Het jou padda ook nooit in ’n prins verander nie? In haar boek Lessons from the Frogs I’ve Kissed*, wat vroeër vanjaar verskyn het, vertel Krystal Kolnik in detail van die “paddas” wat sy in haar lewe gehad het, al die foute wat sy in vorige verhoudings gemaak en die lesse wat sy geleer het. Soos jy deur die boek lees, wil jy soms vir dié Kaapse eiendomsagent skree – hoekom leer sy dan nie uit haar foute nie! Dan besef jy, jy het ook al dieselfde soort paddas in jou lewe gehad, en ’n mens leer daardie les altyd te laat.

“Kyk, ek is skaam oor baie van die dinge in die boek. Maar ek was uiters eerlik, want ek hoop dit kan iemand help,” vertel Krystal. Sedert haar boek verskyn het, het vroue van oor die wêreld heen haar al gekontak om te sê hoe dit hul oë oopgemaak het. “En twee vroue het laat weet hulle het uit hul destruktiewe verhouding gestap.”

Krystal het uiteindelik haar gelukkige einde gekry en is nou al agt jaar getroud. “My man is nie perfek nie. Ons verhouding ook nie. Maar hy is perfek vir my, en ons albei werk aan die verhouding,” sê sy.

Dit was die lesse wat sy uit die vorige verhoudings geleer het wat dit uiteindelik moontlik gemaak het om ’n gesonde verhouding te handhaaf.

“Maar ek dink as ek die lesse vroeër kon leer, sou ek myself nie so seer gemaak het nie. Dié dat ek hoop ander vroue kan hul paddas ’n bietjie vroeër raaksien wanneer hulle oor myne lees.”

Miskien lyk een van Krystal se paddas (skuilname is gebruik) vir jou bekend ...

Die verslaafde

“Sean het aanhoudend dagga gerook. Ek het myself as sy redder gesien – die broodwinner, die verantwoordelike een, die steunpilaar. Maar ek het hom ook probeer verander, en dis nie moontlik nie.

Eers jare later het ek besef ek was eintlik besig om soos ’n slagoffer op te tree. Ek het in die verhouding gebly weens my eie minderwaardigheidsgevoelens; ek het geglo dis wat ek verdien. Dit het baie langer geneem om uit die verhouding te kom as wat ek wil erken, want ons was eintlik ewe afhanklik van mekaar. Ek het tot die bitter einde vasgebyt, alle opsies uitgeput, tot daar niks oor was om te doen behalwe om na myself te kyk en my eie foute raak te sien nie.”

Die narsis

“My les het duidelik nie goed genoeg ingesink nie. Presies 24 dae nadat ek en Sean uitmekaar is, het ek vir Pete in ’n kroeg raakgeloop. Ek was daardie aand al oortuig hy is ‘die een’: Ons het veerpyltjies gespeel en ek het elke keer in die kol gegooi – “bull’s eye, hy’s die een!” het ek gedink. Hy het my soos ’n prinses behandel en ek was meegesleur deur sy sjarme.

’n Week later het die probleme begin: Pete het my van die polisiekantoor gebel nadat hy in hegtenis geneem is. Hy het ’n reputasie as die stout seun op die dorp gehad, en dit was deel van die aantrekkingskrag – al weer iemand wat ek kon ‘red’, en wat my van die pyn van my vorige verhouding kon laat vergeet.

Pete het my verower, die uitdaging was verby, en hy het nie meer nodig gehad om sy beste voetjie voor te sit nie. Skielik het sy humeur duidelik sigbaar geword en hy het my emosioneel begin afknou.

Ek het gehoop dat hy sou verander, maar dit het erger geword en hy het my begin slaan. Hy het gereeld vir my gejok, oor alles – sy werk, sy doen en late, wie hy sien. Hy’t vir my gesê wat ek wil hoor oor sy verpligtinge, maar dit dan net glad nie nagekom nie. Ek was naderhand ’n wrak en het paniekaanvalle begin kry.

Die dag toe ek hom uiteindelik gelos het, het hy my voor my susters seergemaak. Ek kry baie skaam oor hoe lank ek by hom gebly het, maar ek hoop die gedetailleerde vertelling in die boek kan ander vroue red. Stap weg; dit gaan nooit verander nie.”

Die ‘rebound’

“Weer eens het ek dadelik in die volgende verhouding ingespring, sewe weke later. Ek het elke keer na iemand nuut gehardloop om van die vorige verhouding se pyn te vergeet. En Gary was in dieselfde bootjie as ek – pas geskei, hartgebroke, geen idee wat hy in ’n verhouding wil hê nie.

As ek maar die tyd geneem het om eers oor my vorige verhouding te rou, die lesse raak te sien wat dit my geleer het, myself beter te leer ken en kans te gee om te genees. Ek het al my issues eenvoudig na die nuwe verhouding oorgedra.

Ek het Gary se boodskappe skelm gelees, want ek het gedink hy jok ook vir my. En ek wou hom verander in die perfekte maat. Ons het ál meer baklei en uiteindelik het hy my gelos – die eerste keer dat iemand met my opgebreek het! Ons was albei gebroke mense. Twee gebroke helftes kan nooit ’n volle sirkel maak nie.”

Die ewige oujongkêrel

“Daar was stories op die dorp dat Zac jare later steeds versot was op ’n vrou saam met wie hy op skool was. Hulle was goeie vriende toe ek en hy ’n verhouding aanknoop – weer eens kort ná my vorige verhouding beëindig is.

Hy was lief vir partytjies en ek was in ’n fase waar ek net so lekker kon kuier. Ek het my werk begin afskeep en aande om gedans. My beste vriendin het uit my lewe verdwyn omdat sy nie wou toekyk hoe ek myself weer in ’n verhouding verloor nie.

