van vier tot ses jaar oud by Kleine Kuikens skool. Sy spog met twee matriekafskeidfoto’s van leerders wat hier hul eerste spelwoorde en syfers geleer het. Boonop het sy twee vroue, Dorothy Wannies en haar niggie Leana, van die landerye gaan haal en hulle in vroeë kinderontwikkeling laat oplei. “Hulle twee is my regterhande hier. Ons is ’n mean team. Saam met hierdie span maak ons van agt tot een dié beste dag elke dag.”

Hier kry Kleine Kuikens-kinders nie net baie aandag en liefde nie, hulle kry elke oggend ’n bordjie hawermout- of mieliepap, smiddae ’n middagkossie met ’n koekie en vrug. Vrydae is jellie-en-vladag. En dan leer hulle ook sing en teken en spel en tel. “Ek kan nie elke kind se omstandighede by die huis verander nie, maar ek weet hierdie spannetjie kinders is vandag gered.”

Sy klap haar hande, kry die klas se volle aandag. Almal hang aan haar lippe. Sy maak grootoog uiloë met haar vingers, hulle skaterlag en begin dan saam handjies klap en sing.

“Vertel gou vir juffrou wat jy graag eendag wil word.” Almal se handjies skiet boontoe. “’n Juffrou soos juffrou! ’n Polisievrou. ’n Dokter.”

“Sien jy, hier droom ons groot,” merk sy laggend en met ’n knipoog op.

En dis juis omdat sy haar droom uitleef dat Juffrou Jenny nie sommer moedeloos raak nie, al is die sosiaal-maatskaplike probleme in hierdie gemeenskap legio.

“Vir my is dit belangrik om deur die kinders in die gemeenskap betrokke te wees. Hier is baie hartseer stories van kinderverwaarlosing en kinders met fetale alkoholsindroom wat sukkel om basiese sosiale vaardighede te leer. Hier is ook kinders wat MIV-positief is en deur enkelouers of grootouers grootgemaak word. Om hierso te help kos eintlik nie geld nie, dit kos net jou tyd. Tyd om aandag te gee, te luister na elkeen se storie en te hoor as iemand sukkel of opgewonde is oor iets.

“Ek het vroeër jare altyd gewerk met kinders wat alles het. Hierdie kinders is gewoond daaraan om met ’n eenarm-pop te speel en ’n kar met net een wiel.”

By Kleine Kuikens is daar ’n speelkamer vol speelgoed – van poppe tot stootwaentjies, stofies, sokkerballe, lorries en stootskrapers waarmee hulle gereeld na hartelus kan speel en hul verbeeldingswêreld uitleef.

Op die speelgrond is ’n kleurryke mengelmoes van swaaie en klim-en-klouterplek. ’n Paar groot trekkerbande is vol botterblomme en vygies geplant. Die son skyn en die kinderstemme klink klokhelder op in die blou Klein-Karoo-lug. Juffrou Jenny sit eenkant op die speelgrondmuurtjie. Die Swartberge staan wyd op die agtergrond. Daar’s ’n uitdrukking van salige genoegdoening in haar oë.

Juffrou Jenny Joubert maak elke dag van agt tot een dié beste dag vir die kinders van haar Kleine Kuikens-kleuterskool naby De Rust.