Ware vriendin stap in wanneer die res van die wêreld uitstap.

Wyse woorde van die Amerikaanse radiopersoonlikheid Walter Winchell – en ’n maatstaf waaraan ons almal graag as vriend(inn)e wil voldoen.

Dalk is jy ook ’n toegewyde vriendin en altyd bereid om in moeilike tye by jou vriendin te staan (sy is tog daar as jý haar nodig het). Maar al wil jy hoe graag, weet jy nie altyd hoe nie.

Dís hoe jy maak onder die volgende omstandighede:

Jou vriendin ly aan depressie

Daar is baie wanopvattings oor depressie. Kry eers genoeg inligting daaroor, sê die kliniese sielkundige Elmarié du Plessis van Durbanville, Kaapstad. Daar is basies twee soorte – ’n major depressiewe episode, wat enigiemand kan oorkom (soos ná ’n traumatise ervaring) en endogene depressie, ’n chroniese toestand wat langtermyn-terapie, medikasie en ’n leefstyl-aanpassing verg.

Met die regte inligting sal jy ook beter verstaan wat sy beleef – dis nodig, want só ’n vriendskap kan uitputtend wees, veral as jy self positief en energiek is. ’n Depressielyer is soms so moeg dat sy letterlik nie haar hare kan kam nie. Die kleinste dingetjie kan ’n krisis word. Veral ’n ma is nooit van diens af nie, en die druk om voort te gaan word oorweldigend. Sy kan dink sy is lui, nie goed genoeg nie en sy voel só skuldig.

“Moedig jou vriendin aan om aan te sluit by ’n ondersteuningsgroep, sodat sy kan sien baie ander mense het dieselfde gevoelens. Jy gaan waarskynlik magteloos voel omdat jy dit nie vir haar beter kan maak nie, maar vermy clichés. Moenie haar herinner aan alles waarvoor sy dankbaar moet wees nie (man, kinders, huis). Dit gaan haar net nog meer skuldig laat voel. As jy nie weet wat om te sê nie, wees eerlik daaroor.”

Gee haar ruimte. As sy ’n uur lank net in stilte by jou wil sit, is dit goed so. As sy praat, luister. Sy het jou onvoorwaardelike aanvaarding nodig. Vra wat jy vir haar kan doen. Help haar op so ’n manier dat sy steeds in beheer voel – jy bied aan, en sy besluit of sy die aanbod aanvaar. Ondersteun haar sonder om haar nog meer afhanklik te laat voel. As jy al haar take oorneem, loop jy die gevaar om haar te ontmagtig. Sy moet verantwoordelikheid aanvaar vir haar siekte. Sy kan kies of sy agteruit gaan en of sy gaan opstaan en verantwoordelikheid aanvaar om die siekte te bestuur.

Selfmoordpogings kan deel wees van dié siekte, daarom moet jy fyn luister as sy praat oor die dood of as daar waarskuwingstekens is soos dat sy haar sake in orde begin kry. As jy onrustig voel, moenie die onderwerp vermy nie. Noem dit op sy naam: “Oorweeg jy selfmoord?” Moenie sê dis sonde of vra wat gaan word van haar gesin nie, want vir ’n depressielyer maak selfmoord sin. As jy vermoed sy oorweeg dit ernstig, lig haar in dat jy vir haar man (of geliefdes) gaan sê, omdat jy vir haar omgee, sê Elmarié.

Haar kind sterf

Die riglyn in so ’n pynlike situasie? Sê eerder minder en luister meer, sê Cynthia Lassen van die ondersteuningsgroep Compassionate Friends (CF). Cynthia het self ’n seun verloor.

“Moenie wegbly omdat jy bang is jy maak inbreuk op hul privaatheid of omdat jy nie weet wat om te sê nie. Daardie nabyheid van vriende is baie kosbaar. Om ’n kind te verloor is soos om ’n totaal onbekende wêreld te betree – ’n warboel van emosies en skok. As jou vriendin aanhoudend dieselfde storie oor haar kind vertel, laat haar begaan en luister net. Dis alles deel van die manier waarop sy die trauma verwerk.

“Vermy uitdrukkings soos: ‘Dis God se plan. Hy/sy is na ’n beter plek. Tyd genees. Jou ander kinders het jou nodig …’ Al weet sy dit, en al bedoel jy dit as troos, wil sy dit nie nou hoor nie. Niks wat enigiemand vir haar sê, maak nou werklik sin nie. Die beste is om te simpatiseer, haar vas te hou, en net te luister. Selfs algehele stilte kan helend wees.”