My verhouding met Zac het ’n klimtol-patroon aangeneem – dan was ons saam, dan breek ons op. Dié keer het ek geweet ek word nie reg hanteer nie, want vir Zac was die een vrou na die ander ’n groter prioriteit as ek. Maar ek het steeds nie die selfrespek gehad om weg te stap nie. Ek het afleiding van my probleme gesoek. As ek maar ’n stokperdjie aangepak het, sou die verhouding waarskynlik nie so lank aangehou het nie! Die opwinding en drama het verslawend begin raak.

Ek het verskonings vir sy optrede gemaak, en vir myself. Ek was weer eens die slagoffer: Hoekom kon my vriendin dan nie verstaan nie? Ek wou net gelukkig wees!” 

Die belangrikste lesse? Wees lief vir jouself! As jy jouself nie aanvaar nie, gaan jy nooit glo jy verdien ware liefde nie. En moet nooit dink jy kan iemand verander nie. ’n Padda bly ’n padda. Krystal Kolnik

Die aanlyn afspraak

“Daniel het nie ’n groot rol in my lewe gespeel nie, maar ek het hom ingesluit omdat so baie vroue in dié strik trap. Die aand wat ons ontmoet het, het hy my oorreed om saam met hom huis toe te gaan. Ons het ’n heerlike afspraak gehad, te veel vonkelwyn gedrink, en ek het hom te maklik vertrou. Ek het dit duidelik gemaak dat daar niks fisieks tussen ons gaan gebeur nie en ons het op sy bed aan die slaap geraak. Toe ek die volgende oggend huis toe wou gaan, het hy op my geskree: ‘Julle vroue is almal dieselfde! Julle flirt, maar bedoel dit nie!’ Wees versigtig vir mense wat jy aanlyn ontmoet; leer hulle eers baie goed ken ...”

Die kleefplastiek

“My laaste verhouding voordat ek my man ontmoet het, was die teenoorgestelde van elke man voor hom. Hy het my die middelpunt van sy heelal gemaak en was obsessief. Hy sou byvoorbeeld kla dat ek nie lank genoeg in sy oë tuur nie, of dat ek hom nie met genoeg passie soen nie. Hy was wie ek voorheen was – iemand met ’n lae selfbeeld, gebroke. Ek moes hom aanhoudend gerusstel dat ek hom liefhet, dat ek nie in ander mans belangstel nie. In die begin was dit wonderlik, want vir die eerste keer het iemand my raakgesien sonder dat ek vir aandag moes vra. En toe sien ek myself in hom raak ... ”

HIER IS RAAD

Riette du Preez, ’n kliniese sielkundige van Johannesburg (www.linden-psychologist.co.za), sê ’n swak selfbeeld is die grootste rede hoekom mense verhoudings aanknoop met iemand wat sleg is vir hulle – en dan daar bly. “Dit werk soos ’n onderneming: Ons meet verhoudings aan die beloning (die lekker, positiewe aspekte van jou verhouding) minus die koste (die opofferings wat jy maak). As jy voel jy kry min of meer ewe veel uit as wat jy insit, bly jy.” Maar iemand met ’n lae selfbeeld se verwagtings is veel minder, want hulle glo nie hulle verdien meer nie – bewustelik of onbewustelik. “Hoe swakker jou selfbeeld, met hoe minder is jy tevrede. En in sommige gevalle betaal jy dan baie meer as wat jy uitkry – dís wanneer ’n verhouding gewoonlik regtig skadelik is.”

Daar is ook ander faktore wat ’n rol speel, soos jou persoonlikheid, vorige verhoudings en ervarings, en verhoudingsrolmodelle soos jou ouers. Almal se patrone is uniek en daar is ongelukkig nie een antwoord wat almal kan help nie, sê sy. “Die enigste manier om antwoorde te kry is deur introspeksie. Vra jouself af: Hoe knoop jy gewoonlik verhoudings aan, hoe en waar ontmoet jy mense, hoe eindig jou verhoudings, watter algemene gevoelens en gedagtes het jy oor jou maats en oor jouself, of hoe vergelyk jou romantiese verhoudings met ander belangrike verhoudings in jou lewe – soos met jou ouers?

“Dis ’n lang proses en dit kan uitdagend wees om patrone te verander, so moenie te veel druk op jouself plaas nie en moenie jouself verwyt wanneer jy weer ’n fout maak nie. Maar selfs klein insigte kan jou reeds help om patrone minder outomaties te volg – en dís die begin van groei en verandering.”

Riette gee ook dié praktiese wenke:

  • Luister na vriende en familie se terugvoering oor jou verhouding(s). Dis moeilik om negatiewe menings te hoor as jy verlief is, maar dit hou dalk waardevolle leidrade in.
  • Slaan ag op enige ongemaklike gevoelens of gedagtes oor jou maat en verhouding eerder as wat jy hoop dit sal vanself regkom.
  • Maak ’n lys van nie-onderhandelbare eienskappe/gedrag waarna jy in ’n maat soek en evalueer dinge van dag een af.
  • Indien jy reeds in ’n verhouding is, maak ’n lys van jou behoeftes en opofferings in die verhouding. Sit jy meer in as wat jy uitkry?
  • Wees bewus daarvan dat slegte verhoudings jou selfbeeld net verder afbreek. Dit is ’n nare siklus en dit neem wilskrag en werk om dit te verbreek. Begin vandag.

Lessons from the Frogs I’ve Kissed (R250, Staging Post) is beskikbaar by boekwinkels, asook Takealot en Amazon