Die vraag: “Wat van die kinders?” is waarskynlik die eerste kwessie wat by ouers opkom wanneer hulle besluit om te skei. Maar die laaste ding waaraan hulle dink as hulle skei, is watter effek dit eendag op die kinders gaan hê wanneer húlle grootmense is . . .

“Ek stoot mense weg as hulle te naby aan my kom.”

“Ek het getrou met die wete in my agterkop dat ek altyd kan wegstap.”

“Ek glo vas die liefde moet altyd met ’n bakleiery gepaardgaan.”

“Ek sal enigiets doen om my maat te behaag, al is dit ten koste van myself.”

“My pa het dikwels beloftes gemaak wat hy nie nagekom het nie. Ek is skepties oor enige belofte.”

Elke kind se ervaring van egskeiding is uniek, maar oor die algemeen het kinders uit geskeide huise dikwels as volwassenes ’n negatiewe beeld van die huwelik, sê Ilse Jordaan, kliniese sielkundige met praktyke op Stellen-bosch en in Kaapstad wat spesialiseer in indiepte-psigoterapie met volwassenes. “Hulle wil dalk nie trou of kinders hê nie. Of hulle sal hul eie verhoudings saboteer deur hulle byvoorbeeld nie te verbind nie of altyd ’n deel van hulself terug te hou en nie hul maat ten volle te vertrou nie. Soms herhaal hulle presies dit wat die ouer van dieselfde geslag gedoen het (soos om verhoudings buite die huwelik aan te knoop), al het hulle as kind destyds aan hulself belowe om nooit dieselfde pad te stap nie.”

Dr. John Duffy, kliniese sielkundige en skrywer van The Available Parent, beaam dat kinders uit ’n geskeide huis soms te veel op hul ouers se mislukte verhouding fokus en aanneem dieselfde gaan met hulle gebeur. “Of hulle aanvaar een of albei ouers het opgegee op die liefde, en voel dan ontnugter.”

Aan die ander kant kan so iemand soms juis trou met die vaste voorneme om die perfekte huwelik te hê – mét hoë verwagtinge, sê dr. Elize Morkel, kliniese en voorligtingsielkundige van Somerset-Wes. “As dit dan gebeur dat die vrou [met die hoë ideale] se vertroue geskend word, sukkel sy om haar maat te vergewe en is dit vir haar moeilik om weer te begin bou aan daardie vertroue. Sy kan nie saamleef met die onvolmaaktheid nadat hul ‘ideale’ huwelik geskend is nie.”

Volgens dr. Morkel het sy deur die jare in haar praktyk baie vroue en mans teëgekom wie se verhoudings geaffekteer is deur die manier waarop hul ouers se egskeiding afgespeel het – jy kan hulle byna groepeer.

Rika*, ’n SARIE-leser, se pa het sy gesin gelos toe sy agt jaar oud was en by ’n ander vrou ingetrek. Hy was in dié verhouding betrokke vandat Rika vyf jaar oud was, maar het nooit iets laat blyk nie – dit was vir sy gesin ’n reuse-skok. “Ná die egskeiding het hy, behalwe vir lukrake kuiertjies, so te sê uit ons lewe verdwyn, en in ’n ander provinsie gaan woon. Hy het later nog twee dogters gehad.” Rika het sedertdien al baie mislukte verhoudings gehad en is ook al ’n slag geskei. Sy erken sy is “clingy”, sy sukkel om mense (selfs vriende) te vertrou en sy soek heeltyd die versekering dat hulle vir haar lief is of steeds van haar hou.

Rika verteenwoordig talle vroue wat sy al oor die jare ontmoet het wat emosioneel verwerp of onvervuld voel, sê dr. Morkel. “Dié vroue is dikwels as kinders emosioneel afgeskeep deur hul ouers, wat hul eie emosionele lyding beleef het weens ’n huwelikskrisis of egskeiding. ’n Kind kan ook emosioneel afgeskeep en verwerp voel wanneer ma of pa by ’n nuwe maat of gesin betrokke raak en haar in die proses uitsluit of uitgesluit laat voel. Midde-in die bitterheid en woede en as een of albei ouers uit die prentjie is, kan so ’n kind nog meer emosioneel oorafhanklik raak.”

