"Ons kind is in ’n duur private skool. Ek en my man werk hard en moet die sente mooi omdraai om alles te betaal. Skoolgeld vreet ’n groot hap uit ons begroting, maar ons wil haar genoeg geleenthede bied om reg te wees vir die toekoms. Baie van haar skoolmaats kom uit welgestelde huise en sy wonder hoekom sy nie dieselfde voorregte as hulle geniet nie. Hulle dra boetiekklere, sy koop hare by die goedkoopste afdelingswinkels. Almal het iPads, terwyl sy bloot daaroor droom. Ons probeer verduidelik dat ons in ’n ander inkomsteklas val. Ons wil haar leer waardes soos vriendskap is belangriker as materiële dinge, maar hóé?"

DR. MELANIE OELOFSEN, Opvoedkundige sielkundige van Pretoria:

Kinders bevind hulself dikwels in ’n materialistiese kultuur, waar mense glo besittings is die sleutel tot geluk. Kinders uit sulke huise kan soms diegene wat nie so bevoorreg is nie, oordeel. Jy as ouer kan nie dié werklikheid verander nie. Jy moet wel leer om dit reg te bestuur.

Die ouers van minder gegoede kinders moet diep nadink oor wat hulle hul kinders wil leer, want kinders se gedrag is ’n spieëlbeeld van ouers s’n. As jy as ouer dus kla omdat jy voel jy skiet te kort, of as jy altyd méér begeer, hoor jou kinders dit en voel ook minderwaardig.

Wees verseker dat kinders méér soek as besittings. Dit is dus nie die einde van die wêreld as hulle nie alles kan kry wat hul maats het nie. Hul grootste behoefte is om tyd met die gesin en hul ouers te bestee. Kyk minder televisie, moenie so lank op die internet speel nie.

Leer jou kinders dat buitelugaktiwiteite soos swem, stap en om met die troeteldiere te speel gewoonlik gratis (en lekker!) is. Doen dit saam met hulle sodat hulle kan sien jou dade eggo jou woorde.

Moedig jou kroos aan om by liefdadigheidsorganisasies as vrywilligers te werk. Dít maak jou oë oop en dan besef jy hoe bevoorreg jy wel is. Vertel hulle ook hoe jou werk jou vervul. So kry hulle die boodskap dat julle nie nét vir die geldelike beloning werk nie, maar dat ander dinge julle ook motiveer om jul bes te doen.

Wanneer jul dogter ’n behoefte het aan meer materiële dinge, soos ’n slimfoon, tablet of klere met gesogte etikette, moedig haar aan om self planne te beraam om dié doelwitte te bereik. Só leer ken sy die verband tussen harde werk, geld en besittings. Dit is ’n baie waardevolle les vir die volwasse lewe en gee ’n kind ’n sin van bevrediging. Dít versterk ook haar selfbeeld.