Help met praktiese reëlings, soos om etes te berei of vir gaste tee te maak. Bied aan om haar ander kinders na hul aktiwiteite te neem of herinner haar (gereeld) aan belangrike dinge wat sy moet doen, sê Cynthia. As die lewe ná die begrafnis eers na normaal terugkeer, kan die werklikheid haar éérs tref. Doen steeds moeite om in te loer en te wys jy gee om.

Moenie die kind se naam vermy omdat jy haar nie wil seermaak nie – sy wil dalk juis oor hom praat. Onthou, haar kind bly haar kind, al het dit hoe lank terug gebeur. Moedig haar aan om by ’n ondersteuningsgroep soos CF aan te sluit. Dit kan ook vir haar man baie beteken, omdat mans soms hul emosies moeiliker verwoord – en dis net “makliker” omring deur ouers wat deur dieselfde ervaring is.

En klein gebare beteken baie, sê Cynthia. “Soos as jy byvoorbeeld op die kind se verjaardag of die herdenking van sy dood haar bel of ’n blommetjie gee, net om te sê jy dink aan haar. Selfs jare later. Want ’n kind is altyd deel van jou lewe.”

Haar man pleeg bedrog

As iemand van bedrog aangekla of skuldig bevind word, loop mense dikwels draaie om daardie gesin. Maar gaan klop juis aan as jou vriendin se man in daardie bootjie is, sê Elmarié. “Verseker haar dat dit nie jul vriendskap beïnvloed nie. Dit verander nie jou siening van haar nie. Wees net daar vir haar. Gee vir haar ruimte om haar woede en teleurstelling te verwoord, want dit ís onregverdig dat sy ingetrek word sonder dat sy noodwendig ’n aandeel daaraan gehad het.”

Moenie hom veroordeel nie, veral as jy dalk self sterk menings het oor misdadige gedrag. Onthou, sy en haar man het ’n emosionele verbintenis. Dalk glo sy hy is onskuldig, dalk leef sy in algehele ontkenning, al bewys die feite die teendeel. Dan moet jy eerder probeer begryp dat dit vir haar en hul verhouding belangrik is – al stem jy nie saam nie.

Karin Büter, kliniese sielkundige van die Paarl, voeg by: “Moenie raad gee nie, en moenie jou mening op haar afdwing nie, want dan meng jy in. As sy in ’n emosionele oomblik sê sy gaan hom los, luister net. Moenie haar in ’n hoek druk nie. Môre voel sy dalk anders, en dan moet sy weet jy ondersteun haar steeds en begryp haar wisselende emosies. Sy moet weet jy is daar vir haar.” In jul vriendekring sal mense waarskynlik oor gerugte gis. Tree in vir haar as iemand haar wil bysleep, maar moenie enige vertroulike inligting verskaf nie. Sy moet weet sy kan jou vertrou, sê Elmarié.

Sy het kanker

Kankerlyers voel dikwels moeg, maar dit moet jou nie keer om jou vriendin te besoek nie. Moenie wag dat sy jou vra nie – sy sal waarskynlik nie en dan net verwerp en geïsoleer voel. Vra haar wanneer jy kan kom (só gee jy haar steeds ruimte). Jy kan selfs voorstel dat jy die “skakelpersoon” is – sy kan deur jou laat weet wanneer sy hulp benodig, en wanneer sy alleen wil wees, sê Colette Aubert, berader by Kansa.

ONTHOU:

• Jy hoef nie heeltyd by haar huis te wees nie. Jy kan nie ma, vrou en huishoudster word nie. Help waar nodig, bespreek met haar hoe jy kan help, maar maak seker jy ontneem haar nie van die belangrike aspekte van haar lewe nie – dit sal haar net meer hulpeloos laat voel. Bied hulp aan, maar as sy weier, respekteer haar gevoelens en besluite.

• Moedig haar aan om oor haar gevoelens te praat. Laat dit dan daar, want later sal jy die kans kry om dit verder te verken, soos as sy dalk op ’n dag hartseer lyk. Dan kan jy sê: “Jy lyk nie vandag baie gelukkig nie, hoe voel jy?”

 • As jy voel jou vriendin het berading nodig, vra of jy dit kan reël. Kansa kry baie oproepe van vriende wat goed bedoel, maar kan nie ’n pasiënt kontak vir berading sonder haar toestemming nie.

• Laat sy oor haar geloof en spiritualiteit praat. As sy iets vra waaroor jy onseker is, sê jy sal meer daaroor te wete kom en doen dit dan. Soek die hulp van ’n spirituele leier en vra jou vriendin of sy ’n aanbiddingsplek wil besoek. Gaan saam met haar as sy jou vra, selfs al het jy ’n ander geloof.

• Onthou, as jy nie self kanker ondervind het nie, “weet” jy nie waardeur sy gaan nie.