Volgens dr. Morkel lei hierdie “clingy” en “needy” (oorafhanklike) gedrag dikwels tot swak keuses as volwassene, byvoorbeeld: “Ek moet iemand hê, maak nie saak hoe hy my behandel nie. Ek kan net nie alleen wees nie.” So iemand se soeke na versekering en aanvaarding kan soms net nie bevredig word nie en kan tot ondraaglike spanning in haar verhoudings lei. Die vrees vir verwerping is altyd daar, verduidelik sy.

Linda* het weer tot in haar dertigs geweldig gesukkel met woede en onsekerheid. Sy vertel dat sy eintlik altyd gedink het sy het goed en ongeskonde uit die egskeiding gekom; haar ouers het probeer om haar daarteen te beskerm deur al die “regte” dinge te doen, soos om nie voor haar te baklei of mekaar te blameer nie. Maar sy het eers met terapie besef dat al haar intense emosies te make het met onverwerkte dinge uit haar kinderjare.

“Dit help dikwels om weer te gesels oor watter ervarings in jou kinderjare dalk tot die gevoelens van woede en onsekerheid bygedra het,” sê dr. Morkel. “In Linda se geval kan sy uitgenooi word om weer op nuwe maniere na haarself en haar toekoms te kyk. Partykeer help dit as een van die ouers deelneem aan die gesprekke tydens terapie sodat sy beter kan verstaan of hul perspektiewe kan kry oor haar belewenisse van haar kinderjare.”

Sy sê ook kinders wat sogenaamd “goed” deur egskeidings gaan, is soms besig om hul ouers wat emosioneel swaarkry te beskerm, of hulle hou vol met die rol van die “voorbeeldige kind” sodat hulle raakgesien word of erkenning kan kry.

“Ek het onlangs met ’n man te doene gehad wat so prestasiegedrewe was as enigste kind uit albei sy ouers se eerste huwelik (al twee is weer getroud en hy het halfsibbe aan beide kante) dat sy perfeksionisme en oorprestasie in sy beroep uiteindelik daartoe gelei het dat hy sy vrou emosioneel afgeskeep het, en sy nie meer vir hul huwelik kans gesien het nie.”

Reageer mans anders op egskeiding as vroue?

Daar bestaan nie iets soos ’n tipiese reaksie nie, sê sy. “Maar dis my indruk dat mans soms meer geneig is om emosioneel afsydig en ‘beskermend’ te reageer. (Hulle is byvoorbeeld sinies oor die huwelik en wil nie trou en kinders kry nie – en beskerm dus só hulself en moontlike toekomstige kinders.) Vroue is straks meer afhanklik, ‘needy’ en soekend na bevestiging. Die rede, na my mening, is hoe die geslagte gesosialiseer word: Mans word minder aangemoedig om hulself emosioneel uit te druk, terwyl vroue gesosialiseer word om emosioneel afhanklik van mans te wees.”

’n Ander verskynsel is as kinders uit geskeide huise dieselfde patroon volg as hul ouers. Selfs al neem hulle hul voor om dit nie te doen nie. Een vrou vertel sy het veel langer in haar huwelik gebly as wat sy wou, omdat sy vasbeslote was om nooit (soos haar ouers) te skei nie – en toe skei sy tog. En ’n leser skryf in ’n brief aan SARIE: “My man het my elke dag van my lewe gemanipuleer. Ek het eers lank ná my egskeiding besef hoe erg dit was. My dogter is met dieselfde tipe man deurmekaar – hy manipuleer haar net soos my eks-man gedoen het.”

Ilse verduidelik dat die meeste van hierdie patrone nie bewustelik is nie. “Jy kan jouself belowe om nie jou ouers se foute te herhaal nie, maar hierdie optrede is nie altyd beheerbaar nie. Jy neig dikwels om patrone te herhaal as deel van ’n onbewustelike proses om onopgeloste konflikte deur te werk. Dit word die ‘repetition compulsion’ (die kompulsie om te herhaal, in die hoop om die uitkoms te verander) genoem.”

Haar raad: Sodra jy bewus raak van ’n herhalende patroon in jou verhoudings, gaan liefs vir indiepte-psigoterapie. So leer jy jouself en jou onbewuste herhalende patrone en optrede ken.

Dr. Morkel sê terapeutiese gesprekke het groot potensiaal om nuwe moont-likhede vir mense oop te maak. “Terapie bied jou die geleentheid om saam met iemand van buite na jou lewe en verhouding te kyk en te besin daaroor. Terapeute se benaderings verskil, en na gelang van die aard van die probleem sal hy of sy bepaal of dit korttermyn- of langtermynterapie sal wees. As jou verhouding veral geaffekteer word, is verhoudingsterapie weer voordelig. Dis dikwels baie goed om tydens terapie geliefdes by gesprekke te betrek.”

* Skuilname.

Aanvullende bron: huffpost.com

DIE ANDER KANT VAN DIE MUNT

Daar is mense wat oënskynlik ongeskonde is ná hul ouers se egskeiding. Ilse Jordaan sê indien die ouers hul egskeiding op ’n volwasse manier hanteer, hul kinders nie by hul stryery betrek of hulle laat kant kies nie, kan die kind inderdaad relatief emosioneel gesond anderkant uitkom. “Dit hang ook af of die kind altyd ’n ‘veilige hawe’ gehad het – hy kan ernstige emosionele skade ly wanneer sy hele lewe tydens die egskeiding ontwrig word, soos as hulle verhuis en hy ‘verloor’ sy troeteldiere, maats, kontak met een ouer of hulle sukkel skielik finansieel . . .”

Dr. Morkel voeg by: “Egskeidings per se het nie negatiewe implikasies nie, dis veel eerder die manier waarop ouers uitmekaar gaan, die redes vir hul egskeiding en die omstandighede daarna wat ’n groot rol speel. Soos hoeveel kontak die kinders met hul ouers het en of die ouers emosioneel beskikbaar is. As kinders tydens en ná die egskeiding emosioneel deur geliefdes ondersteun word, kan hulle as grootmense goed aangepas wees. Maar die lewe is kompleks en daar is soveel veranderlikes wat dit kan beïnvloed – binne dieselfde gesin kan jy een kind kry wat goed aanpas ná ’n egskeiding en ’n ander wat steeds as volwassene sukkel.”

Kinders wat ‘goed’ deur egskeidings gaan, is soms besig om hul ouers wat emosioneel swaarkry te beskerm.
dr. Elize Morkel, sielkundige
BESKERM JOU KIND AS JY SKEI
  • Moet nooit van jou kind verwag om kant te kies nie.
  • Moenie sleg praat van die ander ouer nie.
  • Wees eerlik met jou kind oor wat hy kan verwag. Moenie vir hom jok nie, maar moet ook nie intieme verhoudingsdetail bespreek nie.
  • Moenie van jou kind verwag om die ouer te speel nie. Jy is die ouer en jou kind is die kind.
  • Besoek ’n kliniese sielkundige vir indiepte-psigoterapie om deur jou eie probleme te werk.
  • Neem jou kind na ’n siel-kundige indien hy enige emo-sionele of persoonlikheids-veranderinge toon.
  • Werk aan jou verhouding met jou kind. Kinders wat goeie verhoudings met albei ouers het en geborge voel deur die verhouding (m.a.w. of die ouers nou bymekaar is of nie), het dikwels nie soveel langtermyn- onverwerkte emosies nie.          Bron: Ilse Jordaan, sielkundige van Stellenbosch en Kaapstad