• Vra haar hoe baie of min jy vir ander mag vertel.

Die Cancer Coping Kit van Kansa het nog wenke en hulp.

Haar man het ’n affair

DIE OEROUE VRAAG: Moet ek my neus in my vriendin se sake steek? Elmarié se antwoord: “As ek baie vir iemand omgee en ek weet iets kan haar skade doen, gaan ek optree. Ek gaan nie op gerugte of hoorsê reageer nie, maar wel as ek bewyse het.”

Laat jou lei deur jou verhouding met haar man. “As julle huisvriende is, sou ek vir hom sê wat ek gesien het en dat ek vir haar gaan sê. As net ek en sy bevriend is, sal ek vir haar sê wat ek gehoor en gesien het wat my ongemaklik gemaak het, en dit duidelik maak dat ek dit doen omdat ek omgee en haar wil beskerm.”

Wees voorbereid daarop dat sy heftig kan reageer en vir jou kwaad kan wees, sê Elmarié. “Probeer dit begryp, want dit tas haar eiewaarde en vrouwees aan.” Met ’n affair is daar dikwels geruime tyd spanning in die huwelik, en sy het dalk vroeër gerugte gehoor, maar verkies om in ontkenning te leef. As sy dit steeds ontken, staan terug. Moenie haar probeer oortuig nie. Sê net dat jy daar vir haar is as sy wil praat.

“Ek sal versigtig wees om ’n mening te waag oor haar besluit om in die verhouding te bly of nie. Maak seker sy weet jy aanvaar haar onvoorwaardelik, selfs al sou sy besluit om hom terug te neem. Die besluit bly hare.” Karin sê klinkklare riglyne is moeilik, want elke geval verskil. “As die affair dalk ’n paar jaar gelede gebeur het en hulle is nou dolgelukkig, moet jy dalk die geheim met jou saamdra. Hoe intiem jul vriendskap is, speel ook ’n rol. Gebruik jouself as maatstaf: Sou jy wou hê dat sy jou moes vertel?”

En as jy alles opgeweeg het en besluit jou vriendin moet weet? “Ek sou haar man – al ken ek hom nie – in kennis stel dat ek verplig voel om haar te sê, maar ek gee hom 24 uur kans om dit self te doen. Want dis eintlik waar dit hoort, dis sy plig. Maar as hy dit nie doen nie, sou ek,” sê Karin.

Sy (en haar gesin) het geldelike probleme

Jou vriendin kan dalk skaam voel daaroor en selfs voorgee alles is reg (koek as jy kom kuier, maar nie kos in die yskas nie). Geldsake is ’n sensitiewe saak, want haar eiewaarde en selfrespek is daaraan gekoppel. Help haar taktvol. Dit hang ook af van jou vriendin – party mense ontvang makliker as ander, sê Elmarié.

Maak dit vir haar maklik. Wees eerlik, sê: “Ek sal nie ontken dat ek weet dit gaan op die oomblik finansieel moeilik nie. Ek is hier, ek help graag. Volgende keer help jy my.” Jy kan byvoorbeeld etenstyd opdaag met groente wat jy teen ’n spesiale prys gekoop het. Of laat haar toe om iets in ruil te doen, soos ’n gesigbehandeling, wat nie geld kos nie.

Moenie haar in ’n moeilike situasie plaas nie, soos as julle as ’n groep vriendinne in haar aanwesigheid beplan om ’n (duur) opvoering by te woon, behalwe as sy die soort mens is wat nie sal omgee as julle vir haar betaal nie. As jy en sy gereeld saam gaan eet en om die beurt betaal, sê: “Ek weet dit kan nie nou nie, ek doen dit graag vir jou.” Maar begryp ook haar ongemak. As sy voel jy gee te veel, kan sy begin terugtrek. Moenie haar menswaardigheid aantas nie. Kuier op ’n ander manier wat nie geld kos nie.

As sy enige probleme ontken, laat dit net daar met die uitnodiging dat jy daar is as sy wil praat. Moenie aanbied om vir haar geld te leen nie, behalwe as jy seker is jul vriendskap is sterk genoeg. Dis moeilik om geld terug te vra, en dis moontlik dat jou aanbod die probleem kan vererger.

Vir hulp

• SA Depressie-en-angsgroep (Sadag): 011 783 1474

• Kansa se tolvrynommer is 0800 22 66 22 of www.cansa.org.za

• Elmarié du Plessis: 021 975 7834

• Compassionate Friends: 011 440 6322

* Hierdie artikel het in SARIE se Junie 2007-uitgawe verskyn, inligting en kontakbesonderhede kon sedertdien verander het.